Google Web Kuiergat

This page is powered by Blogger. Isn't yours?

My status

Enige terugvoer, kommentaar, kritiek, of net 'n boodskap is baie welkom. Skryf gerus vir my ; muisdruk hier Johann van Staden

Online dictionary at www.Answers.com

Tell me about:

Friday, September 30, 2005

 

Die Duitsers vier Fees !

Hulle bou goeie karre, brou goeie bier, maar as dit by feesvier kom, dink ek nie enige ander nasie of volk of kultuur kom naby die Duitsers nie. Hier word fees gevier vir enige rede, en as daar nie 'n goeie rede is, word daar fees gevier juis daarom.

Byna elke week, iewers in hierdie land, word feesgevier. Hierdie naweek word in my dorpie (Neuhausen auf den Fildern) hulle FleckenHerbst fees gevier. Volgende week is die die beurt van die Drachenfest. En so aan...

Wie ken nie die beroemde München se Oktoberfest nie - al word dit in September gevier. Die 'Münich Oktoberfest' - plaaslik beter bekend as die 'Wiesn' - is die grootste publieke fees in die wêreld en word in 2005 vir die 172ste keer aangebied. Jaarliks word ongeveer 6,000,000 besoekers vermaak, en hulle drink meer as 5,000,000 liter bier en eet meer as 400,000 varkworsies tydens hierdie geleentheid ('n oomblik van stilte vir die varke, asseblief...) Teen € 6,65 - € 7,10 vir een liter bier is dit seker 'n goeie kopie - maar met my Suid-Afrikaanse kop klink R 50 - R 55 vir een bier bietjie wild !

Baden-Wurttemburg, en die Stuttgart-omgewing, is bekend vir wynproduksie, en hier word sonder ophou wynfeeste vanaf laat-Augustus tot middel-September gehou. Stuttgart se bekende Weindorf is maar net een van die baie gewilde feeste. Wynliefhebbers van reg oor die wêreld besoek Stuttgart om die grootste wynfees in Duitsland by te woon. Meer as 259 verskillende wyne word verkoop in meer as 120 pragtige en tradisionele stalletjies op die bekende 'Marktplatz' en 'Schillerplatz' om die Ou Kasteel. Wyn word geniet saam met tradisionele streeksdisse soos 'Maultaschen', 'Kässpätzle' en 'Schupfnudeln mit Kraut', en vele meer. En daar word groot gekuier !

Plaaslik, hier in Baden-Wurttemberg, word die 'Cannstatter Volksfest', ook bekend as die 'Stuttgart Beer Festival', in hierdie dae gefees. Volgens inligting is dit die tweede-grootste bierfees in Duitsland na die genoemde Oktoberfees.

In die omgewing van die Stuttgart lughawe groei in eiesoortige tipe kool, bekend as die Filderkraut. Hierdie variëteit groei blykbaar net hier, in 'n baie klein area. 'n Paar maande gelede was daar die Filderkraut-fees, vermoedelik ter ere van hierdie spesiale kool.

Kerstyd is natuurlik iets unieks in Duitsland. Die sogenaamde 'Weinachtsmarkte', of Kersfeesmarkte, bring 'n unieke en spesiale atmosfeer in hierdie tyd. Uiteraard is dit in die middel van die winter, en in baie gevalle hier, sneeu - of ten minste, sub-zero temperature. Maar die lekker om Glühwein te drink, allerhande heerlike en seisoen-gebonde lekkernye te koop en te eet, terwyl mens jou verkyk aan al die pragtige stalletjies, opgemaak met die Kerstema met liggies en beelde en geskenke en wat nog alles, die klanke en reuke van Weinacht, is 'n ervaring wat jou vir ewig bybly en mens nie regtig in woorde kan weergee nie.

Mens kan maar net deur Duitsland ry, en oral waar jy gaan, word die een of ander fees met groot baniere aangekondig.

Watter ander land kan spog met so 'n sterk feeskultuur ?

Tuesday, September 27, 2005

 

Amanda Reageer


Amanda reageer :

1. In Suid-Afrika het alle Suid-Afrikaners, ten spyte van baie dinge wat nie reg is nie (erg verkeerd is), ons nog baie om voor dankbaar te wees, en rede om elke dag dankie te sê daarvoor. Nou, met alle respek, vra ek 'hoekom' ? Is ons maar net gelukkig, of sien ek die dinge heeltemal verkeerd ? Kry ons nog 'n beurt ?

Amanda sê : Al wat ek weet is tel jou seeninge en wees dankbaar dat jy in die ou mooi landjie bly. Al is ons nou aan die ontvang kant en kry ons ’PANDAS” (previously advantaged now disadvanted) skoppe onder ons jiste, gaan dit nog baie beter as in ander lande.

2. In die konteks van bogenoemde, is ons Suid-Afrikaners nog bereid om opofferings te maak. Met ander woorde, is ons bereid om regtig vir die saak waarvoor ons staan en waaroor ons sterk genoeg voel, die broekspype op te rol, die das af te haal, en "kaalvoet oor die Drakensberge te loop" ? Of is dit makliker om Saterdagaand by die vuur in gemak te staan en kla, en om "omstandighede" die skuld te gee ? As jy terugkyk na die ”Afrikaner” sal jy sien ons kon nog nooit saamstaan nie, elkeen voeter in sy eie rigting en doen wat hy dink reg is.

