Google Web Kuiergat

This page is powered by Blogger. Isn't yours?

My status

Enige terugvoer, kommentaar, kritiek, of net 'n boodskap is baie welkom. Skryf gerus vir my ; muisdruk hier Johann van Staden

Online dictionary at www.Answers.com

Tell me about:

Saturday, November 27, 2010

 

Om te blog of nie ?

Na meer as drie jaar kom maak ek weer 'n draai hier by my eie blog. Ek het sekerlik goeie - of ten minste debateerbare - redes vir my afwesigheid.

Maar nou wonder ek - die wereld het intussen aanbeweeg. Almal tweet mekaar deesdae, Skype is al 'n algemene woord in verskeie tale se woordeboeke, almal FaceBook, en bly in kontak met mekaar se doen en lates op soveel verskillende maniere en sosiale netwerke in die kuberruim.

Word daar nog ge-blog ? Is dit dalk tyd vir hierdie Kuiergat om te verdwyn ? Dalk het dit al klaar ontbind en in digitale stof verander.

As iemand dalk hier lees, lug asseblief jou mening.

Tuesday, September 25, 2007

 

Ek bieg in Berlyn

Interessante woord – bieg. Maar miskien is hierdie inskrywing eerder net 'n verskoning vir 'n onbekende.

Na my aankoms gister-oggend in Berlyn en nadat ek by die hotel ingeboek is, besluit ek om soos gewoonlik wanneer ek in ‘n vreemde stad is, ‘n ent te gaan loop. Ek vra ’n stadskaart by die hotel-ontvangs, en laat die ontvangsdame met ’n sirkel op die kaart aandui waar die hotel is. Omdat ek darem ook nie heeltemal vreemd in Berlyn is nie, neem ek nie veel notisie van die kaart nie, maar slaan sommer ’n rigting in langs die Spree-rivier ; ek het nog nooit in hierdie hotel gebly nie, maar vol selfvertroue begin ek loop. Nadat ek so 30 minute lank geloop het, stap ek by twee dames verby, en die een vra of hulle in die regte rigting stap om by die Hauptbahnhoff (Berlyn se hoof-stasie) uit te kom. Met ‘n 100% seker houding, bevestig ek dat hulle in wel reg is, en ek stap verder.

Na ’n rukkie besef ek egter dat niks bekend lyk nie, en ek gaan sit om die kaart te bestudeer. Na verskeie minute kom die twee dames by my verby geloop, en met ’n knik van die kop groet ons mekaar. En hulle loop verder. Ek vermoed ernstig dat ek (ons) in die verkeerde rigting stap, en ek draai om ; terug hotel toe. By die hotel vra ek, en Ontvangs bevestig dat ek weliswaar in die verkeerde rigting gestap het. En ek besef dat ek die verkeerde inligting aan die twee dames gegee het.

Jammer dames – ek weet nie waar julle ge-eindig het nie, en weet ook nie wanneer julle besef dat julle verkeerde raad van my gekry het nie.

My straf was seker dat ek later die dag erg verdwaal het ; soveel so dat ek iewers ge-eindig het wat nie op die stadskaart aangedui is nie, en dat ek na vele vrae uiteindelik weer by die hotel uitgekom het ; met meer as agt ure se stap agter die rug, sopnat gesweet en lekker voetseer !

Monday, September 17, 2007

 

Bloeisels en Blikke

Bloeisels en Blikke . . . wel, vuilgoedblikke, of vullisdromme as jy verkies.

Hoe mooi is die pragtige wit en roosrooi en blou blommetjies wat guitig-skielik hulle verskyning in byna elke boom en struik in Pretoria gemaak het. ’n Visuele simfonie van kleure, en ja, ook geure.

Hierdie jaar is daar egter ’n nuwe lid in die orkes wat ’n bykomende wanklankie bydra. Groot, swart vullisdromme staan regop-soldaat en waghou op elke hoek en om elke draai. Boggelrug-vol swart sakke hou vele vullisdromme geselskap gedurende die groot wag. Honderde, of miskien duisende wat nou al na byna twee weke met ’n wanklankie die suiwer lentelug-simfonie besoedel.

Die vullis-verwyderaars van Pretoria staak !

Thursday, September 13, 2007

 

Tydelik Gestrem !

Liewe vriende, ek het nou net by die huis gekom nadat ek vroeg vanoggend Kaap toe gevlieg het - met krukke en al. Ek het nou so klein idee van watter hindernisse gestremde mense in die gewone lewe ondervind, en hoe uiters gestremd-onvriendelik dit regtig daar buite is.

