Google Web Kuiergat

This page is powered by Blogger. Isn't yours?

My status

Enige terugvoer, kommentaar, kritiek, of net 'n boodskap is baie welkom. Skryf gerus vir my ; muisdruk hier Johann van Staden

Online dictionary at www.Answers.com

Tell me about:

Tuesday, June 06, 2006

 

Ek hardloop saam met 62,390 atlete

Donderdag, 1 Junie 2006, was my tweede JP Morgan Chase Corporate Challenge deelname in Frankfurt, Duitsland. Ek was bevoorreg genoeg om ook verlede jaar deel te kon neem, saam met my seun Johann, tydens sy besoek hier by my.

Die persoonlike logistiek ten opsigte van deelname maak nie heeltemal sin nie. Om betyds in Frankfurt te wees, moes ek ongeveer 15:00 die A8 autobahn van Stuttgart na Frankfurt aanpak ; die afstand so 206 kilometer. Om parkering te verseker, het ek my voertuig by ons kantore in Frankfurt Niederlassung parkeer, en toe per S-Bahn trein stad toe gery. 'n Rit van 15 minute. Vanaf die Hauptbahnhof nog so 15 minute se vinnige loop na die middestad-kantoor om my wedloopnommer te kry, sweetpak daar te los, en weer die 15 minute terug te loop na die beginpunt van die wedloop. Dit alles om deel te neem aan 'n wedloop oor 'n afstand van 5,6 kilometers, wat as alles goed gaan, waarskynlik oor sal wees binne dertig of veertig minute.

Dit is 19:30 ; die son skyn, en 'n massa aspirant-wedlopers is gereed om die afstand van 5,6 kilometer deur die moderne middestad van Frankfurt aan te pak. Die 62,390 ingeskrewe wedlopers spring weg vanaf twee punte, en eindig almal by een punt na die wedloop. Mens kan jouself nie indink hoeveel mense dit is nie. Dit is meer as die helfte meer mense wat deelneem aan hierdie wedloop as 40,000 Blou Bul ondersteuners op Loftus se pawiljoene in Pretoria. En langs die strate is massas ondersteuners en vele ander mense wat hierdie sirkus ge-interesseerd gadeslaan. Selfs met die gebruik van twee wegspringpunte beteken dit dat die wedlopers aan die agterkant meer as 'n uur nadat die wedloop begin het by die beginpunt verbybeweeg.

Volgens inligting van die organiseerders is meer as 70,000 piesangs gedurende die wedloop ge-eet (maak sin, want ek dink mens moet effens bobbejaan wees om hierdie ding te doen), en 'n geweldige hoeveelheid water is gedrink. Ek vermoed egter dat baie meer bier na die wedloop gedrink is.

En ek is heel trots op myself hierdie jaar. Verlede jaar (2005) het ek onder redelike druk saam met Johann jnr en ander kollegas, en heelwat fikser as wat ek nou is, die wedloop in nege-en-dertig minute voltooi. Hierdie jaar, met geen druk en met niemand wat saam met my gehardloop het nie, het ek dit in vier-en-dertig minute voltooi. Toegegee, ek was gelukkig om heelwat verder voor te kon begin, en ek was nie so vasgedruk in die agterste bondels nie, met heelwat meer spasie rondom en voor my om te kon beweeg. Dit is egter ook waar dat die laaste keer wat ek enigsins gehardloop het, die eerste Junie verlede jaar tydens die wedloop was ; behalwe die kere daarna wat ek in lughawens rondgehardloop het om te probeer verhoed dat ek 'n vlug mis...

Die wedloop word hierdie jaar in twaalf wereldstede aangebied, onder andere ook in Johannesburg. Uiteindelik word 'n kampioenskapswedloop op die 7de Oktober 2006 in Park Avenue, New York, aangebied waar wenners in verskeie kategorieƫ aanwys sal word.

Gaan kyk gerus hier na heelwat meer inligting oor die pas afgelope JP Morgan Chase Corporate Challenge in Frankfurt, Duitsland.

Comments>
Mooi so! Dis goed dat jy uitkom en dinge doen en jou nie heeltyd verknies oor die margarienbakkies in jou yskas nie! (Hiehie!)

Groete, Jossie en Kie
 
Post a Comment

<< Home