Amanda sê : Daar is wel by tye dat ons ’n paar uitskieters het wat alles in sy vermoe sal doen, maar die algemene reaksie is „go with the flow“ -die regering het in elke geval so mag, hulle kan doen net wat hul wil, dis net ’n kwessie van tyd dan is alles verengels. Maar is is daarop neerkom dat ons almal sal moet saamstaan vir die voorbehoud van bv. Afrikaans in skole/universiteite, dan sal die mense hulle stem dik maak.

3. Is ons nog trots op ons herkoms ? Hier praat ek nie 'n politieke stelling of posisie aan nie, maar slegs en uitsluitlik van ons kulturele geskiedenis. Wie leer nog vir hulle kinders (of kleinkinders) die ou Afrikaanse liedjies, wie ondersteun Afrikaanse kuns, wie het onlangs 'n Afrikaanse boek gelees, of selfs 'n Afrikaanse boek gekoop (die Huisgenoot, Vrouekeur, Landbouweekblad, of Rooi Rose tel nie.. :-) Of kritiseer ons net van die linkerkant tot die regterkant - luister nie na Jurie Els nie (vir goeie redes), en ook nie na ddisselblom of Jak de Priester nie (ook vir goeie redes). Maar is ons ook ewe krities op die Engelse musiek en kunstenaars waarna ons so geredelik luister ? Wat van volksspele ? Ek sal graag later 'n paar gedagtes deel hoekom hierdie dinge nou skielik vir my belangrik word.

Amanda sê : Ongelukkig is ons normale reaksie, ag los dit vir iemand anders, ek is nou te besig of wil eerder die tv program kyk. Gelukkig het ons iemand soos Steve Hofmeyr wat baklei vir Afrikaans en het hy dit laas reggekry om ’n klompie mense bymekaar te kry om te baklei vir die naam Pretoria. Verder is daar tans ’n ongekende groei na Afrikaanse musiek, die mense is nie meer skaam om te se hulle luister na Afrikaanse musiek nie. Dit is selfs ”Cool” onder die jong mense. Die mense is trots om Afrikaans te wees.

4. Hierbo verwys ek na 'n 'natuuurkrag'. Die tsunami en die orkaan is uiteraard 'n manifestering van geweldige natuurkragte. Dit gebeur tog sekerlik toevallig nie, of hoe ? Of dink julle dit het maar toevallig nou en in hierdie tyd gebeur ? 5. Dat ons in 'n relatief kort bestek van tyd groot rampe in die wêreld ervaar het : 9/11 (mensgemaak - in die Weste), tsunami ("natuurlik" - in die Ooste), London-terreur (mensgemaak - relatief sentraal op die wêreldkaart), Katrina ("natuurlik" - in die Weste) - het vir my 'n groter boodskap saam as wat die individuele insidente dalk vir 'n mens wil wysmaak, of hoe ?

Amanda sê : Dit is alles deel van God se plan – die eindtyd is baie naby – lees maar net die Bybel.


Monday, September 26, 2005

 

Die Frankfurt Internasionale Motorskou 2005

Hiermee so 'n paar interessante feite in verband met die Frankfurtse Internasionale Motorskou, wat ek gister bygewoon het. Eintlik is dit bykans onmoontlik om in 'n kort nota die werklike omvang van hierdie skou weer te gee. Dit word aangebied in 'n skouterrein met tien GROOT sale wat meer as 215,000 vk meter se uitstalruimte beskikbaar stel . Daar was 950 uitstallers wat 44 lande verteenwoordig het. Meer as 58 verskillende motorvervaardigers het hulle produkte uitgestal, om nie eers te praat van die sekondêre en spesialis vervaardigers wat allerhande ombouings doen nie en opsies het om jou voertuig te verpersoonlik nie.

Vanselfsprekend is die gewone vervaardigers almal daar, maar ek het ook vervaardigers en produkte daar gesien van wie ek nog nooit tevore gehoor het nie - uiteraard nuwe spelers in die industrie, hoofsaaklik van China. Dit is egter baie duidelik dat hulle vêr agter die gevestigde name is ten opsigte van kwaliteit en veiligheid - wat ook nogal interessant is, is dat hulle produkte in die meeste gevalle nie geweldig baie goedkoper is nie - met sekere uitsonderings.

Daar was nogal heelwat fokus op alternatiewe brandstof-opsies, met verskeie sogenaamde 'hybrid'-opsies, asook aardgas as 'n alternatiewe bron. Laasgenoemde is al redelik gevestig in Duitsland met heelwat garages wat aardgas kommersieël aanbied - maw jy kan jou kar volmaak met gas. Heelwat goedkoper as petrol of diesel, wat al tot R 12.00 per liter hier kos.