Iets so simpel soos om van die parkeerterrein deur die prosesse om op die vliegtuig te kom, raak 'n nagmerrie. Die vlug self, byvoorbeeld waar om die krukke te sit, en hoe om op te gaan sit terwyl jy byna beenaf is, en ander dinge - mense, dit was 'n openbaring. Die manier hoe ander mense jou hanteer, ensovoorts. Dit was waarskynlik een van die mees uitputtendste dae in my lewe.

Ek het geen idee gehad nie !

Miskien sal ek later meer oor die ondervinding / ervaring skryf. Alhoewel ek myself as redelik ingelig beskou tov gestremdheid, was vandag vir my 'n openbaring !

Tuesday, September 11, 2007

 

Hospitalisasie en die admin-monster

Ek is nie een vir dokters en pille en hospitale nie !

Maar vandag, nie uit eie keuse nie, is ek opgeneem, en weereens verbaas die admin-monster my. Ten spyte van die feit dat ons familie hierdie hospitaal al vir jare gebruik (goed ondersteun is dalk 'n beter woord), moet mens van voor af dieselfde inligting ten minste drie of vier keer weer neerskryf. Dan word dit waarskynlik weer iewers in 'n rekenaar ingevoer. En ek moes seker vyf keer my handtekening iewers neerpen.

Is dit nie moontlik om al my vorige inligting van die databasis af te trek, sodat ek dit kan bevestig en enige veranderinge aanbring nie ? Opname sal dan mos baie vinniger en meer koste-effektief wees.

Dan word 'n reeks plakkers met al my inligting gedruk en orals op verskillende vorms opgeplak. Maar daar is nog steeds ten minste meer as tien plakkers wat ongebruik gelaat is. Waarskynlik word 'n paar wel nog gebruik deur die loop van die dag, of tot wanneer ek ontslaan word. Maar ek is oortuig daarvan dat 'n paar nie gebruik sal word nie. Hierdie gom-plakkers is duur items. As mens na al die 'voorsienings' kyk wat gedurende die proses gebruik word, wonder ek hoeveel onnodige kostes dit veroorsaak. 'n Bietjie hier en 'n bietjie daar, en weliswaar, die rekening kry sommer nog 'n nul by.

Ek is oortuig daarvan dat bietjie Organisasie en Metode fokus heelwat optimisasie en koste-besparings teweeg kan bring, en die produktiwiteit wesentlik kan verhoog.

En ek hou nog steeds nie van hospitale nie ; gelukkig is almal tot op hede baie vriendelik en hulpvaardig.

Ek hou net nie van die "Nul per Mond" teken agter my bed nie...

Sunday, August 26, 2007

 

Die Otter : 7 - Die Einde

Dis met ’n bietjie weemoed en hartseer dat almal besef die einde is in sig. Ontbyt word in relatiewe stilte berei, en gedagtes word gewissel, maar daar heers ’n byna somberheid ; of dalk eerder ’n atmosfeer van eerbied en respek.

Die laaste 6,8 kilometer word aangepak, met Nature’s Valley in gedagte. Soos elke dag is daar uitdagings in die begin, maar selfs ek begin agterkom dat my rugsak heelwat ligter is as ’n paar dae vantevore.





Plek-plek loop die span een-een ; plek-plek loop groepies van twee. Elkeen met sy of haar eie gedagtes. My knie gun my egter geen rus nie, maar selfs dit maak geen indruk op emosies van die oomblik nie.





Uiteindelik lê die lang en wit strand van Nature’s Valley voor ons, maar om daar te kom moet ons nog berg-af. En dis nie sommer net vir afdraf nie ; dis ’n afklim van formaat.

Toe die span almal onder is, word handdrukke en gelukwense uitgedeel, en die groep neem hande en gee lof en eer aan die Vader vir ’n ongelooflike ervaring.

’n Paar honderd meter se stap op die strandsand neem ons na die klein restaurant en kroeg, waar almal na keuse ’n vars koelerigheid en iets wat in ’n kombuis gemaak is geniet. Daarna waardeer almal Wynn en Tacey se gasvryheid by hulle vakansiehuis met die luukse van ’n warm stort.

Dit was die Otter. Wat ’n voorreg ! Wat ’n ondervinding. Wat ’n span !


