Google Web Kuiergat

This page is powered by Blogger. Isn't yours?

My status

Enige terugvoer, kommentaar, kritiek, of net 'n boodskap is baie welkom. Skryf gerus vir my ; muisdruk hier Johann van Staden

Online dictionary at www.Answers.com

Tell me about:

Wednesday, March 29, 2006

 

'n Drie-liter Jerobeam


Ek is seker daarvan dat die meeste mense sal weet van wie ek praat as ek die name Jerobeam, Rehabeam, Metusalag, Salmanesar, Balthasar, en Nebukadnesar noem.

Enige jong kategeet sal vir my kan sê dat Jerobeam die eerste koning van die noordelike koningkryk van Israel was, wat 'n opstand teen Salomo gelei het. Die jong mens sal ook weet dat Rehabeam die seun van Salomo was, wat ook later die eerste koning van Juda geword het. Dit was ook onder sy leierskap dat die noordelike volke weggebreek het van die regering uit Jerusalem en 'n aparte koningkryk, Israel, gestig en gevestig het.

En almal weet dat Metusaleg, afstammeling van Adam, negehonderd-nege-en-sestig jaar oud geword het. Behalwe dat oubaas Metusalag Noag se oupa was, was hy verder nie eintlik 'n beroemde omie nie. Maar tot vandag toe word die woord Metusalag, ook bekend in die volksmond as Metusalem, wyd gebruik om te verwys na 'n besonder ou mens, of in algemene spraak as vergelyking met enigiets ouds gebruik.

Van Salmanesar, behalwe dat hy 'n Assiriese koning was, weet ons vandag nie veel meer nie. Daar word na hom verwys in die Tweede Boek van Konings.

Dieselfde geld vir Balthasar. Behalwe dat hy een van die wyse manne was wat geskenke vir baba Jesus in die krip gebring het, is daar ook nie veel meer oor hom te sê nie.

Dit bring ons dan uiteindelik by Nebukadnesar. Hy was so 562 jaar voor Christus 'nn koning van Babilonië. Hy het vele oorloë baklei, soms gewen, en partykeer verloor. Sy bekendheid berus egter op die feit dat hy die meesterbrein agter die bou van Babilon, en die veelgeroemde hangende tuine van hierdie stad was. Daniel het ons ook vertel dat hy nie 'n goeie of gewilde koning was nie, en ook dat hy uiteindelik van sy verstand af geraak het en gras ge-eet het.

Nou wat daarvan, hoor ek jou vra. Al hierdie manne en name het egter iets interessants en ongewoons in gemeen. Wyn ; of eerder, wynbottels.

'n Jerobeam is 'n wynbottel met 'n kapasiteit van 4/5 van 'n gelling, of dan 3.03 liters.

'n Rehabeam is 'n groot bottel wat in die Franse streke Champagne en Burgundy gebruik word, wat die gelyke van ses standaard bottels bevat, oftewel 4.5 liters.

'n Metusalag is 'n groot bottel wat ook in die Franse streke van Champagne en Burgundy gebruik word, wat die gelyke van agt standaard bottels bevat, oftewel 6 liters.

'n Salmaneser is 'n groot bottel wat ook in die Franse streke van Champagne en Burgundy gebruik word, wat die gelyke van twaalf standaard bottels bevat, oftewel 9 liters.

'n Balthasar is 'n groot bottel wat die gelyke van sestien standaard bottels bevat, oftewel 12 liters.

'n Nebukadnesar is 'n groot bottel wat in die Franse streek van Champagne uitsluitlik vir Franse champagne gebruik word, wat die gelyke van twintig standaard bottels bevat, oftewel 15 liters.

Wees nou eerlik, het jy dit geweet ?

'n Paar Balthasars of Nebukadnesars klink vir my na 'n goeie rede vir 'n partytjie !

Volledigheidshalwe, hier is 'n kort lys van bottelgroottes (ek gee die Engelse name hier) :


Tuesday, March 28, 2006

 

Three Mile Island, Koeberg en Hiroshima

Vandag, 28 Maart 2006 - presies 27 jaar gelede, kon daar as die geskiedenis effens anders verloop het, 'n potensiële publieke ramp in Amerika tot gevolg gewees het. 'n Gedeeltelike 'meltdown' by die Three Mile Island kernkrag aanleg naby Harrisburg, Pennsilvania het op die dag plaasgevind. Volgens inligting het 'n eenheid van die verkoelingstelsel in een van die kernreaktors ingegee, wat oorverhitting en 'n gedeeltelike insmelting van die uraan tot gevolg gehad het.

As gevolg van verskeie protes-aksies en demonstrasies teen kernkrag is alle kernkragproduksie in Amerika gestop en die 'Nuclear Regulatory Commission' het veel strenger riglyne en veiligheidsmaatreels ingestel op aanlegte reeds in produksie. 'n Hoofrede vir hierdie amptelike ingryping en aksies was 'n publieke protes-optog van ongeveer 200,000 deelnemers in New York Stad.

Nou wonder ek oor ons situasie in die mooie Kaap by Koeberg. As onse mense so argeloos 'n bout of 'n moer in 'n turbine kan laat rondlê, en daarna vir weke kan spekuleer in koerante, dan wonder ek hoe veilig is ons teen 'n kernramp ?

Sal die mense wat boute en moere laat rondlê weet as daar 'n probleem is ?

