Google Web Kuiergat

This page is powered by Blogger. Isn't yours?

My status

Enige terugvoer, kommentaar, kritiek, of net 'n boodskap is baie welkom. Skryf gerus vir my ; muisdruk hier Johann van Staden

Online dictionary at www.Answers.com

Tell me about:

Thursday, July 19, 2007

 

Die Otter : 1 - Beplanning en toerusting

Ek is nou al ‘n rukkie besig om myself voor te berei vir die Otter, en die dingetjies hier en daar aan te koop wat nodig is. En dis ’n skrikwekkende oefening en ervaring ; veral gevaarlik vir mens se kredietkaart !

Ek het 'n paar weke gelede vir my 'n stel baie duur stewels in Duitsland gekoop met die Otter in gedagte ; toegegee, dit was ’n ietwat irrasionele en miskien onverantwoordelike aankoop, maar dis so en gedoen. Vir 'n paar dae het ek maar my dagtoelaag geknyp dat die trane loop.

Intussen het ek ook nou al met verskeie mense wat die loop geloop het gesels en na hulle raad geluister, en ook in verskeie buitelewe-winkels met kundiges gesels. En dis duidelik ; die vervaardigers en die mark sien hulle slagoffers op ’n myl aankom ! Daar is weliswaar vir sekere produkte “goedkoper” alternatiewe, maar die uitgeslape verkopers wys baie gou die swakplekke en ontwerpfoute aan jou uit – baie oortuigend ook. En ek as koper luister gewillig, en sonder die nodige kennis en ondervinding voel ek byna soos ’n skaap wat ter slagting gelei word. Mens wil mos die staptog geniet, sonder om onnodig swaar te kry. Volgens die kundiges het jy definitief kouse nodig wat reukwerend is, en wat nie ’n naat oor of naby die tone het nie, want anders gaan dit jou in ’n ander bloedgroep in skaaf. Jy het “aktiewe” hemde nodig, en vinnig-droogword broeke. Selfs die broeke is blykbaar reukwerend (dit sal ons maar moet sien...)

Jy het kamaste nodig, anders gaan daardie een klippie in jou stewel inval wat jou al jou dae se probleme gaan gee, of die klitsgras en ander bosgoeters gaan in jou kouse kom en weereens pyn en lyding veroorsaak totdat die bloed loop. En dit wil mens tog nie !

Jy het ’n gasstofie nodig wat so klein opvou soos drie pakkies vuurhoutjies, en die ding werk op Kilimandjaro sonder probleme en kry die water en sop blitsvinnig warm ; sal waarskynlik op die maan ook werk. En jy het verseker waterdigte vuurhoutjies ook nodig ; ek het nie eers geweet jy kry sulke goed nie. Om te keer dat jy allerhande nare dinge oorkom met die berg- en rivierwater wat jy gaan drink het jy watersuiweringsdruppels nodig. Drie druppels per liter water en dis asof jy Schoonspruit drink - volgens hulle.

Dan kom die rugsak ! Mense, daar is tegnologie ingebou wat skrik vir niks ! Jy kan die ding stel op millimeters na en selfs die struktuur buig om jou unieke lyf, lengte, breedte, en postuur te pas. Die materiaal is afkomstig vanuit die ruimte ; of wel gebruik hulle dit in die ruimte. Die ritssluiters word nou wel nie gewaarborg om waterdig te wees nie, maar daarvoor is ook voorsiening gemaak met die ontwerp van die sak. Die ding het ’n ingeboude reenjas om die hele sak mee toe te maak wanneer dit reen. Jy het toegang na jou goed in die sak deur middel van vele openinge en ritssluiters. Lyk my mens moet ook universiteit toe gaan om te leer hoe om die ding te pak ! Feit is, die sak kos byna 'n huispaaiement !

