Google Web Kuiergat

This page is powered by Blogger. Isn't yours?

My status

Enige terugvoer, kommentaar, kritiek, of net 'n boodskap is baie welkom. Skryf gerus vir my ; muisdruk hier Johann van Staden

Online dictionary at www.Answers.com

Tell me about:

Monday, November 28, 2005

 

Chris skryf, "'n interessante artikel en nog wat"

Ek gaan 'n link insit van die wedervaringe van 'n ander Suid Afrikaner in Sjina. Ek en my vrou Theresa het lanklaas so lekker gelag.

http://www.woes.co.za/content.asp?contentid=359

Geniet dit.

Die weer hier by ons bly maar koud en dit sneeu baie. Omdat ons so ver in die noorde bly styg die son nie ver bo die horison uit nie. So ongeveer een en 'n halwe hand (dwars gedraai) bo die horison as jy jou arm uitsterk en dit is nou in die middel van die dag. Die son kom eers nege uur in die oggend op en gaan half vier weer onder in die middag. Vier uur is dit dan al weer pikdonker. In die middel van Desember is dit nog erger.

Ons kla nie, mis net die sonskynland van Suid Afrika ekstra baie in die winter. Ons gaan darrem oor kersfees huis toe vir twee weke. Die hele familie sien uit daarna.

Ons het nou die dag selfs kans gekry om te stem vir die lokale regering sowel as die distriks verteenwoordigers hier in Noord Jylland waar ons bly. Die interessante ding is dat jy 'n brief in die pos kry wat jou uitnooi om te gaan stem. By die stemlokaal moet jy net die brief toon wat dan in 'n groot boek afgemerk word. Geen IDs word getoon of enige iets anders nie. Almal vertrou dat dit jy is en dan ontvang jy jou twee stembriewe. Die lokale stembrief was so groot soos 'n A3 papier. Die distrik stembrief was geel en so groot soos 'n plakaat (ongeveer 1 meter x 60 sentimeter). Ons kon dit nie glo dat mens so 'n groot stembrief kan kry nie. Die stemproses is verder basies dieselfde as in Suid Afrika.

Ek en Theresa gaan die tweede week in Desember Rusland toe en dan sal ek weer oor daardie wedervaring laat weet

Friday, November 18, 2005

 

Kerrie-kuiery in koue Neuhausen

Gisteraand was ek bevoorreg om gasheer te speel vir twee kollegas van Suid-Afrika wat projekwerk hier in Duitsland doen en twee Oostenrykse Duitsers ('n kollega en haar man). Vol bravade nooi ek hulle om kerrie by my te kom eet.

Ek google vir 'n maklike kerrie-resep, en sukses - die wat soek, sal vind. Die gevonde resep lyk maklik, en ek benodig net 'n paar bestandele - weereens is Marktkauf die uitkoms. Gewapen met 'n sakvol varkvleis-blokkies, muskaat-neut, appels, en dies meer, voel ek myself gereed om die taak aan te durf. Gerrit Kritzinger bemagtig ons met 'n whiskey, terwyl Johann Bauermeister homself aan 'n 'polisie-koffie' (brandewyn en Coke) help. Ek is besig om die varkvleisblokkies te verbruin, Johann B skil en kerf twee appels, en Gerrit K skil en kerf 'n klomp uie.

Soos redelik bekend in my vriendekring, is 'n resep vir my slegs 'n breë riglyn. Ek help dus die varkverbruiningsproses aan met 'n koppie of so brandewyn - met Johann B se aansporing. Die resep beveel 'n bees-ekstrak aan, maar 'n pakkie bees-en-chilli sop moet maar instaan. Die sopmengsel word gebruik om die meel, muskaatneut, geelsout (die resep sê witsout), twee lepels goeie warm kerrie-poeier, en 'n ietwat meer swartpeper as wat aanbeveel is, te meng. Dit word saam met die vleis gevoeg. Daarby 'n bietjie müesli (my innovasie), 'n lepel appelkooskonfyt (my innovasie), 'n lepel grondboontjiebotter (my innovasie), genoeg knoffelvlokkies (my innovasie), en 'n lepel heuning (ek het nie bruinsuiker nie), gevoeg. 'n Blik Italiaanse tamaties en 'n handvol rosyntjies voltooi die proses.

So vir bietjie meer as 'n uur prut hierdie poging op lae hitte op die stoof - Pieter Pieterse sou gesê het 'simmerreer...'