Nou wonder ek ook hoekom daar nie 200,000 of net 20,000 ; ag, al is dit maar net 2,000 mense nie hulle stemme saam kan of kon dik maak in die Kaap, Pretoria, Johannesburg, Bloemfontein, Putsonderwater, Kakamas, en Kimberley nie ?

Is ons al so moeg baklei ?

Vuisvoos ?

Of maar net apaties ?

God's water oor God's akker ?

Gaan ons kinders oor 27 jaar die geleentheid hê om te kan onthou van die stukkie metaal in die turbine vroeg in die jaar 2006 ? Of gaan Koeberg en Hiroshima en Nagasaki in dieselfde asem gesê word ?

Gaan ons kinders se kinders ons verwyt ?

 

Onverwagse hael-heimwee


Laat gistermiddag, net nadat ek by die woonstel gekom het, raak ek bewus van "iets anders" ; iets buite die normale toedrag van sake. 'n Bekende klank, maar wat tog misplaas is. Vir oomblikke dink ek dat iets elektries dalk die gees gegee het ; maar nee, weliswaar tog nie.

Toe sien ek dit ; hael wat val. Groot korrels soos duif-eiers. Maar dit kan tog nie wees nie ; hael dit in Duitsland. Sneeu ja, reën tog wel, ysreën van tyd tot tyd, mistigheid in die berge, maar hael ? Tog is dit so.

En net toe, soos 'n dief in die nag, neem 'n groot heimwee van my besit. Verlang ek terug na 'n lekker Noord-Transvaalse donderstorm, met al die geraas, die visuele skouspel, en die byklanke wat daarmee saamgaan. Verlang ek selfs na 'n haelstorm - omdat dit heeltemal anders is by die huis as hier in Duitsland.

'n Paar minute later, en die natuur herstel homself tot sy gewone status. Spierwit lê die hael op die gras, en dit het opgehou met reën. Asof dit nooit gebeur het nie. Maar dit het ; en dit het ook aan my hart gevat.

Friday, March 24, 2006

 

Om te weuen of nie

"Ag nee wat, ek dink jy lyk pragtig in geel !"

Die waarheid is egter dat ek dink jy lyk soos 'n opgeblase oorryp piesang op steriods.

... en so voorts.

Wie van ons het nie al 'n ou wit leuentjie vertel nie - die amper-waarheid mooi toegedraai in 'n jassie, en sommer partykeer met 'n mus en serp en hoed op en Wellington 'boots' ook. Erg toegedraai !

Is wit leuens enigsins geregverdig ? Doen jy regtig die persoon aan wie jy die leuentjie vertel, 'n guns ? As dit soms geregverdig is, wanneer is dit - en wanneer nie ?

Hoe voel jy as die persoon aan wie 'n wit leuentjie vertel is, (kom ons noem dit sommer 'n weuen), as jy in die eerste plek weet die verteller lieg, of erger, later uitvind dat hy of sy gelieg het ?

Het jy 'n gunsteling weuen ?

Is ons nie soms geneig om 'n weuen te vertel om ons eie bas te red nie ; of dalk vir die beswil van die luisteraar, om gevoelens te spaar. Een argument is dat dit op 'n 'need to know' basis geregverdig is, en dat weuens al vir eeue bestaan.

Maar is dit ? Beteken 'need to know' nie eerder om die waarheid te vertel nie, maar nie alles nie - met ander woorde, dit wat gesê is, is die waarheid, maar daar is inligting weerhou. Dan ook die gedagte dat dit al vir eeue bestaan ; dit beteken tog nie noodwendig dat dit reg of moreel regverdigbaar is nie ?

Of dalk anders, meer brutaal gestel : is ons nie maar meestal geneig om 'n weuen te gebruik om self uit 'n ongemaklike situasie te kom nie ?

Wat se voorbeeld stel ons vir kinders deur openlik te weuen, en dan partykeer agteraf (wanneer die kinders ook by is), 'n heel ander opinie te lug ?

Koppel 'n mens nie gereeld sy of haar selfbeeld aan wat ander mense van jou dink nie, al weet jy waarskynlik dat die ander persoon lieg (weuen) ? Maar dit klink darem net so lekker as iemand iets bevestig wat jy tog so graag wil hoor en glo.

Of kan 'n weuen onder die lipstiffie van diplomasie geregverdig en gemotiveer word ?

Ek dink 'n weuen is as 'n onwaarheid doelbewus geuiter word deur die spreker, maw as die persoon iets sê wat hy of sy weet is 'n leuen of lieg, al is dit om gevoelens te spaar, of om konflik te vermy.

Diplomasie aan die ander kant is as die waarheid 'sagter' vertel word - nie in 'n leuen toegedraai nie, maar dalk net nie so direk of blatant gestel word nie. Maar dit bly in sy geheel die waarheid - na jou wete.

My afskop-stelling verwys. Dit is 'n weuen (of 'n lieg !) as die persoon sê 'Jy lyk pragtig in geel' en weet dit is absoluut, in sy / haar eie mening, nie so nie. Diplomasie in die geval sou waarskynlik iets wees soos, 'Weet jy, ek dink 'n ligblou sou jou beter pas', of 'Groen sou dalk jou oë se kleur pragtig uitbring'. Ek dink die persoon sou weet wat jy bedoel, en dit waardeer dat jy nie sy / haar gevoelens seermaak nie deur die huidige keuse (geel) direk te kritiseer nie.

Waarskynlik sou ek in elk geval iets gesê het soos 'Geel laat jou dik lyk', wat dan die waarheid in my oë sou wees, wat nie 'n weuen is nie, maar ook min diplomasie bevat . . . en dan die aand in die hondehok geslaap het ; of kos op 'n ander plek gaan soek het ; of 'n vriendskap dalk gekneus het.

