Google Web Kuiergat

This page is powered by Blogger. Isn't yours?

My status

Enige terugvoer, kommentaar, kritiek, of net 'n boodskap is baie welkom. Skryf gerus vir my ; muisdruk hier Johann van Staden

Online dictionary at www.Answers.com

Tell me about:

Thursday, September 08, 2005

 

Johann Afskop

Hallo julle almal,

Ek loop nou al 'n rukkie met gedagtes wat nie lekker bymekaar kom nie, en wil graag met julle gesels daaroor. Jou gesprekterugvoer en gedagtes in hierdie verband sal regtig waardeer word. Ek sou graag die volgende gedagtes as 'n inskop ter gesprekvoering wou gebruik - jou kommentaar en opinie, of jy saamstem al dan nie, is baie welkom. Ek wil graag so iets van 'n joernaal opbou, so eintlik is enige onderwerp oop ter bespreking.

Enigiets is oop ter bespreking, binne die riglyne van ons persoonlike waardestelsels en respek vir onsself en mekaar. Ek belowe ek sal niks uithaal of bysit in julle individuele bydraes nie, maar as ek behou myself die reg voor om rowwe bydraes bietjie te masseer waar nodig.

Bydraes kan kort wees !

Alhoewel ek geen manier het om dit te kruisbekyk nie, vra ek dat julle julle eie oorspronklike werk vir my stuur. Waar julle voel dat iets van 'n ander bron van waarde is om in te sluit, is julle welkom - bevestig dit net dat dit van iewers anders afkomstig is. 'n Grappie (mooierig ! ) of 'n mooi storie is ook goed.

As hierdie ding gaan werk, gaan dit net werk omdat JY dit wil maak werk. JOU bydrae sal waardeer word. Dankie !!!

Hier kan ons tussen mekaar ernstig wees, ons kan snaaks wees, ons kan die spot dryf, ons kan die politiek aanvat (binne perke, asseblief ! ), ons kan kommentaar lewer oor gebeure van die dag, of sommer net gesels oor iets wat ons swaar op die hart lê ; ons kan ook ons persoonlike vreugdes en frustrasies met mekaar deel, en selfs ons hartseer en weemoed as ons wil. Maw, hierdie veld is skoon. Hier kan ons plant, skoffel, ploeg, saai, oes, natgooi, bietjie (kuns) mis gooi, en verplant - net soos ons wil.

My AFSKOP :

Hier van die middellyn skop ek sommer die bal in 'n rigting. Ek het oor die laaste paar dae in spaar-oomblikke sommer 'n klomp los gedagtes bymekaar gegooi in so potpouri mengsel - net om dalk iewers en effens bietjie kontroversieël te wees.

In Suid-Afrika is ons so geneig om te kla oor ons omstandighede. Dit is die politiek, die korrupsie, die publieke dienste wat so agteruit gaan, die mediese en hospitaaldienste, die skole, die universiteite, die swak diens, VIGS, droogtes, swart bemagtiging, die onregverdigheid van sekere wetgewing, die kapings, die lekker ou soustrein, die inbrake, probleme met die huishulp, die hoë belastings, petrol se prys wat bly opgaan, die kinders wat nie vir 'n mens luister nie en tog so groot wil wees, en so kan mens aangaan. Elkeen van ons kan uit ervaring en ook op hoorsê (ek wil amper sê vanuit die totale eerlike en geloofwaardige bronne van "urban legends"), sekerlik nog vele items by hierdie lys voeg. En ons kan onsself so lekker in 'n depressie of woede inpraat, veral Saterdag-aand nadat die Bokke en Bafana Bafana hulleself weer tot nuwe hoogtes bewys het (!), rondom die braaivleisvuur met 'n koue enetjie in die hand, langs die swembad.

Onthou hoe die Israeliete gekla en gemor het om die vleispotte van Egipte. Maar toe daar 'n leier onder hulle opstaan en volgens die Woord leiding begin neem en gee, en van hulle verwag is om sekere opofferings te maak, toe moet jy eers hoor hoe hulle kla hulle, en hoe dwarstrekkerig is hulle, en breek hulle weg... Nou ja, julle ken hierdie geskiedenis beter as ek. Die laaste deel klink amper soos hoe ons liewe Afrikaners partykeer optree...

My aanvangspunt is effens anders. Ten spyte van al die onlekker dinge, soos genoem hierbo, en al die ander wat vir elkeen van julle sy of haar eie bron van probleme of frustrasie, en lyding is, is dit tog my oorwoë mening dat ons dit nog steeds lekker het ; nou goed dan, relatief lekker, en dalk nie so lekker soos in die verlede nie. Daaroor miskien later nog 'n paar gedagtes.

