Google Web Kuiergat

This page is powered by Blogger. Isn't yours?

My status

Enige terugvoer, kommentaar, kritiek, of net 'n boodskap is baie welkom. Skryf gerus vir my ; muisdruk hier Johann van Staden

Online dictionary at www.Answers.com

Tell me about:

Tuesday, August 29, 2006

 

Dood - Carpe Diem !

'n Baie goeie huisvriend wat baie vir ons familie beteken het, is vanmiddag oorlede ; die Vader het hom in die fleur van sy lewe kom haal. Hy was alleen by sy huis toe hy 'n hartaanval gekry het.

Vanaand het ek kom stilte soek in my woonstel. Maar juis vanaand het my familie my nodig by die huis, en ek het hulle nabyheid ook nodig. Gelukkig weet ons Hemelse Vader dit ook, en weet dat Hy die nodige genade en aanvaarding ook sal gee.

Sy dood het my ook onwillekeurig vir 'n paar minute ; of weliswaar 'n uur of twee, tot stilstand laat kom. Ek dink oor die woorde van Laurika Rauch se liedjie, en hoe waar dit regtig is. Soms luister 'n mens sonder om te hoor, en soms hoor jy sonder dat die liedjie speel.

Die mense wat ek lief het
kom groei op my soos mos
daar laat ek hulle na hartelus gedy
en loop ek deur die wêreld
- beskut teen die koue -
die snoesigheid self ;
Ek met my moskombersie.
En as daar 'n oorlog kom
word die mense wat ek lief het
'n ekstra liefdeslaag om my
so marsjeer ek deur die wêreld
gepantser teen die vuur
die onaantasbaarheid self ;
Ek met my menskombersie

Maar as iemand wat op my gegroei het
weg moet gaan
dan sit daar 'n seerplek
dan sluip ek deur die wêreld die kwesbaarheid self ;
Ek met my seerplek wat net nie wil genees nie.

Ek besef ook dat mens in die lewe, lewendig dood ook kan wees ; en soms is dit uit eie keuse. Dit is egter 'n keuse wat God juis nie vir ons wil hê nie. Dorothee Sölle het die volgende gesê :

"Daar is 'n soort dood wat intree wanneer ons ander nie sien as 'n gawe van God, 'n seëning, 'n stimulus tot 'n beter lewe nie, maar as 'n bedreiging, 'n kompetisie, 'n gevaar vir ons eie welsyn. Dit is die dood wat oor almal kom wat van brood alleen probeer lewe.

Daarom waarsku die Bybel ons teen dié dood.

Hier verwys "dood" natuurlik nie na ons vertrek uit hierdie wêreld nie, maar na 'n doellose verblyf hier, 'n bestaan sonder sinvolle verhoudings met ons naaste, en daarom 'n lewe van angs, stilte en eensaamheid - werklik niks anders nie as 'n vorm van dood".

Anton, jy het gelewe ! Rus in vrede, my vriend !

Monday, August 28, 2006

 

Eenvoudige uiesop, koring & biltong

Ek het vanaand laat by die woonstel gekom, en moes vinnig konstruksie pleeg aan 'n poging tot aandete. 'n Vlugtige inventaris van die koskas lewer 'n pakkie uiesop op ; die soort met die baie gedroogde uie daarin. Blitsvinnig besluit ek, gedagtig aan die nat en koel weer hierbuite, dat dit 'n goeie aand vir sop is.

Daar is in elk geval niks spesiaals aan uiesop nie. Terwyl die kookproses aan die gang is, en ek die pot roer soos voorgeskryf op die pakkie, bekyk ek die inhoudelike, en die bruinerigheid met verdwaalde uierafels lyk so hartseer, verleë en trietsig, dat ek die nie oor my hart kan kry om dit net so miserabel te los nie. Toe onthou ek van die oorskiet-koring van gister se maaltyd, en dit dinkklink so reg. 'n Paar eetlepels ingeroer, en die uie lyk al klaar sommer heelwat beter en gelukkiger. Toe onthou ek regulasie 47.5(a) subseksie 13 reël 8 (Beplanning van etes en die konstruksie van voedsel) : "Mens moet ten minste een maal per dag vleis eet ; verkieslik meer."

’n Vlugtige ondersoek in die yskas bevestig my tragiese vermoede dat daar ’n kritieke tekort aan hierdie basiese voedselsoort bestaan, met die uitsondering van ’n pak biltong. Nou ja, as die kalf dan in die put is . . .

