Google Web Kuiergat

This page is powered by Blogger. Isn't yours?

My status

Enige terugvoer, kommentaar, kritiek, of net 'n boodskap is baie welkom. Skryf gerus vir my ; muisdruk hier Johann van Staden

Online dictionary at www.Answers.com

Tell me about:

Friday, May 19, 2006

 

Texas Chilli Boontjies

Een aand vroeër in die week toe ek by die huis kom, en dit raak etenstyd, val ek die yskas aan om te sien watter geleenthede daar is. Ek ontdek toe die oorskiet van 'n vorige Texas pfanne maaltyd van 'n paar dae gelede. Dit was toe amper genoeg vir 'n ete, maar moet darem 'n broodjie of iets bysit.

Net ter verduideliking - die Texas pfanne is 'n mengsel van verskillende soorte boontjies in 'n matigwarme chilli sous. Stereotipe Amerikaanse cowboy-kos. Beskikbaar in Duitsland (ek het nog nooit 'n cowboy in Duitsland gesien nie).

Ek vat toe die Amerikaanse om-te-rooster brood en begin om 'n paar stukkies te rooster. Uiteindelik klaar, soek ek die margarien, met die wete dat daar nog baie is, want ek het mos gesien daar is heelwat houers in die yskas.

Groot fout om sulke onverantwoordelike aannames te maak!

Die eerste bakkie wat ek toe oopmaak, bied aan my gekookte rys. Wel, om dit 'gekookte' te noem, beteken ek gaan effe wydsbeen met die waarheid om. Een of ander tyd was dit wel gekook, en dit is nog steeds pragtig wit, maar so hard en droog soos woestynklippies. Dit lyk toe na die regte ding om dit sommer saam met die Texas chilli-boontjie-poging in die bak te gooi en met mikrogolf-krag aan te val. Dit maak toe die boontjie-ding warmer (wel, as gevolg van 'n swaar hand met Nando's se Extra Hot Chilli Sauce van die vorige ete was dit al klaar kriewelwarm toe dit uit die yskas gekom het). Die rys bied egter ernstige weerstand om sagkens met my om te gaan, en na 'n paar minute se strale-bombardering in die mikrogolf gooi ek tou op.

Nou reik ek weer na die yskas vir margarien vir die roosterbrood. Die volgende margarien-houer wat te voorskyn kom, het wel margarien in. Net genoeg om net-net nie een roosterbrood te smeer nie. Nou vir die volgende bakkie - ek het mos altyd margarien in die yskas.

Teleurgesteld besef ek weereens, na 'n vinnige loer, dat hierdie bakkie slegs koel gehou is in die yskas - want daar is genoeg margarien in om die mes vuil te maak, en niks meer nie.

En toe ek verder soek, moet ek met weemoed aan myself erken dat daar wel geen meer margarien in die yskas is nie. Ek smeer toe een stukkie roosterbrood met grondboontjiebotter - wel, dit is mos botter, soort van. Ek kan egter met vertroue rapporteer dat grondboontjiebotter nie heeltemal suksesvol saam met bousand-rys en Nando's Texas chilli-boontjies gebruik behoort te word nie, en die kombinasie is dus nie aan te bevole nie.

Skielik lyk die yskas besonder leeg. Dit is nogal indrukwekkend hoeveel plek drie margarien-bakkies in die yskas opneem, maar effe neerdrukkend om geen margarien-bakkies in die yskas te hê nie.

Nou wonder ek net hoekom daar twee leë margarienhouers in die yskas was. Daar was ook 'n bottel olywe in die yskas, maar sonder enige olywe in - net een of ander suur asynpoging. Ek wonder daaroor ook...

Wednesday, May 03, 2006

 

Tradisie

Ons gebruik die woord "tradisie" so maklik. En ook "tradisioneel". Maar hoeveel waarde heg ons daaraan ? Hoe belangrik is tradisies in die moderne lewe, en het dit nog bestaansreg ? Of skud ons dit soos water van 'n eend se rug af deur dit as outyds, sleg, sommer lawwigheid, of simpel te beskou ? Party mense sou dit sommer as 'onkoel' beskryf.

