Google Web Kuiergat

This page is powered by Blogger. Isn't yours?

My status

Enige terugvoer, kommentaar, kritiek, of net 'n boodskap is baie welkom. Skryf gerus vir my ; muisdruk hier Johann van Staden

Online dictionary at www.Answers.com

Tell me about:

Monday, April 24, 2006

 

'n Gejaag na wind

'n Gejaag na wind. Ek sit en wonder wat dit nou regtig beteken. Wie sou nou letterlik wind wil jaag ? As mens nou iets doms wil doen, en wat heeltemal 'n mors van tyd sal wees, is dit nou juis om wind te jaag. Prakties gesproke, wat sou dit jou in die sak bring ? As jy wind jaag, wanneer weet jy dat dit klaar is ? Hoe begin jy ? Jy jaag wind om wat mee te doen ? Jy kan nie wind vashou nie, of in 'n sakkie of pakkie sit nie. Want as wind ophou om wind te wees, is dit mos niks. Wind het nie grootte nie, of lengte nie. Ook nie breedte, of hoogte nie. Mens kan wind ook nie weeg nie. Of verf nie.

Die woord 'wind' in Bybelse konteks word gereeld in die konteks van 'geen waarde' gebruik. Een Korintiërs 14 vers 9'Dan praat julle mos in die wind !' In Een Konings 12 vers 13 en Twee Kronieke 10 vers 8 en vers 13 sien ons ook dat koning Rehabeam die raad van die ouer mense in die wind geslaan het. Ons lees ook in Twee Konings 17 vers 15 dat die volk die Here se waarskuwings in die wind geslaan het. Hosea 8 vers 7 sê dat as mense wind saai, sal hulle 'n storm oes.

Die Prediker gebruik die woorde 'gejaag na wind' agt keer. Wat vir my nogal interessant is, is wat hy in Prediker 2 vers 26 sê - 'Vir die mens met wie se lewe God tevrede is, gee Hy wysheid, kennis en blydskap. Maar die een met wie Hy nie tevrede is nie, kry die taak om op te gaar en bymekaar te maak en dit dan te gee aan een met wie God tevrede is. Ook hier kom dit dus tot niks. Dit is 'n gejaag na wind'.

Maar ongelukkig kan wind ook een van die mees destruktiewe elemente in die natuur wees. Die Here sê ook vir ons in Esegiël 13 vers 13 dat Hy stormwinde laat losbreek in Sy gramskap om alles te vernietig. Stormwinde maak mens bang en nederig tegelykertyd. Baie van ons het al gesien wat 'n stormwind aan bome en geboue kan doen. Om nie eers te praat van wat 'n wind saam met vuur in die natuur kan doen nie. Interessant ook dat God in Hebreërs 1 vers 7 die volgende aan ons bekend maak - 'van die engele sê Hy : Hy maak se engele stormwinde en sy dienaars vuurvlamme'.

In Suid-Afrika is ons gelukkig nie blootgestel aan ernstige tornadoes of orkane soos die wat in ander wêrelddele van tyd tot tyd woed nie. Maar die pyn en verwoesting van vuur is welbekend aan baie in Suid-Afrika. Met behulp van moderne kommunikasie-tegnologie kan ons weliswaar die impak van sulke natuurrampe waarneem, en juis hierin vind ek sekere interessante dinamieke. Al kan die mens 'n man op die maan sit, en mega-skade deur middel van 'n atoombom veroorsaak, kan ons nie 'n tornado of orkaan skep nie.

Dan kan ons gerus die Prediker se woorde in hoofstuk 11 vers 4 onthou - 'Wie die wind bly dophou, saai nie, wie na die wolke bly kyk, oes nie'.

Uiteindelik is die volgende woorde van Amos 4 vers 13 so pragtig en kragtig - 'Jy moet besef : Hy wat berge vorm en wind skep, Hy wat sy gedagtes aan die mens bekend maak, Hy wat dagbreek donker maak, Hy wat oor die hoogtes van die aarde gaan, Sy Naam is Here, almagtige God !'

Gelukkig sal Hy vir ons die wind en die see hard aanspreek sodat dit doodstil word.

Die Bybel

Comments> Post a Comment

<< Home