Terwyl die kalf in die put prut in die pot, varsbak ek gou 'n paar broodrolletjies.

Ek het baie lanklaas so lekker ge-eet aan iets so simpels soos uiesop en vars broodrolletjies.

Friday, August 25, 2006

 

Vark, kerrie en veselperskes

Laterig gisteraand onthou ek dat ek eintlik nog nie ge-eet het nie, en besluit om vinnig iets te bou. Volgens die ou mense is dit nie 'n goeie idee om laat in die aand swaar te eet nie, so ek besluit op iets ligs.

Ek ontdek toe 'n pakkie varkneksteaks in die vrieskas, en besluit toe as ek nou vegetaries moet eet vanaand, dan is dit maar so.

Eerstens moet hierdie groente ontdooi word, en vervolgens bou ek reseploos aan die ete.

Ek deel graag hierdie poging -

1. Plaas die braaipan op hoë hitte op die plaat en gooi 'n klomp vars lemoensap daarin.

2. Plaas die stukkies versigtig en netjies in die pan (dis nou om nie te spat nie)

3. Bestrooi met bietjie speserye en knoffelvlokkies terwyl die storie pruttend gesels

4. Spuit 'n skeut Würz (dis nou amper dieselfde as Worcestersous) oor die stukkies

5. Gooi warm kerriepoeier oor die stukkies (belangrik - draai stukkies om en gooi op beide kante)

6. Nou vir die geheim en sukses van die gereg - gooi 'n klompie stukke gedroogde veselperske (mangos) saam met die stukkies. Dit gee ongelooflike geur.

Uiteindelik moet ek eerlik sê, dit was besonder lekker - nogal warm maar baie geurig.

Hier is twee fotos ; eerstens terwyl die ete in konstruksie was, en dan die finale produk.


Net ter verduideliking.

Vleis is beesvleis, wildsvleis, en skaapvleis.

Groente is aartappels, patats, pampoen, vark, en so aan.

Slaai is tamatie, beet, wortels, sampioene, hoender, en so aan.

Dan kry mens nog vis ook, wat onder andere goed soos krokodil en haai insluit.

Tuesday, August 22, 2006

 

Weißwurst, Brezen en Bier - ontbyt in Bavaria

Ek was bevoorreg om Vrydag-middag en Saterdag (18-19 Augustus 2006) by baie goeie vriende naby Münich te kon kuier. Een van die baie hoogtepunte gedurende die kuier was die tipiese Bavariese ontbyt wat my gasvrou Saterdagoggend voorgesit het. Dit bestaan basies uit sogenaamde Weißwurst, wat saam met soet mosterd, Brezen ('n tradisionele soort broodpoging), en bier ge-eet word. Daar is heelwat tradisies en gebruike wat saamgaan met hierdie ontbyt. Hierdie is een worsie wat jy asseblief nie moet braai nie.

Die Münchense Weißwurst (wit wors) is 'n tipiese tradisionele Bavariese lekkerny. Die wors is heel per ongeluk uitgevind deur 'n jong slagter genaamd Sepp Moser in 1857.

Hy het op "Fasching" Sondag, die 22ste Februarie 1857, in die kombuis van die restaurant "Zum ewigen Licht" langs sy slaghuis gewerk. Ongelukkig het hy die laaste van die dikker derms wat hy gebruik om die gewone wors te maak, opgebruik, en die gaste in die restaurant het gewag vir hulle ete en luidkeels en beswaard hulle ongelukkigheid te kenne gegee.

Om die probleem toe op te los het hy die enigste ander derms wat hy byderhand gehad het, gebruik om die wors mee te stop. Hierdie derms was egter baie dun, en hy was bekommerd dat dit sou bars as hy die wors sou braai. Hy het toe die wors vir tien minute lank in kokende water geplaas om dit gaar te kry.

Toe hy die "Weißwurst" aan die gaste opdis, was daar wel kommentaar, maar nadat hulle die nuwe wit wors geproe het, het die gaste, in plaas van kritiek en ongelukkigheid, hom oorlaai met lofprysinge en gelukwense. Die Münchense beroemde "Weißwurst" is toe gebore.

