Google Web Kuiergat

This page is powered by Blogger. Isn't yours?

My status

Enige terugvoer, kommentaar, kritiek, of net 'n boodskap is baie welkom. Skryf gerus vir my ; muisdruk hier Johann van Staden

Online dictionary at www.Answers.com

Tell me about:

Sunday, March 19, 2006

 

My Skoonouers

Ek is so bevoorreg...

...om Skoonouers (ouers) te hê soos Alwyn en Sarah du Plessis.

Die twee besondere mense het my meer as ses-en-twintig jaar gelede in hulle huis en harte verwelkom, met absolute, ongekwalifiseerde liefde. Ek het nog nooit soos 'n skoonseun by hulle gevoel nie, en ek verstaan al die skoonma-grappies slegs vanuit 'n akademiese perspektief ; ek en my familietjie het nog nooit enige inmenging of kritiek van my Skoonma aan die lyf gevoel nie.

My Skoonpa het baie jare gelede al afgetree, maar hy het nog nooit opgehou om te werk nie. En ek bedoel nie aftree-werkies soos om die tuin nat te spuit en alles en almal te kritiseer nie. Ja, dit doen hy ook baie goed - sy tuin in Pretoria is 'n lushof ; en ook om kritiek te lewer oor amper alles, en krities te staan oor dinge. Sterk van opinie is hy wel, maar so ook gekwalifiseerd in sy opinies. Op tegniese vlak en om goed te maak en om goed reg te maak ken ek nie sy gelyke nie. Ek ken of weet van niemand wat nie eers naby so goed soos hy is in die opsig nie. As dit stukkend is, sal hy dit regmaak. As dit nie stukkend is nie, maak hy dat dit beter werk. Hy, aan die hoof van sy familie, en saam met skoonma, het met ontelbare opofferings oor baie jare seker gemaak dat Annatjie vandag kan loop, en na meer as sewentig operasies en God se genade het sy die lewe al lopende aangepak.

My Skoonma, soos 'n skaduwee in die agtergrond, sterk soos 'n rots wat alles feil het vir die mense wat sy lief het. Vyf kinders het sy groot gemaak, en 'n groot rol gespeel in die grootmaak en opvoeding van baie ander, en selfs jare nadat almal uit die huis uit is, kook sy vandag nog asof almal, en nog 'n paar, gaan opdaag vir ete. Daar is verseker baie Moeders wat hulle alles, hulle absolute self, ter wille van hulle kinders en familie opgeoffer het, en die stuur ferm in die agtergrond vasgehou het. Hierdie Skoonma van my staan voor in daardie ry.

Hulle liefde vir hulle God, vir mekaar, en vir hulle kinders, is 'n voorbeeld vir my, en kan vir baie ander 'n voorbeeld wees.

Die twee oumense het 'n klomp jare gelede vir Alwyn, ons seun wat gestrem is in vele opsigte, met groot en eerlike liefde aan huis geneem en daagliks versorg terwyl hy 'n leerder in Prinshof Skool was. Alwyn was daardie tyd al totaal loopgestrem, rolstoelgebonde, en het verskeie mediese probleme gehad ; en het dus baie persoonlike sorg nodig gehad. Ek besef miskien vandag net 'n bietjie van wat hulle vir ons gedoen het - toe ek en Annatjie jonk (nou goed dan, jonger) was, en ek ter wille van my loopbaan met die familie Oos-Londen toe verhuis het. Toe het Pa Alwyn en Ma Sarah totale verantwoordelikheid vir Alwyn geneem. Absolute, onbaatsugtige liefde - prakties uitgeleef, met die geloof dat hulle dit sal doen met die genade en krag van die Hemelse Vader.

Toe ek met Annatjie getrou het, en ek onmiddelik 'n kitsfamilie bygekry het, het ons twee gereeld baie dom dinge gedoen. Ons is egter nooit deur die twee mense gekritiseer nie, en was altyd verseker van hulle onvoorwaardelike ondersteuning. Die twee ou mense het ons deur die jare, tot vandag toe, bygestaan en waar nodig, gehelp. Ek kan met alle eerlikheid en dankbaarheid sê dat 'n bak sop of tuisgemaakte frikkadelle daardie jare gereeld net op die regte tyd gegee is, omdat Ma Sarah "vandag weer te veel gekook het".

Hulle is nie volmaak nie. Maar ek wil hulle nie anders hê nie. Hulle is wat hulle is. Hulle is die sout van die aarde. Dit is my voorreg om in hulle skadu te kan wees.

Twee spesiale, besondere mense, wat God met goeie rede in my lewe laat kom het. Skoonouers duisend !

Comments> Post a Comment

<< Home