Dan moet 'n mens ook in ag neem hoekom die persoon die vraag vra. Is dit om 'n kompliment te kry, of dit is 'n eerlike vraag waarvoor die persoon 'n eerlike antwoord verwag van jou. Jy kan nog steeds die vraag beantwoord as die persoon vis vir 'n kompliment sonder om te weuen, deur iets soos 'As jy daarvan hou en goed voel daarin, is dit mooi.' Dit is egter 'n grensgeval weuen - maar uiteindelik voel ek - as ek van iets hou en goed voel daar in, bôkker die wêreld ! Dit is my smaak en my saak !

Of is ek verkeerd ?

Nou ja toe, hoe antwoord mens die volgende vrae van jou lewensmaat :

Sy : "Dink jy die rok laat my vet lyk ?"

Hy : "Dink jy nie ons het 'n nuwe kar nodig nie ?" (let wel, die inklusiewe verwysing "ons" . . .)

Thursday, March 23, 2006

 

'n Dag op die Autobahn

Die Autobahn. Lank, lank gelede toe ek nog 'n seuntjie was en begin belangstel het in karre en spoed en kraglewering en perde onder die enjinkap, het ek ook gehoor van die magiese Duitse "Autobahns", en grootogig geluister na stories van hoe daar geen spoedbeperkings bestaan nie, en allerhande fantastiese versinsels geglo oor hierdie hemel op aarde. Ek het myself die Autobahn in my geestesoog gesien as hierdie publieke resiesbaan, met 'n perfekte teer-oppervlak, reguit soos die N1 deur die Karoo Kaap se kant toe.

Die werklikheid van die Autobahn moes ek tot my teleurstelling agterkom, realiseer egter nie die jeugdige droombeeld nie. Spoedbeperkings geld op baie meer plekke as wat daar nie beperkings is nie, daar hopeloos te veel verkeer op die pad, ongelukke gebeur, en duisende (letterlik) swaar voertuie wat die gerief van die Autobahns sentraal in Europa misbruik om 'n transport-kosmos lewendig te maak tussen Oos en Wes, Noord en Suid. En die vloek van die Autobahn - die nimmereindige "Stau" en "Stop" situasies. 'n Twee-uur rit kan maklik vier ure en langer word as daar 'n ongeluk iewers op die Autobahn is, of padwerke die bane vertregter.

Ek ry gisteroggend by die huis weg op pad Eschborn, Frankfurt toe om 'n werksessie by te woon. Dit reën - liggies hier in Neuhausen, maar verander vinnig in 'n ysreën nog voordat ek anderkant Leinfelden is. Voor die Leonberg Kreuz begin dit liggies sneeu, wat spoedig verander in 'n sneeuval wat sigbaarheid verminder na minder as 30 meter. Die regterbaan is verstop met dosyne gelaaide swaarvoertuie, almal waarskynlik op pad na die Noorde of Oosblok lande. Passasiersmotors en ligte afleweringsvoertuie smeer die ander bane soos maaskaas op bruinbrood. Ek besef dat ek al byna een uur op pad is, en skaars dertig kilometer van die huis af is. Gelukkig is daar nog net 190 kilometer oor voordat ek in Eschborn kom.

Skielik vloei die verkeer, maar op die stuk pad is die spoedbeperking slegs 120. Nie te vêr gevorder nie, voordat 'n see van flikkerende oranje ligte voor aandui dat daar 'n probleem is. Weer terug na die maaskaas-model, en tien minute later sien ek die oorsaak van die probleem. 'n Silwer Porsche 911 wat met die padrelings aan die linkerkant (vinnige baan) in 'n argument betrokke was, en duidelik die argument verloor het. Erg verloor het. En dit op 'n lynreguit pad ! Almal het nou mooi klaar gekyk, en vier bane se verkeer wat voor die ongeluk in drie bane ingetregter is, kan nou weer asem haal in die vier bane. Uiteindelik kan ons die Autobahn gebruik waarvoor dit gebou is. Daar is wel 'n voorgestelde maksimum spoed van 250 km/u, maar die meeste voertuie kan gelukkig nie daarby kom nie. Ek druk die BMW na my gemakspoed van net oor die 180 km/u, en begin dink dat ek dalk met 'n bietjie Autobahngeluk betyds vir my vergadering sal wees. Karring rustig voort totdat ek weer flikkerende ligte sien. Hierdie keer is die flikkerende ligte in my truspieel, en ek dog dat ek per ongeluk huisspoed ry. Nie so nie, my vinnige loer bevestig ek is nog op 180. Trek toe maar oor na die stadiger regter-middelbaan en maak plek vir die omie in sy Audi A6 om teen nekbreekspoed by my verby te vlieg. Net weer begin dink dat die probleme op 'n einde is, toe die oranje ligsee weer voor my branderbreek. Volgens die SWR-4 radioberig is hierdie "Stau" so 16 kilometer lank. Hierdie keer is daar padwerke, en die vier bane vertregter weer tot twee smal bane, elk twee meter breed, en die wit padlyne tydelik ge-ignoreer met helder geel plakstrepe op die pad. Nou daar is vir jou 'n uitdaging om in die "vinnige" baan links te ry, en 'n trein van trokke en treilers en toerbusse sardientjie-pak die regterbaan toe. En daar is 'n tydelike konstruksie van een meter hoe sementblokke sentimeters van jou kar se linkerdeur af om te wys waar jy nie mag ry nie !