Die tafel word gedek, 'n paar blikke mielies en 'n bottel beetslaai gebeur, lekker Duitse broodrolletjies op die tafel, 'n bottel Italiaanse rooiwyn raak deel van die pret, en na 'n ruk probeer ek 'n klomp pasta in die drukkoker gaarkry. Soos altyd spuit meer kokende water as stoom uit, en bemors die hele stoof en muur. (Pasta is nodig omdat ek net nie die rys reg gekook kan kry nie...)

Johann B speel Steve Hofmeyer se Neil Diamond CD, en toe nog 'n keer. Die kerrie-poging is 'n reuse sukses, en 'n bottel Chiliaanse rooiwyn kom en gaan, en later ook 'n bottel Franse rooiwyn. Maar nou ja...

Edith berei die nagereg ('chocholate mouse' en naartjies) voor, en ons kuier 'n hond uit 'n bos uit.

Oplaas spring die gaste in met 'n verwoeste poging om die kombuis te red, en uiteindelik raak dit stil in die woonstel. Ek was toe maar die potte en bakke nadat die bietjie oorskiet in my geliefde margarien-bakkies in die yskas gebêre is, en ek raak rustig.

Maar niemand het gesê dit is maklik nie...

Die resep, vir die wat belang stel :

PORK CURRY HOT POT

2 lbs. lean boneless pork, cut into 1" cubes

2 tbsp. shortening
1 1/2 c. sliced onion
2 c. peeled, chopped apples
3 tbsp. flour
1 tsp. salt
1 or 2 tsp. curry powder (hopeloos te min ; volgende keer is dit 3 of vier lepels...)
1/4 tsp. pepper
1/4 tsp. nutmeg
1 (10 1/2 oz.) can beef broth
1 (1 lb.) can tomatoes
1/3 c. raisins
2 tbsp. brown sugar

Brown pork cubes in hot shortening in large skillet (onthou die koppie brandewyn ook...)

Add onion and apple; cook until onions are tender (net so...)

Blend in flour, curry powder, salt, pepper and nutmeg (sommer die knoffel hierby....)

Add beef broth, tomatoes, raisins and brown sugar ('n bietjie chilli's by sal dit beter maak...)

Cover and simmer until meat is tender, about 1 1/2 hours (ten minste...)

Serve over fluffy rice (dit is te sê, as jy rys kan kook - anders pasta...)

Serves 6 (Dit is nie waar nie - dalk genoeg vir 4 mense...)

Tuesday, November 08, 2005

 

Laat herfs en aardbewingslyding

Ons somer is verby. Sommer so skielik het dit regtig koud geword hier in die omgewing van die Duitse Swart Woud. Die tekens was darem al 'n rukkie hier, maar vroeg-oggend sonop-tyd (07:00) is dit donkerig, goed koud, ys op die kar se vensters, en digte mis. Die oggend-mis op die pad skep 'n effens geheimsinnige atmosfeer, wat verlore gaan in die konsentrasie van bestuur. Deur die dag, as ons gelukkig is, skyn die son ewe mistroostig, maar maak weinig inbreuk op die koue. So teen vier-uur begin die son die stryd gewonne gee om sy plig te doen, en laat sy hande in oorgawe sak. Knap na vyf-uur is dit al redelik skemer-donker, en ses-uur het die donker oorgeneem. Laat-aand en snags is die hemel helder met die wit sekelmaan wat loer-loer. Die meeste van die ryk natuur-herfskleure het verdwyn en is vervang met dooie boomtakke wat gryp-gryp en reik na iets onsigbaars in die lug. Plek-plek vind mens darem nog 'n lewensreddende kleur-ontploffing van goud-rooi-bruin blare en helder blomme al hangende teen vensterbanke. Hierdie oorgangstyd van herfs na regte winter is vir my 'n ietwat dooie, onpersoonlike tyd. Winter is winter wanneer mens sneeu in die strate sien - of dit nou die reinwit vars sneeu is, of selfs die vuil-bruinswart sneeuhopies langs die pad - wanneer die son af en toe 'n gasverskyning in die grys-groue hemel maak, wanneer alles nat is - of nat lyk. Dan trek jy ook aan vir die winter, en jy doen winter-dinge ; al is dit ook om jouself af te sluit van alles en almal om jou en vas te val met 'n boek of 'n DVD. Jy innoveer 'n pot warm kerrie met die potjies oor-kos in die yskas. Of jy verbaas jouself met 'n pot groente-en-dinge sop. Dan het mens ook hier die plesier om die lokkende Weinachtsmarkte te besoek en warm, varsgebakte neute of grondboontjies te koop, 'n Bratwurst en broodtjie met mostert te geniet, en Glühwein te drink vir daardie lekker binne-warmte.

Maar dit is nie nou nie...nog nie. Nou oorleef jy maar net.