Diesel-tegnologie het al ongelooflik verbeter. Soos julle weet, is die ou stadige, rokerige diesel-enjins van die jare sewentig lankal iets van die verlede. BMW het by die skou 'n nuwe reeks bekend gestel, die BMW Alpina D3. Hierdie voertuig het 'n 4-silinder, 2.0 liter enjin wat 147 KW teen 4,000 RPM lewer. 0-100 km/h in onder 8 sekondes, 'n maksimum spoed van ongeveer 235 km/h, en 'n verbruik van onder 7 liter per 100 kilometer. Dit alles in 'n vierdeur sedan vir onder R 300,000 (EURO 37,000).

Audi het 'n paar 'veilige' opsies in die A6 en A8 klas bekend gestel. Hulle maak daarop aanspraak dat hulle 'n 7.62 mm kaliber projektiel, handgranate en bomme kan weerstaan. Wat my oog gevang het by Audi, was die wêreld-bekendstelling van die Audi Q7 - wat vir my lyk na 'n gedugte teenstaander van die Porsche Cayenne, Mercedes se M-klas, en Volkswagen se Touareg. Intree-modelle kan mens kry vir so vanaf R 400,000 (net minder as EURO 50,000). Ook dink ek dat die 4.2 liter V8 enjin in die A4 'n bietjie stof in meer ernstige kompetisie se oë gaan skop.

Lelike Amerikaanse Cadillac's was daar ook :-) en sekere van die Chrysler sedan-voertuie val volgens my smaak ook darem nie te sag op die oog nie. Gelukkig verskil smaak sekerlik. Die huwelik tussen Chevrolet van Amerika en Daewoo het ongelukkig ook 'n paar lelike kinders gebaar. 'n Groot Amerikaans-gestileerde sierrooster op 'n klein Oosterling (Chevrolet Aveo) maak ook nou nie juis 'n voorblad-gesig nie.

Een besondere Amerikaner is die Corvette Z06. Met sy 7.0 liter V8 wat 373 KW uitskop, 0-100 doen in onder vier sekondes, en 'n maksimum spoed van 305 km/h kan haal, is hierdie model nog pragtig ook.

General Motors het 'n kleiner baba-Hummer ook bekend gestel. Die Hummer H3 is maar net 4.72 meter lank (!), kan deur water van tot 60 cm ry en trappe van 40 cm uitklim, en jou karavaan agter-aan kan maar meer as 2,00 kilogram weeg. Gelukkig is die groter model ook nog beskikbaar, vir die wat hom nodig het.

Volkswagen het hulle nuwe R32 Golf hier bekend gestel. Hierdie voertuig beskik oor 'n 3,2 liter V6 motor, 184 KW, 6,2 sekondes 0-100, en 'n maksimum spoed van 250 km/h. Jy kan hom kry teen ongeveer R 260,000 (EURO 32,200).

BMW het ook hulle redelik nuwe speelding hier ten toon gestel. Die BMW 130i met 265 perde onder die kap behoort enigiemand agter die stuurwiel se adrenalien te laat jaag. As gevolg van innoverende tegnologie en sekere voordele van die een-reeks se bakontwerp is hierdie implementering van die 3.0 liter masjien meer kragtig as die soortgelyke enjin in die 330, 530 en 630.

Rolls Royce se nuwe Phantom spog met 'n 12-silinder V-vorm 6,75 liter enjin wat 338 KW deurgee na sy wiele. Maksimum spoed slegs 240km/h, maar die voertuig is meer as 6 meter lank.

Lamborghini se nuwe Gallardo Spyder se wêreldwye bekendstelling was ook hier. Met hierdie 5-liter 10-silinder en 520 perde onder die kap tweesitplek sportmotor is meer as 300 km/h blykbaar kinderspeletjies.

Porsche se nuwe Cayman S is ook in my opinie nou nie een van hulle grootste visuele suksesse nie. Die 6-silinder Boxer-enjin van 3,4 liter skop wel 217 KW uit en kry jou binne 5,4 sekondes van 0 tot 100 km/h, en jy kan volgens Porsche 275m/h haal op top spoed. Maar mooi is die kar nou nie regtig nie - lyk vir my maar bietjie na iets wat onder in die donker op die seevloer behoort rond te speel.

Die meeste voertuie het ook nou 'n poort om jou draagbare MP3 speler deur die motor se klankstelsel te speel. Dit plaas draagbare musiek nou in 'n nuwe dimensie.

Verskeie van die luukse motors het ingeboude TV's en DVD spelers, asook permamente INTERNET-toegang. Sleutelborde met Bluetooth om jou rekenaar in transit te gebruik word gekomplimenteer deur die INTERNET toegang. Maar dit is nog niks in vergeleke met die nuwe S-klas van Mercedes-Benz wat radar gebruik om jou te waarsku as jy te naby aan die voertuig voor jou ry nie en ook 'n sogenaamde Brake Assist Plus het. Dan kan die sitplekke jou nog goed masseer ook op pad huis toe na 'n lang dag op kantoor!

Gedurende die elf dae van die skou was daar meer as een miljoen besoekers. Ek het net gewonder hoekom almal gister, toe ek daar was, moes kom. Maar, vir enigiemand wat belang stel in motors en dinge, en jy kan so 'n skou bywoon, sal dit 'n hoogtepunt wees.

Gaan loer gerus by http://www.iaa.de; daar is 'n Engelse opsie om bietjie rond te kyk.