Die oorspronklike resep en bestanddele, wat tot vandag toe nog gevolg word, bestaan uit maer kalfsvleis, spek, kruie en speserye, die varsheid van 'n suurlemoen, en vars pietersielie.
"Weißwurst" word vars bedien in baie warm water, en behoort volgens tradisie reg ge-eet te word. Die beste manier om die vel te verwyder is om die die worsie in die lengte ligweg te sny - net deur die velletjie, dan die vleis met die vurk binne vas te hou, en dan die vel met die mes af te trek. Die vel word weggegooi en nie ge-eet nie. Die wors word dan met "Brezen" of broodrolletjies en soet tuisgemaakte mosterd saam met bier ge-eet.

'n Brezel is algemeen in Duitsland, veral in die Suidelike streke. Die deeg word in 'n knoopvorm gebak en besprinkel met soutkristalle. Daar is wel verskeie soorte en groottes Brezel beskikbaar.

'n Ander interessante tradisie is dat "Weißwurst" slegs in die oggend (voor middag-ete) ge-eet word. Die gebruik dateer klaarblyklik uit die dae toe daar nog nie yskaste geredelik beskikbaar was nie, en hierdie wors vinnig sleg sou word. Selfs vandag nog is dit ongehoord dat "Weißwurst" later in die dag voorgesit word.

Monday, August 21, 2006

 

Kerrie-kaskenades


Met tuiskoms vanmiddag, het ek geen idee gehad wat (en of iets) vanaand in die kombuis gaan gebeur nie. Ek het so vinnig na werk gou die supermark besoek om die leë kaste in die kombuis bietjie aan te vul, maar ek het niks spesifiek vir vanaand beplan nie.

Later tuis, en toe die hongerpyne begin knaag, bekruip ek die yskas, onseker oor watter ontvangs ek sal kry. Uit die koue-wit-kliniese dieptes staar 'n sakkie aartappels my in die gesig. Gewoonlik is mikro-golf aartappels (in water, neem kennis) met kaas en 'n sousie 'n maklike en lui alternatief vir 'n vinnige en vullende ete, maar een of ander kullinêre kunstenaar (of nar) neem toe oor toe ek die aartappels begin skil. Aartappels wat al 'n week of twee of dalk veel meer (!) in die yskas lê lyk nie meer soos 'n pasgebore baba se wangetjies nie . . .

'n Lang storie . . . maar uiteindelik eet ek toe vanaand 'n aartappel-spek-kerrie poging wat my heel trots op my kombuis-innovasie laat voel.

Vir die rekord . . .

Die oorspronklike idee : Om 'n paar aartappels wat ek ontdek agter in die yskas gaar te maak in die mikrogolf-oond, met gesmelte kaas en so iets van 'n sousie daaroor.

Die realiteit : 'n Pot kerrie wat genoeg is om ses mense of twee tienerseuns te voed, met genoeg wat sal oorbly vir more se middag-ete by die werk, en dalk meer. . .

Die ammunisie :

'n Klomp aartappels, geskil en opgesny in stukkies
Bietjie sonneblom-olie om die pot bly te maak
'n Knerts sout en peper
2 x 500 ml bier
'n Klomp swart peper korrels
'n Handvol müsli
Twee stukke gerookte spek-ham, in blokkies gesny
Een eetlepel grondboontjiebotter
Twee eetlepels appelkooskonfyt
Drie eetlepels appelmoes
Twee eetlepels "Extra Hot Rajah" kerriepoeier (drie is beter)
'n Pakkie broccoli soppoeier (want ek het nie vars uie of uiesop-poeier nie)
Genoeg gemaalde knoffelvlokkies
'n Lekker spuit vars suurlemoensap
'n Blikkie sampioene
Genoeg Bandido's Habanero sous (gelukkig kan mens later nog op die kos gooi...)
So 'n mespunt Marmite
'n Skud of twee Würze (amper dieselfde as Worcestersous) - daardie swart poging
Bietjie klapper om later oor die dis te gooi

So maak mens :

