Google Web Kuiergat

This page is powered by Blogger. Isn't yours?

My status

Enige terugvoer, kommentaar, kritiek, of net 'n boodskap is baie welkom. Skryf gerus vir my ; muisdruk hier Johann van Staden

Online dictionary at www.Answers.com

Tell me about:

Monday, March 20, 2006

 

Sukses

Onlangs wonder ek oor wat sukses werklik is. Wonder oor wat dit beteken. Watter dimensies het sukses ? Waarteen kan sukses gemeet word ? Rykdom ? Kinders ? Materiële welvaart ? Aardskuddende ontdekkings en uitvindings ? Om lekker kos te maak ? Om goeie toesprake te lewer ? 'n Beroemde sanger of kunstenaar te wees ? Om eerste oor die wenstreep te hardloop ?

Nadat ek so bietjie oor die woord gedink het, het ek besluit dat sukses 'n keuse is wat elke mens self maak. Suksesvolle mense dra sukses in hulle oë. Om suksesvol te wees moet mens selfs suksesvol in jou mislukkings wees. Met ander woorde, deur op te staan en voort te gaan na 'n mislukking is vir my 'n werklike triomf en in sigself 'n sukses. Dit is soms so maklik om nadat jy jou alles gegee het en dan nog steeds te misluk, nie op te staan nie, en om allerhande faktore die skuld te gee sonder om self eienaarskap vir mislukking te aanvaar, en om nie 'n mislukking om te skakel in 'n positiewe leerervaring nie. Om suksesvol te wees beteken nie noodwendig om baie dinge te hê nie, of 'n stywe bankrekening nie, of om invloedryk te wees nie, of om invloedryke vriende te hê nie. Sukses mag die dinge insluit - en doen welliswaar baie maal, maar dit is sekondêr. Sukses beteken aanvaarding sonder om moed op te gee, dit beteken om 'n verskil te maak, al weet niemand dat jy die regte ding gedoen het nie. Sukses beteken om om te gee oor dinge wat waarlik belangrik is. Sukses beteken om respek te hê vir ander mense se sienings sonder om jouself te kompromiseer of om jouself minderwaardig te stel. Thomas Edison het per geleentheid gesê dat baie onsuksesvolle mense die gevolg is van die feit dat hulle nie geweet hoe naby aan sukses hulle is toe hulle moed opgegee het nie. En dit is vir my die kern van die saak - om nie moed op te gee nie.

Die sportman of vrou wat eerste oor die wenstreep kom, mag op die oog af suksesvol lyk. Maar as die sportman nie sy uiterste beste gegee het nie, was dit 'n eerlike suksesvertoning ? Om te wen volgens normatiewe standaarde beteken nie noodwendig sukses nie. Dink vir 'n oomblik aan die persoon wat dalk laaste gekom het, maar wat miskien as gevolg van fisiese probleme of ander faktore ongelooflike opofferings moes maak om wel te kwalifiseer vir die wedren, en dat slegs die voltooiing van die wedren 'n persoonlike oorwinning was. Word sy prestasie beskou as 'n sukses ?

Suksesvolle mense deel gewoonlik 'n paar eienskappe. Hierdie eienskappe sluit gewoonlik die meeste van die volgende in :

  1. Hulle het 'n droom
  2. Hulle het 'n plan
  3. Hulle berei hulleself voor ten opsigte van kennis, insig en opleiding
  4. Hulle is bereid om hard te werk en om opofferings te maak vir hulle droom
  5. Hulle glo in hulle droom en glo onvoorwaardelik dat hulle die droom kan realiseer

Maar, 'n ander dimensie van sukses is om lief te hê en om my lewe te lewe binne my uitgemete plekkie op hierdie aarde. As ek onvoorwaardelik lief is vir my mense, en hulle lief is vir my ; as ek na hulle behoeftes kan omsien, en selfs af en toe ietsie ekstra kan gee ; as ek die regte woord op die regte tyd kan sê ; as ek sien dat iemand my hulp nodig het, en ek daar en dan kan help ; as ek kan help sonder om te oordeel of te veroordeel ; as ek die werk wat my toegedeel is doen en reg doen ; en as ek 'n voorbeeld vir iemand is deur dit wat ek doen eerder as dit wat ek sê ; dan dink ek ek is redelik suksesvol.

Uiteindelik word sukses nie gemeet met aardse mates nie. Uiteindelik sal ek die dag wanneer ek voor my Skepper staan, ek eerlik moet kan sê dat ten spyte van al die aardse mislukkings en aardse suksesse, Heer, ek suksesvol was. Omdat ek U verheerlik het. As ek eendag in die mate as suksesvol gemeet word, dan was ek eerlikwaar suksesvol.

Die Prediker het juis gesê "Ek het gesien dat al die moeite wat mens doen vir sukses uit onderlinge afguns kom. Ook hier kom dit dus tot niks. Dit is 'n gejaag na wind."

Dan eerder wat Salomo in Spreuke gesê het dat "Wie My het, het raad en behaal sukses, Ek verleen insig, Ek is die een wat mag gee".


Comments> Post a Comment

<< Home