Sunday, September 25, 2005

 

Wedersydse vertroue

Hierdie naweek was nou weereens vir my 'n openbaring. My oudste seun het aan die Deense meesterskap deelgeneem met pistoolskiet.

Daar was 'n paar duisend mense teenwoordig by die geleentheid. Dit geskied by 'n klein plek met die naam Vingsted wat ongeveer in die middel van Denemarke gelee is. Daar is oor die 120 skietbane, wat in 'n valei gelee is, en dit sluit bane in vir geweer en pistoolskiet. Daar is dus 'n aardige paar vuurwapens teenwoordig wat grootkaliber, kleinkaliber gewere en pistole insluit.

Orals sien mens wapens wat rondstaan sonder dat daar 'n enkele persoon naby is. Amunisie is ook orals te sien. Indien jy in die restaurant wil ingaan moet jy jou wapens buite los en dit is sonder toesig. My seun was so veras dat hy my gedwing het om fotos daarvan te neem.

In die begin het dit my baie senuweeagtig gemaak. Die wonderlike ding is dat daar absoluut niks wegraak nie. Almal vertrou mekaar. Kinders van 10 jaar stap aleen met gewere rond en niemand bevraagteken dit nie omdat almal verwag dat hulle verantwoordelik sal optree, wat hulle ook doen.

Dit het my weereens laat besef wat wedersydse vertroue in medemens werd is. Mens kan net hoop dat dit so sal bly en nie met die tyd verander nie.


Wednesday, September 21, 2005

 

Dit en dat oor die Duitse Verkiesing (09.2005)

So 'n paar woorde oor die Duitse verkiesing van verlede Sondag. Die huidige kanselier, Gerhard Schröder, het mos die algemene verkiesing met een jaar vervroeg, onder andere as gevolg van baie probleme in die ekonomie en 'n groot werkloosheidssyfer in Duitsland. In die verkiesing was sy grootste teenstander Angela Merkel (Angie), van die CDU/SDU alliansie. Volgens alle aanduidings voor die verkiesing sou sy die volgende kanselier word ; ook die eerste vrou wat die pos sou beklee. In baie opsigte is sy in die publiek vergelyk met Margaret Thatcher - 'the Iron Lady'. Voor die verkiesing was sy met meer as twintig persentasie-punte voor Schröder. Toe voorlopige uitslae Sondag-aand begin bekend raak, was dit duidelik dat sy haar voorsprong verloor het. Die uiteinde was dat daar geen 'wenner' was nie, en selfs met moontlike koalisies is dit byna onmoontlik vir een of ander van die groot partye om 'n meerderheidsregering daar te stel. Julle kan dink wat se geskarrel in die hoenderhok dit op die oomblik is. Daar word gepraat van 'n sogenaamde 'Grand Coalition' waar Schröder se SPD en Merkel se CDU/CSU saamwerk, en selfs van 'n nuwe verkiesing, miskien vroeg volgende jaar. Ek het lanklaas politieke ontleders op TV so geskok gesien toe die voorlopige resultate begin beskikbaar raak. Uiteraard het hierdie sirkus 'n groot impak op die ekonomie op die oomblik, omdat die Frankfurtse Beurs al klaar 'n wen van Merkel verdiskonteer het, en toe was sy nie suksesvol nie. Verder word Duitsland op die oomblik, in elk geval in die kort termyn, nie gesien as 'n goeie beleggingsgeleentheid nie. Dit is werklik so dat geweldig baie Duitse produkte nie meer in Duitsland vervaardig word nie - 'n goeie voorbeeld is die Porsche Cayenne wat in Bratislava in Slovakië gebou word. Meer en meer dienste word ook uitgekontrakteer na sekere van die ou Oosblok-lande, waar gekwalifiseerde mannekrag geredelik beskikbaar is, en baie goedkoper as in Duitsland. Ek was onlangs in Praag, Bratislava en Budapest, en kan getuig dat dit baie goedkoper daar is as in die Westerse lande, byvoorbeeld Duitsland, Oostenryk, en (veral) Switserland. Ek was verlede week in Zürich (Switserland), en mense, dit is 'n duur plek. Maar dit is 'n ander storie vir 'n ander keer.

Sunday, September 18, 2005

 

Internasionale Humor - of nie ?

'n Ervaring verlede week in Zurich noop my om 'n nuwe onderwerp aan te raak. Die situasie - ek geniet aandete saam met 'n klomp kollegas, en gedurende die aand leen die geleentheid hom tot die vertel van 'n paar grappies. Nou ja, die grap was dat dit geen grap was nie. Sonder uitsondering moes elke verteller aan die einde van sy grap, die grap verduidelik. Deelnemers was myself (Suid-Afrikaner), 'n paar Italianers en Duitsers, 'n Spanjaard, Hollander, Switser, Brasiliaan, en 'n Oostenryker.

My oop vraag is dus : is humor dan so absoluut kultuur-gebonde of taal-gebonde ? Is 'n grap dan nie 'n grap nie ? Ek weet daar is baie grappe of stories wat absoluut eie aan 'n taal of kultuur of streek is, of die een of ander unieke dimensie het, byvoorbeeld woordspeling wat nie vertaal kan word nie, maar aan die ander uiterste is daar tog piesangskil-humor wat ek nogal gedink het universeel behoort te wees.

