Google Web Kuiergat

This page is powered by Blogger. Isn't yours?

My status

Enige terugvoer, kommentaar, kritiek, of net 'n boodskap is baie welkom. Skryf gerus vir my ; muisdruk hier Johann van Staden

Online dictionary at www.Answers.com

Tell me about:

Saturday, April 01, 2006

 

Het ek gewen of nie ?

Ek is ontsteld. Rumoerig is nie die woord nie ! Toe ek gistermiddag by die huis kom, lê daar in my posbus 'n kennisgewing dat daar 'n versekerde dokument by die Deutsche Post agentskap in Neuhausen, waar ek bly, vir my is. Ek is toe wel vroeg by die werk weg, aangesien ek ietwat verkouerig is, en nog 'n draai by die apteek op pad huis toe wou maak. Dus kon ek toe nog by die agentskap uitkom om die ding te gaan haal.

Maar laat ek eerder die storie by die begin begin. 'n Paar weke gelede was hier 'n fees in my 'village', die sogenaamde 'Faschen Karnaval'. Ek en Annatjie besoek die straat-optogte, en eerstens gebeur iets interessants. Terwyl ons op die sypaadjie loop, kom 'n vrou getooi in die klere van een of ander heks uit die Middeleeue en dring by my aan om toeskouerkaartjies te koop. Eers wil ek nie, want ek gaan mos eintlik nêrens heen om 'n vertoning te sien nie, maar die heksvrou dring daarop aan, en dit lyk toe asof dit nou maar so gedoen moet word. As jy vir die optog in die straat wil kyk, moet jy maar 'n kaartjie koop. Toe moet ek twee koop - vir my en Annatjie.

Hier staan ons in die koue en sneeu vir so net meer as twee ure en kyk na die groepe hekse en narre en optogte en dinge - mens wil mos darem waarde vir jou geld kry ! Op pad terug, word ek weer gekonfronteer met nog so iemand wat lyk asof sy my geld wil hê. Toe dog ek eers, nou moet mens seker betaal om op te hou kyk en loop ook ! Maar toe nie - gelukkig nie. Ongelukkig praat hierdie dametjie redelike goeie Engels, en sy verduidelik dat sy een of ander organisasie wat fondse insamel vir natuurrrampe verteenwoordig, en as ek 'n donasie maak en die vraag beantwoord, ek 'n kans het om een of ander prys te wen. Om haar van my rug af te kry, stem ek maar in om 'n klein donasie te maak. Sy is toe baie bly, en ek moet eers my inligting op 'n vorm skryf. Ek weet in elk geval nie wat die naam van Stuttgart se sokkerspan is nie, maar sy is toe heel gewillig om dit namens my op die papier te skryf. Ek moet maar haar woord daarvoor vat. Dit gedoen, haal ek maar 'n paar Euro uit my sak, en gee vir haar. Ongelukkig werk dit toe nie so nie, en die donasie-bedrag is nie onderhandelbaar nie. Vyftig Euro later, en ek kan maar huis toe gaan. Vyftig Euro is byna R 400 !

Nou ja, ek het toe maar die finansiële skok probeer verwerk - tot gisteraand. Toe ek die brief kry. By Deutsche Post moes ek myself identifiseer voordat hulle die pakket aan my gee. Nadat hierdie groterige Swabiese tannie my paspoort erg beloer het, en gewonder het hoekom ek nie 'n baard het nie, wat die paspoort-foto het een (altans, dit is wat ek vermoed sy bevraagteken het), gee sy die koevert vir my.

By die woonstel gekom, maak ek die ding oop, en dit is duidelik dat ek iets gewen het. So woord vir woord probeer ek die ding vertaal-verstaan, en uiteindelik verstaan ek genoeg om te sien dat ek die wenner van die eerste prys is. Wat 'n Porsche Cayman S is ! In my opinie die lelikste Porsche wat daar is - selfs leliker as die Porsche Boxster. Maar, 'n Porsche is 'n Porsche, en as dit myne is, sal hy (sy !) mooi wees. Wil darem ook nou nie 'n gegewe perd in die bek kyk nie !

Daar is toe 'n nommer wat ek moet bel, en na gesukkel om iemand aan die ander kant te kry wat effens Engels kan praat, gebeur die volgende. Hulle soek my Duitse identiteitsnommer. Toe ek sê dat ek nie 'n Duitse burger is nie, word gesê dat ek dan nie die prys kan ontvang nie, want dit is slegs geldig vir Duitse burgers of Duitse paspoorthouers. Maar daardie hekse-tannie het nie dit vir my gesê nie, en sy het geweet ek is nie 'n Duitser nie. En my geld heel gewillig gevat. Nou wil ek my Porsche mos hê !

Watter raad het julle vir my ? Ek dink ek behoort 'n groot geraas hieroor te maak. Of moet ek daarop aandring om my vyftig EURO terug te kry ?

Ek wil-wil opgewonde raak, maar ook nie voordat dinge uitgesorteer is nie.

Alle raad sal waardeer word.

Mens moet versigtig wees wat jy glo op die eerste April.
Hierdie was so bietjie guitige April-gekkigheid. 'n Bietjie beentrek en spot.
Dankie vir al die raad en opinies wat ek gekry het. In my drome wen ek 'n Porsche . . .

Comments>
Ek hoop jy kom reg om die Porche te kry. Dit sal beslis met die die finansieele skok van die 50 Euro help.
Wanneer kom julle 'n bietjie vir ons in Denemarke kuier?
 
Ja, grapjas! Ek dog jy kom nou die naweek by ons spog met jou nuwe tjorrie!
Ek is ook lekker gevang! :-)
 
Ek en my gesin ry Klerksdorp toe vir die naweek en ek verkort die pad deur vir Daleen te vertyel oor jou tragiese wedervaring met die groot prys! Sy kry jou toe verskriklik jammer en toe ek die verhaal beeindig deur vir haar te se dit is gepubliseer op 1/4 het sy gedink jy was baie oorspronklik. Die pad was darem bietjie korter weens jou humorsin!! Groete, Gert
 
Post a Comment

<< Home