Google Web Kuiergat

This page is powered by Blogger. Isn't yours?

My status

Enige terugvoer, kommentaar, kritiek, of net 'n boodskap is baie welkom. Skryf gerus vir my ; muisdruk hier Johann van Staden

Online dictionary at www.Answers.com

Tell me about:

Sunday, October 30, 2005

 

Ons besoek aan Nederland

Ek en Annatjie het verlede week op die ingewing van die oomblik besluit om vinnig 'n draai in Nederland te maak. Vroeg Maandag-oggend (24.10.2005) vat ons die pad, en ons beplan om onder andere by Dehlia Korten in Eibergen (die "Pampoentannie"), 'n draai te maak. Sy en haar man Jan boer in die omgewing, met Dehlia wat 'n boerdery-winkeltjie het wat hoofsaaklik met pampoene te doen het. Dehlia is 'n pragtige gasvrye mens wat, nadat ons lekker koffie by haar gedrink het, ons na die naaste kaasfabriek vir 'n toer geneem het. Die plaas het ongeveer 65 koeie, en die fabriek produseer 'n verskeidenheid van kase. Ons het uiteraard geproe, na 'n interessante video gekyk, en toe die produksie-area besoek. Baie interessant, en sterk aan te bevole vir besoekers.

Daarvandaan het ek en Annatjie in die rigting van Amsterdam gery, en uiteindelik in Hilversum ge-eindig. Ek onthou dat Riaan Cruywagen baie jare terug hier in Hilversum gebaseer was en met Radio Suid-Afrika van hier uitgesaai het. Hy het altyd interessante dinge te vertel gehad oor die Hollandse lewensstyl en feeste, en nooit gedink dat ek ooit self my voete in Hilversum sou sit nie.

Blyplek in Nederland was nogal 'n storie. Alhoewel ek gewoonlik huiswerk doen oor die areas waar ek besoek wil aflê, maak ek selde vaste besprekings vooraf, omdat ek so onafhanklik as moontlik wil wees as ek rondry. Nou ja, as jy wil gebruik maak van bed-en-ontbyt-fasiliteite in Nederland, is so 'n strategie nie 'n goeie opsie nie. Met my lys van moontlike blyplekke en die navigasiestelsel in my motor, klop ek aan by byna elkeen, maar dit is duidelik dat mens by hierdie B-en-B's vooraf moet bespreek. In die meeste gevalle word slaapplek by gewone huisgesinne voorsien, en jy kry 'n kamer, maar deel gewoonlik die badkamerfasiliteite met die familie. Sonder 'n vooraf-bespreking word ons toe weggewys by al die plekke, en moet ons toe uiteindelik slaapplek in hotelle opsoek - uiteraard 'n duurder opsie, maar is darem verseker beter as om agter in die stasiewa te probeer slaap (!).

Interessant ook is dat baie restaurante en eetplekke Maandag as 'n 'rusdag' beskou en glad nie oop is vir besigheid nie. Baie ander plekke wat wel oop is, maak toe tussen middag-ete en laat-middag voor aandete. Ek weet nou wel nie of dit oral so is nie, maar in die plattelandse omgewing waar ons Maandag-middag en Dinsdag-middag was, was dit ons ervaring.

Ons besoek in Amsterdam by 'n vlooimark eindig ook effens duurder as beplan, met komplimente van die verkeersdepartement van die stad. Omdat ek 'onwettig' parkeer, word ek deur middel van 'n blou kennisgewing op my ruit by die terugkomslag ingelig dat die voorreg om daar te staan my 'n pynlike boete van EURO 45,00 op die hals gehaal het.

Alles in ag genome, het ons Nederland geniet. Ek sal graag weer in die toekoms daarheen wil gaan, en bietjie langer kuier, om meer te sien en besoek en te ervaar. Die amper-drie dae was net nie lank genoeg nie.

Op pad terug Duitsland toe stop ons toe in Cologne (Köln) om die beroemde Katedraal te besigtig. Hierdie is een van die mees indrukwekkendste katedrale wat ek nog gesien het. Dit is ook die toeriste-aantreklikheid was dit meeste in Duitsland besoek word. Gaan kyk gerus by die skakels vir meer inligting.

Friday, October 14, 2005

 

Waar kom die potjie vandaan ?

Susan Varnfield het hierdie mooi geskiedenis vir my gestuur. Dit was vir my nuut, en ek glo dit sal vir baie van julle ook nuut en interessant wees.

Susan skryf, waar kom die potjie vandaan? Van die Voortrekkers? Ek moet erken ek het ook so gedink en tot my verbasing is dit NEE.

