Google Web Kuiergat

This page is powered by Blogger. Isn't yours?

My status

Enige terugvoer, kommentaar, kritiek, of net 'n boodskap is baie welkom. Skryf gerus vir my ; muisdruk hier Johann van Staden

Online dictionary at www.Answers.com

Tell me about:

Monday, August 21, 2006

 

Kerrie-kaskenades


Met tuiskoms vanmiddag, het ek geen idee gehad wat (en of iets) vanaand in die kombuis gaan gebeur nie. Ek het so vinnig na werk gou die supermark besoek om die leë kaste in die kombuis bietjie aan te vul, maar ek het niks spesifiek vir vanaand beplan nie.

Later tuis, en toe die hongerpyne begin knaag, bekruip ek die yskas, onseker oor watter ontvangs ek sal kry. Uit die koue-wit-kliniese dieptes staar 'n sakkie aartappels my in die gesig. Gewoonlik is mikro-golf aartappels (in water, neem kennis) met kaas en 'n sousie 'n maklike en lui alternatief vir 'n vinnige en vullende ete, maar een of ander kullinêre kunstenaar (of nar) neem toe oor toe ek die aartappels begin skil. Aartappels wat al 'n week of twee of dalk veel meer (!) in die yskas lê lyk nie meer soos 'n pasgebore baba se wangetjies nie . . .

'n Lang storie . . . maar uiteindelik eet ek toe vanaand 'n aartappel-spek-kerrie poging wat my heel trots op my kombuis-innovasie laat voel.

Vir die rekord . . .

Die oorspronklike idee : Om 'n paar aartappels wat ek ontdek agter in die yskas gaar te maak in die mikrogolf-oond, met gesmelte kaas en so iets van 'n sousie daaroor.

Die realiteit : 'n Pot kerrie wat genoeg is om ses mense of twee tienerseuns te voed, met genoeg wat sal oorbly vir more se middag-ete by die werk, en dalk meer. . .

Die ammunisie :

'n Klomp aartappels, geskil en opgesny in stukkies
Bietjie sonneblom-olie om die pot bly te maak
'n Knerts sout en peper
2 x 500 ml bier
'n Klomp swart peper korrels
'n Handvol müsli
Twee stukke gerookte spek-ham, in blokkies gesny
Een eetlepel grondboontjiebotter
Twee eetlepels appelkooskonfyt
Drie eetlepels appelmoes
Twee eetlepels "Extra Hot Rajah" kerriepoeier (drie is beter)
'n Pakkie broccoli soppoeier (want ek het nie vars uie of uiesop-poeier nie)
Genoeg gemaalde knoffelvlokkies
'n Lekker spuit vars suurlemoensap
'n Blikkie sampioene
Genoeg Bandido's Habanero sous (gelukkig kan mens later nog op die kos gooi...)
So 'n mespunt Marmite
'n Skud of twee Würze (amper dieselfde as Worcestersous) - daardie swart poging
Bietjie klapper om later oor die dis te gooi

So maak mens :

1. Laat die olie stotterend kla in die pot op 'n warm plaat.
2. Gooi die aartappels, die sout en peper in, en roer goed.
3. Gooi dan 'n klomp bier in die pot om die gespuis stil te kry.
4. Sodra hulle weer begin raas in pot, gooi nog bier by.
5. Draai die plaat bietjie sagter, en gooi die swartpeper-korrels in. Roer goed.
6. Voeg die müsli by en roer goed in.
7. Gooi nog bier in.
8. Los dit vir 'n rukkie tot prut-prut. Maak seker dat dit nie brand nie ; roer indien nodig.
9. Werk die spek-ham blokkies goed in en roer sodat die vleis lekker bevriend raak met die goed in die pot.
10. Meng nou die grondboontjiebotter in.
11. Wanneer die pot lyk asof hy tevrede is, gooi die appelkooskonfyt en appelmoes in, en roer goed deur.
12. Nou word die kerriepoeier bygewerk.
13. Gooi die broccoli soppoeier in, saam met die bier wat oorgebly het, en roer dit alles netjies in.
14. Uiteindelik gooi jy die knoffelsaagsels in. Roer goed.
15. Voeg nou 'n lekker spuit vars suurlemoensap by.
16. Werk die sampioene in die pot in, saam met die watersous in die blik (mens gooi dit nie weg nie).
17. Die rissiesous - na keuse - genoeg of meer is die keuses.
18. Roer die Marmite goed in die pruttende pot.
19. Gooi nou maar die Würze ook in ; net 'n bietjie is nodig.
20. Sodra die aartappels sag is, is die kos reg. As die aartappels nie sag word nie, het jy te min kerrie ingegooi.
21. Dien op saam met 'n Blanc de Blancs (of nog beter, Merlot of Pinotage).

Comments> Post a Comment

<< Home