Google Web Kuiergat

This page is powered by Blogger. Isn't yours?

My status

Enige terugvoer, kommentaar, kritiek, of net 'n boodskap is baie welkom. Skryf gerus vir my ; muisdruk hier Johann van Staden

Online dictionary at www.Answers.com

Tell me about:

Monday, September 26, 2005

 

Die Frankfurt Internasionale Motorskou 2005

Hiermee so 'n paar interessante feite in verband met die Frankfurtse Internasionale Motorskou, wat ek gister bygewoon het. Eintlik is dit bykans onmoontlik om in 'n kort nota die werklike omvang van hierdie skou weer te gee. Dit word aangebied in 'n skouterrein met tien GROOT sale wat meer as 215,000 vk meter se uitstalruimte beskikbaar stel . Daar was 950 uitstallers wat 44 lande verteenwoordig het. Meer as 58 verskillende motorvervaardigers het hulle produkte uitgestal, om nie eers te praat van die sekondêre en spesialis vervaardigers wat allerhande ombouings doen nie en opsies het om jou voertuig te verpersoonlik nie.

Vanselfsprekend is die gewone vervaardigers almal daar, maar ek het ook vervaardigers en produkte daar gesien van wie ek nog nooit tevore gehoor het nie - uiteraard nuwe spelers in die industrie, hoofsaaklik van China. Dit is egter baie duidelik dat hulle vêr agter die gevestigde name is ten opsigte van kwaliteit en veiligheid - wat ook nogal interessant is, is dat hulle produkte in die meeste gevalle nie geweldig baie goedkoper is nie - met sekere uitsonderings.

Daar was nogal heelwat fokus op alternatiewe brandstof-opsies, met verskeie sogenaamde 'hybrid'-opsies, asook aardgas as 'n alternatiewe bron. Laasgenoemde is al redelik gevestig in Duitsland met heelwat garages wat aardgas kommersieël aanbied - maw jy kan jou kar volmaak met gas. Heelwat goedkoper as petrol of diesel, wat al tot R 12.00 per liter hier kos.

Diesel-tegnologie het al ongelooflik verbeter. Soos julle weet, is die ou stadige, rokerige diesel-enjins van die jare sewentig lankal iets van die verlede. BMW het by die skou 'n nuwe reeks bekend gestel, die BMW Alpina D3. Hierdie voertuig het 'n 4-silinder, 2.0 liter enjin wat 147 KW teen 4,000 RPM lewer. 0-100 km/h in onder 8 sekondes, 'n maksimum spoed van ongeveer 235 km/h, en 'n verbruik van onder 7 liter per 100 kilometer. Dit alles in 'n vierdeur sedan vir onder R 300,000 (EURO 37,000).

Audi het 'n paar 'veilige' opsies in die A6 en A8 klas bekend gestel. Hulle maak daarop aanspraak dat hulle 'n 7.62 mm kaliber projektiel, handgranate en bomme kan weerstaan. Wat my oog gevang het by Audi, was die wêreld-bekendstelling van die Audi Q7 - wat vir my lyk na 'n gedugte teenstaander van die Porsche Cayenne, Mercedes se M-klas, en Volkswagen se Touareg. Intree-modelle kan mens kry vir so vanaf R 400,000 (net minder as EURO 50,000). Ook dink ek dat die 4.2 liter V8 enjin in die A4 'n bietjie stof in meer ernstige kompetisie se oë gaan skop.

Lelike Amerikaanse Cadillac's was daar ook :-) en sekere van die Chrysler sedan-voertuie val volgens my smaak ook darem nie te sag op die oog nie. Gelukkig verskil smaak sekerlik. Die huwelik tussen Chevrolet van Amerika en Daewoo het ongelukkig ook 'n paar lelike kinders gebaar. 'n Groot Amerikaans-gestileerde sierrooster op 'n klein Oosterling (Chevrolet Aveo) maak ook nou nie juis 'n voorblad-gesig nie.

Een besondere Amerikaner is die Corvette Z06. Met sy 7.0 liter V8 wat 373 KW uitskop, 0-100 doen in onder vier sekondes, en 'n maksimum spoed van 305 km/h kan haal, is hierdie model nog pragtig ook.

General Motors het 'n kleiner baba-Hummer ook bekend gestel. Die Hummer H3 is maar net 4.72 meter lank (!), kan deur water van tot 60 cm ry en trappe van 40 cm uitklim, en jou karavaan agter-aan kan maar meer as 2,00 kilogram weeg. Gelukkig is die groter model ook nog beskikbaar, vir die wat hom nodig het.

Volkswagen het hulle nuwe R32 Golf hier bekend gestel. Hierdie voertuig beskik oor 'n 3,2 liter V6 motor, 184 KW, 6,2 sekondes 0-100, en 'n maksimum spoed van 250 km/h. Jy kan hom kry teen ongeveer R 260,000 (EURO 32,200).

BMW het ook hulle redelik nuwe speelding hier ten toon gestel. Die BMW 130i met 265 perde onder die kap behoort enigiemand agter die stuurwiel se adrenalien te laat jaag. As gevolg van innoverende tegnologie en sekere voordele van die een-reeks se bakontwerp is hierdie implementering van die 3.0 liter masjien meer kragtig as die soortgelyke enjin in die 330, 530 en 630.

Rolls Royce se nuwe Phantom spog met 'n 12-silinder V-vorm 6,75 liter enjin wat 338 KW deurgee na sy wiele. Maksimum spoed slegs 240km/h, maar die voertuig is meer as 6 meter lank.

Lamborghini se nuwe Gallardo Spyder se wêreldwye bekendstelling was ook hier. Met hierdie 5-liter 10-silinder en 520 perde onder die kap tweesitplek sportmotor is meer as 300 km/h blykbaar kinderspeletjies.

Porsche se nuwe Cayman S is ook in my opinie nou nie een van hulle grootste visuele suksesse nie. Die 6-silinder Boxer-enjin van 3,4 liter skop wel 217 KW uit en kry jou binne 5,4 sekondes van 0 tot 100 km/h, en jy kan volgens Porsche 275m/h haal op top spoed. Maar mooi is die kar nou nie regtig nie - lyk vir my maar bietjie na iets wat onder in die donker op die seevloer behoort rond te speel.

Die meeste voertuie het ook nou 'n poort om jou draagbare MP3 speler deur die motor se klankstelsel te speel. Dit plaas draagbare musiek nou in 'n nuwe dimensie.

Verskeie van die luukse motors het ingeboude TV's en DVD spelers, asook permamente INTERNET-toegang. Sleutelborde met Bluetooth om jou rekenaar in transit te gebruik word gekomplimenteer deur die INTERNET toegang. Maar dit is nog niks in vergeleke met die nuwe S-klas van Mercedes-Benz wat radar gebruik om jou te waarsku as jy te naby aan die voertuig voor jou ry nie en ook 'n sogenaamde Brake Assist Plus het. Dan kan die sitplekke jou nog goed masseer ook op pad huis toe na 'n lang dag op kantoor!

Gedurende die elf dae van die skou was daar meer as een miljoen besoekers. Ek het net gewonder hoekom almal gister, toe ek daar was, moes kom. Maar, vir enigiemand wat belang stel in motors en dinge, en jy kan so 'n skou bywoon, sal dit 'n hoogtepunt wees.

Gaan loer gerus by http://www.iaa.de; daar is 'n Engelse opsie om bietjie rond te kyk.

Comments> Post a Comment

<< Home