Die ontstaan van die HUTSPOT of potjie gaan so ver terug as 1573.

Op 15 Oktober 1573 het die Spanjaarde die Nederlandse stad Leiden beleër. Maar die Nederlanders was nie bekommerd gewees nie want hulle het genoeg kos in die stad gehad. Op 21 Maart 1574 los die Spanjaarde Leiden soos 'n warm patat en die mense daar was verheug.

Maar ewe skielik op die 25 Mei 1574 beleër die Spanjaarde weer Leiden. Dit is net hier waar die moeilikheid begin het. Die mense het nog nie tyd gehad om kos bymekaar te maak nie en niemand kon in of uit die stad gaan nie en nodeloos om te sê die kos was maar skraps.

Gelukkig het die mense begin om gemeenskapsetes te maak waar almal maar stukkies kos aangedra het van dit wat hulle gehad het, al hierdie vlentertjies en skraapsels is in een Hutspot gegooi en gekook en so het hulle maar elke dag saam ge-eet.

Daar is verder minder bekend oor die hutspot en hoe hy begin het om deur Europa te trek. Elke jaar word die hutspot gemaak op die dag wanneer die beleg van Leiden beëindig is en die mense het natuurlik nie net op die dag die hutspot laat kook nie. Van Nederland het die hutspot België, Frankryk en Engeland besoek.

Op 6 April 1652 het Jan van Riebeek natuurlik ook so 'n paar hutspotte aan boord van sy skepe gehad, en as jy daaraan dink was die hutspotte net die regte ding gewees om mee te kook in so 'n wilde en ongerepte land.

Maar dit is nie al manier waarop die potte hier in die Suiderpunt van Afrika geland het nie. Die ondekkersreisigers het die swart potte by hulle gehad om hulle kos te maak en toe is die potte geruil vir gunste en gawes by die plaaslike bevolking.

Die plaaslike bevolking het gou gesien dat die swart ysterpotte baie beter kook en hanteer as die gewone kleipotte wat hulle gebruik het. Die potjie vol pap het so toe sy plek by die swart bevolking gekry en met hulle migrasie af na die suidpunt toehet die pot natuurlik ook saamgetrek.

In Kaapstad in die vroeë jare het die pot behoorlik gekook. Eers het die mense net kos daarin gaargemaak en toe kom hulle agter dat hulle die potjie ook as oond gebruik en stukke vleis daarin gaargemaak, maar die einde was dit niet, want hulle het ook agtergekom dat mens ook brood in die potjie kan bak. Met al die skepe wat die Kaap die Goede Hoop besoek het met hulle vreemde speserye en geure het die potjie ook begin om meer geurig en smaaklik te raak.

Hierdie drie in een pot was 'n natuurlike keuse toe die Voortrekkers die laaang pad moes aandurf noorde toe. Die voordeel van die potte is dat jy nie vreeslik baie nodig het om hom aan die gang te kry nie, 'n kein vuurtjie en 'n paar stukke hout en siedaar kook hy, as mens die potjie stadig kook kan taai stukke vleis lekker smaaklik sag gekook word en die Voortrekkers kon die volgende dag na die vorige aand se lekker ete die potjie optel en aan die wa haak en daar gaan hulle oor die ruwe vlaktes.

Hier in die Sewentiger jare het ons moderne wesens weereens die potjie in al sy glorie herontdek en die totale kook proses verfyn in 'n kuns. Mense het toe agtergekom dat as jy potjie maak dat daar 'n hele paar uur se ekstra lekker kuier bygevoeg word, so is baie potjiekos-kompetisies is gehou en so is daar ook 'n Potjiegilde in Pretoria gestig.

Die potjie se grootte word bepaal deur die hoeveelheid water wat die kan neem ; 'n nommer 1 pot neem 2 Quarts water en 'n nommer 3 pot 8 Quart water.

Deesdae is omtrent elke mens 'n potjiekos kenner en elkeen het sy gunsteling manier en gereg wat hy as sy eie beskou.

Ons moet beslis die Spanjaarde bedank vir die beleg van Leiden as dit nie daarvoor was nie sou ons kultuur baie armer gewees het.

So haal daardie potjie uit die kas, nooi 'n paar vriende uit, en KOOK DAAI POT.

Baie dankie Susan, hierdie is regtig interessant. Ek kan bevestig dat die potjie selfs in vandag se dae nie onbekend is in Nederland nie. Ek was onlangs in Amsterdam, en in die sitkamer op die lughawe sien ek 'n advertensie vir 'n swart potjie in die koerant. Ek kan nie onthou wat die prys was nie, maar ek onthou wel dat dit heelwat duurder was as wat ons daarvoor betaal in Suid-Afrika. Heelwat duurder !