Uiteindelik is hierdie deel van die nagmerrie vir die oomblik verby. Daar is wel nog so twee of drie van dieselfde episodes vorentoe, maar dit is netnou se probleem. Eers wil mens nou by 'n rusplek aftrek om bietjie te ontspan, die bene te rek en 'n koppie koffie drink. Ja, mens kan hier in Duitsland enige tyd met veiligheid aftrek en uitklim. Party drink ook kofiie of tee of iets uit 'n fles uit, maar baie Duitse omies trek af om af te slaan. Water af te slaan, sommer daar langs die kar, waar alles en almal hulle kan sien. Hulle het nie eers die beskeidenheid om so tien-vyftien tree in die bosse agter die bome in te loop om bietjie meer diskreet te wees nie. En, hierdie gedrag is nie die uitsondering nie. Vandag het ek drie gesien by die een plek waar ek gestop het. 'n Man, duidelik 'n besigheidsman, geklee in 'n pak klere, 'n ander persoon uit 'n swaar voertuig, en nog een van 'n kar af. Die snaakste is dat daar oral langs die pad mooi en skoon toiletgeriewe is vir gebruik. En, ek het dieselfde gedrag al by 'n paar vrouens ook waargeneem, al hurkende langs hulle kar.

Die terugreis van Frankfurt af huis toe het maar basies dieselfde patroon gevolg, behalwe dat ek nie weer gestop het vir 'n koppie koffie nie. Ek moes by die huis kom, want ek het vergeet om 'n draai te loop by die kantoor voordat ek weg is. Om 'n koppie koffie langs die pad te drink sou nie 'n goeie idee wees nie . . .

Tuesday, March 21, 2006

 

Soos Hy neem, so gee Hy ook

Vandag, Maandag 20 Maart 2006. 'n Maandag soos baie ander. Alles dieselfde soos altyd. Alles tog ook heeltemal anders as altyd. Hartseer en vreugde. Soos soet en suur. Soos dag en nag. Soos die koms van die lente na 'n bitter koue, ongenaakbare winter. Voëltjies fluit en kwetter en bou nessies, en juig in die vreugde van sonskyn. Skielik, asof deur miljoene kabouterhandjies gehelp en aangevuur deur die belofte van lewe in son en lig en warmte, breek groen sprietjies deur barre grond, en bome word getooi deur skaam groenerigheid, wat binne dae en weke ons leefwêreld gaan omtower in 'n paradys van groen en kleur.

Aan die anderkant van die wêreld kruip winter-herfs ongemerk en byna slu, soos 'n dief in die nag, stadig, nader. Die son tree aan vir diens 'n paar minute later elke dag, en raak effens bleek om die kiewe. Asof skelm, draf die son ook al hoe vroeër laatmiddag effens vinniger om plek te maak vir aandskemer. So besef 'n mens byna nie dat die dag nou korter geword het nie, en jy reik ook onwillekeurig uit na daardie trui wat jy tog nie so lank gelede sommer so losweg in die hoekie van die kas gegooi het nie.

Vroegoggend vanoggend het die Here dit ook goed gedink om vir Neville te kom haal en huis toe te neem. Dit was te swaar vir Hom om te sien hoeveel pyn Neville gehad het, en om sy lyding te moes aanskou. Sy liggaam kon net nie meer die aardse pyne hanteer nie, en omdat Jesus goed is, en omdat Jesus lief is vir Sy kinders en hulle nie onnodig wil laat swaar kry nie, het Hy 'n spesiale engel Centurion toe gestuur om vir Neville gemaklik die pad terug te wys en te verwelkom in die Ewige Lewe waar hy geen pyn sal hê nie. My vriend, ou 'Loop-en-Val' Neville, nooit weer sal jy val nie. Nooit weer sal jy nodig hê om te onthou om jou pille te drink nie. Rus sag. Rus in ewige vrede.

Vandag het die Vader van alle lewe dit ook in Sy almagsplan gehad om vir Hannelie en Dewald hulle lankverwagte prinsessie te gee. Dehanné van Staden het vandag die lewenslig aanskou, nadat Hannelie en Dewald ook baie lank moes wag. My ou Boetie en Sussie, ons is saam met jullle bly - en trots - en dankbaar ! Ons het nie aldag verstaan hoekom dit so lank moes neem nie, maar vandag weet ons dat dit reg was. Prys die Heer ! Mag hierdie pragtige bondeltjie genade ook vir julle en ons almal vreugde bring, en 'n ligstraaltjie elke dag wees, oral waar sy gaan. Mag julle so spesiaal vir haar wees soos wat sy vir julle is.

Soos die Vader neem, so gee Hy ook veelvoudig. Ons wik, maar God beskik.


Monday, March 20, 2006

 

Sukses

Onlangs wonder ek oor wat sukses werklik is. Wonder oor wat dit beteken. Watter dimensies het sukses ? Waarteen kan sukses gemeet word ? Rykdom ? Kinders ? Materiële welvaart ? Aardskuddende ontdekkings en uitvindings ? Om lekker kos te maak ? Om goeie toesprake te lewer ? 'n Beroemde sanger of kunstenaar te wees ? Om eerste oor die wenstreep te hardloop ?