Soms gebruik ons die gesegde 'as jy nie weet waarheen jy gaan nie, sal enige pad jou daarheen neem'. Ek wil die gedagte bietjie draai deur te sê as jy nie weet waarvandaan jy kom nie, sal jy ook nie weet waarheen om te gaan nie.

Interessante gedagtes. Wat is 'tradisie', oftewel 'tradisioneel' ?

Die omvang hiervan is geweldig wyd. Dit sluit onder andere taal, musiek, kleredrag, dit wat ons eet, die manier hoe ons met mense omgaan, hoe mense mekaar groet, hoe ons huise en blyplekke lyk, aspekte van ons geloofslewe, hoe en waar ons gaan vakansie hou, en vele meer dimensies van menswees in. Baie keer is tradisie 'n sleutelrolspeler in die keuse van 'n beroep, gesien dat daar darem al vier geslagte mediese dokters in die familie was. Of Ouboet moet gaan boer om die plaas te erf. As Oupa en Pa prokureurs was, watter kans het arme Jacques-Kosie om sy lewensdroom as balletdanser te gaan uitleef ?

Dit sluit persoonlike gewoontes in, en soms ook spesiale rituele wat weliswaar tegelykertyd sin maak en sommer onsin is. Tradisies bind mense aanmekaar met onsigbare bande wat veel sterker is as enige mensgemaakte tou of iets soortgelyks. Selfs in die pleeg van politiek en pogings tot die lewering van publieke dienste is daar ou tradisies wat knersend vasbyt en behoue bly. Tradisies manifesteer op allerhande feeste en byeenkomste, en word dan so ook op hierdie manier oorgedra aan nuwe geslagte. Ou tradisies word soms herontdek en met drif en passie vernuwe deur 'n verjongingskuur te ondergaan.

Juis daarom wil ek nie voorgee dat tradisies onveranderbaar is nie. Tradisies behou die kern van hulle ontstaan, maar verander oor jare sodanig dat dit soms moeilik is om die kloutjie by die oor te bring ten opsigte van die oorsprong van die tradisie. Prins Philip van Engeland het per geleentheid die volgende te sê gehad :
"Change does not change tradition. It strengthens it. Change is a challenge and an opportunity, not a threat".
Volkspele. Boeremusiek. Familiepiekniek by die Hartbeespoortdam. Boeresport. Koue blou hardgekookte eiers vir padkos. Vakansie in Hartenbos. Paasnaweek se beplande chaos op die Suidkus. Nuwejaar in die Bo-Kaap.

Ongelukkig het vele tradisies ook verlore gegaan omdat dit in baie gevalle nooit op rekord of te boek gestel is nie, maar van geslag na geslag deur die uitvoering daarvan per woord en daad oorgedra is. Deur geslagte heen het tradisies dan verwater, en uiteindelik soos mis voor die son verdwyn.

Ek wil myself in die konteks posisioneer deur 'n aanvegbare stelling te maak. Ek glo dat die mens of die volk wat nie tradisies het nie, substansieël half-mens is, en grotendeels 'n identiteitslose volk is. Ek glo ook dat tradisies 'n sekere sinvolheid aan die bestaan van die mens gee, en 'n kernbestandeel van groepsidentiteit is, hetsy in familie-verband of binne 'n sosiale raamwerk.

Die Nieu-Seelandse rugby-haka is 'n tradisie wat die oogmerk het om die 'vyand' te intimideer. Soms word die haka (ka mate haka) gesien as 'n oorlogsdans, maar in die Maori-kultuur het dit ontwikkel as 'n dreunsang-dans met spesifieke handgebare en die gestamp van voete deur soldate voor 'n gevegsituasie, om as 'n kragvertoning te dien, terwyl hulle sommer ook die vyand goed sleggesê het in die proses. Uiteraard om die adrenalien vry te stel, emosies op te jaag, en as motivering te dien.