In Suid-Afrika het ons goeie weer. Ons het spasie om in te bly en te leef.Ons het genoeg keuses ten opsigte van wat en waar en hoe ons wil koop. Ons het keuses waar en hoe luuks of hoe spartaans ons wil lewe. Ons ry wat ons wil ; uiteraard binne die konteks van ons individuele vermoëns en behoeftes.Ons is bevoorreg om regte godsdiensvryheid te sê. Ons kan aanbid Wie ons wil, waar ons wil, soos ons wil. Al rafel die some los, het ons nog steeds toegang na goeie gesondheidssorg. Selfde met onderwys en opvoeding. Ja, ek weet hierdie stellings is erg aanvegbaar, maar mens moet dalk ook in konteks hierna kyk. Sou jy belangstel, doen 'n bietjie navorsing oor die kwaliteit van primêre en sekondêre opvoeding in lande is Engeland en Amerika. Ek het nie die syfers beskikbaar nie, maar die ongeletterheidsstatistiek in Amerika is skrikwekkend. Daar is baie, baie jong mense wat deur die publieke opvoedingsstelsel kom - volgens maatstawwe, suksesvol so - wat nie kan lees of skryf nie. Dit is 'n feit. Geweld voer hoogty in baie (ek wil amper sê, die meeste - maar ek kan dit nie kwalifiseer nie ) publieke skole in Engeland. Onderwysers word gereeld aangerand en mishandel - en daar word niks aan die saak gedoen nie. Dieselfde geld vir gesondheidsdienste.

Ons in Suid-Afrika is gewoond aan goeie diens. Dit is regtig so. Met respek, as mens nie van beter weet nie, dink jy die diens wat ons in Suid-Afrika kry - met uitsonderings - is sleg. Probeer Duitsland. Verlede week in 'n vergadering noem iemand hier (sonder enige inset van my!) dat Duitsland 'n 'service desert' is. Met uitsonderinge van miskien een persent, stem ek uit eie ondervinding volmondig en heelhartig saam. Ek is bereid om verskeie ervarings ter woord te stel om hierdie stelling en opinie te bevestig, so iemand belangstel.

Gedink rassisme is uniek aan Suid-Afrika ? Dink weer. Rassisme is ongelukkig 'extremely alive and well' in baie ander eerste-wêreld lande. Hieroor wil ek myself ook nie graag te veel uitlaat nie, maar sou jy belangstel, daar is meer as genoeg bronne ter ondersteuning en bewys van hierdie stelling. Ek praat dit uiteraard ook nie goed in enige konteks nie, maar dit is nie waar, en dit was nog nooit waar, dat Suid-Afrika, en Suid-Afrikaners, en Afrikaners, die enigste vark in hierdie verhaal is nie. Dit is ook nie so dat ons, of Suid-Afrika, dit uitgevind het nie. Ons het nou wel 'n naam daaraan gegee - Apartheid - waarvan die 'legacy' ongelukkig vir die res van die dae saam met ons sal wees.

Ek dwaal bietjie af, verskoon tog asseblief.

Ons in Suid-Afrika is gespaar van baie dinge. Die sogenaamde 'beskaafde' wêreld in die onlangse geskiedenis in sy bek geruk, eers met 9/11, en toe die Tsunami in die Ooste. Wie kan die ontnugtering en verwesentheid van die mense vergeet. Tog, hoeveel van ons onthou dit, en hoeveel van ons het op een of ander manier ons dankbaarheid getuig dat ons en ons geliefdes gespaar is van hierdie verliese en trauma. Toe was daar die Londense terreur. Weereens iets wat vir ons Suid-Afrikaners grootliks gespaar was. Ja, ek onthou - wie sal die bosoorlog vergeet. Wie van ons kan en wil vergeet van die stasiebom-aanval, die Poynton's bomme in die jare 80's, die kerkaanvalle in die Kaap en Oos-Kaap, ons jong mense opgeoffer in die ou Suidwes-Afrika en Angola. Ons sal dit tog nooit vergeet nie. Ek probeer dit ook nie minimaliseer in enige konteks of op enige manier nie.