Gaan lees ook gerus meer oor die Tagtigjarige Oorlog - klikdruk hier, hier en hier.

Saam met Susan se storie het sy ook 'n hele klomp potjiekos-resepte (23 in totaal) vir my gestuur. As iemand dit wil hê, vra gerus hier op die BLOG, dan stuur ek dit aan. Ek is seker Susan sal nie omgee om dit verder te deel nie.

Thursday, October 13, 2005

 

Pampoenkoekies en Soete Herinneringe

Pampoene - pampoene orals ! Net waar ek gaan, sien ek pampoene (Duits : Der Kürbis) te koop. Langs die pad. Supermarkte. Plaasstalletjies. Vat 'n pampoen of twee en gooi die geld in die boks. Regte, egte pampoene te koop.

Die gedagtes loop vêr paaie. My Ma het in die swaar en moeilike tye van die 60's en 70's, en later in die effens makliker tye, gereeld vir Pa en haar span seuns, wat gegroei het van my as eersgeborene totdat ons uiteindelik sewe seuns was, pampoenkoekies gemaak. Dit was die lekkerste lekker. Druipsoet-lekker pampoenkoekies, ge-eet tot jy wil omval. Daardie dae was lekker en het mooi herinneringe gelos.

Terug by die vandag en nou. Klompie dae gelede besluit ek dat ek hier in die vreemde gaan probeer om vir my pampoenkoekies te bak. As dit werk, goed ; as dit nie werk nie, sal ek dit maar stilletjies opeet en vir niemand daarvan vertel nie. Maar ek het nie 'n resep nie. Gelukkig is Danie en EgAfrikaans daar, en ek pleeg my versoek laataand op Hulpnavrae. Sal maar sien wat gebeur.

Dit is toe asof ek die sluise van die Vaaldam ooptrek. Van heinde en verre - van Pretoria, Sishen, Shelley Beach in KZN, Kaapstad, en ook uit België, en ander onge-identifiseerde plekke - word my vonkposbus oorval met resepte vir pampoenkoekies, en ander maklike en lekker-klinkende resepte, goeie raad, en beste wense. Ongelooflik - ek kry sommer 'n lekker warm gevoel om my hart. Dis mos my mense hierdie !

Ek het die volgende boodskap aan al die mense gestuur wie vir my 'n resep gestuur het, en publiseer dit ook met graagte hier op die Kuiergat.

Dit is en bly maar altyd 'n voorreg om te sien hoe omgee-hulpvaardig onse ou Afrikaner-volkie is. My navraag het skaars op die Helpmyblad van EGAFRIKAANS en die hulpnavrae flitspos verskyn, toe kry ek van julle almal resepte. Ek kan nie belowe om al die resepte te probeer nie en terugvoer te gee nie - as ek so baie pampoenkoekies gaan eet, lyk ek dalk later soos en word ek dalk 'n pampoen - maar probeer, gaan ek verseker ! Dit is ook baie interessant om die verskillende variasies van resepte te sien - ek het nooit geweet 'n mens kan 'n nederige ding soos 'n pampoenkoekie op soveel maniere maak nie. Eric van der Mescht het selfs 'n resep gestuur wat mens in die oond maak. Lorraine Hatton het sommer vir my 'n resepteboek met 'n hele klomp maklike resepte daarin gestuur. Ek het selfs vanuit België, van Ansie Peeters, 'n resep uit die Rooi Rose gekry. Baie dankie !

Sodra ek suksesvol is met my pampoenkoekie-bak-pogings, sal ek dit aan my Duitse kollegas ook voorstel. Dit sal 'n verbetering vir die algemene Duitse kosmaak wees :-(

Verskeie mense het ook ander resepte saam gestuur, en van Cecilia Strauss vanuit KZN het ek selfs 'n storie oor 'n wêreld-kampioen-pampoen gekry - klikdruk gerus
vir die storie.

Vreeslik baie dankie aan julle almal. Dankie ook vir vele mooi wense en boodskappe in julle flitspos-skrywes aan my in die verband. Danie, baie dankie dat jy ook my versoek geplaas het.

Vir die wat belangstel, ek het ook 'n persoonlike BLOG, waar ek redelik gereeld my ervarings hier in Duitsland neerpen, asook van die fotos wat ek so van tyd tot tyd neem plaas. In beide pogings (skryf en fotografie) is ek 'n amateur, maar dit kom uit my hart uit. Kuier en gesels gerus saam. Afrikaners is mos plesierig !