1. Laat die olie stotterend kla in die pot op 'n warm plaat.
2. Gooi die aartappels, die sout en peper in, en roer goed.
3. Gooi dan 'n klomp bier in die pot om die gespuis stil te kry.
4. Sodra hulle weer begin raas in pot, gooi nog bier by.
5. Draai die plaat bietjie sagter, en gooi die swartpeper-korrels in. Roer goed.
6. Voeg die müsli by en roer goed in.
7. Gooi nog bier in.
8. Los dit vir 'n rukkie tot prut-prut. Maak seker dat dit nie brand nie ; roer indien nodig.
9. Werk die spek-ham blokkies goed in en roer sodat die vleis lekker bevriend raak met die goed in die pot.
10. Meng nou die grondboontjiebotter in.
11. Wanneer die pot lyk asof hy tevrede is, gooi die appelkooskonfyt en appelmoes in, en roer goed deur.
12. Nou word die kerriepoeier bygewerk.
13. Gooi die broccoli soppoeier in, saam met die bier wat oorgebly het, en roer dit alles netjies in.
14. Uiteindelik gooi jy die knoffelsaagsels in. Roer goed.
15. Voeg nou 'n lekker spuit vars suurlemoensap by.
16. Werk die sampioene in die pot in, saam met die watersous in die blik (mens gooi dit nie weg nie).
17. Die rissiesous - na keuse - genoeg of meer is die keuses.
18. Roer die Marmite goed in die pruttende pot.
19. Gooi nou maar die Würze ook in ; net 'n bietjie is nodig.
20. Sodra die aartappels sag is, is die kos reg. As die aartappels nie sag word nie, het jy te min kerrie ingegooi.
21. Dien op saam met 'n Blanc de Blancs (of nog beter, Merlot of Pinotage).

 

Met aandag

Ek is vol strooi. Twak. Nonsens. Ek is ge-irriteerd.

Dit is wat ek deesdae so baie dink as ek sien met hoeveel minagting mense oor die algemeen omgaan met die regte manier.

Van spel, bedoel ek nou. Ek wonder of mense nie meer kan spel nie. Of nie wil spel nie. Of is dit pure slapwatsenaamgeid.

Die onding-kultuur het nuwe hoogtes bereik met SMS. En van toe is dit net afdraande pad. Soveel so dat selfs SMS-woorde deesdae in die gerekende "OXFORD Dictionary" opgeneem is.

Maar die saak gaan heelwat verder as net in SMS-gebruik. Mens kan wel dalk die beginsel verstaan tov SMS'e, of ten minste 'n mate van begrip hê daarvoor, omdat daar in die begin heelwat beperkings was op die lengte van boodskappe, en verder is dit relatief moeilik om lang boodskappe in te sleutel met die meeste van die sakfone in algemene gebruik. My kwelpunt is egter dat selfs met ander maniere van geskrewe en elektroniese kommunikasiemedia, soos koerante, tydskrifte, elektroniese vonkpos, en woernale, hierdie slordigheid ingeburger geraak het.

Is mense nie meer trots op hulle interaksie met die wêreld nie ? Dit wat mens sê, en hoe dit gesê word, en of dit reg gesê word, is tog 'n persoonlike getuigskrif van wie en wat jy is. As iemand slordig met 'n taal omgaan, is dit 'n manifestasie van 'n slordige persoon ? Veral mens se moedertaal, wat behalwe dat dit die belangrikste kommunikasie-medium is wat ek het, dit ook een van die mees persoonlike dinge is wat my met my kultuur en menswees verbind.

Wat nog slegter is, is as iemand nie die respek vir iemand se naam het nie. Jou naam is tog een van die mees persoonlike dinge wat mens het ; wat 'n kernaspek en deel van jou volle menswees en identiteit is. Stephan is Stephan, hy is nie Stefan of Steven of Stephen nie. Verskillende tale spel wel dieselfde bronnaam anders, maar as jou eie kulture amptelike geregistreerde doopnaam Stephan is, behoort dit sodanig in alle tale as sulks gerespekteer word. En sodanig gespel word. Mari is Mari, en nie Marie nie. Tommie is Tommie, en nie Tommy nie.

En die gebruik van Engelse woorde in Afrikaanse gesprekke is natuurlik 'n ander saak waaroor ek lekker warm onder die kraag kan raak. Hierdie mishandeling van beide tale is so erg dat ek al begin dink het dat party mense 'n ander taal praat ; iets soos Engafri, of dalk Afeng. Sou die gebruiker dalk 'n Afengel genoem kan word ? Hier is 'n voorbeeld van iets wat ek onlangs raaklees.
"Hy’s ‘n ougat klong met serious talent. Nie ‘n muurpapier-musikant nie. Nie ‘n kombuistee-versieskrywer nie. Hy’s cutting edge en honger om suksesvol te wees. Nuwe bloed. Nuwe angle. Inventive. Nie ‘n copycat nie."
Of is die boodskap belangriker as die voertuig ?

Sunday, August 20, 2006

 

Afrikaans is vol 'bitter'

Vanmiddag (Sondag 20.08.2006) sit ek en lees, en die gebruik van een woord laat my gedagtes sommer op afdraai-paaie loop.

