Google Web Kuiergat

This page is powered by Blogger. Isn't yours?

My status

Enige terugvoer, kommentaar, kritiek, of net 'n boodskap is baie welkom. Skryf gerus vir my ; muisdruk hier Johann van Staden

Online dictionary at www.Answers.com

Tell me about:

Friday, January 27, 2006

 

'n Kerrie-kosmaak-foukie

Ek moet maar (vir myself) lag, en deel die volgende (ten koste van my) met julle.

In hierdie koue, grys Duitsland was ek gisteraand lus vir 'n pot kerrie.

Nou, mense wat my ken, het 'n mate van, kom ons noem dit maar, respek, vir die kerrie-pogings wat ek bou. Vir verskillende redes.

Terug na gisteraand se ete. Tuis gekom en myself gemaklik gemaak, begin ek met die voorbereidings. Ongelukkig vind ek uit dat daar nie meer vleis in die yskas is nie, en ek kan niemand anders as myself daarvoor blameer nie. Met minus vier grade buite is ek ook nie lus om weer uit te gaan in die koue nie, en besluit om wyd te innoveer met die kookproses. Wel, ek het ten minste 'n paar hoender-eiers en uie. So vanaand eet ek 'n vegetariese eier-en-uie gereg.

Nou ja, hoe maak mens ? So maak mens.

Die uie geskil, gesny en gebraai, die eiers medium-hard gekook, en die groot oomblik breek aan - die meng van die speserye. Nou moet julle ook weet, dat 'n resep nie vir my die alfa en omega is nie, maar 'n riglyn - 'n breë riglyn ! My bestanddele word gekies deur wat in die kaste beskikbaar is, en dan gemeng volgens gevoel en hoeveel vir my op die oomblik van waarheid reg lyk.

So word genoeg kerriepoeier ("extra hot"), geel sout, gemaalde knoffel-vlokkies, bietjie suiker, 'n lekker lepel grondboontjiebotter, 'n klompie gemaalde gemmerpoeier, 'n skepsel appelkooskonfyt, so bietjie van 'n Italiaanse tamatiepasta-poging, 'n skeut donker-swart Duitse soort van Worcestersous, 'n tappie 5-jaar KWV brandewyn, en gemaalde rissies in die mengbakkie gegooi en sterk gemeng. Die unieke brousel-mengsel word saam met die eiers in die uie-potjie gegooi, en fris ingeroer om bietjie te prut-prut - simmereer, soos oom Pieter Pieterse sou gesê het. Die laaste bestandeel is 'n handvol müesli en rosyntjies. Ter wille van die Duitse kultuur gooi ek maar 'n lepel of wat mosterd ook in die pot.

Omdat ek net nie rys reg kan kook nie, ten spyte van vele probeerslae en vele goedbedoelde raad en rate, eet ek ter plaatse my kerrie met pasta. Dit kan ek darem goed gaar kry, al kook die pot elke keer, sonder uitsondering oor. Terwyl die simmerasie aan die gang is, doen ek toe maar weer die pasta-ding.

Maar, 'n goeie storie moet mos 'n kinkel in die kabel hê. Terwyl ek die goed terugsit in die kaste, bêre ek toe ook die kaneel-bottel. Kaneel ? 'Zimt' ! Wel, die werklikheid is toe dat ek 'n eie-en-uie-en-kaneel potjie saam met pasta gisteraand vir aandete gehad het.

Die (beplande) oorskiet van gisteraand wat ek vanmiddag hier op kantoor genuttig het, het soos gewoonlik amper lekkerder geproe as gisteraand se kos.

Maar, volgende keer sal ek seker maak dat ek die gemmer-botteltjie en nie die kaneel-botteltjie gebruik.

Baie seker maak !

Wednesday, January 25, 2006

 

Diktatorskap - die antwoord vir SA ?

Is 'n demokratiese bestel soos wat in teorie in Suid-Afrika bestaan, op die oomblik die regte politiese oplossing in Suid-Afrika ? Het ons nie dalk in die kort termyn 'n 'diktator' nodig wat werklike erns sal hê met en wesentlike oplossings soek vir die geweld, misdaad, korrupsie, werkloosheid, onbeheerde immigrasie van Afrika, byna nie-bestaande staatsdiens dienslewering, die tot niet gaan van publieke dienste, ensovoorts nie. Herverdeling van rykdom is 'n mite - die waarheid is eerder herverdeling van armoede sodat die elite van die heersers die vrugte in die kort termyn kan pluk. Dit is dalk ook waar die kern van die probleem lê - 'n kort termyn sig, eintlik net tot (voor) die volgende verkiesing. Werkskepping in 'n oop, gelyke, relatief misdaadvrye gemeenskap wat so ver moontlik suiwer besigheids- en ontwikkelingsbeginsels aanhang, is nodig. Daar behoort geen kunsmatige manipulering van die nasionale geldeenheid wees nie. Buitelandse beleggers moet vertroue in die stabiliteit van die ekonomie, die werkerskorps, en in 'n produksie-omgewing sonder irrasionele inmenging van werkersunies en die vrees vir nasionalisering van bates hê.

