Google Web Kuiergat

This page is powered by Blogger. Isn't yours?

My status

Enige terugvoer, kommentaar, kritiek, of net 'n boodskap is baie welkom. Skryf gerus vir my ; muisdruk hier Johann van Staden

Online dictionary at www.Answers.com

Tell me about:

Sunday, August 26, 2007

 

Die Otter : 2 - Uiteindelik, op pad

Na al die beplanning, koop van allerhande eetgoed, energiestafies, lekkers, toerusting en klere, breek die dag uiteindelik aan. Laatmiddag Dinsdag 8 Augustus, en ons vertrek Parys toe om by die res van die groep aan te sluit.

Dis nou die Parys wat nie ’n Eiffel-toring het nie.

Nadat almal mekaar so ietwat onderlangs beloer het en ons gesien het dat hierdie span die potensiaal het om ’n SPAN te word, en mekaar se rugsakke getoets het en ons besef dat almal “oorgewig” is, trakteer die gasvrye Tacey en Wynn ons met heerlike tuisgemaakte groentesop. Uiteindelik is almal ietwat onwillig kamers toe om ’n paar uur rus in te kry voor die groot trek Stormsrivier toe.

So net na 03:00 Woensdag-oggend is almal weer op en wakker, gesiggies gewas, blinkogies en hare gekam (die wat wel hare het om te kam), en opgewonde oor wat vir ons voorlê die volgende paar dae. Het ons maar geweet...

Die konvooi, bestaande uit drie voertuie en ’n sleepwa, met die elf opgewonde stappers, vat die pad so teen 04:00. Nog steeds pikdonker en bitter koud, maar binne in die motors is dit lekker warm en almal bespreek die Otter en gebruik die geleentheid om hulle medestapper-passasiers te leer ken.

Na ’n lekker Wimpy-ontbyt, ’n paar padstoppe, en ’n pasteie middag-ete so ent van Port Elizabeth af, arriveer ons uiteindelik laatmiddag by die pragtige Stormsrivier. Met die formaliteite afgehandel by die kantoor en die chalets se sleutels in hand, moet die finale uitpakkery en herpakkery van rugsakke aangepak word.

Een lid van die groep voel egter ietwat onlekker, en almal is bekommerd oor ons medestapper. Medisynes word uitgegrawe en rate word voorgestel, en later lyk dinge ietwat beter. Intussen word die braaivleisvuur gebou, maar die inhoudelike van die rugsakke bly nog steeds ’n prioriteit. Onder die dekmantel van vriendelikheid en vrygewigheid word lekkers, droë vrugte en nog meer van een bekommerde aan ’n ander ewe bekommerde geskenk ; dit alles in dringende pogings om die individuele rugsakke ligter te maak.

Onder die skoonheid en ‘n byna gewyde atmosfeer van die Oos-Kaapse sonsondergang en in aansig van die brekende golwe teen die strandrotse geniet ons aandete van braaivleis, broodrolletjies en groentepogings, raak ons stiller en kom uiteindelik tot ruste.

Almal met hulle eie gedagtes oor wat die volgende vyf dae vir ons inhou.

Comments> Post a Comment

<< Home