Thursday, February 02, 2006
Waardering en Irritasies
Wat waardeer ek in en van mense
- Mense wat my aanvaar vir wat ek is en hoe ek lyk en wat ek nie het nie en vriende bly ten spyte van myself en die irriterende dinge wat ek sekerlik doen
- Mense wat 'n ander opinie as ek huldig maar wat terselfdertyd ook respek het vir my opinie, al is myne verkeerd
- Mense wat eerlik is - eerlik met ander, en eerlik met hulleself
- Mense wat trots is - trots op hulle taal, hulle kultuur, hulle geliefdes, hulle vriende
- Mense wat min tyd het, en daarvan vir my gee
- Mense wat lag vir 'n grap wat ek vertel, en nie halfpad sê hulle het dit al gehoor nie (al het hulle)
- Mense wat dit geniet om te lewe en ander mense ook die reg om te lewe gun om die lewe te geniet op hulle manier
- Mense wat sommer kom koffie drink, en nie kwaad is as ek dalk nie tyd het, en dan weer later kom
- Mense wat lekker kan lag, en mense wat lekker vir hulle self ook kan lag
- Mense wat iets moois met my kan en wil deel
- Mense wat die regte ding doen, al is dit soms ten koste van hulle self
- Mense wat my aanvaar ten spyte van al die dinge wat ek hieronder sê wat my irriteer
Wat irriteer my van mense
- Mense wat een of twee vloere met 'n hysbak ry (dié wat nie 'n gesondheidsrede of ander geldige rede het nie)
- Mense wat ongemagtig op parkeerplekke toegewys aan gestremde persone parkeer
- Die 'maar'-woordjie. Mense wat met jou saamstem, en dit dan diskwalifiseer deur te sê "..., maar..."
- ...en ook die volgende woordgebruik "Ek hoor wat jy sê, maar ...". Hulle moet eerder ophou "hoor" en verkieslik begin om bietjie te "luister".
- Mense wat ander mense gereeld in die rede val, en sommer die sin namens die ander een voltooi. Eintlik moet hulle seker baie slim wees, want hulle kan dan gedagtes lees.
- Mense wat iets vir my stuur wat lyk asof dit spesiaal en persoonlik vir my bedoel is, maar geen moeite doen om die spore van die ander vyfhonderd wat dit ook so onpersoonlik gekry het, uit te vee nie.
- Mense wat my met 'n mooi boodskappie dreig - "as jy nie hierdie boodskap binne ses minute na dertien ander mense toe aanstuur nie, gaan ..."
- Mense wat swak omgaan met dit waarvoor ons die derde-liefste moet wees - ons moedertaal.
- Intellektuele snobs - Mense wat dink hulle doen die regte ding omdat ander dink dit is die regte ding, al hou hulle nie daarvan nie of nie kan bekostig nie (soos in musiek, rooiwyn, boeke, kuns, woonbuurt, ensovoorts)
- Mense wie se persoonlik verander sodra hy of sy agter 'n motor se stuurwiel inklim (veral sekere tipes karre...)
- Mense wat nooit, maar nooit verkeerd is nie - en nooit sal erken dat hulle 'n fout gemaak het nie
- Mense wat nie kan vergewe nie - wat altyd 'n wrok dra teenoor iemand of iets
- Mense wat altyd dink die lewe of die gemeenskap of wêreld of die werk of die familie of wie ook al, skuld hulle iets
- Mense wat rook waar hulle nie mag rook nie. Eintlik, mense wat rook.
- Mense wat iets misbruik ; dit sluit in : drank, verdowingsmiddels, vriendskap, Godsdiens, hulp, geld, mag, posisie, vryheid, kinders, ou mense, diere, ...
- Mense wat sê "...om die waarheid te sê, ...". Ek wonder dan altyd of dit wat hulle nou net gesê het, dan alles leuens was !