Omdat demokrasie in baie gevalle 'n 'compromise' is, is dit dan nie so gereeld die gemiddeld van teenstrydige menings nie ? As ons iemand kan kry wat die genoemde dinge en ander problematiek van vandag se Suid-Afrika kan vasvat en onder beheer kry, en dan weer 'n demokraties-verkose leierskap in plek stel ? Sou dit nie vir almal (behalwe dalk die passasiers van die soustrein en sousvliegtuie) beter wees nie ?

Iemand mag 'n opinie huldig dat Suid-Afrika effektief nou onder diktatorskap staan, omdat die regering van die dag by verre die meerderheidstem het.

Uiteraard sou hierdie nuwe diktator dus verseker nie die ANC of enige van sy aanhangels kan wees nie - hulle het onder amper-diktatorskap gedurende die laaste tien jaar bitter min reggekry om die genoemde sake onder beheer te kry. Verder is daar sake soos die patetiese toestand van publieke gesondheidsdienste, onderwys, en byna elke ander staatsdiensfunksie wat effektief ten gronde gegaan het. Om nie eers te praat oor munisipale dienste nie. Die diktator sal dan ook leiers aanstel op grond van hulle prestasie - om die dinge wat nodig is te doen, en die geld wat beskikbaar is, effektief te spandeer en bestuur. Aanstellings sal gedoen word slegs op grond van prestasie, en nie op grond van enige vriendskapsbetrekkinge, familie-bande of dat ons vriende saam in die tronk was nie. Of omdat jy my 'n guns gedoen het, nou skuld ek jou 'n leersitplek op die soustrein nie. Of deur korrupte besigheidspraktyke in besluitnemingsposisies gehou word nie.

Al suksesvolle department is waarskynlik die Suid-Afrikaanse Inkomste Diens - om belastinggeld in te vorder. Die regering se trawante is nie eers in staat om hulle begrotings te spandeer nie - verregaande korrupsie ten spyte.

Ongelukkig is dit so waar wat die geskiedkundige, Lord Acton (1834-1902) in 1887 gesê het in 'n brief na Biskop Mandell Creighton : "Power tends to corrupt, and absolute power corrupts absolutely. Great men are almost always bad men".

Maar, waar of wie sou hierdie sinnige "diktator" nou wees ? Verseker nie een van die keffende brakkies in enige van die sogenaamde opposisie-partye nie. En uit die paar moontlike Afrikaner-leiers is daar ook geen hoop nie, omdat ons Afrikaners, soos maar nog altyd, so besig is om binne die laer met mekaar te baklei dat daar geen krag oor is om saam te staan en op te staan vir ons regte nie. Ons kla ook net te lekker Saterdag-aande langs die braaivleisvuur met 'n Klippies of 'n Pinotage in die hand.

En die ander is te besig om te pak om ander probleme in die VK of Australië in die gesig te gaan staar. Of eintlik enige ander plek wat hulle sal vat !

Eintlik soek ons almal in Suid-Afrika maar net 'n kans. 'n Kans om 'n toekoms saam te hê - waar die verlede geskiedenis is - nie om te vergeet nie, maar ook nie om die geskiedenis te koester en wraak te neem nie. Ons soek 'n kans om te lewe - regtig te lewe en te groei en te ontwikkel ; in harmonie en met respek vir mekaar. Kan dit nie so wees nie ?

Ons mag seker maar 'n bietjie droom, né ?

Cogito ergo sum.

 

Doopname

Wie weet wie Leslie Hornby is ?