Die gewone dag-tot-dag dinge neem nou 'n ander dimensie aan. Ek kan nie meer saans skoen-loos en hemploos ronddwaal in die woonstel nie. Die donkerte trou met die koue en saam voer dit oorlog teen jou. In die agtergrond lewe-raas CNN, en selfs daar is min goeie nuus. Nee, in die laaste klomp dae nog geen goeie nuus gesien of gehoor nie. Die desperate situasie in die Himalayas in Pakistan na die onlangse aardbewings ruk-skud mens se hart. Hoe verstaan die seuntjie met die groot oë dat sy vingertjies ge-amputeer moes word, die soel-gesiggie dogterjie dat haar linkerbeen afgesit moes word. Die meisie in die tent-hospitaal wat nie weet wie of waar sy is nie, en niemand ken haar nie, en niemand besoek haar nie. Die kleuter-dogtertjie wat haar arm verloor het. Hierdie amper-mensies wat alles verloor het nog voordat hulle iets gehad het. Nie 'n huis nie, nie 'n lewe nie, nie iemand wat vir hulle lief is nie.

En ek kla oor die effense koue en donkerte in my woonstel en op pad werk toe. Ek mor en kla oor die klere nie droog word in die woonstel nie. Ek het 'n woonstel, ek het 'n kar, ek het 'n werk. Ek het warmte. Ek het mense wat vir my lief is.

Volgende week sal die seuntjie en dogtertjie nie meer op CNN wees nie. Iets anders sal die nuus van die dag wees. Maar die seuntjie sal nog steeds vingerloos wees. Die dogtertjie sal miskien probeer loop met krukke, as sy besonder gelukkig is om krukke te kry. Hulle sal waarskynlik bitter koud kry. Hulle sal waarskynlik honger wees. Of dood wees.

Friday, November 04, 2005

 

Hannelie se "Skip van Drome"

Hier in die gees van Kersfees het Hannelie die volgende stukkie gestuur, en ek plaas dit met plesier op die BLOG.

Elke jaar gaan Kersfees gepaard met baie besluite. Waar gaan ons wees, wat gaan ons eet en wie gaan wat kry? Met "Jingle Bells" in jou ore breek die frustrasie van nog 'n jaar se kersfees-inkopies aan. Jy en jou vrou is al klaar kwaad vir mekaar nog voor die eerste geskenk gekoop is.

As jy soos ek sukkel met geskenke, lees hierdie verhaal en gee dit vir iemand weg voor dit te laat is!

Waarheen is jou skip van drome oppad?

Sy het bekend gestaan as die "Skip van Drome". Sy was agt honderd en negentig voet lank. Veertien duisend mense het aan haar gebou. Die anker het vyftien en half ton geweeg en is deur twintig perde van die fabriek af tot by die skip getrek. Die binnekant van hierdie skip het tien maande geneem om te voltooi, altesaam 'n paar mijoen ure se werk aan Louis Quinze, Klassieke Versailles en Victoriaanse versierings, Crown Berger skilderye, Franse kaffees en Turkse baddens om maar net 'n paar op te noem.

Sy is ook genoem "die onsinkbare skip", en in 'n koerant van 1912 word berig dat selfs God haar nie kan sink nie.

Maar op Sondagaand 12 April 1912 sink die Titanic binne twee ure en neem 1,500 lewens saam na haar watergraf.

Tydens hierdie twee ure het interessante verhale afgespeel. Daar was te min reddingsbote. Die rykes en vernames het gesorg dat hulle eerste plek kry. Later het die kaptein oor sy megafoon afgekondig dat net vrouens met babatjies plek op die reddingsbote mag kry. 'n Man met 'n babatjie in sy arms het verby 'n vrou gehardloop wat nie 'n kind gehad nie. Vir haar was die afkondiging 'n doodsvonnis. Skielik het haar situasie verander toe die man sy kind in haar arms sit en sê: "Dit is joune...hardloop vir jou plek op die reddingsboot!"

Wat is jou grootste Kersgeskenk? Ons is almal daarvan bewus dat ons lewensvaart iewers soos die Titanic gaan sink. Ons is ook bewus daarvan dat almal nie in hierdie lewe die reddingsboot van Jesus gaan haal nie. Met Kersfees kom sit God opnuut weer sy kind in jou arms en sê: "Dit is joune... hardloop na my reddingsboot. Moenie wag tot dit te laat is nie."

Wanneer 'n skip sink word lug uitgeblaas en water ingesuig. Wag jy tot dit te laat is word jy saam ingesuig al spring jy. Die meeste mense wat hulle lewe in die Titanic ramp verloor het, het nie verdrink nie maar verkluim. Wie wil in koue water ronddobber as Jesus reeds vir jou 'n plek op sy onsinkbare reddingsboot voorberei het?

