Tuesday, March 21, 2006
Soos Hy neem, so gee Hy ook
Vandag, Maandag 20 Maart 2006. 'n Maandag soos baie ander. Alles dieselfde soos altyd. Alles tog ook heeltemal anders as altyd. Hartseer en vreugde. Soos soet en suur. Soos dag en nag. Soos die koms van die lente na 'n bitter koue, ongenaakbare winter. Voëltjies fluit en kwetter en bou nessies, en juig in die vreugde van sonskyn. Skielik, asof deur miljoene kabouterhandjies gehelp en aangevuur deur die belofte van lewe in son en lig en warmte, breek groen sprietjies deur barre grond, en bome word getooi deur skaam groenerigheid, wat binne dae en weke ons leefwêreld gaan omtower in 'n paradys van groen en kleur.
Aan die anderkant van die wêreld kruip winter-herfs ongemerk en byna slu, soos 'n dief in die nag, stadig, nader. Die son tree aan vir diens 'n paar minute later elke dag, en raak effens bleek om die kiewe. Asof skelm, draf die son ook al hoe vroeër laatmiddag effens vinniger om plek te maak vir aandskemer. So besef 'n mens byna nie dat die dag nou korter geword het nie, en jy reik ook onwillekeurig uit na daardie trui wat jy tog nie so lank gelede sommer so losweg in die hoekie van die kas gegooi het nie.
Vroegoggend vanoggend het die Here dit ook goed gedink om vir Neville te kom haal en huis toe te neem. Dit was te swaar vir Hom om te sien hoeveel pyn Neville gehad het, en om sy lyding te moes aanskou. Sy liggaam kon net nie meer die aardse pyne hanteer nie, en omdat Jesus goed is, en omdat Jesus lief is vir Sy kinders en hulle nie onnodig wil laat swaar kry nie, het Hy 'n spesiale engel Centurion toe gestuur om vir Neville gemaklik die pad terug te wys en te verwelkom in die Ewige Lewe waar hy geen pyn sal hê nie. My vriend, ou 'Loop-en-Val' Neville, nooit weer sal jy val nie. Nooit weer sal jy nodig hê om te onthou om jou pille te drink nie. Rus sag. Rus in ewige vrede.
Vandag het die Vader van alle lewe dit ook in Sy almagsplan gehad om vir Hannelie en Dewald hulle lankverwagte prinsessie te gee. Dehanné van Staden het vandag die lewenslig aanskou, nadat Hannelie en Dewald ook baie lank moes wag. My ou Boetie en Sussie, ons is saam met jullle bly - en trots - en dankbaar ! Ons het nie aldag verstaan hoekom dit so lank moes neem nie, maar vandag weet ons dat dit reg was. Prys die Heer ! Mag hierdie pragtige bondeltjie genade ook vir julle en ons almal vreugde bring, en 'n ligstraaltjie elke dag wees, oral waar sy gaan. Mag julle so spesiaal vir haar wees soos wat sy vir julle is.
Soos die Vader neem, so gee Hy ook veelvoudig. Ons wik, maar God beskik.
<< Home