Google Web Kuiergat

This page is powered by Blogger. Isn't yours?

My status

Enige terugvoer, kommentaar, kritiek, of net 'n boodskap is baie welkom. Skryf gerus vir my ; muisdruk hier Johann van Staden

Online dictionary at www.Answers.com

Tell me about:

Sunday, August 26, 2007

 

Die Otter : 6 - Bloukransrivier-dag

Vandag, bo en behalwe dat die groot uitdaging die Bloukransrivier is, is dit ook die langste afstand wat geloop moet word. Van begin tot einde is dit 13,8 kilometer, en die Bloukransrivier is 10 kilometer van die beginpunt af. Teen 03:00 is daar lewe in altwee hutte, en snaaks genoeg, terwyl alles opgevou en ingepak word, heers ’n ongewone stilte. Min grappies en skerp aanmerkings word gemaak ; almal is goed onder die indruk van wat vandag gaan verg.

Teen 03:45 is almal gestewel en gespoor en gerugsak ; en dis donkerder as pikdonker. Behalwe vir ’n klompie dapper sterre wat koppie uitsteek, is daar van die maan geen sprake nie. Met ons kopligte aangeskakel en al stappend soos eendjies-eendjies-in-‘n-ry, kronkelend berg-op en slingerend berg-af, lyk ons kompleet soos ’n troep mynwerkers. Die roete is uiters uitdagend en is plek-plek so hoog dat jou kopliggie verlore raak en totaal verward moed opgee in die teerswart duisternis as jy afkyk na die see aan die linkerkant reg onder jou. Soos bergklimmers klou en haak ons plek-plek aan skerp rotspunte, en met genade van Bo is daar geen insidente en ongevalle nie. Later, nog steeds in die donker, loop ons deur die Tsitsikamma woude, en lang-lang bome troon uitdagend meters die lug in. In die sterk-flou ligskynsels van die kopflitse lyk die omgewing ietwat sinister en skrikwekkend, maar terselfdertyd ook veilig en vol vrede. Mens is daar so ver verwyderd van die daaglikse onsin en chaos waarmee die wereld ons konfronteer.







Op makliker plekke voltooi die groep ’n paar kilometers in tussen vyftien en vyf-en-twintig minute per kilometer, en ons kom by die Bloukrans volgens plan ; ons is daar in goeie tyd teen 09:20. Moeg en natgesweet, maar baie bly en gelukkig dat ons op tyd is, en daar word geen tyd gemors om ook hierdie struikelblok suksesvol aan te durf nie. Almal is positief en gefokus, en die voorbereidings word gedoen. Die oorleweringssakke word uitgehaal, stewels uitgetrek, Rocky’s en sandale kom te voorskyn, almal maak seker dat dit wat in ZipLock sakkies moet wees, daarin is en goed toegemaak is, en dan is dit tyd.

Daar is drie moontlikhede waar die oorgang gemaak kan word, maar daar word eenstemmigheid bereik dat die mees veiligste opsie die een is wat die naaste aan die see in die mond is. Dit beteken wel dat daar ten minste nekhoogte in die (koue) water geloop moet word, en branders moet trotseer by die rotse. Ongelukkig is dit ook so dat daar onsigbare kolkgate is, en ek, soos die meeste van die span, trap hier en daar mis en word kop-oor-gat in die maalgate ingetrek. Sand in die ore, sout in die oë, soutwate in die mond ! Uiteindelik is almal veilig oor en deur, en hier moet spesiale erkenning ook aan Wynn, Reece, Adolph, Ferdi en Dewald gegee word vir die ongelooflike hulp en ondersteuning wat hulle aan die span gegee het. Welgedaan julle ! Julle is sterre !











Aan die ander kant van die rivier sit en kuier ons vir lank ; maak ontbyt, drink koffie en geniet die fantastiese natuur om ons. En die wete dat ons die Bloukrans oorwin het !





Later word die finale paar kilometer na die hutte aangepak, en ook op hierdie been word ons almal getoets met stewige rotsklimmery wat veel druk plaas op ons moed en uithouvermoë, maar die span het vasbyt en druk deur ! Voornemende Otter-stapper moet nie hierdie laaste 3,8 kilometer of so onderskat nie.











Hier op die plato loop ons ook van die mooiste proteas in blom en ander blomme raak.





Laatmiddag kom ons by Andre se Hut, en almal is maar lekker moeg na ’n lang en uiters uitmergelende dag. Ons weet daar is maar nog net 6,8 kilometer oor, en elkeen kan al amper sê dat sy of hy die Otter gedoen het. Of eerder miskien, dat die Otter ons gedoen het.

Vanaand eet ons wat in die rugsakke is. Kos is nie meer so belangrik nie. Rus is meer belangrik.

Comments> Post a Comment

<< Home