Danie weet te vertel dat ek maar gerus 'n knertsie Amarula Likeur oor die pampoenkoekie moet gooi - volgens hom sal ek dit nooit weer anders wil eet nie. Gelukkig is Amarula hier in Duitsland geredelik beskikbaar - ongelukkig teen 'n prys !

Nou met ek nog net pampoen gaan koop, en pampoenkoekies bak. Sodra ek sukses gehad het - of nie - sal ek die storie hier vertel. Soos hulle sê, hou hierdie spasie dop. Dinge kan dalk interessant raak...

Die pampoenkoekies-dankie-sê-lys :


Monday, October 10, 2005

 

Verkopersvertroue in Duitsland

Chris het onlangs melding gemaak van sy ervaring in Denemarke ten opsigte van vertroue in die medemens. Ek deel graag my ervarings van gister in die verband.

Op pad na 'n middag-ete afspraak in Weinstadt besluit ek, die gawe seun wat ek is, om vir my gasvrou blomme te koop (Ek het darem vir die gasheer ook 'n goeie bottel Suid-Afrikaanse Pinotage saamgevat). Op pad tussen die plase deur kom ek af op 'n padstalletjie met verskeie bosse blomme te koop - 'n keur van verskillende soorte teen billike pryse word aangebied. Daar is 'n geldboks in die stalletjie, met 'n aanduiding van 'hoe maak mens'. Geen probleem, kies die blomme wat jy graag wil hê, en gooi die nodige geld in die geldboks. Jy word selfs uitgenooi om as jy te min geld het vir wat jy wil hê, jy maar die tekort by 'n volgende aankoop kan aanvul.

Neem kennis dat daar nie 'n siel naby is om te sien of jy hulle nie verneuk nie. Daar word absoluut en uiteraard op jou integriteit en eerlikheid staatgemaak.

Later die middag, na ete, gaan loop ons deur die wingerde en vrugteboorde. Weereens kom ons op 'n klein stalletjie af, waar vars-gebottelde appelsap te koop aangebied word. Alhoewel dit duidelik is dat baie bottels al verkoop is, is daar nog steeds 'n paar te koop. Weereens nie 'n siel naby nie, maar as jy 'n bottel wil koop, word van jou verwag om een Euro per bottel in die geldkissie te gooi en te vat wat jy gekoop het. Vir enige toekomstige besoekers aan hierdie area, maak seker dat jy so bottel of twee in die hande kry. Dit proe heeltemal anders as die gewone winkel-appelsap.

Gedurende ons wandeling het ons op 'n paar soortgelyke stalletjies afgekom, onder andere ook waar verskeie groentes per bondel lê en wag om gekoop te word.

Die ander interessantheid is dat daar baie wandel-paadjies deur die wingerde is. Jy loop letterlik deur die wingerd waar trosse en trosse ryp druiwe hang, nou net reg om ge-oes te word. Letterlik dosyne wandelgangers loop, maar niemand maak misbruik deur van die druiwe te pluk nie. Dit word net nie gedoen nie ! As jy wil druiwe hê, gaan koop jy dit in die winkel of miskien by 'n vars vrugte stalletjie.

Daar is ook geen heinings of hekke tussen die wingerde, en tussen die plaas-grense van verskillende boere nie se wingerde nie. Hier en daar dui 'n doelgemaakte verfmerk op 'n wingerdpaal die begin van 'n ander boer se wingerd aan.

Vriende, dit is heeltemal 'n ander 'vryheid' en respek vir ander se goed as waaraan ons gewoond is.

Gaan kyk ook gerus in my foto album onder gister se datum vir 'n paar besondere fotos van die wingerde, herfsprag en omgewing.

Friday, October 07, 2005

 

Cannstadt se Volksfest 2005

Nog 'n lekker groot Duitse bierfees - hierdie Cannstatter Volksfest !

Dit was nou my voorreg om hierdie fees vir die derde keer by te woon. Die vorige besoek verlede jaar (2004), en voor dit in 1992. Ek kan dus 'n paar opmerkings maak daaroor.

'n Groot verskil hierdie jaar in vergelyking met verlede jaar is dat daar 'n groter en sigbare polisie-teenwoordigheid is. Ek het nou wel nêrens gesien dat besoekers enigsins deursoek word of so iets nie, maar binne in die terrein, asook by die verskillende treinstasies was daar baie polisie-beamptes op diens. Dit is sekerlik 'n uitvloeisel van die onlange terreur wêreld-wyd - dink maar aan Bali, Londen, die huidige bekommernis en vrees in New York, ensovoorts.

