Google Web Kuiergat

This page is powered by Blogger. Isn't yours?

My status

Enige terugvoer, kommentaar, kritiek, of net 'n boodskap is baie welkom. Skryf gerus vir my ; muisdruk hier Johann van Staden

Online dictionary at www.Answers.com

Tell me about:

Friday, April 28, 2006

 

Pforzheim - Stad van Goud

Ek het onlangs die voorreg gehad om die Tegniese Museum van die Juweliersware- en Horlosie-industrie in Pforzheim te besoek ; in Duits bekend as die 'Technisches Museum der Schmuck- und Uhrenindustrie'. Pforzheim, op die suid-westelike grens van die beroemde Swart Woud in Duitsland, is bekend vir die vervaardiging van juweliersware en horlosies, en is ook bekend as die stad van goud ('Die Goldstadt'). Die stad in verskeie vorme bestaan al byna 2,000 jaar, en is oorspronklik gevestig deur die Romeine 'n paar jaar na die geboorte van Christus. 'n Juweliersware vervaardingsbedryf is al hier gevestig in 1767, en vroeg in die 1900's is daar begin met die vervaardiging van horlosies.

Pforzheim is ook die tuiste van veertien museums, wat onder andere argeologie, minerale, die tegnologie van juwele en horlosie-vervaardiging, en 'n kunsmuseum insluit. Daar is ook 'n museum van die voormalige Duitse Demokratiese Republiek - die ou Oos-Duitsland.

Terug na die Tegniese Museum. Daar is wel persone wat gewillig is om mens rond te wys in die museum, maar hulle is slegs Duits magtig, en alle inligting wat toerusting identifiseer, word ook uitsluitlik aangebied in Duits. Dit blyk dat die gidse self voormalige vakmanne in hierdie industrie was. Ten spyte daarvan is dit interessant om die museum te besoek en 'n idee te kry van vervaardiging in die ou dae.

Hierdie foto dui die stappe in die vervaarding van die item aan.
-
Die volgende fotos dui sekere toerusting en infrastruktuur aan.

Hierdie foto is interessant.Neem kennis dat die ratjie vasgehou word met 'n ooghaar-tangetjie ("tweezer").


Thursday, April 27, 2006

 

'n Hollandse Fiets met 'n Storie

Die dag toe ek en Corlie Utrecht in Nederland besoek het, loop ek 'n interessante fiets raak. 'n Ketting sterk genoeg vir 'n skip se anker maak seker dat hierdie fiets nie dalk per ongeluk deur 'n geinteresseerde verbyganger onteien sal word nie. Die ketting, tesame met 'n slot goed genoeg vir 'n bankkluis, smee die voorwiel, fietsraam en handreling van die brug oor die grag as 'n intieme eenheid saam.

Ooglopend is dit 'n damesfiets, bevestig deur die raam van die vervoermiddel, maar hier in Nederland behoort mens nie sulke gevolgtrekkings ligtelik te maak nie. Ek sou egter met redelike sekerheid kon aanneem dat die eienaar 'n besondere belangstelling in musiek van een of ander aard sal hê, waarskynlik in 'n betrekking staan in die musiek-industrie. Na verdere oorsigtelike ondersoek van die vervoermiddel sou ek kon aflei dat die eienaar waarskynlik nie te jonk is nie, wat die aanname van 'n betrekking in die musiekwêreld dalk kan ondersteun. Die eienaar van die fiets is waarskynlik middeljarig - dalk 'n baba uit die jare sestig, of selfs vroeër as dit. Dit is egter ook duidelik dat die eienaar die fiets hoofsaaklik as 'n middel tot 'n doel gebruik, en nie 'n geswore fietsry-fanatikus is nie. Hierdie afleiding, my liewe vriend, maak ek uit die algemene toestand van die fiets. Vele roesplekke op die raam en toebehore, en veral op die wielnaafvellings, verklap dalk 'n aversie vir goeie onderhoud en gereelde olie.

Nou weet ek, wonder julle teen die tyd, waar kom die musiek-afleidings vandaan.

Mense wat in die 70's of later gebore is, weet waarskynlik nie wat 'n "LP" of 'n "seven single" is nie. Die eienaar van hierdie fiets weet duidelik, en het dalk 'n verlore passie oor vergange se dae. Dalk sluit haar (of sy) musieksmaak "The Midnight Special", of "Rock around the Clock", of "Heartbreak Hotel" in. Elvis, die Beatles, Bill Haley, en Marilyn Monroe was ikone. Woorde soos "ducktails", "bell bottoms", "Brylcream", "La Pebras", hippies, "peace", "make love not war", en Woodstock, bring dalk nostalgie en werklike heimwee. Met haar of sy fiets word vasgeklou aan herinneringe van gister en eergister.

Of dalk behoort die fiets aan 'n dronk student wat die plate by die vlooimark gekoop het, nie weet wat dit is nie, en dit op die wiele vasgesit het om die fiets uit die ander miljoen in Utrecht op die bruggie uit te ken as hy blink gekuier uit die watergat strompel om huis toe ry. Juis 'n damesfiets, omdat dit moeilik is om op 'n mansfiets te klim so laat in die nag, veral as mens dalk besonder moeg is.