Nadat ek so bietjie oor die woord gedink het, het ek besluit dat sukses 'n keuse is wat elke mens self maak. Suksesvolle mense dra sukses in hulle oë. Om suksesvol te wees moet mens selfs suksesvol in jou mislukkings wees. Met ander woorde, deur op te staan en voort te gaan na 'n mislukking is vir my 'n werklike triomf en in sigself 'n sukses. Dit is soms so maklik om nadat jy jou alles gegee het en dan nog steeds te misluk, nie op te staan nie, en om allerhande faktore die skuld te gee sonder om self eienaarskap vir mislukking te aanvaar, en om nie 'n mislukking om te skakel in 'n positiewe leerervaring nie. Om suksesvol te wees beteken nie noodwendig om baie dinge te hê nie, of 'n stywe bankrekening nie, of om invloedryk te wees nie, of om invloedryke vriende te hê nie. Sukses mag die dinge insluit - en doen welliswaar baie maal, maar dit is sekondêr. Sukses beteken aanvaarding sonder om moed op te gee, dit beteken om 'n verskil te maak, al weet niemand dat jy die regte ding gedoen het nie. Sukses beteken om om te gee oor dinge wat waarlik belangrik is. Sukses beteken om respek te hê vir ander mense se sienings sonder om jouself te kompromiseer of om jouself minderwaardig te stel. Thomas Edison het per geleentheid gesê dat baie onsuksesvolle mense die gevolg is van die feit dat hulle nie geweet hoe naby aan sukses hulle is toe hulle moed opgegee het nie. En dit is vir my die kern van die saak - om nie moed op te gee nie.

Die sportman of vrou wat eerste oor die wenstreep kom, mag op die oog af suksesvol lyk. Maar as die sportman nie sy uiterste beste gegee het nie, was dit 'n eerlike suksesvertoning ? Om te wen volgens normatiewe standaarde beteken nie noodwendig sukses nie. Dink vir 'n oomblik aan die persoon wat dalk laaste gekom het, maar wat miskien as gevolg van fisiese probleme of ander faktore ongelooflike opofferings moes maak om wel te kwalifiseer vir die wedren, en dat slegs die voltooiing van die wedren 'n persoonlike oorwinning was. Word sy prestasie beskou as 'n sukses ?

Suksesvolle mense deel gewoonlik 'n paar eienskappe. Hierdie eienskappe sluit gewoonlik die meeste van die volgende in :

  1. Hulle het 'n droom
  2. Hulle het 'n plan
  3. Hulle berei hulleself voor ten opsigte van kennis, insig en opleiding
  4. Hulle is bereid om hard te werk en om opofferings te maak vir hulle droom
  5. Hulle glo in hulle droom en glo onvoorwaardelik dat hulle die droom kan realiseer

Maar, 'n ander dimensie van sukses is om lief te hê en om my lewe te lewe binne my uitgemete plekkie op hierdie aarde. As ek onvoorwaardelik lief is vir my mense, en hulle lief is vir my ; as ek na hulle behoeftes kan omsien, en selfs af en toe ietsie ekstra kan gee ; as ek die regte woord op die regte tyd kan sê ; as ek sien dat iemand my hulp nodig het, en ek daar en dan kan help ; as ek kan help sonder om te oordeel of te veroordeel ; as ek die werk wat my toegedeel is doen en reg doen ; en as ek 'n voorbeeld vir iemand is deur dit wat ek doen eerder as dit wat ek sê ; dan dink ek ek is redelik suksesvol.

Uiteindelik word sukses nie gemeet met aardse mates nie. Uiteindelik sal ek die dag wanneer ek voor my Skepper staan, ek eerlik moet kan sê dat ten spyte van al die aardse mislukkings en aardse suksesse, Heer, ek suksesvol was. Omdat ek U verheerlik het. As ek eendag in die mate as suksesvol gemeet word, dan was ek eerlikwaar suksesvol.

Die Prediker het juis gesê "Ek het gesien dat al die moeite wat mens doen vir sukses uit onderlinge afguns kom. Ook hier kom dit dus tot niks. Dit is 'n gejaag na wind."

Dan eerder wat Salomo in Spreuke gesê het dat "Wie My het, het raad en behaal sukses, Ek verleen insig, Ek is die een wat mag gee".


Sunday, March 19, 2006

 

Chris skryf van Denemarke

Ek geniet elke keer jou kosmaak eskapades waaroor jy gesels op jou kuiergat. Ek maak naweke kos om Theresa af te gee. Hier in Europa is daar nie die luukse van bediendes nie. Jy moet alles self doen en om 'n gesin van 6 mense aan te gang te hou verg baie werk. Elke een moet sy deel doen. Elke kind het sy werk. Theresa doen 'n reuse werk wat ek baie waardeer.

Ek bak so nou en dan ook brood maar doen dit op die tradisionele manier. Ons het 'n broodpan van Suid Afrika af saamgebring, met 'n deksel, waarmee ek op die vuur broodbak. Hy werk ook goed in die weber. Bierbrood met 'n blik mielies in vir "tekstuur" bly 'n gunsteling.

Ons het 'n baie koue winter beleef hier in die noorde van Denemarke. Temperature het baie nagte tot onder -15 grade gedaal en was selde bo vriespunt in die dag. Van net na kersfees af was ons tuin nog nie sonder sneeu en ys nie. Baie oggende het ek en die kinders werk en skool to gery met die fietse in temperature van onder die -10 grade. Die kinders se skool is 3 km ver en my werk is 2,5 km ver. Dit was so koud dat die see begin vries het. Hulle moes ysbrekers gebruik het om party van hawens oop te kry. 'n Suid Afrikaner het nie aldag ,n besef hoe drasties dinge verander as die temperatuur so laag daal nie. Theresa het een dag in ons oprit vasgesit met die motor, want die sneeu het amper 'n meter dik gele. Met die baie koue is almal se energie rekenings baie meer. Dit kos ons ongeveer R18 000 per jaar on die huis op te warm.