 

Die Otter : 6 - Bloukransrivier-dag

Vandag, bo en behalwe dat die groot uitdaging die Bloukransrivier is, is dit ook die langste afstand wat geloop moet word. Van begin tot einde is dit 13,8 kilometer, en die Bloukransrivier is 10 kilometer van die beginpunt af. Teen 03:00 is daar lewe in altwee hutte, en snaaks genoeg, terwyl alles opgevou en ingepak word, heers ’n ongewone stilte. Min grappies en skerp aanmerkings word gemaak ; almal is goed onder die indruk van wat vandag gaan verg.

Teen 03:45 is almal gestewel en gespoor en gerugsak ; en dis donkerder as pikdonker. Behalwe vir ’n klompie dapper sterre wat koppie uitsteek, is daar van die maan geen sprake nie. Met ons kopligte aangeskakel en al stappend soos eendjies-eendjies-in-‘n-ry, kronkelend berg-op en slingerend berg-af, lyk ons kompleet soos ’n troep mynwerkers. Die roete is uiters uitdagend en is plek-plek so hoog dat jou kopliggie verlore raak en totaal verward moed opgee in die teerswart duisternis as jy afkyk na die see aan die linkerkant reg onder jou. Soos bergklimmers klou en haak ons plek-plek aan skerp rotspunte, en met genade van Bo is daar geen insidente en ongevalle nie. Later, nog steeds in die donker, loop ons deur die Tsitsikamma woude, en lang-lang bome troon uitdagend meters die lug in. In die sterk-flou ligskynsels van die kopflitse lyk die omgewing ietwat sinister en skrikwekkend, maar terselfdertyd ook veilig en vol vrede. Mens is daar so ver verwyderd van die daaglikse onsin en chaos waarmee die wereld ons konfronteer.







Op makliker plekke voltooi die groep ’n paar kilometers in tussen vyftien en vyf-en-twintig minute per kilometer, en ons kom by die Bloukrans volgens plan ; ons is daar in goeie tyd teen 09:20. Moeg en natgesweet, maar baie bly en gelukkig dat ons op tyd is, en daar word geen tyd gemors om ook hierdie struikelblok suksesvol aan te durf nie. Almal is positief en gefokus, en die voorbereidings word gedoen. Die oorleweringssakke word uitgehaal, stewels uitgetrek, Rocky’s en sandale kom te voorskyn, almal maak seker dat dit wat in ZipLock sakkies moet wees, daarin is en goed toegemaak is, en dan is dit tyd.

Daar is drie moontlikhede waar die oorgang gemaak kan word, maar daar word eenstemmigheid bereik dat die mees veiligste opsie die een is wat die naaste aan die see in die mond is. Dit beteken wel dat daar ten minste nekhoogte in die (koue) water geloop moet word, en branders moet trotseer by die rotse. Ongelukkig is dit ook so dat daar onsigbare kolkgate is, en ek, soos die meeste van die span, trap hier en daar mis en word kop-oor-gat in die maalgate ingetrek. Sand in die ore, sout in die oë, soutwate in die mond ! Uiteindelik is almal veilig oor en deur, en hier moet spesiale erkenning ook aan Wynn, Reece, Adolph, Ferdi en Dewald gegee word vir die ongelooflike hulp en ondersteuning wat hulle aan die span gegee het. Welgedaan julle ! Julle is sterre !











Aan die ander kant van die rivier sit en kuier ons vir lank ; maak ontbyt, drink koffie en geniet die fantastiese natuur om ons. En die wete dat ons die Bloukrans oorwin het !





Later word die finale paar kilometer na die hutte aangepak, en ook op hierdie been word ons almal getoets met stewige rotsklimmery wat veel druk plaas op ons moed en uithouvermoë, maar die span het vasbyt en druk deur ! Voornemende Otter-stapper moet nie hierdie laaste 3,8 kilometer of so onderskat nie.











Hier op die plato loop ons ook van die mooiste proteas in blom en ander blomme raak.





Laatmiddag kom ons by Andre se Hut, en almal is maar lekker moeg na ’n lang en uiters uitmergelende dag. Ons weet daar is maar nog net 6,8 kilometer oor, en elkeen kan al amper sê dat sy of hy die Otter gedoen het. Of eerder miskien, dat die Otter ons gedoen het.

Vanaand eet ons wat in die rugsakke is. Kos is nie meer so belangrik nie. Rus is meer belangrik.

