Google Web Kuiergat

This page is powered by Blogger. Isn't yours?

My status

Enige terugvoer, kommentaar, kritiek, of net 'n boodskap is baie welkom. Skryf gerus vir my ; muisdruk hier Johann van Staden

Online dictionary at www.Answers.com

Tell me about:

Wednesday, November 02, 2005

 

Toe bak ek pampoenkoekies !

Ek het toe uiteindelik daarby gekom om die pampoenkoekies te bak. Maandag-middag na werk het ek eers Marktkauf toe gery om die nodige te kry - kaneel, meel, eiers, bakpoeier. Met die nodige voorbereiding gedoen (kaneel is Zimt, meel is Mehl, eiers is Eie, en bakpoeier is Backpulver), kon ek toe die aankope suksesvol afhandel.

Maar voor die pampoenkoekies, moes die pampoen mos eers gekook word. Dehlia se groot boerpampoen was substansieel te groot om in enige van die klein kookpotjies wat ek in die woonstel het, gekook te word. Gelukkig was Annatjie nog verlede Saterdag hier by my, en ons besluit daar moet 'n pot gekoop word. Weereens is Marktkauf die oplossing. Soos met enigiets in Duitsland, is daar 'n wye keuse en verskeidenheid van potte beskikbaar. Emalje-potte, vleklose staal, groot, klein, drukkokers, met glasdeksels, dink daaraan en dit is daar. Uiteindelik besluit ek op 'n groterige (!) vleklose staalpot. Ter verdediging moet ek noem dat die ding nie so groot in die winkel gelyk het nie...

Weer terug by die woonstel, is stap twee in die operasie om die pampoen te skil en in blokkies te sny. Nog 'n Rubicon-ervaring vir my - dit nog nooit in my lewe gedoen nie. Maar Annatjie is darem daar om leiding te gee en alles loop goed af.

Skielik word hierdie groot pampoen sommer klein toe ons dit in die 17-liter pot sit. Skielik lyk hierdie pot reusagtig groot in my ou eenman-woonstelletjie. Skielik lyk die pot vir my soos iets wat uit Vaalharts se koshuis-kombuis kom. (Gedagte - ek kan een keer 'n pot sop maak en die hele maand eet...)

Maar die pampoenkook-oefening is reg en goed, en dit ruik ook sommer lekker. Annatjie is vreeslik beindruk met die pot en dring daarop aan dat ek dit terug bring Suid-Afrika toe. So sal dit dan wees !

Uiteindelik eindig die gaar pampoen in tien (!) margarien-bakkies in die vrieshokkie en die yskas.

Terug na Maandag-aand. Ek kies na willekeur een van die baie resepte ontvang van EgAfrikaners, en meng en roer en doen wat gedoen moet word. Ek drup die deeg in die warm olie, en die eerste pampoenkoekies sis en druk-arm vir spasie in die olie. Ek loer vinnig weer na die resep, en kom met weemoed agter dat ek vergeet het om die suiker by die mengsel te gooi. Maar dis nou te laat. Die eerste klomp pampoenkoekies is reg en word uitgehaal op die oond se rooster om bietjie te ont-olie. Rondte twee met die deeg, maar nou gebeur dinge vinnig. Rondte drie is nog vinniger, en ek begin dink dat mens dalk die olie nie so warm moet maak nie.

Die uiteinde van die saak was dat die eerste klomp koekies mooi bruin-goud was, die tweede klomp minder goud was, die derde geslag meer bruin-swart was, en die vierde geslag nie meer bruin was nie. Gelukkig het ek vir niemand pampoenkoekies belowe nie, maar ek het vandag nog pampoenkoekies ingepak vir middag-ete.

Volgende keer se pampoenkoekiebak sal langer vat, en die olie sal nie weer kletter en kraak in die pan nie.

Miskien verstaan ek nou wat word bedoel met matige hitte...

Groetnis !

Comments> Post a Comment

<< Home