Dit het ons nie gestop om vleis te braai nie. Ek het al vleis gebraai op die weber met 'n temperatuur van -12 grade buite. Die bure kon dit nie glo nie en het gedink dat ek 'n brand het. Ek gebruik spesiale brikette wat van Australie af kom. Die gewone brikette se temperatuur is te laag om in hierdie koue te werk. Brikette is baie duur. 10kg kos ongeveer R100. Vleis is die ander duur artikel. Een kg goeie beesvleis kan tot R350 kos. Ons kry net geel mieliemeel wat R15 per kg kos. Die meel word as gesondheidskos beskou. Varkvleis en hoender is meer billik en kan so min as R40 per kg kos. Beesstert is 'n ander gunsteling by ons en is partykeer R45 per kilogram omdat nie baie mense dit eet nie. Hulle verkies meer varksterte. Denemarke is primer 'n varkvleis land en eet tot vark harte en varklewer. Spur in Suid Afrika voer al hulle "spare ribs" van Denemarke af in.

In Desember maak die mense tradisionele kos en eet dan meer ryk kosse. Die kos word net in Desember gemaak om met die koue weer meer energie te verskaf. Een verrassing was om te sien dat hulle bron maak. My ouma het dit altyd gemaak en die resep proe dieselfde.

Alles is baie lekker maar dit stil nie die verlange na mens se eie land nie.

 

My Skoonouers

Ek is so bevoorreg...

...om Skoonouers (ouers) te hê soos Alwyn en Sarah du Plessis.

Die twee besondere mense het my meer as ses-en-twintig jaar gelede in hulle huis en harte verwelkom, met absolute, ongekwalifiseerde liefde. Ek het nog nooit soos 'n skoonseun by hulle gevoel nie, en ek verstaan al die skoonma-grappies slegs vanuit 'n akademiese perspektief ; ek en my familietjie het nog nooit enige inmenging of kritiek van my Skoonma aan die lyf gevoel nie.

My Skoonpa het baie jare gelede al afgetree, maar hy het nog nooit opgehou om te werk nie. En ek bedoel nie aftree-werkies soos om die tuin nat te spuit en alles en almal te kritiseer nie. Ja, dit doen hy ook baie goed - sy tuin in Pretoria is 'n lushof ; en ook om kritiek te lewer oor amper alles, en krities te staan oor dinge. Sterk van opinie is hy wel, maar so ook gekwalifiseerd in sy opinies. Op tegniese vlak en om goed te maak en om goed reg te maak ken ek nie sy gelyke nie. Ek ken of weet van niemand wat nie eers naby so goed soos hy is in die opsig nie. As dit stukkend is, sal hy dit regmaak. As dit nie stukkend is nie, maak hy dat dit beter werk. Hy, aan die hoof van sy familie, en saam met skoonma, het met ontelbare opofferings oor baie jare seker gemaak dat Annatjie vandag kan loop, en na meer as sewentig operasies en God se genade het sy die lewe al lopende aangepak.

My Skoonma, soos 'n skaduwee in die agtergrond, sterk soos 'n rots wat alles feil het vir die mense wat sy lief het. Vyf kinders het sy groot gemaak, en 'n groot rol gespeel in die grootmaak en opvoeding van baie ander, en selfs jare nadat almal uit die huis uit is, kook sy vandag nog asof almal, en nog 'n paar, gaan opdaag vir ete. Daar is verseker baie Moeders wat hulle alles, hulle absolute self, ter wille van hulle kinders en familie opgeoffer het, en die stuur ferm in die agtergrond vasgehou het. Hierdie Skoonma van my staan voor in daardie ry.

Hulle liefde vir hulle God, vir mekaar, en vir hulle kinders, is 'n voorbeeld vir my, en kan vir baie ander 'n voorbeeld wees.

Die twee oumense het 'n klomp jare gelede vir Alwyn, ons seun wat gestrem is in vele opsigte, met groot en eerlike liefde aan huis geneem en daagliks versorg terwyl hy 'n leerder in Prinshof Skool was. Alwyn was daardie tyd al totaal loopgestrem, rolstoelgebonde, en het verskeie mediese probleme gehad ; en het dus baie persoonlike sorg nodig gehad. Ek besef miskien vandag net 'n bietjie van wat hulle vir ons gedoen het - toe ek en Annatjie jonk (nou goed dan, jonger) was, en ek ter wille van my loopbaan met die familie Oos-Londen toe verhuis het. Toe het Pa Alwyn en Ma Sarah totale verantwoordelikheid vir Alwyn geneem. Absolute, onbaatsugtige liefde - prakties uitgeleef, met die geloof dat hulle dit sal doen met die genade en krag van die Hemelse Vader.

Toe ek met Annatjie getrou het, en ek onmiddelik 'n kitsfamilie bygekry het, het ons twee gereeld baie dom dinge gedoen. Ons is egter nooit deur die twee mense gekritiseer nie, en was altyd verseker van hulle onvoorwaardelike ondersteuning. Die twee ou mense het ons deur die jare, tot vandag toe, bygestaan en waar nodig, gehelp. Ek kan met alle eerlikheid en dankbaarheid sê dat 'n bak sop of tuisgemaakte frikkadelle daardie jare gereeld net op die regte tyd gegee is, omdat Ma Sarah "vandag weer te veel gekook het".