Nie dat dit enigsins die entoesiasme van die feesgangers gedemp het nie !

Die manne en meisies sing en dans op die tafels en drink en eet vir 'n vale. Amerikaanse pop, rock en country-musiek weergalm. Moenie dink daar word regtig baie Duitse Oompah gespeel by hierdie geleenthede nie. Dit gebeur wel, maar per uitsondering.

Baie van die feesgangers (mans en dames) dra hulle tradisionele Duitse klere, wat die fees lekker kleurvol maak en aan dit sy eie identiteit gee. Gaan kyk gerus op die feeswerf waar hulle 'n fotoalbum het. Baie van die goed wat ek in hierdie bydrae noem kan daar gesien word.

Iets interessant wat ek gisteraand opgemerk het, is die sogenaamde 'Booze Patrol'. Dit is jong meisies wat rondloop in die biertente met 'n blaas-pypie (ja, daardie een wat die verkeerskonstabel ook gebruik). Jy betaal haar om te blaas, en te sien of jy nog bietjie kan drink of nie. Nou nie dat ek veel mense gesien het wat van hierdie diens gebruik maak nie.

So iets oor die te ete en te drinke. Daar word 'n spesiale bier gebrou vir hierdie fees - die sogenaamde 'Stuttgarter Hofbräu Volksfestbier', wat jy dan per liter (Maß) koop. Dit is ook werklik so dat die meeste kelners tien biere op een slag kan dra, wat in my opinie nogal 'n prestasie is. So 'n een liter kos € 7,20, wat in Suid-Afrikaanse Rand-terme amperR 60 is. Uiteraard word daar baie varkvleis en hoender ge-eet ; 'n 'Junge Schweinshaxe vom Grill mit Brötchen' (iets soos 'n eisbein - maar gebraai ; tipies word 'n eisbein hier in Duitsland gekook) kos so vanaf € 7,50 - duurder per werklike gewig. Dan kry jy net die eisbein en 'n broodrolletjie - as jy enigiets anders by wil hê moet dit ekstra aangekoop word.

Buite die biertente is 'n kakafonie van klank, reuk, geur en lig - en besoekers by die duisende! Vermaak van alle vorme word aangebied. Tradisionele eetgoed word te koop aangebied, speletjies te kies en keur, en 'n eiesoortige vlooimark om jou kooplus te bevredig.

Maar dit bly 'n ervaring en 'n voorreg om so iets by te woon.

Tuesday, October 04, 2005

 

Anton se Gebedsversoek

GEBEDSAKSIE (DIT SAL JOU NET 10 SEKONDES NEEM)

Kom ons begin met 'n INTERNET gebedsaksie. Ons doen dit soos volg: Wanneer jy hierdie lees, dan bid jy sommer daar waar jy nou sit. Verwys dan ook ander vriende na hierdie bladsy.

BID SAAM

  1. Hemelse Vader ons bid vir berou en bekering.
  2. Vader ons bid vir vergifnis van ons sonde.
  3. Ons bid dat U die mense in Suid-Afrika genadig sal wees en sal seën.
  4. Ons DANK U vir reën wat reeds geval het en bid dat U genoeg reën sal stuur na plekke wat smag daarna.
  5. Ook dat U alle onskuldige Suid-Afrikaners sal beskerm teen al die geweld.
  6. En dat daar 'n positiewe verandering in Suid-Afrika sal plaasvind.
  7. Ons bid dit in die Naam van JESUS. Amen.

VERSOEK: BID SAAM


 

Wat is dit dan met hierdie 'BLOG'-storie ?

Ons 'BLOG' in die sogenaamde 'blogosfeer' - (English : blogosphere).

Volgens een bron (Technorati) word daar 'n nuwe BLOG elke sekonde geskep - wat beteken dat ongeveer 31 miljoen nuwe BLOGs hierdie jaar sal verskyn. Hoe dit ook al sy, dit is 'n geweldige aantal, en 'n interessante verskynsel.

'n Soektog op die gerekende navorsingsmaatskappy GARTNER se amptelike webwerf vir die woorde 'blog, blogs' en 'weblogs' gee verwysings na 'n hele klomp navorsingsstukke.

GOOGLE die woord 'blog' en jy word oordonder met ongeveer 386,000,000 raakskote - en dit alles in 0.15 sekondes !

So - 'blogging' is amptelik !