 

Die Otter : 5 - Ons het die Otter ritme

Weereens begroet ’n paradys-mooie dag ons. Vandag hou egter ’n onverwagte en onbeplande verrassing vir ons in by die Lotteringsrivier. Meer daaroor later.











Nadat elkeen sy ontbyt na keuse geniet het, val ons weer in die pad. Teen die tyd weet ons ook dat daar onmiddellik nadat jy die oornaghut verlaat het, jy ’n paar stywe klimme kan verwag. So is dit toe ook vanoggend, maar gelukkig raak die rugsakke dag vir dag effens ligter. Maar ons bene en spiere ly onder die druk, en die effense gewigsverligting maak in wesentlike terme nie ’n groot verskil nie. Of so het dit vir my ten minste gevoel. En my knie soek aanmekaar geselskap !













Net ’n gedagte oor een van die stappers se aanslag op ontbyt. Hy neem sy kits-hawermout net so droog, direk uit die pakkie ; so asof hy ’n Grandpa-poeiertjie sluk. Wel, dit werk seker vir hom.





Toe kry ons die Lotteringsrivier. Darem nie heeltemal op hooggety nie, maar sodanig dat ons skoene, broeke en hemde moes uittrek, en byna borshoogte deur hierdie yskoue water moes gaan. Ook hier moes ons die eerste keer ons oorlewingssakke (“survival bags”) gebruik om die rugsakke en skoene en al daarin te sit, om dit veilig en droog aan die ander kant te kry.













Weereens neem die roete ons deur die mooiste en ongeskonde natuurskoon van die Tsitsikamma-woude en pragskone seetonele. Die blouste blou water, die mooiste rotsformasies. Mens kan net nie genoeg kry daarvan nie, ten spyte van die pyne en moegheid en rugseer. En nog steeds dink my knie hy’s belangrik !

Vanaand het ons nie meer vleis nie. Aandete bestaan uit onder ander Pro Vita met John West tuna en mossels as voorgereg, pasta met lekker kaas en sampioensous, en Ferdi tower ’n blik met “meatballs” vanuit die dieptes van sy rugsak op. Saam met koffie, Cremora en ’n goeie skeut Amarula daarin, eet ons feestelik en soos konings.



Na ’n lekker saamsingsessie en gesellige kuier met Old Brown Sherry om die vuur, word bedwaarts gekeer. Almal onder die indruk van more se uitdaging om deur en oor die Bloukransrivier te kom. Vanaand se rus is uiteraard ’n kort slapie, siende dat ons op die laatste teen 09:30 by die Bloukrans moet wees om laaggety te vang, moet ons al voor 04:00 Sondag-oggend voetvaardig wees.

 

Die Otter : 4 - Ons vat die tweede dag

Met wakkerword word ons weereens begroet deur die natuur met die belofte van ’n wonderskone dag. Na ontbyt, met ietwat ligter rugsakke, word die pad aangepak. Dylan se ongelukkige ongesteldheid het egter versleg, en hulle moet die hartseer besluit dat hulle gaan omdraai neem om mediese hulp vir hom in die beskawing te gaan soek. Dit was so jammer.

Al swetend bereik ons laatoggend die pragtige Skilderkrans, waar ons so bietjie rus.















Deur die loop van die dag sien ons van die mooiste kuslyn in die land, pragtige rotsformasies, en laatmiddag, toe ons by die Scott hutte aankom, weereens ’n uitsonderlike Afrika sonsondergang.

Aandete vanaand is weer braaivleis, met pasta en kitskapokaartappels, en ’n groente-en-sop-en-speserye souspoging wat ek bou.







Vanaand sing ons nie, maar kuier lekker om die vuur. Genoeg Old Brown Sherry hou die koue ook weg, en werk ook met die spierpyne. Vandag het ek gevoel asof my rug af is, en my knie is ernstig besig om prioriteits-aandag te soek. Gelukkig was die knieskerm wat ek op laaste gedagte ook in my tas gegooi het, uiteindelik ’n bewese inspirasionele gedagte.

Vanaand het Carmenn ook iewers ’n swart-gebrande potjie en ’n verfblik-emmer gevind - vermoedelik ongemagtig - en gebruik daarvan gemaak om sommer water op die vuur te kook om ‘n warmwater-bad-poging te beredder. Hierdie blink gedagte is deur ’n paar van die stappers nagedoen ; die yskoue water in die bos-storte het nie veel aantrekking gehad vir sommige van ons nie.





Uiteindelik het almal maar ’n slaappoging gepleeg.