Tuesday, April 25, 2006

 

Advertensies, winskope en koopgedagtes

"There ain't no such thing as a free lunch"

Robert A. Heinlein, The Moon Is A Harsh Mistress

Ek geniet advertensies. En bemarkingstruuks. Ek het oneindig respek vir kreatiwiteit, en intelligente kreatiwiteit is 'n Godgegewe talent. Om bitterlik baie met vreeslik min woorde te sê, is 'n gewaardeerde talent waaroor min mense beskik. Soms maak die woorde nie noodwendig logiese sin nie, maar wel subtiele, kontekstuele of interpretatiewe sin, en dit val sag op die oor en raak later so deel van 'n spesifieke handelsmerk, dat dit bykans onmoontlik raak om die woorde in 'n ander verband te gebruik.

Daar is gereeld verskuilde, of in baie gevalle, selfs onbeplande humor in advertensies. Wanneer ek sien dat iemand iets in 'n winkel adverteer as 'Beste Waarde vir Geld', wonder ek onwillekeurig of al die ander aanbiedinge van die verkoper dan by implikasie 'Slegte Waarde vir Geld' verteenwoordig. Dit is wel so dat dit waar is in sekere gevalle, waar sekere emosionele aankope ter sprake is - daar waar die handelsmerk baie meer belangrik is as die prys ; inderdaad, hoe duurder, hoe beter. Veral wanneer die handelsmerk vir die koper of gebruiker belangrik is om visueel 'n stelling te maak.Ek vind dit interessant dat sekere produkte se handelsmerke deesdae buite-op die produk aangebring word, sodat vriende en die algemene publiek duidelik kan sien wie wat by watter winkel koop, of die sekere produk dra. Uiteraard is die koopprys in van die produk in die gevalle dan nie belangrik nie, of hoogstens van sekondêre belang.

Sinclair Lewis het gesê "People will buy anything that is one to a customer". Hoe waar is hierdie stukkie wysheid nie. Ek het nie regtig die geintegreerde aartappelskiller-botteloopmaker-naelknipper-sleutelhouer nodig nie, maar as die winkel in hoofopskrifte sê dat ek slegs een mag koop, dan doen ek dit tog. Dit is 'n baie slim toepassing van sielkunde om die mens se gedagtes weg te neem van die prys van die produk, en die werklike funksionele waarde van die aankoop. Later eindig hierdie oulike aartappelskiller-botteloopmaker-naelknipper-sleutelhouer, wat toe nooit gebruik is nie, in sy oorspronklike verpakking, op die kerk se Wit Olifant tafel, saam met die moet-hê onderbroek-verwarmer en die sonbril met ingeboude ruitveers - altwee ook nog in die oorspronklike verpakking.

Wie van ons onthou nie die "It's not inside, it's on top" van vele jare gelede nie. En alhoewel "Ja Swaer" niks met motor-olie te doen het nie, het die frase tog onlosmaaklik deel van 'n sekere olie in ons woordeskat geword. Wat van "Ag seker nie te vêr nie" met die baba stootwaentjie en die brandstof ? Baie van ons onthou ook watter supermark "net om die hoek" was.

Ek dink die slimste gebruik van woorde vind in advertensies om huise en voertuie te verkoop plaas. En dit is juis daar waar ek as koper op my versigtigste moet wees, omdat huis-koop of kar-koop in die meeste gevalle emosie-aangedrewe aankope is, en ek tog so graag die mooi en sagte woordjies wil glo waarin die produk aangebied word. Hier geld die Tsjeggiese spreekwoord meer as enige tyd : "Wanneer jy gaan koop, gebruik jou oë, nie jou ore nie". Waar ek die volgende in 'n advertensie raaklees, raak ek sommer opsluit bekommerd :

Daar is vele voorbeelde van advertensies waar die oorspronklike bedoeling waarskynlik goed was, maar die uiteindelike woordkeuse bitter snaaks uitgekom het. Ek hou veral van die volgende :

For sale : An antique desk suitable for lady with thick legs and large drawers.

Ek sou graag hierdie dame wou sien.

Wanted : Fifty girls for stripping machine operators in factory.

Waar doen mens aansoek ?

Wanted : Unmarried girls to pick fresh fruit and produce at night.

Hieroor sê ek liewer niks.

We do not tear your clothing with machinery. We do it carefully by hand.

Ek is regtig bly om dit te sien, maar ek sal maar eerder 'n
ander droogskoonmaker soek.

Great Dames for sale.

Sjoe ! Word dit nog toegelaat ?

Illiterate ? Write today for free help.

Huh ?

Tired of cleaning yourself ? Let me do it !

Hmmm...

We will oil your sewing machine and adjust tension in your home for $ 1.00 only.

Miskien moet mens maar eerder nie hierdie een na Afrikaans
vertaal nie...

Dog for sale : Eats anything and is fond of children.

Wonder of hulle 'n koper gekry het ?

Toaster : A gift that every member of the family appreciates. Automatically burns toast.

Ek is darem bly ek hoef dit nie self te doen nie.

Man wanted to to work in dynamite factory. Must be willing to travel.

Klink vir my bietjie na arbitrêre reis.

Dan wonder ek of die persoon wat die volgende advertensie geskryf het, nog vir die maatskappy werk :

Auto Repair Service : Free pick-up and delivery. Try us once, you'll never go anywhere again !

En uiteindelik 'n advertensie wat die waarheid praat ! My persoonlike gunsteling -

Used Cars : Why go elsewhere to be cheated ? Come here first !

Dan is daar advertensies wat duidelik foutief is, maar per ongeluk bitter snaaks is. Klassiek is die klein advertensie waar huurmotor-bestuurders gesoek word, met die volgende beskrywing :

CAB DRIVERS WANTED
Nights and weekends. Must have drivers license, good driving & criminal record. Apply in person.