Wat dink julle van tradisionele name ? 'n Ou gewoonte was mos om familiename te gebruik. Die eersgeborene seun moes mos Oupa se name kry, anders erf hy dalk nie die familie-plaas nie. Die eerste dogter moes mos ma-kant se Moeder se name (al vier !) kry, en net om nie moeilikheid in die familie te veroorsaak nie, gee sommer vir die arme kind Ouma aan vaderskant se name ook. As dit Oupa aan moederskant is wie die erfplaas het, kry die kleine babatjie sommer Oupa se vier name en sy van as toegif, om deur die lewe te gaan as Jakobus Hendrik Petrus Wilhelm Pretorius van Staden, en as Mamma sterk genoeg voel oor haar eie nooiensvan word dit sommer maklik Jakobus Hendrik Petrus Wilhelm Pretorius Fourie van Staden.

En toe die eersgeborene seun eintlik 'n eersgeborene dogter is, was die risiko om die erfplaas te verloor teen 'n ander verlangse opportunistiese nefie te groot. Daarom het ons waarskynlik 'n hele paar Gertruida's, Hendrika's, Willemien's, Jakomiena's en Johanna's op die koop toe.
Groot nasionale gebeurtenisse het ook hulle slagoffers gehad. Dink maar aan die arme Eufesia's wat met die naam blymoedig die nuwe eeu ingeswoeg het. Ek het al gehoor van Ossewania, maar nog nooit die voorreg gehad om een te ontmoet nie...

Vroër jare was dit mos baie gewild om kinders na bekende mense of fiksie-karakters te noem. Daar is hoeveel Conrad Brand Smit's, Marius Hugo de Klerk's, en ek is seker 'n hele paar Mark Condor van der Merwe's wat waarskynlik geen idee het hoekom hy nie doodgewoon Piet, Klaas, Johan of Gert heet nie. Hopelik het dit nie by Ruiter in Swart Poggenpoel gaan draai nie.

Baie pappies en mammies het hulle geroepe gevoel om name uit die Groot Boek te gaan haal. So het ons dan vir Gabriël, Petrus, Johannes, Markus, Daniel, Adam en Mattewis ook by ons. En vir Maria, Magdalena en Eva.

En dan die mooie blommenaampies. Ons het mos vir Jessamine, Myrtle, Rose, Iris, Hyacinth, Lilly, Petunia, Hazel, Angelica, Flower, Daffodil (ek is ernstig !), Holly, en nog soveel meer.

Toe word ons mos 'smart', en die doodgoeie boerename tel nou nie meer nie. Nou ry Cedric van Tonder, Florence du Preez, Winston de Bruin, Ceasar Venter en Millicent de Kock die wêreld vol met hulle 4x4's.

Mens wonder of Betty Joan Perske so beroemd soos Lauren Bacall, John Henry Deutschendorf so beroemd soos John_Denver, Wynette Pugh so beroemd soos Tammy Wynette, Stevland Morris so beroemd soos Stevie Wonder, en Harry Rodger Webb so beroemd soos Cliff Richard sou geword het.

Die meeste mense onthou vir Twiggy, 'n bekende model en filmster. Sy het die wêreld binnegekom as Leslie Hornby.

Dan kan mens praat oor byname, maar dit is dalk 'n storie vir 'n ander keer.

Saturday, January 21, 2006

 

Afrikaans my taal ! Afrikaans my trots !

Ek kan rock in my taal
Ek maak amok in my taal
En ek kan skok in my taal
Ek kan rock in my taal

Amanda Strydom vat aan my hart ; vat aan alles wat ek is met haar sterk woorde in haar "Hoor hoe brom die wind". Dit gee my hoendervleis. Dit is mooi. Dit is Afrikaans !

Sonder Afrikaans het ek nie ‘n identiteitsvingerafdruk nie. Sonder my Afrikaans is ek 'n lewendige lewelose iets op reis na nerens.

My asem gly deur my taal
Ek word verlei deur my taal

Afrikaans is die mooiste taal in die wêreld - vir my. Engels is seker ook die mooiste taal. So is Zulu. So is Xhosa. So is Duits, en Frans, en Italiaans. Elke taal is die mooiste. Vir ander mense – nie vir my nie. En ek gun hulle dit. Gun my ook my liefde en respek en passie en lewe in en vir my taal.

En ek kan vry in my taal
Ek kan rock in my taal
Ek maak lawaai in my taal

Afrikaans het respek vir my. En ek het respek vir Afrikaans. Ons hou van mekaar. Ek vra niemand om my taal te beskerm nie. Maar gun my my taal. Ek sal haar lewe gee, en help om te groei, en om te bly. En om mooier en mooier en mooier te word...
Want Afrikaans is my taal. En ek is mos lief vir my taal.

Ek word so kwaai in my taal
Ek kan jou braai in my taal
En ek kan rock in my taal


EN EK KAN ROCK IN MY TAAL !