Baie Vannermerwe grappe bestaan as Murphy grappe ; ek het selfs al 'n grap of twee by Duitse vriende gehoor, met 'n Duitse hoek en Duitse hoofkarakters, wat ek eerlik gedink het dat dit 'n ou, oorspronklike Van der Merwe grap is.

Of wat dink julle ?

Saturday, September 17, 2005

 

My Foto Albums

Liewe en gewaardeerde Kuiergatvriende,

Ek het 'n skakel na my foto albums by die kuiergat-blog gevoeg. Kyk regs onder SKAKELS en muisdruk op JOHANN SE FOTO ALBUMS.

Gaan kyk gerus. Enige kommentaar - goed, sleg, kritiek, voorstelle, of wat ook al sal waardeer word.

Beste, Johann

Friday, September 16, 2005

 

Orkane

My eerste intrapslag tot die interessante kuiergat (met 'n koffie in die hand bygese!) is om dankie te se aan die stigter van hierdie kuiergat. Dit is voorwaar 'n uitstekende idee.

Johann, jy het gevra wat die storie is agter die benaming van orkane. Ek deel graag met jou (en wieookal nog sou belangstel) die volgende.

'n Mens kan spekuleer oor hoekom orkane vrouename gegee word, die vrouens onder ons sal seker se dit is omdat orkane so ongelooflik en magtig is, terwyl mans sal se dis omdat hulle so kwaai en buierig is! Die werklike rede is die volgende:

Alle orkane word name gegee, die rede daarvoor is sodat dit maklik gevolg en geidentifiseer kan word. Vir honderde jare is orkane in die Wes Indiese eilande die naam gegee van die betrokke ‘saint’s’ dag waarop die orkaan ontstaan het. ‘n Australiese metereoloog het orkane vroue name begin gee voor die einde van die 19de eeu. (Ek vermoed dis omdat hy ‘n stormagtige vrou gehad het!) In 1953 het die Amerikaanse Weerdiens storms ook vrouename begin gee.
In 1979 is beide vroue en mansname gebruik vir orkane en storms. Een naam vir elke letter van die alfabet word gebruik behalwe vir die letters Q, U en Z. Orkane wat oor die Atlantiese Oseaan ontstaan se name is meestal Frans, Spaans of Engels aangesien dit die hooftale is in die lande wat aan die Atlantiese Oseaan grens.

Die ‘World Meteriological Organization’ roteer ses lyste met name vir orkane en storms. Dieselfde lyste word elke ses jaar weer gebruik. Die enigste keer wanneer ‘n nuwe naam bygelas word in indien ‘n orkaan baie dodelik of ‘duur’ was. Dan word die naam wat gebruik is vir die orkaan geskrap van die lys en ‘n nuwe een gekies. Hieruit kan ons dus aflei dat daar nooit weer ‘n orkaan met die naam Katrina sal wees nie.

Saturday, September 10, 2005

 

Reëndruppels op 'n sinkdak en koollande

Vanaand (vanoggend ! ) verlang ek Suid-Afrika toe. Na al die goeie dinge - partykeer selfs na die minder goeie - dit is tog deel van pakkie, of hoe. Die donderweer (glo dit as julle wil - selfs hier in Stuttgart ! ) en reën raas nou lekker daarbuite, en dit bring herinneringe van reëndruppels op 'n sinkdak van jare gelede terug. Ek onthou, en kan amper die reuk van vars Noordkaapse lug nou ruik... Ook nou nie dat dit so baie op Jan Kempdorp gereën het nie. Die wat weet, sal dalk onthou hoe mooi die populierbome was in die lente ; selfs die dennebome wat hulle naalde so matsag op die grond gestrooi het - as jy een keer die reuk van varsnat dennenaalde gekry het, vergeet jy dit nooit...

Al wat ek hier ruik as ek fietsry, is die liewe koolplase. Selfs vars kool op die lande ruik nie herinneringslekker nie.

Nou ja...miskien slaaptyd nou...

Thursday, September 08, 2005

 

Johann Afskop

Hallo julle almal,

Ek loop nou al 'n rukkie met gedagtes wat nie lekker bymekaar kom nie, en wil graag met julle gesels daaroor. Jou gesprekterugvoer en gedagtes in hierdie verband sal regtig waardeer word. Ek sou graag die volgende gedagtes as 'n inskop ter gesprekvoering wou gebruik - jou kommentaar en opinie, of jy saamstem al dan nie, is baie welkom. Ek wil graag so iets van 'n joernaal opbou, so eintlik is enige onderwerp oop ter bespreking.

Enigiets is oop ter bespreking, binne die riglyne van ons persoonlike waardestelsels en respek vir onsself en mekaar. Ek belowe ek sal niks uithaal of bysit in julle individuele bydraes nie, maar as ek behou myself die reg voor om rowwe bydraes bietjie te masseer waar nodig.

Bydraes kan kort wees !