Genoeg gesê.

Dan wonder ek of die volgende verkoper van sy produkte ontslae geraak het.

For Sale : Slightly used toilet rolls.
10's - R 8.95
24's - R20.99
Still in good condition

Hoekom wonder ek altyd of ek voorheen beroof was as ek 'n afslag van 50 % of 75 % op produkte in die winkels sien ? Ek verstaan wel dat dit 'n manier is om van seisoenale items ontslae te raak, en om in sekere gevalle riglyne ten opsigte van rakleeftyd uit te voer. Waarskynlik sou bergingskostes en logistiek vir voorraad tot die volgende seisoen meer wees, en veral as die produkte seisoenaal-spesifiek is, is dit nie moontlik om dit 'later' weer te verkoop nie. Maar sou dit nie beter gewees om die intydse pryse met 10 % of 25 % te verlaag nie, en sodoende meer te kon verkoop gedurende die spitstyd nie ? Uiteraard subsidieer die koper enige verliese, deur óf in die begin hoër pryse te betaal, óf deur hoër pryse op die vervangende produkte. Of die winsgrense op die produkte is veels te hoog.

Maar as dit uiteindelik by die kooptransaksie kom, geld "Caveat Emptor" in alle gevalle. As iets te goedkoop is om waar te wees, is dit gewoonlik so. Selde sal jy op eerste oogopslag die waarheid raaksien, maar daar sal altyd 'n verskuilde agenda wees as jy diep en lank genoeg krap. Gewoonlik is produksie van die aangebode produk al gestaak en daar 'n nuwe, beter, kleiner, ligter, groter, sterker vervangende produk beskikbaar, of sal binnekort wees. Dan is hierdie produk wat jy nou net gekoop het, nie meer die beste nie. Of vir verskeie ander onderliggende redes mag die produk substandaard wees. In uiterste gevalle mag die produk 'n swakker namaaksel van die oorspronklike handelsmerk se produk wees, of selfs gesteel wees, of 'n grys-mark produk wees, of gesteel wees. As mens gesteelde ware koop, word kriminele aktiwiteite aktief ondersteun. Nie een van ons wil graag die teiken van 'n inbraak wees nie, maar as ons daardie 'goedkoop' horlosie of radio of TV, of die DVD of CD by die vlooimark koop, raak ons self deel van hierdie siklus van blatante diefstal. Die prys is hoog omdat te veel gesteel word, en mens koop by die vlooimark omdat die oorspronklike produk se prys te hoog is. Vir dieselfde rede word 'n onwettige afskrif van 'n DVD of CD gemaak. Hierdie spiraal sal uiteindelik 'n verwoestende impak op oorspronklikheid en innovasie hê.

Sou ek dieselfde doen as ek 'n skepper van musiek, kuns, of treffernaam-produkte was ?

Miskien moet mens maar John Ruskin se woorde onthou :

"There is scarcely anything in the world that some man cannot make a little worse, and sell a little more cheaply. The person who buys on price alone is this man's lawful prey".

Hy het dit al meer as honderd jaar gelede gesê, en dit is soveel meer waar en van toepassing in vandag se geindustrialiseerde wêreld.


Monday, April 24, 2006

 

'n Gejaag na wind

'n Gejaag na wind. Ek sit en wonder wat dit nou regtig beteken. Wie sou nou letterlik wind wil jaag ? As mens nou iets doms wil doen, en wat heeltemal 'n mors van tyd sal wees, is dit nou juis om wind te jaag. Prakties gesproke, wat sou dit jou in die sak bring ? As jy wind jaag, wanneer weet jy dat dit klaar is ? Hoe begin jy ? Jy jaag wind om wat mee te doen ? Jy kan nie wind vashou nie, of in 'n sakkie of pakkie sit nie. Want as wind ophou om wind te wees, is dit mos niks. Wind het nie grootte nie, of lengte nie. Ook nie breedte, of hoogte nie. Mens kan wind ook nie weeg nie. Of verf nie.

Die woord 'wind' in Bybelse konteks word gereeld in die konteks van 'geen waarde' gebruik. Een Korintiërs 14 vers 9'Dan praat julle mos in die wind !' In Een Konings 12 vers 13 en Twee Kronieke 10 vers 8 en vers 13 sien ons ook dat koning Rehabeam die raad van die ouer mense in die wind geslaan het. Ons lees ook in Twee Konings 17 vers 15 dat die volk die Here se waarskuwings in die wind geslaan het. Hosea 8 vers 7 sê dat as mense wind saai, sal hulle 'n storm oes.

Die Prediker gebruik die woorde 'gejaag na wind' agt keer. Wat vir my nogal interessant is, is wat hy in Prediker 2 vers 26 sê - 'Vir die mens met wie se lewe God tevrede is, gee Hy wysheid, kennis en blydskap. Maar die een met wie Hy nie tevrede is nie, kry die taak om op te gaar en bymekaar te maak en dit dan te gee aan een met wie God tevrede is. Ook hier kom dit dus tot niks. Dit is 'n gejaag na wind'.

Maar ongelukkig kan wind ook een van die mees destruktiewe elemente in die natuur wees. Die Here sê ook vir ons in Esegiël 13 vers 13 dat Hy stormwinde laat losbreek in Sy gramskap om alles te vernietig. Stormwinde maak mens bang en nederig tegelykertyd. Baie van ons het al gesien wat 'n stormwind aan bome en geboue kan doen. Om nie eers te praat van wat 'n wind saam met vuur in die natuur kan doen nie. Interessant ook dat God in Hebreërs 1 vers 7 die volgende aan ons bekend maak - 'van die engele sê Hy : Hy maak se engele stormwinde en sy dienaars vuurvlamme'.