Maar wat is 'n goeie en lekker tongrol Afrikaanse woord vir 'blog' en 'blogging' ?

Monday, October 03, 2005

 

Hannelie reageer

Dankie vir jou langlees boodskappie. Jong, ek dink hierdie is nogal ‘n goeie ding – die rondgooi van gedagtes so op e-pos. So hier is my paar gedagtes (verskoon my dat ek dit nie plaas op die internet nie, ek weet nie hoe nie, ek is blond en ja ek hou van rooi koeldrank, maar ek is seker een of ander persoon wat in Duitsland sit en werk, weet hoe hierdie goed werk en daarom sal hy/sy dit vir my op die regte manier op sy website/chatroom/tjiengemasjiese sit).

Kom ek begin by die begin. Johann, jy het ‘n mondvol goet hieronder gesê. Waar begin ek? Miskien gaan ek nie spesifiek oor iets gesels nie, maar net (soos jy) my gedagtes weergee soos wat dit by my opkom terwyl ek aandagtig die onderstaande e-pos lees. Niks wat jy gese het is vreemd vir die mense van Suid-Afrika nie. In my stryd om iewers ‘n aanknopingspunt te vind om hierdie e-pos te begin dink ek aan alles wat ek kan kritiseer en oor kla.

Toe ek begin werk het by Decision Health (voordat ons naam verander het) is ek die wonderlike werk van bemarkingskoordineer gegee. Lekker, het ek gedink. ‘n Splinternuwe uitdaging. Min het ek geweet wat op my wag. Min het ek geweet dat een van my grootste verantwoordelikhede gaan wees om ‘n voorbeeld te wees vir Stanley, Busi, Eunice, Innocent, Ilze, Nadia, Sunnyboy. Min het ek geweet dat wanneer jy wil medies verkoop aan iemand, jy nie die bestuur soseer oorreed nie, maar die massas. En min het ek geweet dat die enigste manier om ‘n bloukraag werker wat nie geletterd is nie, en wat se enigste hoop op oorlewing sy werk op die myn in Machadodorp is. En daar sit ek toe, nie die eerste keer nie (en daarna vir 3 jaar nie die laaste keer nie), 03:00 in die oggend, ‘n wit vrou, in ‘n “Hostel” en ek en Stanley moet hierdie nuwe medies verduidelik aan ‘n ou madala wat nou van skof af kom en glad nie lus is, oor die algemeen, om enigiets te doen kry met ‘n wit mens, veral nie ‘n wit vrou nie.

En daar is dit toe weer: daardie saggies klop aan my hart: en Jesus sê vir my: “Kyk na hierdie man. Het ek nie gesê dat dit is presies waar ek gaan wees nie? Hy is die rede hoekom jy vandag met sekerheid kan sê jy is verlos. Ek het gesterf vir hom. Hoekom dink jy enigsins dat jy beter is as hy? Ek is lief vir julle altwee.”

Ek huil die hele pad terug Pretoria toe. Arme Stanley gee net tissues aan.

Hoe laat mens toe dat jou hart verhard? Is dit omdat jy elke dag lees van plaasmoorde en daarom maak ons gevolgtrekkings oor alle persone wat in daardie “ras kategorie” val? Ek kom by die huis en sien my wonderlike man, my pragtige huis, my oulike hond. Ek maak my koskaste oop en dink aan daardie man met sy “take-home pay” van R45.00. Hoe oorleef iemand met R45? Ek betaal vir ‘n sakkie aartappels R45.

Daardie oggend sal my altyd by-bly. Dit kom klop saggies aan my hart as ek graag iets wil koop vir myself maar besef ek sal eers moet wag tot volgende maand. Dit klop aan my hart wanneer ek knus tussen my lakens inkruip, magie vol kos, nou-net lekker gebad, en ek onthou ek hoef nie nou te gaan werk vir R45.00 nie. Dit kom klop aan my hart as Ferdi en Sune en die kinders by ons kom eet, en ons slaan vetkoek en mince aanmekaar en ons lag en kuier. Dit kom klop aan my hart elke keer as ek genoeg kleingeld in my beursie het om brood te gaan koop.

Verskoon tog as ek soos ‘n Mills & Boon boek klink, maar ons beskou ons daaglikse bestaan as vanselfsprekend en, soos die ou mense sal sê, ons kla met die wit brood onder die arm. Ek dink aan my ma en pa wat verlede week en Sondag by ons kom kuier en hulle kla oor die stygende lewenskoste. Ja dit is erg. My keel trek toe elke keer as ek R45 moet betaal vir ‘n sakkie aartappels of as Dewald ‘n skrikwekkende bedrag noem as hy diesel ingegooi het. Maar Jesus kom klop en sê: “Ek sal vir jou alles gee wat jy nodig het.”