Stuur die geskenk aan ; miskien is daar iemand waaroor jy baie bekommerd is of wonder waar hulle welvaart hulle aan die einde van nog 'n jaar gebring het? Miskien sukkel jy ook soos ek om geskenke te koop en wonder wat jy vir die of daai een sal koop hierdie jaar. Ek gee jou toestemming om hierdie kersfees-reddingsverhaal aan te stuur. Stuur dit aan as 'n geskenk. Sit Jesus in die arms van mense wat oop-oë besig is om te sink.

Dit is na alles waaroor Kersfees gaan.

"Sonder Jesus is 'n vyftien en 'n half ton anker te lig en 70,000 oorvol skip te swaar".

Matt.9:13 - Ek het nie gekom om mense te roep wat op die regte pad is nie, maar die sondaars.

Hier is 'n interessante skakel ivm die geskiedenis van die Titanic.

Wednesday, November 02, 2005

 

Toe bak ek pampoenkoekies !

Ek het toe uiteindelik daarby gekom om die pampoenkoekies te bak. Maandag-middag na werk het ek eers Marktkauf toe gery om die nodige te kry - kaneel, meel, eiers, bakpoeier. Met die nodige voorbereiding gedoen (kaneel is Zimt, meel is Mehl, eiers is Eie, en bakpoeier is Backpulver), kon ek toe die aankope suksesvol afhandel.

Maar voor die pampoenkoekies, moes die pampoen mos eers gekook word. Dehlia se groot boerpampoen was substansieel te groot om in enige van die klein kookpotjies wat ek in die woonstel het, gekook te word. Gelukkig was Annatjie nog verlede Saterdag hier by my, en ons besluit daar moet 'n pot gekoop word. Weereens is Marktkauf die oplossing. Soos met enigiets in Duitsland, is daar 'n wye keuse en verskeidenheid van potte beskikbaar. Emalje-potte, vleklose staal, groot, klein, drukkokers, met glasdeksels, dink daaraan en dit is daar. Uiteindelik besluit ek op 'n groterige (!) vleklose staalpot. Ter verdediging moet ek noem dat die ding nie so groot in die winkel gelyk het nie...

Weer terug by die woonstel, is stap twee in die operasie om die pampoen te skil en in blokkies te sny. Nog 'n Rubicon-ervaring vir my - dit nog nooit in my lewe gedoen nie. Maar Annatjie is darem daar om leiding te gee en alles loop goed af.

Skielik word hierdie groot pampoen sommer klein toe ons dit in die 17-liter pot sit. Skielik lyk hierdie pot reusagtig groot in my ou eenman-woonstelletjie. Skielik lyk die pot vir my soos iets wat uit Vaalharts se koshuis-kombuis kom. (Gedagte - ek kan een keer 'n pot sop maak en die hele maand eet...)

Maar die pampoenkook-oefening is reg en goed, en dit ruik ook sommer lekker. Annatjie is vreeslik beindruk met die pot en dring daarop aan dat ek dit terug bring Suid-Afrika toe. So sal dit dan wees !

Uiteindelik eindig die gaar pampoen in tien (!) margarien-bakkies in die vrieshokkie en die yskas.

Terug na Maandag-aand. Ek kies na willekeur een van die baie resepte ontvang van EgAfrikaners, en meng en roer en doen wat gedoen moet word. Ek drup die deeg in die warm olie, en die eerste pampoenkoekies sis en druk-arm vir spasie in die olie. Ek loer vinnig weer na die resep, en kom met weemoed agter dat ek vergeet het om die suiker by die mengsel te gooi. Maar dis nou te laat. Die eerste klomp pampoenkoekies is reg en word uitgehaal op die oond se rooster om bietjie te ont-olie. Rondte twee met die deeg, maar nou gebeur dinge vinnig. Rondte drie is nog vinniger, en ek begin dink dat mens dalk die olie nie so warm moet maak nie.

Die uiteinde van die saak was dat die eerste klomp koekies mooi bruin-goud was, die tweede klomp minder goud was, die derde geslag meer bruin-swart was, en die vierde geslag nie meer bruin was nie. Gelukkig het ek vir niemand pampoenkoekies belowe nie, maar ek het vandag nog pampoenkoekies ingepak vir middag-ete.

Volgende keer se pampoenkoekiebak sal langer vat, en die olie sal nie weer kletter en kraak in die pan nie.

Miskien verstaan ek nou wat word bedoel met matige hitte...

Groetnis !