In Suid-Afrika is ons gelukkig nie blootgestel aan ernstige tornadoes of orkane soos die wat in ander wêrelddele van tyd tot tyd woed nie. Maar die pyn en verwoesting van vuur is welbekend aan baie in Suid-Afrika. Met behulp van moderne kommunikasie-tegnologie kan ons weliswaar die impak van sulke natuurrampe waarneem, en juis hierin vind ek sekere interessante dinamieke. Al kan die mens 'n man op die maan sit, en mega-skade deur middel van 'n atoombom veroorsaak, kan ons nie 'n tornado of orkaan skep nie.

Dan kan ons gerus die Prediker se woorde in hoofstuk 11 vers 4 onthou - 'Wie die wind bly dophou, saai nie, wie na die wolke bly kyk, oes nie'.

Uiteindelik is die volgende woorde van Amos 4 vers 13 so pragtig en kragtig - 'Jy moet besef : Hy wat berge vorm en wind skep, Hy wat sy gedagtes aan die mens bekend maak, Hy wat dagbreek donker maak, Hy wat oor die hoogtes van die aarde gaan, Sy Naam is Here, almagtige God !'

Gelukkig sal Hy vir ons die wind en die see hard aanspreek sodat dit doodstil word.

Die Bybel

Thursday, April 20, 2006

 

Om te - of nie ? Dis die vraag.

"Wanneer jy eendag terugkyk oor jou lewe, sal jy meer jammer wees oor die dinge wat jy nie gedoen het nie as oor dit wat jy wel gedoen het".

Wat 'n interessante stelling is dit nie.

"Stop, and smell the roses" - 'n pragtige gesegde wat ek nie weet of 'n soortgelyke in Afrikaans bestaan nie. Maar die onderliggende gedagte is universeel. In ons gejaag om te lewe vergeet ons baie maal om te lewe.

Ek het die volgende pragtige woorde raakgelees, wat my aangeraak het :


Take Time to Smell the Roses
by
Marilyn Ferguson
©2003
(written April 15, 2003)

Take time to smell the roses
Time moves along so fast
It could be that your turn is next
Tomorrow could be your last.

Take time to look around you
See loved ones go away
We do not know the future
It might be you today.

Take time to read your Bible
There’s power in the light
You think you’ll live forever
But you might go tonight.

Take time for fervent prayer
Lift up His name on high
Call out the name of Jesus
For you will surely die.

Take time for sweet surrender
Seek out His mighty will
Today while you are able
For soon, you will be still.

Take time to grasp the moment
So fast, the clock does tick
We do not know the hour
Your number could be next.

Take time to smell the roses
Before it is too late
Today is full of promise
Tomorrow will not wait.

The End (http://www.marilynspoetry.com/)

Dit het my nogal aan die wonder gesit oor hoekom mens sekere dinge nie doen nie. Daar is altyd op die gegewe oomblik 'n goeie rede daarvoor. Dalk kos dit te veel geld. Dalk het jy nie tyd om dit nou te doen nie. Miskien sien jy 'n beter, goedkoper, groter, of dalk 'n kleiner een, by die volgende winkel. Soveel kere het dit al met my gebeur dat ek by 'n interessante plek in hier in Europa was, en dan dink ek - "ek gaan nie hierdie museum besoek nie, want dit kos te veel geld". Of "ek sal netnou terug kom en hierdie serp of trui of sommer net mooi ietsie koop vir Annatjie". En dan kom ek nie weer daar verby nie. En ek sal waarskynlik nooit weer die geleentheid kry om by die museum uit te kom nie. Of sommer simpel dinge, soos om nie 'n foto van iets te neem nie, en dan later spyt te wees daaroor. Of om nie genoeg fotos te neem nie. Om nie die roomys vir jou kind te koop nie, want ons gaan netnou eet, en dan eet jy nie jou kos nie... Gaan dit regtig so 'n verskil maak as hy nie al sy kos opeet nie. Wie sê jy het ooit weer die geleentheid om vir haar 'n roomys te koop.

Ons lewe draai soms so veel daarom om voorsiening te maak vir die dag van môre en oormôre, dat ons maklik vergeet om vandag te lewe. En ons vergeet dat môre môre se vandag is, en dan vergeet ons weer, want ons moet tog voorsiening maak vir môre. En partykeer is daar nie 'n môre oor nie...

In Psalm 103 verse 15 en 16 van die Ou Vertaling van 1953 staan "die mens -- soos die gras is sy dae; soos 'n blom van die veld, so bloei hy. As die wind daaroor gaan, is dit nie meer nie en sy plek ken hom nie meer nie".

Die Nuwe Vertaling van 1983 stel dit so : "Die mens, sy lewensduur is soos die van gras, soos die van 'n veldblom wat oopgaan: as die woestynwind daaroor waai, is dit weg en sy plek vir altyd leeg".

Daar is net soveel waarheid in die Afrikaanse gesegde "van uitstel kom afstel".

In verhoudings gebeur dit ook, en daar is die skade en verwyte soms oneindig groter. Wanneer ons iemand seermaak deur ons gedrag, of deur dit wat ons sê, of dalk nie sê nie.