Loopstokke is veral belangrik en nodig. Dit help glo om die druk van jou kniee te verlig, jou balans te hou, en moeilike plekke gemaklik aan te durf. Die loopstok moet ook die skokke kan hanteer en weghou van jou af, en dis tog so belangrik dat die stok van titanium gemaak is. Dan het jy ook ’n kopflits nodig om saans die dinge by die kampvuur uit te kyk, en jou hande los te maak vir ander dinge (watter ander dinge is ek nie heeltemal seker oor nie...) Ook hier speel ruimte-tegnologie ’n belangrike rol in die flits. Maar meneer, dis klein, baie lig, kan lig maak wat skrik vir niks, en die battery sal jou tot tussen 40 en 100 uur hou.

’n Gewone sonbril is ook nie aanvaarbaar nie. Jy het ’n spesiale een nodig wat byna tot jou ore toemaak. Anders gaan jy nie die wandel werklikwaar kan geniet nie. Dan ook ’n uiters liggewig reenjas, warm baadjie – ook hier is die materiaal op spesiale maniere geweef om sekere hittes en koues en toestande te weerstaan en is gelukkig vir jou ook genommer sodat jy weet watter graad van weersomstandighede jy kan aanpak. Jou gewone en gemaklik sweetpak is blykbaar heeltemal buite orde, volgens die kundiges.

Dan het jy het ook ’n oorlewingssak nodig – die sogenaamde “survival bag” - wat groot genoeg moet wees om jou rugsak en alle ander goed wat nie mag nat word nie, oor die riviere te kry – in die geval van die Otter, vir ten minste een rivier, die Bloukrans. Hier het ek ’n probleem – alles moet droog bly behalwe ekself !

Ook die waterbottels en kosmaaktoerusting is ’n besluitnemingssaak van formaat. Die keuses is legio – gemaak van verskillende materiale, groottes, en wat nog ! Dan het jy ’n pot en ’n pan en ’n ketel ook nodig ; ook hier kan jy kies uit liggewig titanium aan die een kant – hoogs aante bevole, of as alternatief die outydse “Hart” aliminium-potte wat blykbaar nie heeltemal reg en goed is nie. Veral nie vir jou nie, meneer !

Dan is daar nog ander aanbevelings soos toue, flitse, fakkels, fluitjies, “space blankets”, oprol-wasbakke (sowaar as vet !), spesiale noodhulpstelle, opvou-emmers (op my erewoord), tegnologies-gevorderde slaapsakke, grondseile, spesiale “beanies”, waterdigte klere, hemde wat asemhaal, lanterns en flikker weet wat nog !

My kredietkaart gaan binnekort in stilstuipe in !

Dan die spesiale kosgoed en verpakkings en dinge ; maar dis ’n ander storie vir ’n volgende keer.

Oorlewing is ook nie meer soos dit was toe ek in die Weermag was nie en met “browns”, “full kit”, ’n hout-en-yster draagbaar en ’n R1 geweer in die berge (koppies) in Suikerbosrand naby Heidelberg en ook in Oudtshoorn rondgewatsenaam was deur die korporaal en kaptein en ander ewe nare trawante nie ; met ’n bottel OBS in die gatsak !

En o ja, met wat ek hier ter plaatse gesien het, was daardie Duitse stewels uiteindelik toe nie heeltemal so duur gewees nie...

Ek vertel later verder...

 

Daar's Lewe !

Liewe Kuiergatters,

Daar is weer lewe hier langs hierdie gat. En dis lekker om terug te wees.

Dis nou net meer as sewe maande vandat ek weer terug in Suid-Afrika is, maar weliswaar was die laaste sewe maande 'n uiterste gejaag - my eintlik min kans gegee om regtig gevestig te raak en myself weer in my familie te integreer. Hulle - Annatjie en die seuns - verdien eintlik 'n medalje, maar hou dit maar stil en vir julleself ; netnou verwag hulle dit regtig. Ek het ook die laaste twaalf weke wesentlik gependel tussen Pretoria en Kaapstad, en Pretoria en Duitsland. Hopelik sal dinge nou bietjie rustiger raak en stabiliseer.

Maar ek wil graag die Kuiergat weer lewendig kry, en daarvoor het ek ook julle hulp nodig. Lewer asseblief bydraes, en flitspos my. Kom ons kyk saam hoe die Kuiergat gaan ontwikkel en lyk gedurende die volgende maande.

Ek hoor graag van julle !