In die gelese teks word verwys na 'bitter graag', en ek wonder oor en bewonder hierdie mooie taal van ons.

In werklikheid verteenwoordig 'bitter' tog nie iets lekkers, of soets, of aangenaams nie. Maar nou word die uitgesproke positiewe wens van die persoon beklemtoon deur die nare woord 'bitter'. Dit is juis die teenstrydigheid in die begrippe wat dit vir die leser duidelik maak hoe graag die persoon die gebeurlikheid begeer.

Maar dit word tog nie altyd gebruik om 'n teenstrydige konsep te beklemtoon nie. Dink aan die volgende, en daar is baie meer . . .

Soms word die woord ietwat vervorm deur 'bitterlik' te gebruik, soos in 'bitterlik koud', en meer.

En almal weet wat jy bedoel in elke geval.

Ek weet nie of dit so mooi en reg klink in enige ander taal as Afrikaans nie. Of hoe ?


Tuesday, August 15, 2006

 

'n Bang passasier op vlug SA 261

Ek het die BLOG afgeskeep die afgelope paar maande, hoofsaaklik as gevolg van twee faktore. Werksdruk en beplanning vir 'n kruis-nasionale projek het vraatsugtig die meeste van Junie en Julie verorber, en daarna was ek bevoorreg om vir twee weke huis toe te gaan en die bitter koue gedurende die eerste week van Augustus in Suid-Afrika te geniet.

Maar, ek is terug en beplan om sommer heelwat nuwe inskrywings te maak hier by die Kuiergat. As jy dalk per ongeluk hier inval, wil ek jou graag uitnooi om gesellig saam te kuier en ook jou storie te vertel.

Met hierdie skrywe wil ek graag 'n ware gebeurtenis, circa Julie 2006, met julle deel.

Toe die man hier langs my kom sit, het my instink my vertel dat ons hier met 'n bang passasier te doen het. Mens weet mos net sulke dinge. Later, toe die ou sy skoene uittrek (die skoene was diksool swart sportskoene met rooi strepe en 'n swart ster en 'n geel son, met groen en blou skoenveters), toe raak dit duidelik hoe bang die passasier is. Ongelukkig het hy sy skoene al voor ete uitgetrek.

'n Ander afleiding wat mens kon maak uit beskikbare omstandigheidsgetuienis, was dat mense wat bang is om te vlieg, heelwat knoffel eet voordat hulle vlieg ; waarskynlik vir medisinale doeleindes om die vliegbangheid te besweer. Duidelik was hierdie passasier baie bang, omdat hy vooraf baie knoffel ge-eet het. Hierdie twee faktore het uniek saamgewerk met die afwesigheid van lugreëling in die vliegtuig om 'n spesiale, warm, persoonlike, en intieme atmosfeer in die kajuit te skep.

Ek vermoed ook dat die passasier verlangs familie van 'n perd moet wees. Nou almal weet wat gebeur wanneer 'n perd skrik ; ek dink dieselfde gebeur as 'n perd bang is. In mediese kringe word eufimistiese terminologie gebruik vir hierdie gebeurlikheid. My mediese kennis is egter nie baie goed nie, so ek mag die terminologie ietwat verkeerdelik aanwend, maar vir die doel van hierdie skrywe dink ek dit sal nie soveel saak maak nie. Wanneer 'n perd skrik, word daar gewoonlik 'n flatus gepasseer. Dit gaan gepaard met flatulensie. Nou ja, soos voorheen genoem, het hierdie passasier sekere ooreenkomste met perd se kind. Die uiteinde was dat hierdie passasier vir die grootste deel van die vlug van byna tien ure vanaf Frankfurt na Johannesburg met hierdie gedrag homself heel goed laat geld het, weliswaar heel diskreet en onhoorbaar. Maar met enige verdere inhoudelike karakteristieke van die passasie-ladings was daar niks mee verkeerd nie. Ek sou wel so ver gaan om hierdie passasier se manifestering daarvan as 'n meester in die klas sou plaas. In die opsig het my neus en reuksin my geensins in die steek gelaat nie.

Ek voel jammer vir mense wat bang is om te vlieg. Ek dink dit moet nogal erge stres wees.

Maar ek sou verkies om nie langs sulke mense te sit op 'n interkontinentale vlug van meer as tien ure nie. Dan kry ek myself meer jammer as wat ek hulle jammer kry. Baie, baie meer . . .