Google Web Kuiergat

This page is powered by Blogger. Isn't yours?

My status

Enige terugvoer, kommentaar, kritiek, of net 'n boodskap is baie welkom. Skryf gerus vir my ; muisdruk hier Johann van Staden

Online dictionary at www.Answers.com

Tell me about:

Monday, November 27, 2006

 

Gemors met 'n trekkery

Ek toe gister bietjie lag vir myself gekry. Ek besluit laat-oggend so tussen die hoesery deur, om so bietjie deur die laaie en kaste te gaan om te sien wat daar is, wat gehou moet word, en wat weggegooi kan word. En ek slaan my hande saam ! Ek kan nie glo dat ek so baie twak bymekaar kon maak in twee jaar se tyd nie.

Net ter agtergrond. My kontrak hier in Duitsland verstryk die einde Desember, en ek gaan dus terug huis (Suid-Afrika) toe. Die groot trek gebeur so teen die middel van Desember.

Terug in die woonstel. Ek ontdek goed waaroor ek Annatjie al 'n keer of wat mee gekonfronteer het (ek het darem in stilte in my binneste vir haar om verskoning gevra dat ek haar 'beskuldig' het). Ek kry buskaartjies, treinkaartjies, vliegtuigkaartjies, bootkaartjies, kwitansies en strokies, eBay-koeverte, boksies, brosjures, en wie weet wat nog. 'n Stapel leë CD-kassies wat my seun meer as 'n jaar gelede hier gelos het (hy het ook te veel goed gehad om terug SA toe te neem, en hy los toe onder andere die meeste van sy klere en hierdie CD-kassies by my). In een kas 'ontdek' ek 'n swetterjoel leë bottels - Mrs. Ball's, slaaisous, koffie, beetslaai, en nog vele meer. Elke bottel is baie mooi skoon gewas en gebêre - vir watter rede kan ek nie sê nie, behalwe dat ek altyd dink mens kan so 'n bottel weer gebruik.

Daar vind ek ook twee jaar se deodorant-proppies in 'n mooi sakkie - by die huis het ek dit atyd gebruik as ek iets geverf het, om bietjie verdunner in die proppie te gooi om die kwassie mee skoon te maak - dit werk soos 'n bom ! Die proppies was darem ook handig gedurende die tyd toe my Suid-Afrikaanse kollega hier was - wanneer hulle by my kom kuier het, was die proppies lekker speelgoed vir die baba. Gewoonlik het dit my 'n week of twee geneem om weer al die proppies bymekaar te kry van waar dit onder die meubels gelê het.

Nou is die besluitnemingsproses om te kies tussen wat moet bly en wat word weggegooi ook nog moeilik. Ek vat 'n kaartjie, dan onthou ek dit was 'n treinkaartjie in Praag, en ek wonder of ek dit nie maar moet hou nie. Dis mos herinneringe... Dan sit ek dit in 'n ander laai. Netnou vat ek daardie laai, en besluit dan - ag nee wat, gooi maar die simpel kaartjie weg ; ek het mos fotos. En dan lag ek bietjie vir my self.

Ek het darem die bottels almal (sonder uitsondering) in 'n sak gegooi, en sal per geleentheid hierdie week dit in die regte herwinningsdrom gaan gooi. Ek het darem geen emosionele band met enige van die bottels gevoel nie...

Die ander groot uitdaging is nog in die kombuis. Daar is hordes oop pakkies en botteltjies en houers van allerhande dinge. Omtrent ses verskillende soorte mostert oop in die yskas. Ek tel gisteraand vyf oop bottels konfyt - twee van dieselfde soort, elkeen half vol. Vier oop pakke pasta van verskillende soorte. Drie bottels oop tamatiesous ; en nog twee nuwes. En 'n kakefonie van verskillende oop pakkies speserye. 'n Groot houer met Suid-Afrikaanse grondboontjiebotter - oop en halfgebruik.

Verder moet ek nog die kombuiskaste ook aanvat. Ek het mos die gewoonte om elke margarienbakkie, roomysbak, slaaibak, en dies meer, te wil hou. Elke soortgelyke bak is mooi skoon gewas en amper-netjies in die kas - miskien het ek dit mos een of ander tyd nodig vir iets... Daar is ook 'n groot opruimingsaksie nodig.

Dan praat ek nog nie eers van die skroefies en stukkies draad en dingetjies wat op een of ander manier hulle weg op een ander obskure manier gevind het na 'daardie laai' toe nie.