Hulle is nie volmaak nie. Maar ek wil hulle nie anders hê nie. Hulle is wat hulle is. Hulle is die sout van die aarde. Dit is my voorreg om in hulle skadu te kan wees.

Twee spesiale, besondere mense, wat God met goeie rede in my lewe laat kom het. Skoonouers duisend !

Friday, March 17, 2006

 

Mansdinge - vir 'n spesiale meisie


Hierdie is sommer 'n Vrydag-storie - 'n waar storie !

Ek het al in die verlede gekla dat ek en die toedraai van geskenke nie lekker saamwerk nie. Nou ja, ek word uitgenooi na 'n baie spesiale meisie se verjaardag, en dit beteken uiteraard weer 'n klomp probleme. Eerstens moet 'n geskenk gekoop word, en dan waarskynlik toegedraai word (ek vergeet altyd om in die winkel te vra dat hulle dit toedraai). Het ek gesê dat ek ook nie goed is met geskenke koop nie ?

So gebeur dit toe dat ek Woensdag-middag na werk winkelsentrum toe is. Ek moet ook noem dat ek probeer uitvind by iemand na aan die meisie watter tipe geskenk waardeer sou word. Gewapen met die inligting voel ek dat hierdie koopskermutseling makliker as voriges behoort te wees. Was ek verkeerd - mense, ek loop vir byna drie ure deur al wat moontlike winkel is om 'n gepaste geskenk te kry - maar geen sukses. Plaas het ek maar liewer nie gevra wat sy graag wil hê nie, dan het ek tog sekerlik makliker iets kon kry !

Gister besef ek dat ek nou vinnig iets sal moet kry - vanaand is die ete-afspraak, en ek kan mos nie met niks by 'n spesiale meisie kom nie ! So teen etenstyd sluip ek uit die kantoor uit - hier is darem 'n klomp winkels naby, en ek weet daar is ook 'n spesialis-winkel in die kompleks. Hopelik sal ek daar regkom. Met my beursie in die hand (kredietkaart en kontantkaart ook, net vir ingeval), mik ek maar vir die spesialis-winkel ; dit is darem etenstyd en ek het verseker nou nie die luuksheid van drie ure om niks te koop nie. In die winkel word ek oorweldig deur rakke en uitstallings van dosyne, honderde, duisende - nee, miljoene goeters wat my intimiderend aangluur uit hulle bokse en stanings en wat nog. My broek bewe letterlik - ek was in jare der jare nie in so winkel nie - ten minste nie alleen nie. En om my behoefte in my Afrikaanse-Engelse-Duits te verduidelik aan iemand wat net Swabiese Duits praat is moeliker as om WvMV in Irak te vind ; en julle almal ken daardie storie ! So ek is dus op myself aangewese. Ek brom nog oor vroumense wat mans se lewe... kom ons los dit maar eerder daar.

Uiteindelik het ek 'n paar goeters op die kortlys - ten minste een wat relatief aan die 'aanbeveling' se voorskrifte voldoen, en 'n paar ander wat nader aan my finansiële vermoëns voldoen. Die keuse was nie maklik nie, maar uiteindelik oorwin die geskenk wat ten minste aan die aanbevole kriteria voldoen. Ek betaal vinnig, voordat my kontantkaart agterkom wat aan die gebeur is, en draf terug kantoor nie.

Hier aangekom, vind ek tot my uiterste skok uit dat ek vergeet het om die ding te laat toedraai. Erger nog, my sekretaresse is met verlof, so weereens is ek op myself aangewese. Gelukkig het ek nog geskenkpapier in my kas - oorblyfsels van verlede jaar se Kersfeespapier wat gelukkig toe nie Kersfeespapier was nie. Toe is dit ek en die geskenk en die geskenkpapier en die skêr en 'n rolletjie kleeflint. Gelukkig is dit 'n vol rol, en daar is baie papier - en die skêr is skerp.

Nou rol ek die papier uit op my vergaderingstafel - my lessenaar is uiteraard te deurmekaar, en meet mooi om die ding netjies (!) toe te draai. Sny die papier 'n ent na die ooste, en toe na die noorde. Toe vind ek uit die papier het gekrimp - of die geskenk het skielik groter geword. Daar is nou te min papier om die hele ding mee toe te draai. Vou die nou maar die papier om die ding, en plak met kleeflint vas. Baie kleeflint. Sny nog 'n stuk papier om die ontblote deel van die geskenk mee toe te maak, en nog kleeflint. Gelukkig was dit 'n vol rol, maar nou is die rol amper halfpad opgebruik. Dit beteken darem seker dat die papier nie sal afval van die geskenk af nie - hopelik ! Verder kan ek ook nie verstaan hoekom hulle nie alles mooi in vierkantige boksies wil verpak nie - dit sal die toedraai darem heelwat makliker maak.

Die ding is toegedraai ! Heeltemal toegedraai. Nie mooi toegedraai nie, maar goed toegedraai.

En ek is betyds klaar ! Sal darem nie laat vir ete en koek wees nie.

Chané se ma Mari het gevra dat ek 'n geskenk koop met liggies, want Chané hou van liggies en goed wat raas. Chané was bly oor die geskenk. Maar die vierjarige ouboet Diwan was blyer - hy hou toe meer van die geskenk. Ongelukkig kom ek toe agter dat op die boks staan groot geskryf : "2 Jahr +". Chané was gister een jaar oud.