'n Tradisionele mynveld is die baie maniere wat gebruik word om mense te groet. In sekere geselskappe is 'n stewige handdruk met oogkontak die regte ding om te doen, terwyl oogkontak heeltemal taboe in ander kulturele situasies is. 'n Soen op die lippe in groet is die norm in sekere omstandighede ; so ook die wangsoen. Tradisie bepaal dat op albei wange gesoen word ; ek vergeet net gewoonlik watter wang eerste ! As jy 'n koningin ontmoet, onthou om te buig. Maar as jy in besigheidsgeselskap in Japan is, kan die buigery nogal 'n langdurige oefening wees. Onthou gerus maar om op te hou buig so na die derde of vierde keer. Party mense vergeet soms op op te hou om jou hand te skud. Ander mense is soms geneig om jou vingerbeentjies te vergruis in 'n groetpoging. As die dame haar hand aanbied, mik vir die kneukels, maar maak seker jy soen mis (mis soos in nie raak nie, nie mis soos in mis nie). Iewers baie vêr noord is jy blykbaar ook vriendelik as jy jou neus teen die ander persoon se neus gaan vryf. As jy 'n hoed dra, maak seker jy weet wanneer jy dit moet afhaal as jy iemand groet, en wanneer jy dit net effens moet lig. Al hierdie dinge mqg formeel deur protokol voorgeskryf word, maar informeel het dit waarskynlik oor baie jare as tradisies ontwikkel.

Die Halloween-tradisie spruit uit 'n ou gebruik waar lewende nasate kos voor grafte van hulle geliefdes neergesit het vir wanneer diesulkes volgens oorlewering uit hulle grafte verrys het. Om bose geeste te laat skrik en weg te hou, het die lewendes maskers gedra. In later jare het die Romeine hierdie gebruik oorgeneem en vermeng saam met hulle eie oesfeeste.

'n Baie mooi gebruik in sekere lande en streke in Europa is om buite die huis waar 'n nuwe baba gebore is, 'n groot houtbeeld van 'n ooievaar te sit om die nuus bekend te maak.

Ek is seker baie families huldig nog die besondere gewoonte om 'n geslagsregister en familieboom in die familie Bybel aan te dui en op datum te hou.

Hoe vaal en saai sou ons herinneringe van ons skoollewe, universiteit, en selfs militêre diens, nie gewees het sonder die unieke karakter wat intydse tradisies nie daaraan gegee het nie. Dit is juis hier jammer dat in soveel gevalle deur misbruik en wanpraktyke, ontgroening deesdae onaanvaarbaar geword het. Gesonde ontgroening was dan tog 'n kernelement van karakterbou en tradisie-bou in vele instellings.

Hoekom is mens soms so neusoptrekkerig oor tradisies ? Tradisionele musiek, tradisionele kleredrag, tradisionele kos - noem maar op. Al ontken mens dit, is dit tog inherent deel van wat jy is, waar jy vandaan kom, en was dit deel van die resep wat jou die spesiale mens wat jy is, gemaak het.

Hoe hartseer-mooi en weemoedig het oubaas Tevye nie juis oor 'traditions' en die jeug se disrespek daarvoor, gesing nie in 'Fiddler on the Roof'.

Ek vermoed dat die gejaagdheid van die moderne lewe, in hierdie wêreld waar tradisionele grense vervaag, die wêreld wat as gevolg van globalisering en blitsvinnige kommunikasie en krimpende afstande, in groot konflik met die beginsel van 'tradisie' staan. Die wêreld jaag die perfekte produk na, die een enkele beste oplossing en antwoord, en in hierdie proses word die waardes van uniekheid en onafhanklikheid onder geweldige druk geplaas. Dit is egter ook waar dat histories baie groei plaasgevind het ten tyde van onderdrukking en rasionalisasie. Kulture en tale en gelowe het sterker geword juis wanneer die aanslag op hulle baie straf is. Net die tyd sal leer of dieselfde eeue-oue beginsels geldig is in die nuwe, kleiner, materialistiese en kosmopolitaanse moderne wêreld van vandag.

Net die tyd sal leer...

Deel asseblief jou spesiale of unieke tradisies hier op die Kuiergat. Vertel vir ons waar dit vandaan kom, en miskien wat dit vir jou beteken of beteken het.