Dit is soms so moeilik om die maklikste woorde uit te spreek. "Ek is jammer". "Ek is lief vir jou". "Ek het 'n fout gemaak". Partykeer gee ons tog so 'n groot bos blomme - om op die graf te sit. Maar hoeveel meer sou die begraafde nie 'n klein bossie blomme, of selfs net een blom, spontaan gegee, waardeer het in die lewe nie. Soms ervaar ek begrafnisblomme as stil-gillende selfverwyte of bedekte skulderkenning.

Ons sê so gereeld vir onsself en vir mekaar "as ek eendag groot is". Ek dink soms skuil daar baie meer agter hierdie eenvoudige uitspraak as 'n wens of dalk ietwat siniese humor. Is dit nie dalk so dat ons heimlik begeer om iets te doen nie, maar dat ons verhinder word deur eie of gemeenskaplike voorafopgestelde idees van wat betaamlik is nie, of wat 'n sosiaal-aanvaarde norm is nie ("jy's te oud om dit te doen", of "jy is dan 'n man, en mans doen nie so iets nie", of "wat sal die mense daarvan dink", of "gedra jou soos 'n dame").

Of eenvoudig bang is dat jy dit nie sal regkry nie.

Moet mens nie net so af en toe vergeet om die "regte" ding te doen nie, en te doen wat jou hart sê nie. Los die kombuis, los die grassny, los die strykwerk - en gaan loop om die blok. Gaan sit langs die dam of die strand. Bel 'n vriend. Besoek iemand in die hospitaal. Eet 'n roomys saam met hom. Maak 'n koppie koffie vir haar, en drink dit saam met haar. Gaan drink 'n koppie koffie by Starbuck's. Vat die hele familie sirkus toe. Hou 'n piekniek met toebroodjies en 'n bottel wyn. Gaan luister na 'n simfonie-konsert. Gaan skop 'n bal saam met die seuns.

Al is daar nie geld nie.

Al het jy nie regtig tyd nie.

Soms behoort jy dit te doen, al het jy nie lus daarvoor nie.

Leer om klavier te speel Klim Tafelberg uit Doen 'n valskermsprong Diepseeduik Leer Grieks praat Sing elke dag Besoek Brasilië Lees Shakespeare Begin perdry Toer China Klim Mount Everest Eet Sushi Skryf 'n boek Ry Olifant Sluit aan by die kerkkoor

Met dank aan Marilyn Ferguson wat toestemming gegee het dat ek haar gedig hier mag gebruik.


Wednesday, April 19, 2006

 

Naweek in Nederland

Ek was bevoorreg om die afgelope Paasnaweek by die Bien-familie in Amersfoort, Nederland, te kon kuier. Sonder om enigsins te oordryf, kan ek sê dat dit een van die grootste hoogtepunte van my verblyf van die laaste twintig-maande tot hede in Europa was. Gedurende hierdie tyd was ek wel bevoorreg om heelwat spesiale oomblikke in onder andere Duitsland, Tsjeg Republiek (Praag), Frankryk, Slovakië (Bratislava), en vele ander lande te ervaar. Veel meer bevoorreg was ek ook wanneer Annatjie die geleenthede gehad het en het om vir my kom kuier. Hierdie was en is alles baie spesiaal, en die Bien-kuier ook so.

Amersfoort is ook bekend as die klipstad, as gevolg van 'n weddenskap in 1661 toe 400 mense 'n groot rots in die dorp in gesleep het. Die storie het die inwoners ontstel, en na oorlewering het hulle toe die klip begrawe. Die klip is egter in 1903 weer gevind, en vandag is dit 'n landmerk en monument in die stad.

John en Corlie, saam met hulle oulike spannetjie Cobus, Marieke en Willem, het die naweek uit hulle pad gegaan om vir hierdie Suid-Afrikaner so ver van huis en geliefdes tuis te laat voel en in te sluit in hulle familielewe. Wat dit nog meer spesiaal maak, is dat Corlie al vir 'n jaar sukkel met 'n rugprobleem en in gedurige pyn is. Ten spyte daarvan het ons Amersfoort en Utrecht saam plat geloop. En liewe pragtige Marieke het haar kamer ontruim en by kleinboet Willem ingetrek in die tyd om vir hierdie oom rusplek vir sy kop te gee.

Nie dat daar van rus baie sprake was nie. Meer gereeld as nie het ons gekuier gesels en geluister tot in die klein ure van elke oggend.

Vrydag verken ons Amersfoort, en met Corlie se baie goeie kennis van die geskiedenis van die dorp en omgewing raak dit 'n besondere ekspedisie. Uiteraard word byna al wat 'n tegnologie-winkel en musiek-DVD-winkel is, besoek. Beide die Bien's en hierdie van Staden spandeer onbepland om hulle digitale biblioteke aan te vul. Dit is nou wel ook so dat DVD's relatief goedkoop hier is, dat mens jouself sal skade aandoen as jy nie koop nie (vertel ek myself mos toe). Deurlopend word ook ge-eet en koffie gedrink.

'n Besoek aan die Suid-Afrikaanse winkel bevestig dat jy nie heeltemal afgesluit is en ontdaan van die vleispotte van die tuisland hoef te wees nie. 'n Verskeidenheid Suid-Afrikaanse produkte, insluitende Aero sjokolade, rye biltong, Milo, atjar, Bisto, en natuurlik Mrs. Ball's is geredelik beskikbaar - teen 'n prys.