Maar ons het lekker ge-eet, en die koek was ook lekker. Nadat Chané die een kers amper doodgeblaas het, en nadat sy haar hande en vingers deur die versiersuiker getrek het. Maar sy mag maar.

Chané het lekker verjaar !

Wednesday, March 15, 2006

 

Ek bak my eie brood

Ek het die naweek vir my 'n broodbakoutomaat (D - Brotbackautomat ; GB - Bread baking Machine) gekoop. Onlangs by vriende gewees, en die brood wat die gasvrou voorgesit het was knapwarm gebak in so masjien - toe dog ek, nou ja, dalk kan dit vir my ook werk...

Die ding is nogal oulik. Mens gooi water, melk en bietjie botter in ; gooi 'n voorafgemengde mengsel in, druk 'n paar knoppies, en voila ! Die ding gaan aan't bewe, knie die deeg, biep af en toe, en rus ook tussenin. Hopelik spring daar 'n lekker warm brood uit na 'n ruk.

Ek het nou 'n "Weissbrot Backmischung" ingegooi, en nou ruik my kombuis ewe bakkery. Volgens die prentjie op die pakkie is dit witbrood. Sal maar sien wat gebeur...

Mens kry verskeie soorte mengsels. Ek het ook pakkies "Mehrkornbrot met Hefe" en "Roggenmisch Brot mit Hefe" gekoop. Nie heeltemal seker wat dit alles is nie, maar die prentjies op die verpakking lyk goed. Sal maar probeer bak totdat ek sukses met die ding het.
Volgens die amper-Engelse instruksie-handleiding kan die ding tot konfyte en marmelades kook.

Hopelik kla die puriste-bakkers nie te veel oor hierdie ding nie...

Nou vertel 'n goeie vriendin dat as jy 'n pakkie uiesop in die mengsel gooi, dit die brood besonder lekker maak. Gisteraand besluit ek toe, dis nou die tyd om te probeer. Wat 'n wenner-treffer is hierdie uiesop-witbrood nie. Goed genoeg vir 'n ete op sy eie, maar sal ook besonder goed afgaan saam met braaivleis.

Verder wil ek nou bietjie eksperimenteer met die mengsels. Ek is seker 'n kerrie-en-speserye brood sal ook goed wees, en rosyntjies-en-heuning of rosyntjies-en-bruinsuiker vir 'n soet brood behoort ook aandag te trek. Ek het ook al begin dink aan 'n Jalapeno- of -Habanero-chillie brood ook - dit sal egter eksklusief vir die 'gevorderde fynproewer' wees.

 

Ek is trots op my Pa en my Ma

Klein waardering vir Hendrik en Marah van Staden.

My Pa word 76 hierdie jaar, maar hy het verlede Sondag (12 Maart 2006) alleen, tussen en saam met ongeveer 38,000 fietsryers, sy vyfde ARGUS klaargery. Dit was ook sy beste tyd hierdie jaar. Ek gee nie om dat een of ander Duitser dit gewen het in onder drie ure nie. My Pa se onder die sewe ure is 'n persoonlike sege ; 'n spesiale oorwinning.

My Pa ly aan kanker. Dit is nou wel nie een van die groot K, gevaarlikes nie, maar dit bly kanker. Dit bly tog in mens se kop. Ten spyte van hierdie dinge, oefen my Pa aanmekaar in die Warmbad (Bela Bela) omgewing, met baie opofferings. Vroeg-oggend deur die stowwerige plaaspaaie met die kar, fiets agterop gelaai, om op die teerpad te kom om sy oefening in te kry. So warm soos wat dit daar word, is hy gedissiplineerd om fiks te bly. In die koue, dwarsdeur die jaar ry hy, want hy wil die Argus (weer) doen.

En my Ma, sy ondersteun hom in stilte, gaan sit baie langs die pad as hy 'n wedren iewers doen. Sy bekommer haar oor hom - veral wanneer hy so gereeld die laaste fietsryer is wat inkom. Maar trap sal hy - sal nie op 'n bakkie klim om maar teruggeneem te word nie. Baie keer kry hy nie eers 'n medalje nie, want daar was te min medaljes. Maar die medalje is nie belangrik nie.

Dit het my nou bietjie laat dink . . .

My Ouers - hulle het sewe seuns grootgemaak. Hulle het sewe seuns goed grootgemaak. Onder moeilike omstandighede, met Pa wat 'n staatsdiens-salaris verdien, en Ma wat kinders grootmaak. Ouers wat bitter baie opgeoffer het - dinge en selfs basiese noodsaaklikhede hulle-self ontsê om die seuns spesiale dinge te laat doen. Ons is nooit die voorreg weerhou om 'n skoolkamp by te woon nie, of betrokke te wees met sport-aktiwiteite, of watter belangstellings ons gehad het nie. Hulle het ons met vakansie geneem - en daar was altyd die spesiale ekstras. 'n Roomys hier, 'n lekker daar. Luukses het ons wel nie geken nie - maar dit wat ons nodig gehad het, en nog meer - dit het Hendrik en Marah van Staden vir hulle seuns gegee.

Ons sal nooit regtig weet wat se opofferings hulle gemaak het nie. Ons sal nooit weet waarsonder hulle moes bly en klaarkom nie, om ons op daardie kerkkamp, of Landsdienskamp, of dalk selfs met vakansie te neem nie. Ons kan maar net dankbaar wees daarvoor.


Ek is trots op my Pa en my Ma.

Ek salueer julle ! Met trots !