Google Web Kuiergat

This page is powered by Blogger. Isn't yours?

My status

Enige terugvoer, kommentaar, kritiek, of net 'n boodskap is baie welkom. Skryf gerus vir my ; muisdruk hier Johann van Staden

Online dictionary at www.Answers.com

Tell me about:

Tuesday, November 08, 2005

 

Laat herfs en aardbewingslyding

Ons somer is verby. Sommer so skielik het dit regtig koud geword hier in die omgewing van die Duitse Swart Woud. Die tekens was darem al 'n rukkie hier, maar vroeg-oggend sonop-tyd (07:00) is dit donkerig, goed koud, ys op die kar se vensters, en digte mis. Die oggend-mis op die pad skep 'n effens geheimsinnige atmosfeer, wat verlore gaan in die konsentrasie van bestuur. Deur die dag, as ons gelukkig is, skyn die son ewe mistroostig, maar maak weinig inbreuk op die koue. So teen vier-uur begin die son die stryd gewonne gee om sy plig te doen, en laat sy hande in oorgawe sak. Knap na vyf-uur is dit al redelik skemer-donker, en ses-uur het die donker oorgeneem. Laat-aand en snags is die hemel helder met die wit sekelmaan wat loer-loer. Die meeste van die ryk natuur-herfskleure het verdwyn en is vervang met dooie boomtakke wat gryp-gryp en reik na iets onsigbaars in die lug. Plek-plek vind mens darem nog 'n lewensreddende kleur-ontploffing van goud-rooi-bruin blare en helder blomme al hangende teen vensterbanke. Hierdie oorgangstyd van herfs na regte winter is vir my 'n ietwat dooie, onpersoonlike tyd. Winter is winter wanneer mens sneeu in die strate sien - of dit nou die reinwit vars sneeu is, of selfs die vuil-bruinswart sneeuhopies langs die pad - wanneer die son af en toe 'n gasverskyning in die grys-groue hemel maak, wanneer alles nat is - of nat lyk. Dan trek jy ook aan vir die winter, en jy doen winter-dinge ; al is dit ook om jouself af te sluit van alles en almal om jou en vas te val met 'n boek of 'n DVD. Jy innoveer 'n pot warm kerrie met die potjies oor-kos in die yskas. Of jy verbaas jouself met 'n pot groente-en-dinge sop. Dan het mens ook hier die plesier om die lokkende Weinachtsmarkte te besoek en warm, varsgebakte neute of grondboontjies te koop, 'n Bratwurst en broodtjie met mostert te geniet, en Glühwein te drink vir daardie lekker binne-warmte.

Maar dit is nie nou nie...nog nie. Nou oorleef jy maar net.

Die gewone dag-tot-dag dinge neem nou 'n ander dimensie aan. Ek kan nie meer saans skoen-loos en hemploos ronddwaal in die woonstel nie. Die donkerte trou met die koue en saam voer dit oorlog teen jou. In die agtergrond lewe-raas CNN, en selfs daar is min goeie nuus. Nee, in die laaste klomp dae nog geen goeie nuus gesien of gehoor nie. Die desperate situasie in die Himalayas in Pakistan na die onlangse aardbewings ruk-skud mens se hart. Hoe verstaan die seuntjie met die groot oë dat sy vingertjies ge-amputeer moes word, die soel-gesiggie dogterjie dat haar linkerbeen afgesit moes word. Die meisie in die tent-hospitaal wat nie weet wie of waar sy is nie, en niemand ken haar nie, en niemand besoek haar nie. Die kleuter-dogtertjie wat haar arm verloor het. Hierdie amper-mensies wat alles verloor het nog voordat hulle iets gehad het. Nie 'n huis nie, nie 'n lewe nie, nie iemand wat vir hulle lief is nie.

En ek kla oor die effense koue en donkerte in my woonstel en op pad werk toe. Ek mor en kla oor die klere nie droog word in die woonstel nie. Ek het 'n woonstel, ek het 'n kar, ek het 'n werk. Ek het warmte. Ek het mense wat vir my lief is.

Volgende week sal die seuntjie en dogtertjie nie meer op CNN wees nie. Iets anders sal die nuus van die dag wees. Maar die seuntjie sal nog steeds vingerloos wees. Die dogtertjie sal miskien probeer loop met krukke, as sy besonder gelukkig is om krukke te kry. Hulle sal waarskynlik bitter koud kry. Hulle sal waarskynlik honger wees. Of dood wees.

Comments>
Ja ek kan nie anders as om saam te stem oor die winter nie. Ons het nog nie ys nie maar dit is donker en grou. Die reen val nou al vir twee weke en dit sal nog vir minstens 'n week aanhou. Alles is vaal en grou.

Ons gaan nou in die donker tydperk in. Die son kom na nege in die oggend op en 4 uur is dit donker. In die middel van die dag sit die son minder as 20 grade bo die horison 'as hy besluit om te skyn'.
Dit is 'n depresiewe tyd vir almal spesiaal vir 'n Suid Afrikaner.

Ek ry elke dag met die fiets werk toe. Die reen kan lastig wees maar mens raak dit gewoond. Dit is nogals plesier om dit tog aan te pak as die pad geys is en as dit sneeu. Ek het al goed met moeder aarde kennis gemaak. Mens lag net staan op en gaan aan.

Gelukkig gaan ons vir twee weke in Desember SA toe. Die eerste keer in twee jaar vir my.

Eintlik het ons baie om voor dankbaar te wees al kla ons baie met 'n witbrood onder die arm.
 
Post a Comment

<< Home