Google Web Kuiergat

This page is powered by Blogger. Isn't yours?

My status

Enige terugvoer, kommentaar, kritiek, of net 'n boodskap is baie welkom. Skryf gerus vir my ; muisdruk hier Johann van Staden

Online dictionary at www.Answers.com

Tell me about:

Sunday, August 26, 2007

 

Die Otter : 3 - Die eerste dag

Donderdag-oggend 9 Augustus 2007. Die dag waarna ons al baie lank na uitgesien het, het uiteindelik aangebreek. Na 'n goeie nagrus, geniet almal die luukse van warm water in die badkamers om te stort, gesig te was, tande te borsel. Min wetende...

Ontbyt word aangepak, en hierdie is vir sekere voornemende stappers ’n laaste finale poging om die rugsakke nog ligter te maak. Ander lede van die groep besluit om eerder gebruik te maak van die geriewe van die restaurant op die terrein om ’n laaste “beskaafde” ontbyt te nuttig.



Nadat verdere amptelike formaliteite – met diensleweringfrustrasies – afgehandel is, het ons almal die uurlange DVD van die roete gaan kyk. Ek dink dis hier waar sekere van die werklikhede en realiteite wat vir ons wag, vir die eerste keer gevisualeer is. Die video het waarskynlik ook ’n prentjie van sekere moontlike uiterste omstandighede geskets, maar hoe sou ons ook nou dit kon weet of raai. Terwyl die video intens bestudeer is deur almal, het daar plek-plek stiltes neergedaal oor die groep. Party mense is bekommerd oor hoogtes, ander miskien meer oor hoe om deur riviere te kom ; terwyl die twyfel van Sondag-oggend se 03:00 opstaan en te begin loop om met laaggety by die Bloukransrivier te kom as ’n sekerheid gemanifesteer is in almal se gemoed.

Toe is dit tyd !



Na ’n paar fotos geneem is, word die eerste paar tree van die meer as 42 kilometer van die roete geneem. Nou loop die adrenalien sterk en almal is hoogs gemotiveerd en lus vir die ding. Die werklikheid van ’n poskaart-mooi dag met ’n blou hemel, sonskyn en nie ’n wolkie in sig nie, dra veel tot die atmosfeer by. Medestapper Dylan is nog steeds nie heeltemal gesond nie, maar met eie wil en deursettingsvermoë pak hy die uitdaging volstoom aan.



Spoedig is almal natgesweet, maar geniet die pragtige natuurskoon. Met die groen van die woude om ons, die blou van die Atlantiese Oseaan, en die gerusstellende klank van die brekende golwe teen die strandrotse, is hierdie ’n voorreg wat vir min mense beskore is.























Vroegmiddag, by ’n waterval en op die strand, gun ons onsself ’n blaaskans vir middag-ete. Hier word die buitelugtegnologie getoets, en die gasstofies slaag met vlieënde vaandels om water binne byna sekondes tot kookpunt te bring. Twee-minuut kitsnoedels, en koffie met ’n knerts Amarula het nog nooit so lekker gesmaak nie. Terwyl die meeste van die span ietwat met voete in die lug ontspan, voel die dapperes onder die dapperes hulleself genoë om die yskoue poel onder die waterval swemsgewys aan te durf.







Laatmiddag, en net betyds, kom ons by die eerste oorslaaphut aan. Daar word vinnig van die rugsakke ontslae geraak, en die omgewing verken. Op die strand is ’n waterpoel, en die jonger geslag (en nie heeltemal so jonk nie) besluit dis swemtyd. Weereens is die temperatuur van die water onbeskryfbaar, maar dit blyk nie tersake of ’n faktor te wees nie. Uiteindelik is die meeste van die span in die water, weliswaar een vir een, en in die meeste gevalle vinniger uit as in.

Daarna word groot vuur gemaak, en terwyl eetplanne aandag kry, word daar gesing dat die biesies bewe. Ons sing, uit volle bors, Afrikaans en Engels. Liedjies en songs soos “Al lê die berge nog so blou”, “Green Berets”, “Boesmanland”, “Blink Vosperd”, “Blouberg se Strand”, “Alibama”, “Amazing Grace”, “Die Dapper Muis”, “De la Rey”, “Die Mannetjie”, “From a Jack to a King”, “Ou Kraalliedjie”, “Loslappie”, “Song Sung Blue”, en vele meer is afgestof en gesing soos nog nooit tevore nie. Wel, sal waarskynlik ook nooit weer heeltemal op dieselfde manier voorgedra word nie ; en dis dalk ook goed so.





Weereens braaivleis en ander bykomstighede vir aandete – ’n ete waarop nie verbeter kan word nie, ’n lekker lang kuier langs die vuur, en die groep kom ter ruste vir ’n welverdiende nagrus.

Comments> Post a Comment

<< Home