Waar ek ernstig begin besin het oor hierdie dinge, is die laaste klomp dae met "Hurricane Katrina". In baie opsigte het dit vir my die slegste en tog ook die beste in die mens gewys - in sekere opsigte amper op uiterste of ekstreme visualisasies. Hier sien ons dat dit nie 'n menslike vyand is nie, maar 'n krag van die natuur, wat die magtigste en rykste nasie in die wêreld totaal onkant kry en met sy broek op sy knieë vang. Hoe tragies is dit dat terwyl mense letterlik doodgaan terwyl hulle wag vir hulp, die grootste leiers mekaar blameer en verwyt oor wie beter voorsorg moes getref het om so iets te verhoed. Hulle probeer politieke punte wen deur prosesfoute uit te wys, terwyl mense dood gaan van honger en dors, van skok, van blootstelling. Hierdie supermoondheid staan reg om 'n oorlog in enige plek in die wêreld te gaan veg, maar by die huis word hy heeltemal onvoorbereid gevang. Hoeveel meer tragies is dit nie dat terwyl menige lande van die wêreld hulp in alle vorme, beginnende met miljoene dollars, tot noodvoorrade en mannekrag aanbied, die leier van die magtigste moondheid op aarde weier om die te aanvaar. Die verskoning - 'we do not have the logistics in place to receive the help'. Dit is ongelooflik. Hoe tragies is dit dat mense in hierdie omstandighede hulle weg oopsien om hulle eie verskuilde politieke of rassistiese agendas te manifesteer op dit wat daar gebeur het en nog steeds besig is om te gebeur. Tog sou dit snaaks gewees in 'n ander konteks om te sien dat mense wie se huise vernietig is en gelyk met die grond gevee is, waar die totale infrastruktuur ten opsigte van elektrisiteit, paaie, en ander dienste, besig is om 'n televisie-stel of radio te steel uit 'n winkel wat beskadig is. Maar dit is nie snaaks nie - dit is eintlik hartseer. So moes baie mannekrag totaal onproduktief gebruik word om 'looting' te voorkom en winkels op te pas, eerder as wat hulle ontplooi is om lewens te red ; om mense weer hulle menswaardigheid terug te gee. Dit sou interessant wees om navorsing te doen oor hierdie gedrag - hoekom sou mense wat onder hierdie uiterste omstandighede verkeer, so iets wou doen?

In teenstelling daarmee, het ek van tyd tot tyd hoendervleis gekry om te sien hoe mense uitreik na mekaar, en mekaar van hulp is. Selfs die wat byna niks het nie - water, kos, klere - deel die bietjie wat hulle het met ander wat dit sigbaar meer nodig het. Operasionele mense van ondersteuningsdienste wat 20 uur en langer per dag werk, want, volgens een soldaat - hoe kan hy gaan rus as hy weet dat daar nie genoeg helpers is nie, en mense is vasgevang en besig om dood te gaan. Die trane van blydskap waar iemand hoor dat sy of haar geliefde of kind of siek ouer gevind gered is, en veilig is. Mense wat in absolute chaos is, en tog dit wat hulle het deel met 'n troeteldier wat hulle onder moeilike omstandighede veilig gehou het.

Net 'n gedagte, weet iemand hoekom orkane byna altyd vrouename het ? Ek wil baie graag die regte rede weet.

In hierdie legkaart wat ek bou is daar nog ten minste twee boublokkies wat ek graag hier wil aanraak.

Sonder om 'n grootskaalse debat daaroor te inisieer, wil ek tog vra : hoekom het die wêreld (Amerika en Engeland ! ) die huidige oorlog in Irak ? Ons weet die verskoning van WMV (wapens van massa vernietiging) is nie geldig nie. Gaan dit oor President Bush en ander rolspelers se oliebelange in die Midde-Ooste, of is daar dalk 'n ander verskuilde motief, of is dit dalk net nog 'n blokkie in die groot legkaart - vir redes wat ons nie ken nie ?

Die tweede een is die ontruiming van Gaza en die gepaardgaande aksies, reaksies en implikasies in Israel en Palestina. Hoekom hierdie skielike en radikale toegewing, wat weereens die mespunt balans in die Midde-Ooste in gevaar stel ? Hierdie aksies het geweldige interne politieke en sosiale implikasies in Israel, en het nou weer 'n hele klomp nuwe verwagtinge en 'demands' en meer veroorsaak in Palestina.

Wat het dit te doen met ons, en waarheen lei hierdie pad my?

Net nog 'n ander dimensie, om hierdie blokkie nog 'n finale kleur op die kant te gee. Dit is vir my interessant hoe 'n segment van die Westerse samelewing besig is om te 'compromise' op Christelike beginsels. Dalk is ek heeltemal verkeerd, en ek is ook heeltemal bereid om anders oortuig te word. Maar, gesien in die lig van die Londense terreur, hoe hard vry Eerste Minister Tony Blair na die Moslem. Die wêreld het geen kritiek daarteen nie. As gelowiges weet ons dat jy of vir die Here is, of teen Hom is. Daar is nie 'n grys area nie. Hierdie aspek van die makro-wêreldse 'vandag'-situasie pla my nogal deesdae. Miskien is ek verkeerd...