Ek dink vandag aan ons vriende Jan & Christelle wat letterlik alles, ALLES, verloor het. Hulle huis, hulle motor. Hulle is gestroop van alle selfrespek, en al wat hulle oorgehou het, was hulle geloof in God. En stelselmatig het Hy alles vir hulle kom teruggee. Ek het gesien hoe hulle moet bly by ander mense, van geleenthede moet gebruik maak vir vervoer, hoe dit hulle as amper 5 jaar vat, maar hulle het amper al hulle skuld af betaal. En deur al die swaar, het hulle nie 1 keer gekla nie. Hulle was slegs dankbaar en het aanhou bly om die regte ding te doen.

Ek vat daardie seer en swaar en ek maak dit my eie. Ek huil (weer!!!) en wonder hoe ek En nou stap ek deur niemand se huis meer en kritiseer nie. Want hulle het ‘n huis. Ek se dankie elke oggend as ek in my kar klim en kan werk toe ry, al is pay-day nog bietjie ver en my petrol liggie gaan al amper aan, want ek het ‘n kar, en ek het petrol. Ek se dankie vir elke klein geskenkie, elke klein nederige en uit-die-hart gebaar van liefde, want dit beteken iemand gee om en wil graag help. Ek sê dankie as my ma vir my ‘n ekstra sakkie tamaties gee, want dit beteken ek het tamaties. Dit is baie meer as die man wat R45.00 huis toe vat.

Hoe is dit dat ons slegs lewe om te kla? Hoe is dit dat ons nie meer dankbaar is vir die Weet-bix wat ons vanoggend kon eet nie? Hoe is dit moontlik dat ons slegs ingesteld is op die ongerief, die sleg van ander mense. Plaas ‘n mens die blaam op die media? Sensasie verkoop mos. Kyk nou vir al die nuusberigte oor Hurricane Katrina? En hoekom is Carte Blanche so suksesvol en gewild na soveel jare?

En wat is die goeie wat ek daaruit vat? Dit is dat ons almal op ‘n stadium deur nou-ervarings gaan. Dit “shape” jou menswees, gee jou waardes en beginsels, hervorm of bevestig jou geloofstelsel en dit word vervang weer na ‘n paar jaar met toe-ervarings. Die geheim is om nooit op te hou om die nou-ervarings raak tesien, jou eie te maak sodat dit later toe-ervarings vir jou kan word nie.

Ek groet jou. Soos jy kan sien, het ek probeer om ietsie uit my hart te deel – ek weet nie hoe om hierdie boodskap op jou internet wasemetjiese te plaas nie – ek is seker jy het my al verduidelik en ek het weer nie gelees nie/verstaan nie/wil nie verstaan nie/gaan ook nie verstaan nie!

Sunday, October 02, 2005

 

eBay en onverwagse Duitse Gasvryheid !

'n Paar van julle weet van my nuwe tydverdryf hier in Duitsland. Ek is hoek-en-sinker 'n eBay-'afhanklike'... Ek haak myself gereeld aan hierdie verslawing en koop hoofsaaklik DVD's en boeke, maar het al ander goed ook gekoop. Heel goedkoop, dankie - maar daar mag verskille van opinie hieroor wees ; dalk is dit 'n gesprek vir 'n ander keer.

Ek het nou al 'n rukkie hierdie spesifieke boek op aanbod in die oog - die bekende 'The Exorcist' van William Peter Blatty. Het die film al 'n klompie jare terug gesien, maar volgens verskeie bronne is die boek in sekere opsigte beter en met meer diepte. Nou ja, onlangs vind ek die boek op veiling in eBay, en maak maar 'n minimale bod - van een Euro. Ek was al meer as een keer gelukkig om goeie boeke so te kry - gelukkig is daar nie 'n baie groot Engelse leserskring en kopersmark op die Duitse eBay nie - tot my voordeel. Ek vergeet toe van hierdie bod, totdat eBay my in kennis stel dat ek die gelukkige 'wenner' is - in hulle woorde, 'Herzlichen Glückwunsch, der Artikel gehört Ihnen. Bitte nehmen Sie Ihre Zahlung jetzt vor!', of overgesetzynde, 'baie geluk, die item behoort aan jou. Maak asseblief gou om te betaal...!', of so iets.