Mens is tog wel bewus dat Nederland plat is, en dat fietse 'n gewilde vervoermiddel is. Maar as jy dit nie self sien en ervaar nie, is dit moeilik om die konteks en skaal van hierdie fietsry-dinamiek te verstaan. Oral langs die paaie in die stad is honderde fietse staangemaak, om van die stasie nie eers te praat nie. Daar is fietsrybane, en wee jou as jy as voetganger in die fietspad loop. Fietsryers geniet ook voorrang ten opsigte van motorverkeer, en fietsryveiligheid is baie belangrik.

Volgens een bron is daar meer as 19,000 kilometer se fietsry-paaie en bane in Nederland. Gaan kyk gerus hier en hier oor fietsry in Nederland, en alhoewel hierdie webwerf klaarblyklik redelik lanklaas op datum gebring is, bevat dit wel ook interessante inligting. As jy belang stel, is hier en hier interessante inligting oor Nederland.

Ek het ook opgemerk dat in Nederland oor die algemeen die nasionale motorvloot heelwat ouer is as wat ek dit in Duitsland ervaar. Ek vermoed dat dit dalk as gevolg van die feit dat Nederland relatief klein is en binnelands geen groot afstande het nie, en waarskynlik ook omdat daar nie 'n motorvervaardigingsnywerheid ter plaatse is nie. Ander faktore speel sekerlik ook 'n rol.

Saterdag besoek ons Utrecht, en nadat ons weereens eers verskeie winkels besoek het en ete genuttig het in 'n Marokkaanse restaurant (met interessante smake in die kos), en ek geleer het dat sekere algemene Afrikaanse woorde en terme nie in goeie Nederlandse geselskap tuishoort nie, besluit ons om 'n toer per boot deur Utrecht se gragte te doen. Deur die loop van die toer gaan ons onderdeur ongeveer twee-en-twintig brue, en by ten minste een sogenaamde 'boat coffee shop' verby. Wees egter verseker dat daar nie noodwendig of uitsluitlik koffie gedrink word op daardie boot nie. Die gedagte word wel bevestig deur dat ons 'n entjie verder aan verby 'n voormalige tronk vaar, wat nou 'n rehabilitasie-sentrum vir dwelmverslaafdes huisves. Maar dit lyk nog steeds soos 'n tronk . . .

Alhoewel dit vroeg in April ietwat te vroeg vir die beroemde Hollandse blommeseisoen is, is die omgewing wel plek-plek 'n visuele ontploffing van geel blomme. Verskeie blommeverkopers bied palette van blommeprag te koop aan, wat so vroeg in die seisoen waarskynlik van kweekhuise afkomstig is.

Die besoek aan Utrecht word afgesluit deur 'n verposing by die Ostrich African Restaurant op die walle van die Oude Gracht. 'n Verskeidenheid van geregte en drank van Afrika is beskikbaar - welliswaar teen 'n prys. Maar of 'n Hunter's Gold ver in die Noordelike Halfrond 'n winskoop teen byna R 36 per botteltjie is, is waarskynlik debatteerbaar. Wat nie debatteerbaar is nie, is dat dit ongetwyfeld die lekkerste Hunter's Gold was wat ek in my lewe gedrink het. Wat 'n skrikwekkende gedagte om te dink dat 'n kas (24 bottels) meer as R 850 kan kos. Dieselfde geld vir twee dosyn Castle biere.

Twee hoogtepunte Sondag sluit 'n Afrikaanse kerkdiens saam 'n groepie Afrikaanssprekendes in 'n jeugsentrum-gebou in, en later die middag 'n besoek van gemeenskaplike vriende van München, Chris en Jossie Klopper en die seuns, in. Die besoek word gevier deur middag-ete by 'n beroemde pannekoek-restaurant in die omgewing. Ek sal nooit weet 'n pannekoek sien in die lig van 'n kerkbasaar plaatgrote koppie gebakte deeg met suiker en kaneel nie. Die Hollandse weergawe laat ons Suid-Afrikaanse haai-foeitog-pannekoekie ondervoed en mishandel lyk. Die Meksikaanse poging met boontjies wat ek saam met 'n goeie skeut chillipasta verorber het sou 'n rasegte Cowboy met trots in die skemer laat verdwyn het. Afgesluit met 'n goeie Espresso koffie, dink ek nogal dat ek sal kan gewoond raak aan so 'n dieet.

Terug by die huis word verder gekuier, stories vertel, en biltong ge-eet. Ongelukkig moet die Kloppers ons verlaat - hulle het nog 'n klomp kilometers om te ry. Ons kuier egter verder en saam met 'n ietwat rooiwyn van die Suide raak die aand lekker gesellig, en weereens maak die koekkoek in die horlosie net 'n paar kort snorkgeluide toe ons almal kamerwaarts keer.

Maandag-oggend kuier ons rustig, ek met die wete dat 'n goeie seshonderd-plus kilometers nog voorlê voordat ek by die huis sal wees. Vroegmiddag is dit tyd om te groet, en skielik is dit verby. Maar met wonderlike herinneringe van 'n kuier van 'n leeftyd by 'n besondere en baie spesiale familie, pak ek die terugreis na Neuhausen aan. Daar is darem nog 'n stukkie soet in die mond, toe ek vinnig by Jan en Dehlia Korten in Eibergen kan aanry vir 'n koffie. Dehlia bederf my weereens met verskeie produkte van haar winkeltjie en waar sy 'n stalletjie vandag by die boeremark het, en saam met 'n pragtige potplant vir my woonstel, pak ek die 500-kilometer terugtog aan.

