Google Web Kuiergat

This page is powered by Blogger. Isn't yours?

My status

Enige terugvoer, kommentaar, kritiek, of net 'n boodskap is baie welkom. Skryf gerus vir my ; muisdruk hier Johann van Staden

Online dictionary at www.Answers.com

Tell me about:

Friday, January 27, 2006

 

'n Kerrie-kosmaak-foukie

Ek moet maar (vir myself) lag, en deel die volgende (ten koste van my) met julle.

In hierdie koue, grys Duitsland was ek gisteraand lus vir 'n pot kerrie.

Nou, mense wat my ken, het 'n mate van, kom ons noem dit maar, respek, vir die kerrie-pogings wat ek bou. Vir verskillende redes.

Terug na gisteraand se ete. Tuis gekom en myself gemaklik gemaak, begin ek met die voorbereidings. Ongelukkig vind ek uit dat daar nie meer vleis in die yskas is nie, en ek kan niemand anders as myself daarvoor blameer nie. Met minus vier grade buite is ek ook nie lus om weer uit te gaan in die koue nie, en besluit om wyd te innoveer met die kookproses. Wel, ek het ten minste 'n paar hoender-eiers en uie. So vanaand eet ek 'n vegetariese eier-en-uie gereg.

Nou ja, hoe maak mens ? So maak mens.

Die uie geskil, gesny en gebraai, die eiers medium-hard gekook, en die groot oomblik breek aan - die meng van die speserye. Nou moet julle ook weet, dat 'n resep nie vir my die alfa en omega is nie, maar 'n riglyn - 'n breë riglyn ! My bestanddele word gekies deur wat in die kaste beskikbaar is, en dan gemeng volgens gevoel en hoeveel vir my op die oomblik van waarheid reg lyk.

So word genoeg kerriepoeier ("extra hot"), geel sout, gemaalde knoffel-vlokkies, bietjie suiker, 'n lekker lepel grondboontjiebotter, 'n klompie gemaalde gemmerpoeier, 'n skepsel appelkooskonfyt, so bietjie van 'n Italiaanse tamatiepasta-poging, 'n skeut donker-swart Duitse soort van Worcestersous, 'n tappie 5-jaar KWV brandewyn, en gemaalde rissies in die mengbakkie gegooi en sterk gemeng. Die unieke brousel-mengsel word saam met die eiers in die uie-potjie gegooi, en fris ingeroer om bietjie te prut-prut - simmereer, soos oom Pieter Pieterse sou gesê het. Die laaste bestandeel is 'n handvol müesli en rosyntjies. Ter wille van die Duitse kultuur gooi ek maar 'n lepel of wat mosterd ook in die pot.

Omdat ek net nie rys reg kan kook nie, ten spyte van vele probeerslae en vele goedbedoelde raad en rate, eet ek ter plaatse my kerrie met pasta. Dit kan ek darem goed gaar kry, al kook die pot elke keer, sonder uitsondering oor. Terwyl die simmerasie aan die gang is, doen ek toe maar weer die pasta-ding.

Maar, 'n goeie storie moet mos 'n kinkel in die kabel hê. Terwyl ek die goed terugsit in die kaste, bêre ek toe ook die kaneel-bottel. Kaneel ? 'Zimt' ! Wel, die werklikheid is toe dat ek 'n eie-en-uie-en-kaneel potjie saam met pasta gisteraand vir aandete gehad het.

Die (beplande) oorskiet van gisteraand wat ek vanmiddag hier op kantoor genuttig het, het soos gewoonlik amper lekkerder geproe as gisteraand se kos.

Maar, volgende keer sal ek seker maak dat ek die gemmer-botteltjie en nie die kaneel-botteltjie gebruik.

Baie seker maak !

Comments>
Johan, ek geniet dit altyd om te lees oor jou kosmaakstories. Dit laat my dink aan 'n keer toe my Ma hier by ons in Holland kom kuier het. Ons het koeksisters gebak. Die stroop wat oorgebly het, het my ma in 'n bottel gegooi en in die yskas gesit. En ek bêre nooit die stroop nie, omdat ek nie so gereeld koeksisters bak nie.

Twee dae later wou ek wors bak. Ek soek orals die olie, want my Ma het tog die gewoonte om baie dinge in die yskas te sit. Ek sien toe die bottel met die "olie" en gooi dit in die pan om die wors te bak.

Ek het met die hele bakproses niks agtergekom nie, maar toe ons aan tafel sit, en jy proe die wors .... nou jy moes hulle gesigte gesien het. Soet wors!!

Ons het almal lekker gelag, maar jy vergeet dit nooit meer nie.
 
In my koskas lyk kaneelbottel en die bottel fyngemaalde naeltjies, feitlik dieselfde. Albei met oranje skroefdoppe. Ek het self op 'n keer die naeltjies by die karamelstroop gegooi wat ek oor my patats wou gooi.

In so 'n geval het ek 'n gretige helper wat bereid is om die flop vinnig op te eet: My liewe ou Brakkenjan - te toegewyd om te kla...
 
Post a Comment

<< Home