Ek kom toe agter die verkoper se adres is naby my blyplek - so 40 kilometers volgens die INTERNET-navigasiestelsel, en per flitspos kontak ek die verkoper met die versoek of ek eerder die boek kan kom haal, as wat dit na my toe gepos word. Eerstens spaar ek bietjie posgeld, en tweedens sal dit verseker dat ek dit kry ; ongelukkig raak goed ook weg met die Duitse Posdiens - glo dit as julle wil! Derdens is dit vir my lekker om uit te ry en plekke te sien waar ek nog nie was nie. Die verkoper stem toe in dat ek dit wel kan kom haal, en ons bevestig een of ander tyd vanmiddag (Sondag, 2 Oktober 2005).

Laatmiddag besluit ek dit is nou 'n goeie en beskaafde tyd om te ry, en beduie aan Mevr. Rottenmeier (die BMW se navigasie-stelsel, vir die wat nie weet nie...) wat die adres is.

Ter agtergrond - die stereotipe Duitser is mos veronderstel om onvriendelik, nors, kortaf, en so aan te wees.

Ek moet dit darem op rekord stel dat dit in baie gevalle uiters onwaar en onregverdig is om so te dink.

Na so veertig minute se ry deur 'n pragtige plaaslandskap, onder andere ook deur 'n besonder mooi woud getooi in die groen-geel-goud-rooi-bruin blareprag van vroeg-herfs, beduie Mevr. Rottenmeier ewe vriendelik 'You have reached the destination. The destination is to the left.'

Kom ons noem die verkoper Hannelore, en haar gade, Gustav.

Met 'n klop aan die deur en een Euro in die hand - ek het dit mos al vantevore gedoen, so ek weet wat om te verwag ; die deur sal oopgemaak word, iemand mompel-grom-gee vir jou 'your book / DVD', vat die geld, en ry. So dink ek mos nou.

Nie hierdie keer nie. Hannelore maak ook, stel haarself voor, roep vir Gustav om ook voor te stel, en dan gebeur dit. Sy nooi my in vir 'n Cappuchino ! Half ongemaklik stap ek maar saam, sommer kombuis toe. Eers gaan haal sy die boek, sodat ek kan kyk. Die Cappuchino's word gemaak, en koek word uitgehaal. En toe kuier ons. My belangstelling in lees word bespreek, en toe verdwyn Hannelore iewers heen. Kom terug met 'n pak boeke, onder andere 'Winston's War' van Michael Dobbs, 'The Flight' van C.F. Runyan, Winston Groom se 'Forrest Gump', verskeie van John Grisham, en nog vele meer.

Uiteindelik, na 'n heel lekker kuier, is ek daar weg met amper twintig goeie leesboeke, en 'n belofte om weer te kom kuier sodra Annatjie van Suid-Afrika af hier is.

O ja, hulle wil toe nie een Euro vir 'The Exorcist' hê nie, en die ander boeke is ook 'n geskenk. Hulle het dit mos klaar gelees !

Wys jou net, nie alle Duitsers is so nie... :-)

Saturday, October 01, 2005

 

Oktober - die mooiste maand ?

Leipoldt, ons befaamde skrywer, digter, en kenner van kos en wyn, was per geleentheid gaande oor die maand Oktober. Ek herinner my 'n sinsnede uit die gedig, iets soos "Oktober, die mooiste, mooiste maand...". Verseker moes hy dit gekontekstualiseer het, want vandag, die eerste dag van Oktober hier in Stuttgart, was nie 'n dag van besondere skoonheid nie. Eintlik maar effens mistroostig, nat genoeg sodat mens net-net kan sê dit reën, met die son wat met groot sukses die hele dag wegkruipertjie gespeel het, en die hemel wat morbied-vuilvaal die uitspansel bedek, maak maar min vir 'n mooiste, mooiste maand.

Hierdie naweek vier die Duitse volk ook die vyftienjarige herdenking van die eenwording van die ou Bundesrepubliek en die DDR. In die huidige onseker klimaat van politieke skaakmat, grootskaalse werkloosheid (vir die Duitsers - in ander lande sou die Duitse werkloosheidssyfer moontlik as positief ervaar kon word...), duur brandstofpryse, personeelafskalings, en algemene ekonomiese druk, wonder ek hoeveel Duitsers aan beide kante van die spektrum die unifikasie nog steeds as 'n wonderwerk van die laat twintigste eeu beskou...

Maar ek glo dinge sal beter word. Môre skyn die son (dalk), en Oktober word dalk nog vir ons almal 'n mooiste, mooiste maand.

ns : Die teller by die winkel (Marktkauft hier in Ostfildern) het vandag met my Engels gepraat...