Google Web Kuiergat

This page is powered by Blogger. Isn't yours?

My status

Enige terugvoer, kommentaar, kritiek, of net 'n boodskap is baie welkom. Skryf gerus vir my ; muisdruk hier Johann van Staden

Online dictionary at www.Answers.com

Tell me about:

Monday, October 03, 2005

 

Hannelie reageer

Dankie vir jou langlees boodskappie. Jong, ek dink hierdie is nogal ‘n goeie ding – die rondgooi van gedagtes so op e-pos. So hier is my paar gedagtes (verskoon my dat ek dit nie plaas op die internet nie, ek weet nie hoe nie, ek is blond en ja ek hou van rooi koeldrank, maar ek is seker een of ander persoon wat in Duitsland sit en werk, weet hoe hierdie goed werk en daarom sal hy/sy dit vir my op die regte manier op sy website/chatroom/tjiengemasjiese sit).

Kom ek begin by die begin. Johann, jy het ‘n mondvol goet hieronder gesê. Waar begin ek? Miskien gaan ek nie spesifiek oor iets gesels nie, maar net (soos jy) my gedagtes weergee soos wat dit by my opkom terwyl ek aandagtig die onderstaande e-pos lees. Niks wat jy gese het is vreemd vir die mense van Suid-Afrika nie. In my stryd om iewers ‘n aanknopingspunt te vind om hierdie e-pos te begin dink ek aan alles wat ek kan kritiseer en oor kla.

Toe ek begin werk het by Decision Health (voordat ons naam verander het) is ek die wonderlike werk van bemarkingskoordineer gegee. Lekker, het ek gedink. ‘n Splinternuwe uitdaging. Min het ek geweet wat op my wag. Min het ek geweet dat een van my grootste verantwoordelikhede gaan wees om ‘n voorbeeld te wees vir Stanley, Busi, Eunice, Innocent, Ilze, Nadia, Sunnyboy. Min het ek geweet dat wanneer jy wil medies verkoop aan iemand, jy nie die bestuur soseer oorreed nie, maar die massas. En min het ek geweet dat die enigste manier om ‘n bloukraag werker wat nie geletterd is nie, en wat se enigste hoop op oorlewing sy werk op die myn in Machadodorp is. En daar sit ek toe, nie die eerste keer nie (en daarna vir 3 jaar nie die laaste keer nie), 03:00 in die oggend, ‘n wit vrou, in ‘n “Hostel” en ek en Stanley moet hierdie nuwe medies verduidelik aan ‘n ou madala wat nou van skof af kom en glad nie lus is, oor die algemeen, om enigiets te doen kry met ‘n wit mens, veral nie ‘n wit vrou nie.

En daar is dit toe weer: daardie saggies klop aan my hart: en Jesus sê vir my: “Kyk na hierdie man. Het ek nie gesê dat dit is presies waar ek gaan wees nie? Hy is die rede hoekom jy vandag met sekerheid kan sê jy is verlos. Ek het gesterf vir hom. Hoekom dink jy enigsins dat jy beter is as hy? Ek is lief vir julle altwee.”

Ek huil die hele pad terug Pretoria toe. Arme Stanley gee net tissues aan.

Hoe laat mens toe dat jou hart verhard? Is dit omdat jy elke dag lees van plaasmoorde en daarom maak ons gevolgtrekkings oor alle persone wat in daardie “ras kategorie” val? Ek kom by die huis en sien my wonderlike man, my pragtige huis, my oulike hond. Ek maak my koskaste oop en dink aan daardie man met sy “take-home pay” van R45.00. Hoe oorleef iemand met R45? Ek betaal vir ‘n sakkie aartappels R45.

Daardie oggend sal my altyd by-bly. Dit kom klop saggies aan my hart as ek graag iets wil koop vir myself maar besef ek sal eers moet wag tot volgende maand. Dit klop aan my hart wanneer ek knus tussen my lakens inkruip, magie vol kos, nou-net lekker gebad, en ek onthou ek hoef nie nou te gaan werk vir R45.00 nie. Dit kom klop aan my hart as Ferdi en Sune en die kinders by ons kom eet, en ons slaan vetkoek en mince aanmekaar en ons lag en kuier. Dit kom klop aan my hart elke keer as ek genoeg kleingeld in my beursie het om brood te gaan koop.

Verskoon tog as ek soos ‘n Mills & Boon boek klink, maar ons beskou ons daaglikse bestaan as vanselfsprekend en, soos die ou mense sal sê, ons kla met die wit brood onder die arm. Ek dink aan my ma en pa wat verlede week en Sondag by ons kom kuier en hulle kla oor die stygende lewenskoste. Ja dit is erg. My keel trek toe elke keer as ek R45 moet betaal vir ‘n sakkie aartappels of as Dewald ‘n skrikwekkende bedrag noem as hy diesel ingegooi het. Maar Jesus kom klop en sê: “Ek sal vir jou alles gee wat jy nodig het.”

Ek dink vandag aan ons vriende Jan & Christelle wat letterlik alles, ALLES, verloor het. Hulle huis, hulle motor. Hulle is gestroop van alle selfrespek, en al wat hulle oorgehou het, was hulle geloof in God. En stelselmatig het Hy alles vir hulle kom teruggee. Ek het gesien hoe hulle moet bly by ander mense, van geleenthede moet gebruik maak vir vervoer, hoe dit hulle as amper 5 jaar vat, maar hulle het amper al hulle skuld af betaal. En deur al die swaar, het hulle nie 1 keer gekla nie. Hulle was slegs dankbaar en het aanhou bly om die regte ding te doen.

Ek vat daardie seer en swaar en ek maak dit my eie. Ek huil (weer!!!) en wonder hoe ek En nou stap ek deur niemand se huis meer en kritiseer nie. Want hulle het ‘n huis. Ek se dankie elke oggend as ek in my kar klim en kan werk toe ry, al is pay-day nog bietjie ver en my petrol liggie gaan al amper aan, want ek het ‘n kar, en ek het petrol. Ek se dankie vir elke klein geskenkie, elke klein nederige en uit-die-hart gebaar van liefde, want dit beteken iemand gee om en wil graag help. Ek sê dankie as my ma vir my ‘n ekstra sakkie tamaties gee, want dit beteken ek het tamaties. Dit is baie meer as die man wat R45.00 huis toe vat.

Hoe is dit dat ons slegs lewe om te kla? Hoe is dit dat ons nie meer dankbaar is vir die Weet-bix wat ons vanoggend kon eet nie? Hoe is dit moontlik dat ons slegs ingesteld is op die ongerief, die sleg van ander mense. Plaas ‘n mens die blaam op die media? Sensasie verkoop mos. Kyk nou vir al die nuusberigte oor Hurricane Katrina? En hoekom is Carte Blanche so suksesvol en gewild na soveel jare?

En wat is die goeie wat ek daaruit vat? Dit is dat ons almal op ‘n stadium deur nou-ervarings gaan. Dit “shape” jou menswees, gee jou waardes en beginsels, hervorm of bevestig jou geloofstelsel en dit word vervang weer na ‘n paar jaar met toe-ervarings. Die geheim is om nooit op te hou om die nou-ervarings raak tesien, jou eie te maak sodat dit later toe-ervarings vir jou kan word nie.

Ek groet jou. Soos jy kan sien, het ek probeer om ietsie uit my hart te deel – ek weet nie hoe om hierdie boodskap op jou internet wasemetjiese te plaas nie – ek is seker jy het my al verduidelik en ek het weer nie gelees nie/verstaan nie/wil nie verstaan nie/gaan ook nie verstaan nie!

Comments> Post a Comment

<< Home