Alhoewel ek geen manier het om dit te kruisbekyk nie, vra ek dat julle julle eie oorspronklike werk vir my stuur. Waar julle voel dat iets van 'n ander bron van waarde is om in te sluit, is julle welkom - bevestig dit net dat dit van iewers anders afkomstig is. 'n Grappie (mooierig ! ) of 'n mooi storie is ook goed.

As hierdie ding gaan werk, gaan dit net werk omdat JY dit wil maak werk. JOU bydrae sal waardeer word. Dankie !!!

Hier kan ons tussen mekaar ernstig wees, ons kan snaaks wees, ons kan die spot dryf, ons kan die politiek aanvat (binne perke, asseblief ! ), ons kan kommentaar lewer oor gebeure van die dag, of sommer net gesels oor iets wat ons swaar op die hart lê ; ons kan ook ons persoonlike vreugdes en frustrasies met mekaar deel, en selfs ons hartseer en weemoed as ons wil. Maw, hierdie veld is skoon. Hier kan ons plant, skoffel, ploeg, saai, oes, natgooi, bietjie (kuns) mis gooi, en verplant - net soos ons wil.

My AFSKOP :

Hier van die middellyn skop ek sommer die bal in 'n rigting. Ek het oor die laaste paar dae in spaar-oomblikke sommer 'n klomp los gedagtes bymekaar gegooi in so potpouri mengsel - net om dalk iewers en effens bietjie kontroversieël te wees.

In Suid-Afrika is ons so geneig om te kla oor ons omstandighede. Dit is die politiek, die korrupsie, die publieke dienste wat so agteruit gaan, die mediese en hospitaaldienste, die skole, die universiteite, die swak diens, VIGS, droogtes, swart bemagtiging, die onregverdigheid van sekere wetgewing, die kapings, die lekker ou soustrein, die inbrake, probleme met die huishulp, die hoë belastings, petrol se prys wat bly opgaan, die kinders wat nie vir 'n mens luister nie en tog so groot wil wees, en so kan mens aangaan. Elkeen van ons kan uit ervaring en ook op hoorsê (ek wil amper sê vanuit die totale eerlike en geloofwaardige bronne van "urban legends"), sekerlik nog vele items by hierdie lys voeg. En ons kan onsself so lekker in 'n depressie of woede inpraat, veral Saterdag-aand nadat die Bokke en Bafana Bafana hulleself weer tot nuwe hoogtes bewys het (!), rondom die braaivleisvuur met 'n koue enetjie in die hand, langs die swembad.

Onthou hoe die Israeliete gekla en gemor het om die vleispotte van Egipte. Maar toe daar 'n leier onder hulle opstaan en volgens die Woord leiding begin neem en gee, en van hulle verwag is om sekere opofferings te maak, toe moet jy eers hoor hoe hulle kla hulle, en hoe dwarstrekkerig is hulle, en breek hulle weg... Nou ja, julle ken hierdie geskiedenis beter as ek. Die laaste deel klink amper soos hoe ons liewe Afrikaners partykeer optree...

My aanvangspunt is effens anders. Ten spyte van al die onlekker dinge, soos genoem hierbo, en al die ander wat vir elkeen van julle sy of haar eie bron van probleme of frustrasie, en lyding is, is dit tog my oorwoë mening dat ons dit nog steeds lekker het ; nou goed dan, relatief lekker, en dalk nie so lekker soos in die verlede nie. Daaroor miskien later nog 'n paar gedagtes.

In Suid-Afrika het ons goeie weer. Ons het spasie om in te bly en te leef.Ons het genoeg keuses ten opsigte van wat en waar en hoe ons wil koop. Ons het keuses waar en hoe luuks of hoe spartaans ons wil lewe. Ons ry wat ons wil ; uiteraard binne die konteks van ons individuele vermoëns en behoeftes.Ons is bevoorreg om regte godsdiensvryheid te sê. Ons kan aanbid Wie ons wil, waar ons wil, soos ons wil. Al rafel die some los, het ons nog steeds toegang na goeie gesondheidssorg. Selfde met onderwys en opvoeding. Ja, ek weet hierdie stellings is erg aanvegbaar, maar mens moet dalk ook in konteks hierna kyk. Sou jy belangstel, doen 'n bietjie navorsing oor die kwaliteit van primêre en sekondêre opvoeding in lande is Engeland en Amerika. Ek het nie die syfers beskikbaar nie, maar die ongeletterheidsstatistiek in Amerika is skrikwekkend. Daar is baie, baie jong mense wat deur die publieke opvoedingsstelsel kom - volgens maatstawwe, suksesvol so - wat nie kan lees of skryf nie. Dit is 'n feit. Geweld voer hoogty in baie (ek wil amper sê, die meeste - maar ek kan dit nie kwalifiseer nie ) publieke skole in Engeland. Onderwysers word gereeld aangerand en mishandel - en daar word niks aan die saak gedoen nie. Dieselfde geld vir gesondheidsdienste.

Ons in Suid-Afrika is gewoond aan goeie diens. Dit is regtig so. Met respek, as mens nie van beter weet nie, dink jy die diens wat ons in Suid-Afrika kry - met uitsonderings - is sleg. Probeer Duitsland. Verlede week in 'n vergadering noem iemand hier (sonder enige inset van my!) dat Duitsland 'n 'service desert' is. Met uitsonderinge van miskien een persent, stem ek uit eie ondervinding volmondig en heelhartig saam. Ek is bereid om verskeie ervarings ter woord te stel om hierdie stelling en opinie te bevestig, so iemand belangstel.

