Google Web Kuiergat

This page is powered by Blogger. Isn't yours?

My status

Enige terugvoer, kommentaar, kritiek, of net 'n boodskap is baie welkom. Skryf gerus vir my ; muisdruk hier Johann van Staden

Online dictionary at www.Answers.com

Tell me about:

Sunday, October 02, 2005

 

eBay en onverwagse Duitse Gasvryheid !

'n Paar van julle weet van my nuwe tydverdryf hier in Duitsland. Ek is hoek-en-sinker 'n eBay-'afhanklike'... Ek haak myself gereeld aan hierdie verslawing en koop hoofsaaklik DVD's en boeke, maar het al ander goed ook gekoop. Heel goedkoop, dankie - maar daar mag verskille van opinie hieroor wees ; dalk is dit 'n gesprek vir 'n ander keer.

Ek het nou al 'n rukkie hierdie spesifieke boek op aanbod in die oog - die bekende 'The Exorcist' van William Peter Blatty. Het die film al 'n klompie jare terug gesien, maar volgens verskeie bronne is die boek in sekere opsigte beter en met meer diepte. Nou ja, onlangs vind ek die boek op veiling in eBay, en maak maar 'n minimale bod - van een Euro. Ek was al meer as een keer gelukkig om goeie boeke so te kry - gelukkig is daar nie 'n baie groot Engelse leserskring en kopersmark op die Duitse eBay nie - tot my voordeel. Ek vergeet toe van hierdie bod, totdat eBay my in kennis stel dat ek die gelukkige 'wenner' is - in hulle woorde, 'Herzlichen Glückwunsch, der Artikel gehört Ihnen. Bitte nehmen Sie Ihre Zahlung jetzt vor!', of overgesetzynde, 'baie geluk, die item behoort aan jou. Maak asseblief gou om te betaal...!', of so iets.

Ek kom toe agter die verkoper se adres is naby my blyplek - so 40 kilometers volgens die INTERNET-navigasiestelsel, en per flitspos kontak ek die verkoper met die versoek of ek eerder die boek kan kom haal, as wat dit na my toe gepos word. Eerstens spaar ek bietjie posgeld, en tweedens sal dit verseker dat ek dit kry ; ongelukkig raak goed ook weg met die Duitse Posdiens - glo dit as julle wil! Derdens is dit vir my lekker om uit te ry en plekke te sien waar ek nog nie was nie. Die verkoper stem toe in dat ek dit wel kan kom haal, en ons bevestig een of ander tyd vanmiddag (Sondag, 2 Oktober 2005).

Laatmiddag besluit ek dit is nou 'n goeie en beskaafde tyd om te ry, en beduie aan Mevr. Rottenmeier (die BMW se navigasie-stelsel, vir die wat nie weet nie...) wat die adres is.

Ter agtergrond - die stereotipe Duitser is mos veronderstel om onvriendelik, nors, kortaf, en so aan te wees.

Ek moet dit darem op rekord stel dat dit in baie gevalle uiters onwaar en onregverdig is om so te dink.

Na so veertig minute se ry deur 'n pragtige plaaslandskap, onder andere ook deur 'n besonder mooi woud getooi in die groen-geel-goud-rooi-bruin blareprag van vroeg-herfs, beduie Mevr. Rottenmeier ewe vriendelik 'You have reached the destination. The destination is to the left.'

Kom ons noem die verkoper Hannelore, en haar gade, Gustav.

Met 'n klop aan die deur en een Euro in die hand - ek het dit mos al vantevore gedoen, so ek weet wat om te verwag ; die deur sal oopgemaak word, iemand mompel-grom-gee vir jou 'your book / DVD', vat die geld, en ry. So dink ek mos nou.

Nie hierdie keer nie. Hannelore maak ook, stel haarself voor, roep vir Gustav om ook voor te stel, en dan gebeur dit. Sy nooi my in vir 'n Cappuchino ! Half ongemaklik stap ek maar saam, sommer kombuis toe. Eers gaan haal sy die boek, sodat ek kan kyk. Die Cappuchino's word gemaak, en koek word uitgehaal. En toe kuier ons. My belangstelling in lees word bespreek, en toe verdwyn Hannelore iewers heen. Kom terug met 'n pak boeke, onder andere 'Winston's War' van Michael Dobbs, 'The Flight' van C.F. Runyan, Winston Groom se 'Forrest Gump', verskeie van John Grisham, en nog vele meer.

Uiteindelik, na 'n heel lekker kuier, is ek daar weg met amper twintig goeie leesboeke, en 'n belofte om weer te kom kuier sodra Annatjie van Suid-Afrika af hier is.

O ja, hulle wil toe nie een Euro vir 'The Exorcist' hê nie, en die ander boeke is ook 'n geskenk. Hulle het dit mos klaar gelees !

Wys jou net, nie alle Duitsers is so nie... :-)

Comments>
Wow! Ek is so bly jy het ook vriendelike Duitsers ontmoet. Ja - dis algemeen bekend dat duitsers terughoudend is - maar nie almal is so nie.

Heel aan die begin het dit ook vir my gevoel of die mense hier in ons straat probeer om my te vermy en ek dag hulle hou nie van buitelanders nie. Toe kom ek later agter hulle is bang hulle moet met my engels praat!!!

Toe die nuus versprei dat ek darem ook kan duits praat - toe verander die prentjie. Mense begin belangstel en vra hoe dit met ons gaan. Ons beste vriende hier in die straat is duitsers. Ons pas mekaar se kinders op, ons gaan ski saam en kuier sommer lekker oor en weer.

Ek het ook jou stukkie oor verkoopsvertroue gelees - en ja - is dit nie wonderlik nie! Oorkant die straat kan ek gaan vars blomme sny en moet net die geld in die bussie gooi!

Groete, Jossie.
 
Post a Comment

<< Home