Oor die terugtog wil ek nie praat nie, om die goeie herinnering van die naweek nie te bederf nie. Genoeg om te sê dat ek darem met genade en gebede ter ondersteuning so teen 21:30 veilig die woonstel se deur kon oopsluit.

Verdere inligting oor wandelinge, fietsry en bootvaarte deur Utrecht is hier te sien. Spesifieke inligting oor bootvaarte in en om Utrecht is ook hier te vinde.

Monday, April 03, 2006

 

Goed teenoor sleg

Onlangs sit ek en wonder oor die mensdom se ingesteldheid teenoor die lewe. Is ons altyd net superkrities, sien ons altyd die negatiewe eerder as die positiewe, die lelik eerder as die mooi, die swart kneusmerkie op die enkele roosblaar van 'n pragtige rooi blom?

Ongelukkig het ek nie die tyd of noodwendig die kennis om 'n holistiese ondersoek of navorsing hieroor te doen nie, maar die gedagte bly in my agterkop om daarna te kyk. Daar is geluk en ongeluk, liefde en haat, goed en sleg, God en die duiwel, sterk en swak.

Maar die INTERNET is mos daar. En GOOGLE - wat al so 'n integrale deel van die meeste van ons se hedendaagse bestaan geword het - kan ook mos ingespan word om 'n heel onwetenskaplike, vol gate, debateerbare, maar wel moontlik 'n interessante perspektief op hierdie saak te kry. Ja, die INTERNET - wat soveel slegte konnotasies het - pornografie, kindermolesteringsnetwerke, lastering, bedrog, en dies meer.

Ek gaan GOOGLE toe 'n bietjie met 'n paar van hierdie teenoorgesteldes, en word ek toe nie verras nie. Sonder uitsondering GOOGLE ek vir elke negatiewe pool veel meer positiewe treffers raak.

Een besonder interessante resultaat is dat vir elke GOOGLE treffer vir die woord "hate", daar meer as vyf treffers vir "love". Ek wil nie voorgee dat elke GOOGLE treffer die verwante woord in 'n positiewe konteks verteenwoordig nie, en dat die gebruike van die woorde daar die sentiment oordra wat ons noodwendig daaraan toedig nie. Hierdie resultate is ook nie verteenwoordigend van enige statistiese modelering of indiepte analise nie. Ek dink egter tog dat dit ietwat verteenwoordigend kan wees van dit waarmee die mens homself en haarself mee besig hou, in woord en in daad.

Wat beteken dit alles ? Dat die mensdom soek na die mooier dinge ? Of dat dit wat die hart van vol is, die mond (of die INTERNET in die geval) van oorloop. Ek sou graag dink dat dit laasgenoemde is.

Die relatiewe resultate en onderliggende syfers word aangebied in die volgende voorstellings.




Sunday, April 02, 2006

 

Klassieke Luistergenot

Een van die baie dinge wat ek mis terwyl ek hier in Duitsland is, is my CD versameling. My musieksmaak is so wyd soos ons Heer se genade, met sekere uitsonderings. Ek is lief vir popmusiek, klassieke musiek, country, kabaret, alternatief, boeremusiek, instrumentale musiek, rock - noem maar op.

Maar klassieke musiek is soos 'n verdowingsmiddel - en jy kan verslaaf raak daaraan. Na 'n ruk van onthouding smag jy na die suiwer, hemelse, en soms ontstellende klanke van Beethoven, Strauss, Tchaikovsky, Mozart, Verdi, Offenbach, en vele ander.

Terwyl ek 'n redelike verteenwoordiging van kontemporere Afrikaanse musiek hier in my woonstel in Neuhausen het - om die verlange na Suid-Afrika te stil - het ek ongelukkig nie veel aandag gegee om 'n paar klassieke gunstelinge ook saam te bring nie.

Tot gister toe. Nadat ek Vrydagaand 'n paar gunstelinge aangevra het op Radio Sarie Marais, en Piet my goedgunstelik getrakteer het op die 1812, Triomf Mars, en Symfonie nommer 40, het ek besluit - tot hiertoe en niks verder nie.

Na 'n lekker laat inlê (mos Radio SM geluister to 01:00 Saterdag-oggend, en toe nog onbepland gelê en lees het tot byna 02:30), het ek besluit ek moet hierdie gaping in my mini-musiekversameling onmiddelik poog regstel. Sindelfingen se groot MediaMarkt is toe die aangewese antwoord, en na 'n kuierkoop van goed twee ure waarin ek my verlustig het in hulle indrukwekkende aanbieding van CD's, maar egter ook my finansiële situasie in berekening gebring het, volstaan ek met 'n keuse van 'n EMI Classic album ("Klassik aus Spanien"), 'n dubbel-stel "Berühmte Overturen präsent", en 'n briljante stel van "Herbert von Karajan conducts Orchestral Favourites". Laasgenoemde drie-CD stel bied meer as drie-en-'n-halfuur se uitmuntende musiek. Hoogtepunte sluit in amper twintig minute van Tchaikovsky se "1812 Overture Opus 49", "Eine Kleine Nachtmusik" van Mozart, Händel se "Water Music", Smetana se "Die Moldau", Sibelius se interessante "Finlandia", Strauss se wakker "Radetzky-Marsch", Verdi se suiwer "La Traviata", en uittreksels van sy "Carmen Suite No. 1", en vele meer in. Die overtures sluit werke in van Händel, Weber, Rossini, Mendelssohn, Wagner, Strauss, Bizet, Bernstein, en ander.