Gedink rassisme is uniek aan Suid-Afrika ? Dink weer. Rassisme is ongelukkig 'extremely alive and well' in baie ander eerste-wêreld lande. Hieroor wil ek myself ook nie graag te veel uitlaat nie, maar sou jy belangstel, daar is meer as genoeg bronne ter ondersteuning en bewys van hierdie stelling. Ek praat dit uiteraard ook nie goed in enige konteks nie, maar dit is nie waar, en dit was nog nooit waar, dat Suid-Afrika, en Suid-Afrikaners, en Afrikaners, die enigste vark in hierdie verhaal is nie. Dit is ook nie so dat ons, of Suid-Afrika, dit uitgevind het nie. Ons het nou wel 'n naam daaraan gegee - Apartheid - waarvan die 'legacy' ongelukkig vir die res van die dae saam met ons sal wees.

Ek dwaal bietjie af, verskoon tog asseblief.

Ons in Suid-Afrika is gespaar van baie dinge. Die sogenaamde 'beskaafde' wêreld in die onlangse geskiedenis in sy bek geruk, eers met 9/11, en toe die Tsunami in die Ooste. Wie kan die ontnugtering en verwesentheid van die mense vergeet. Tog, hoeveel van ons onthou dit, en hoeveel van ons het op een of ander manier ons dankbaarheid getuig dat ons en ons geliefdes gespaar is van hierdie verliese en trauma. Toe was daar die Londense terreur. Weereens iets wat vir ons Suid-Afrikaners grootliks gespaar was. Ja, ek onthou - wie sal die bosoorlog vergeet. Wie van ons kan en wil vergeet van die stasiebom-aanval, die Poynton's bomme in die jare 80's, die kerkaanvalle in die Kaap en Oos-Kaap, ons jong mense opgeoffer in die ou Suidwes-Afrika en Angola. Ons sal dit tog nooit vergeet nie. Ek probeer dit ook nie minimaliseer in enige konteks of op enige manier nie.

Waar ek ernstig begin besin het oor hierdie dinge, is die laaste klomp dae met "Hurricane Katrina". In baie opsigte het dit vir my die slegste en tog ook die beste in die mens gewys - in sekere opsigte amper op uiterste of ekstreme visualisasies. Hier sien ons dat dit nie 'n menslike vyand is nie, maar 'n krag van die natuur, wat die magtigste en rykste nasie in die wêreld totaal onkant kry en met sy broek op sy knieë vang. Hoe tragies is dit dat terwyl mense letterlik doodgaan terwyl hulle wag vir hulp, die grootste leiers mekaar blameer en verwyt oor wie beter voorsorg moes getref het om so iets te verhoed. Hulle probeer politieke punte wen deur prosesfoute uit te wys, terwyl mense dood gaan van honger en dors, van skok, van blootstelling. Hierdie supermoondheid staan reg om 'n oorlog in enige plek in die wêreld te gaan veg, maar by die huis word hy heeltemal onvoorbereid gevang. Hoeveel meer tragies is dit nie dat terwyl menige lande van die wêreld hulp in alle vorme, beginnende met miljoene dollars, tot noodvoorrade en mannekrag aanbied, die leier van die magtigste moondheid op aarde weier om die te aanvaar. Die verskoning - 'we do not have the logistics in place to receive the help'. Dit is ongelooflik. Hoe tragies is dit dat mense in hierdie omstandighede hulle weg oopsien om hulle eie verskuilde politieke of rassistiese agendas te manifesteer op dit wat daar gebeur het en nog steeds besig is om te gebeur. Tog sou dit snaaks gewees in 'n ander konteks om te sien dat mense wie se huise vernietig is en gelyk met die grond gevee is, waar die totale infrastruktuur ten opsigte van elektrisiteit, paaie, en ander dienste, besig is om 'n televisie-stel of radio te steel uit 'n winkel wat beskadig is. Maar dit is nie snaaks nie - dit is eintlik hartseer. So moes baie mannekrag totaal onproduktief gebruik word om 'looting' te voorkom en winkels op te pas, eerder as wat hulle ontplooi is om lewens te red ; om mense weer hulle menswaardigheid terug te gee. Dit sou interessant wees om navorsing te doen oor hierdie gedrag - hoekom sou mense wat onder hierdie uiterste omstandighede verkeer, so iets wou doen?

In teenstelling daarmee, het ek van tyd tot tyd hoendervleis gekry om te sien hoe mense uitreik na mekaar, en mekaar van hulp is. Selfs die wat byna niks het nie - water, kos, klere - deel die bietjie wat hulle het met ander wat dit sigbaar meer nodig het. Operasionele mense van ondersteuningsdienste wat 20 uur en langer per dag werk, want, volgens een soldaat - hoe kan hy gaan rus as hy weet dat daar nie genoeg helpers is nie, en mense is vasgevang en besig om dood te gaan. Die trane van blydskap waar iemand hoor dat sy of haar geliefde of kind of siek ouer gevind gered is, en veilig is. Mense wat in absolute chaos is, en tog dit wat hulle het deel met 'n troeteldier wat hulle onder moeilike omstandighede veilig gehou het.

