Google Web Kuiergat

This page is powered by Blogger. Isn't yours?

My status

Enige terugvoer, kommentaar, kritiek, of net 'n boodskap is baie welkom. Skryf gerus vir my ; muisdruk hier Johann van Staden

Online dictionary at www.Answers.com

Tell me about:

Tuesday, September 25, 2007

 

Ek bieg in Berlyn

Interessante woord – bieg. Maar miskien is hierdie inskrywing eerder net 'n verskoning vir 'n onbekende.

Na my aankoms gister-oggend in Berlyn en nadat ek by die hotel ingeboek is, besluit ek om soos gewoonlik wanneer ek in ‘n vreemde stad is, ‘n ent te gaan loop. Ek vra ’n stadskaart by die hotel-ontvangs, en laat die ontvangsdame met ’n sirkel op die kaart aandui waar die hotel is. Omdat ek darem ook nie heeltemal vreemd in Berlyn is nie, neem ek nie veel notisie van die kaart nie, maar slaan sommer ’n rigting in langs die Spree-rivier ; ek het nog nooit in hierdie hotel gebly nie, maar vol selfvertroue begin ek loop. Nadat ek so 30 minute lank geloop het, stap ek by twee dames verby, en die een vra of hulle in die regte rigting stap om by die Hauptbahnhoff (Berlyn se hoof-stasie) uit te kom. Met ‘n 100% seker houding, bevestig ek dat hulle in wel reg is, en ek stap verder.

Na ’n rukkie besef ek egter dat niks bekend lyk nie, en ek gaan sit om die kaart te bestudeer. Na verskeie minute kom die twee dames by my verby geloop, en met ’n knik van die kop groet ons mekaar. En hulle loop verder. Ek vermoed ernstig dat ek (ons) in die verkeerde rigting stap, en ek draai om ; terug hotel toe. By die hotel vra ek, en Ontvangs bevestig dat ek weliswaar in die verkeerde rigting gestap het. En ek besef dat ek die verkeerde inligting aan die twee dames gegee het.

Jammer dames – ek weet nie waar julle ge-eindig het nie, en weet ook nie wanneer julle besef dat julle verkeerde raad van my gekry het nie.

My straf was seker dat ek later die dag erg verdwaal het ; soveel so dat ek iewers ge-eindig het wat nie op die stadskaart aangedui is nie, en dat ek na vele vrae uiteindelik weer by die hotel uitgekom het ; met meer as agt ure se stap agter die rug, sopnat gesweet en lekker voetseer !

Monday, September 17, 2007

 

Bloeisels en Blikke

Bloeisels en Blikke . . . wel, vuilgoedblikke, of vullisdromme as jy verkies.

Hoe mooi is die pragtige wit en roosrooi en blou blommetjies wat guitig-skielik hulle verskyning in byna elke boom en struik in Pretoria gemaak het. ’n Visuele simfonie van kleure, en ja, ook geure.

Hierdie jaar is daar egter ’n nuwe lid in die orkes wat ’n bykomende wanklankie bydra. Groot, swart vullisdromme staan regop-soldaat en waghou op elke hoek en om elke draai. Boggelrug-vol swart sakke hou vele vullisdromme geselskap gedurende die groot wag. Honderde, of miskien duisende wat nou al na byna twee weke met ’n wanklankie die suiwer lentelug-simfonie besoedel.

Die vullis-verwyderaars van Pretoria staak !

Thursday, September 13, 2007

 

Tydelik Gestrem !

Liewe vriende, ek het nou net by die huis gekom nadat ek vroeg vanoggend Kaap toe gevlieg het - met krukke en al. Ek het nou so klein idee van watter hindernisse gestremde mense in die gewone lewe ondervind, en hoe uiters gestremd-onvriendelik dit regtig daar buite is.

Iets so simpel soos om van die parkeerterrein deur die prosesse om op die vliegtuig te kom, raak 'n nagmerrie. Die vlug self, byvoorbeeld waar om die krukke te sit, en hoe om op te gaan sit terwyl jy byna beenaf is, en ander dinge - mense, dit was 'n openbaring. Die manier hoe ander mense jou hanteer, ensovoorts. Dit was waarskynlik een van die mees uitputtendste dae in my lewe.

Ek het geen idee gehad nie !

Miskien sal ek later meer oor die ondervinding / ervaring skryf. Alhoewel ek myself as redelik ingelig beskou tov gestremdheid, was vandag vir my 'n openbaring !

Tuesday, September 11, 2007

 

Hospitalisasie en die admin-monster

Ek is nie een vir dokters en pille en hospitale nie !

Maar vandag, nie uit eie keuse nie, is ek opgeneem, en weereens verbaas die admin-monster my. Ten spyte van die feit dat ons familie hierdie hospitaal al vir jare gebruik (goed ondersteun is dalk 'n beter woord), moet mens van voor af dieselfde inligting ten minste drie of vier keer weer neerskryf. Dan word dit waarskynlik weer iewers in 'n rekenaar ingevoer. En ek moes seker vyf keer my handtekening iewers neerpen.

Is dit nie moontlik om al my vorige inligting van die databasis af te trek, sodat ek dit kan bevestig en enige veranderinge aanbring nie ? Opname sal dan mos baie vinniger en meer koste-effektief wees.

Dan word 'n reeks plakkers met al my inligting gedruk en orals op verskillende vorms opgeplak. Maar daar is nog steeds ten minste meer as tien plakkers wat ongebruik gelaat is. Waarskynlik word 'n paar wel nog gebruik deur die loop van die dag, of tot wanneer ek ontslaan word. Maar ek is oortuig daarvan dat 'n paar nie gebruik sal word nie. Hierdie gom-plakkers is duur items. As mens na al die 'voorsienings' kyk wat gedurende die proses gebruik word, wonder ek hoeveel onnodige kostes dit veroorsaak. 'n Bietjie hier en 'n bietjie daar, en weliswaar, die rekening kry sommer nog 'n nul by.

Ek is oortuig daarvan dat bietjie Organisasie en Metode fokus heelwat optimisasie en koste-besparings teweeg kan bring, en die produktiwiteit wesentlik kan verhoog.

En ek hou nog steeds nie van hospitale nie ; gelukkig is almal tot op hede baie vriendelik en hulpvaardig.

Ek hou net nie van die "Nul per Mond" teken agter my bed nie...