Goed, hierdie pad lei my na 'n paar finale stellings (hoe, weet ek ook nie) :

1. In Suid-Afrika het alle Suid-Afrikaners, ten spyte van baie dinge wat nie reg is nie (erg verkeerd is), ons nog baie om voor dankbaar te wees, en rede om elke dag dankie te sê daarvoor. Nou, met alle respek, vra ek 'hoekom' ? Is ons maar net gelukkig, of sien ek die dinge heeltemal verkeerd ? Kry ons nog 'n beurt ?
2. In die konteks van bogenoemde, is ons Suid-Afrikaners nog bereid om opofferings te maak. Met ander woorde, is ons bereid om regtig vir die saak waarvoor ons staan en waaroor ons sterk genoeg voel, die broekspype op te rol, die das af te haal, en "kaalvoet oor die Drakensberge te loop" ? Of is dit makliker om Saterdagaand by die vuur in gemak te staan en kla, en om "omstandighede" die skuld te gee ?
3. Is ons nog trots op ons herkoms ? Hier praat ek nie 'n politieke stelling of posisie aan nie, maar slegs en uitsluitlik van ons kulturele geskiedenis. Wie leer nog vir hulle kinders (of kleinkinders) die ou Afrikaanse liedjies, wie ondersteun Afrikaanse kuns, wie het onlangs 'n Afrikaanse boek gelees, of selfs 'n Afrikaanse boek gekoop (die Huisgenoot, Vrouekeur, Landbouweekblad, of Rooi Rose tel nie.. :-) Of kritiseer ons net van die linkerkant tot die regterkant - luister nie na Jurie Els nie (vir goeie redes), en ook nie na ddisselblom of Jak de Priester nie (ook vir goeie redes). Maar is ons ook ewe krities op die Engelse musiek en kunstenaars waarna ons so geredelik luister ? Wat van volksspele ? Ek sal graag later 'n paar gedagtes deel hoekom hierdie dinge nou skielik vir my belangrik word.
4. Hierbo verwys ek na 'n 'natuuurkrag'. Die tsunami en die orkaan is uiteraard 'n manifestering van geweldige natuurkragte. Dit gebeur tog sekerlik toevallig nie, of hoe ? Of dink julle dit het maar toevallig nou en in hierdie tyd gebeur ?
5. Dat ons in 'n relatief kort bestek van tyd groot rampe in die wêreld ervaar het : 9/11 (mensgemaak - in die Weste), tsunami ("natuurlik" - in die Ooste), London-terreur (mensgemaak - relatief sentraal op die wêreldkaart), Katrina ("natuurlik" - in die Weste) - het vir my 'n groter boodskap saam as wat die individuele insidente dalk vir 'n mens wil wysmaak, of hoe ?

Waarheen nou ...wat dink jy hiervan ?

Sjoe - hierbo is 'n klomp dinge waaroor ons lekker kan gesels en debatteer. Ek hoop ek hoor van elkeen van julle.

Groete en seënwense,

Johann

Comments>
Hi
Dit is heel interessant om na al jou menings kyk en daaroor te herkou.

Ek kan met baie dinge saamstem waarvan die wonderlike weer in SA net een is. Hier in die noorde van Denemarke waardeer mens elke warm soskyn dag wat windloos is ten volle. Laasjaar het ons presies 9 dae somer gehad waar die temperatuur bo 22 grade was.

Mens kry 'n ander persepsie waarom die mense soder klere op die strande rondle. As die son so lank weg was wil jy die mees moontlike blootstelling kry. In my eerste winter was daar 'n tyd wat ons net een sonskyn dag in een en 'n ½ maand gehad het. Dit was -8 grade maar ek het met 'n kortmou hemp buite rondgeloop.

Rassisme is iets wat regtig betaan in die eerste wereld lande. Ek wil liewers nie te veel daaroor uitbry nie.

Denemarke word beskou as een van die lande in die wereld wat die hoogste lewens standaarde het. Ek stem nie heeltemal daarmee saam nie. Hier is geen arm mense nie, maar in die selfde asem moet ek ook se dat hier geen ryk mense is nie.

Almal is gelyk in 'n groot mate. Of jy 'n busbestuurder is en of jy in 'n profesionele rigting is maak min verskil in die salaris wat jy huis toe vat. Die belasting sorteer dit uit. Jy kan dus nie regtig jou lewenstyl bepaal nie, maak nie saak hoe hard jy werk nie.

Dit is 'n goeie ding maar het ook sy nadele. Ambisie word doodgedruk in 'n groot mate deur die beleid. Dit maak dat die nasie baie goeie mense verloor en ook nie meer so kompeterend is terwyl die potensiaal hier is.

Die wonderlikste ding is dat hier nog absoluut vryheid is. Misdaad bestaan omtrent glad nie en my kinders kan gaan waar hulle wil en ek weet hulle is veilig.

Ons verlang baie dae terug na familie en vriende en die regte Suid Afrikaanse gasvryheid. Ons mis die natuur ook baie. Suid Afrika is met reg 'n wereld in een land. (Denemarke se hoogste punt bo seevlak is net 176 meter en hulle noem dit die Hemel berge)

Ja ek moet nou weer werk.

Beste groete(med venlig hilsen)

Chris
 
Post a Comment

<< Home