Laat-middag en vroeg-aand, Saterdag, 1 April 2006, en op hierdie lui Sondag-middag, spandeer ek 'n hele paar ongekwalifiseerde rustige ure, met oorfone, afgesluit van die wêreld, in die geselskap van 'n klompie van die grootste musikale meesters wat hierdie wereld nog ooit gehad het.

Wat 'n voorreg !

Saturday, April 01, 2006

 

Het ek gewen of nie ?

Ek is ontsteld. Rumoerig is nie die woord nie ! Toe ek gistermiddag by die huis kom, lê daar in my posbus 'n kennisgewing dat daar 'n versekerde dokument by die Deutsche Post agentskap in Neuhausen, waar ek bly, vir my is. Ek is toe wel vroeg by die werk weg, aangesien ek ietwat verkouerig is, en nog 'n draai by die apteek op pad huis toe wou maak. Dus kon ek toe nog by die agentskap uitkom om die ding te gaan haal.

Maar laat ek eerder die storie by die begin begin. 'n Paar weke gelede was hier 'n fees in my 'village', die sogenaamde 'Faschen Karnaval'. Ek en Annatjie besoek die straat-optogte, en eerstens gebeur iets interessants. Terwyl ons op die sypaadjie loop, kom 'n vrou getooi in die klere van een of ander heks uit die Middeleeue en dring by my aan om toeskouerkaartjies te koop. Eers wil ek nie, want ek gaan mos eintlik nêrens heen om 'n vertoning te sien nie, maar die heksvrou dring daarop aan, en dit lyk toe asof dit nou maar so gedoen moet word. As jy vir die optog in die straat wil kyk, moet jy maar 'n kaartjie koop. Toe moet ek twee koop - vir my en Annatjie.

Hier staan ons in die koue en sneeu vir so net meer as twee ure en kyk na die groepe hekse en narre en optogte en dinge - mens wil mos darem waarde vir jou geld kry ! Op pad terug, word ek weer gekonfronteer met nog so iemand wat lyk asof sy my geld wil hê. Toe dog ek eers, nou moet mens seker betaal om op te hou kyk en loop ook ! Maar toe nie - gelukkig nie. Ongelukkig praat hierdie dametjie redelike goeie Engels, en sy verduidelik dat sy een of ander organisasie wat fondse insamel vir natuurrrampe verteenwoordig, en as ek 'n donasie maak en die vraag beantwoord, ek 'n kans het om een of ander prys te wen. Om haar van my rug af te kry, stem ek maar in om 'n klein donasie te maak. Sy is toe baie bly, en ek moet eers my inligting op 'n vorm skryf. Ek weet in elk geval nie wat die naam van Stuttgart se sokkerspan is nie, maar sy is toe heel gewillig om dit namens my op die papier te skryf. Ek moet maar haar woord daarvoor vat. Dit gedoen, haal ek maar 'n paar Euro uit my sak, en gee vir haar. Ongelukkig werk dit toe nie so nie, en die donasie-bedrag is nie onderhandelbaar nie. Vyftig Euro later, en ek kan maar huis toe gaan. Vyftig Euro is byna R 400 !

Nou ja, ek het toe maar die finansiële skok probeer verwerk - tot gisteraand. Toe ek die brief kry. By Deutsche Post moes ek myself identifiseer voordat hulle die pakket aan my gee. Nadat hierdie groterige Swabiese tannie my paspoort erg beloer het, en gewonder het hoekom ek nie 'n baard het nie, wat die paspoort-foto het een (altans, dit is wat ek vermoed sy bevraagteken het), gee sy die koevert vir my.

By die woonstel gekom, maak ek die ding oop, en dit is duidelik dat ek iets gewen het. So woord vir woord probeer ek die ding vertaal-verstaan, en uiteindelik verstaan ek genoeg om te sien dat ek die wenner van die eerste prys is. Wat 'n Porsche Cayman S is ! In my opinie die lelikste Porsche wat daar is - selfs leliker as die Porsche Boxster. Maar, 'n Porsche is 'n Porsche, en as dit myne is, sal hy (sy !) mooi wees. Wil darem ook nou nie 'n gegewe perd in die bek kyk nie !

Daar is toe 'n nommer wat ek moet bel, en na gesukkel om iemand aan die ander kant te kry wat effens Engels kan praat, gebeur die volgende. Hulle soek my Duitse identiteitsnommer. Toe ek sê dat ek nie 'n Duitse burger is nie, word gesê dat ek dan nie die prys kan ontvang nie, want dit is slegs geldig vir Duitse burgers of Duitse paspoorthouers. Maar daardie hekse-tannie het nie dit vir my gesê nie, en sy het geweet ek is nie 'n Duitser nie. En my geld heel gewillig gevat. Nou wil ek my Porsche mos hê !

Watter raad het julle vir my ? Ek dink ek behoort 'n groot geraas hieroor te maak. Of moet ek daarop aandring om my vyftig EURO terug te kry ?

Ek wil-wil opgewonde raak, maar ook nie voordat dinge uitgesorteer is nie.

Alle raad sal waardeer word.

Mens moet versigtig wees wat jy glo op die eerste April.
Hierdie was so bietjie guitige April-gekkigheid. 'n Bietjie beentrek en spot.
Dankie vir al die raad en opinies wat ek gekry het. In my drome wen ek 'n Porsche . . .