Net 'n gedagte, weet iemand hoekom orkane byna altyd vrouename het ? Ek wil baie graag die regte rede weet.

In hierdie legkaart wat ek bou is daar nog ten minste twee boublokkies wat ek graag hier wil aanraak.

Sonder om 'n grootskaalse debat daaroor te inisieer, wil ek tog vra : hoekom het die wêreld (Amerika en Engeland ! ) die huidige oorlog in Irak ? Ons weet die verskoning van WMV (wapens van massa vernietiging) is nie geldig nie. Gaan dit oor President Bush en ander rolspelers se oliebelange in die Midde-Ooste, of is daar dalk 'n ander verskuilde motief, of is dit dalk net nog 'n blokkie in die groot legkaart - vir redes wat ons nie ken nie ?

Die tweede een is die ontruiming van Gaza en die gepaardgaande aksies, reaksies en implikasies in Israel en Palestina. Hoekom hierdie skielike en radikale toegewing, wat weereens die mespunt balans in die Midde-Ooste in gevaar stel ? Hierdie aksies het geweldige interne politieke en sosiale implikasies in Israel, en het nou weer 'n hele klomp nuwe verwagtinge en 'demands' en meer veroorsaak in Palestina.

Wat het dit te doen met ons, en waarheen lei hierdie pad my?

Net nog 'n ander dimensie, om hierdie blokkie nog 'n finale kleur op die kant te gee. Dit is vir my interessant hoe 'n segment van die Westerse samelewing besig is om te 'compromise' op Christelike beginsels. Dalk is ek heeltemal verkeerd, en ek is ook heeltemal bereid om anders oortuig te word. Maar, gesien in die lig van die Londense terreur, hoe hard vry Eerste Minister Tony Blair na die Moslem. Die wêreld het geen kritiek daarteen nie. As gelowiges weet ons dat jy of vir die Here is, of teen Hom is. Daar is nie 'n grys area nie. Hierdie aspek van die makro-wêreldse 'vandag'-situasie pla my nogal deesdae. Miskien is ek verkeerd...

Goed, hierdie pad lei my na 'n paar finale stellings (hoe, weet ek ook nie) :

1. In Suid-Afrika het alle Suid-Afrikaners, ten spyte van baie dinge wat nie reg is nie (erg verkeerd is), ons nog baie om voor dankbaar te wees, en rede om elke dag dankie te sê daarvoor. Nou, met alle respek, vra ek 'hoekom' ? Is ons maar net gelukkig, of sien ek die dinge heeltemal verkeerd ? Kry ons nog 'n beurt ?
2. In die konteks van bogenoemde, is ons Suid-Afrikaners nog bereid om opofferings te maak. Met ander woorde, is ons bereid om regtig vir die saak waarvoor ons staan en waaroor ons sterk genoeg voel, die broekspype op te rol, die das af te haal, en "kaalvoet oor die Drakensberge te loop" ? Of is dit makliker om Saterdagaand by die vuur in gemak te staan en kla, en om "omstandighede" die skuld te gee ?
3. Is ons nog trots op ons herkoms ? Hier praat ek nie 'n politieke stelling of posisie aan nie, maar slegs en uitsluitlik van ons kulturele geskiedenis. Wie leer nog vir hulle kinders (of kleinkinders) die ou Afrikaanse liedjies, wie ondersteun Afrikaanse kuns, wie het onlangs 'n Afrikaanse boek gelees, of selfs 'n Afrikaanse boek gekoop (die Huisgenoot, Vrouekeur, Landbouweekblad, of Rooi Rose tel nie.. :-) Of kritiseer ons net van die linkerkant tot die regterkant - luister nie na Jurie Els nie (vir goeie redes), en ook nie na ddisselblom of Jak de Priester nie (ook vir goeie redes). Maar is ons ook ewe krities op die Engelse musiek en kunstenaars waarna ons so geredelik luister ? Wat van volksspele ? Ek sal graag later 'n paar gedagtes deel hoekom hierdie dinge nou skielik vir my belangrik word.
4. Hierbo verwys ek na 'n 'natuuurkrag'. Die tsunami en die orkaan is uiteraard 'n manifestering van geweldige natuurkragte. Dit gebeur tog sekerlik toevallig nie, of hoe ? Of dink julle dit het maar toevallig nou en in hierdie tyd gebeur ?
5. Dat ons in 'n relatief kort bestek van tyd groot rampe in die wêreld ervaar het : 9/11 (mensgemaak - in die Weste), tsunami ("natuurlik" - in die Ooste), London-terreur (mensgemaak - relatief sentraal op die wêreldkaart), Katrina ("natuurlik" - in die Weste) - het vir my 'n groter boodskap saam as wat die individuele insidente dalk vir 'n mens wil wysmaak, of hoe ?

Waarheen nou ...wat dink jy hiervan ?

Sjoe - hierbo is 'n klomp dinge waaroor ons lekker kan gesels en debatteer. Ek hoop ek hoor van elkeen van julle.

Groete en seënwense,

Johann