Google Web Kuiergat

This page is powered by Blogger. Isn't yours?

My status

Enige terugvoer, kommentaar, kritiek, of net 'n boodskap is baie welkom. Skryf gerus vir my ; muisdruk hier Johann van Staden

Online dictionary at www.Answers.com

Tell me about:

Wednesday, January 25, 2006

 

Doopname

Wie weet wie Leslie Hornby is ?

Wat dink julle van tradisionele name ? 'n Ou gewoonte was mos om familiename te gebruik. Die eersgeborene seun moes mos Oupa se name kry, anders erf hy dalk nie die familie-plaas nie. Die eerste dogter moes mos ma-kant se Moeder se name (al vier !) kry, en net om nie moeilikheid in die familie te veroorsaak nie, gee sommer vir die arme kind Ouma aan vaderskant se name ook. As dit Oupa aan moederskant is wie die erfplaas het, kry die kleine babatjie sommer Oupa se vier name en sy van as toegif, om deur die lewe te gaan as Jakobus Hendrik Petrus Wilhelm Pretorius van Staden, en as Mamma sterk genoeg voel oor haar eie nooiensvan word dit sommer maklik Jakobus Hendrik Petrus Wilhelm Pretorius Fourie van Staden.

En toe die eersgeborene seun eintlik 'n eersgeborene dogter is, was die risiko om die erfplaas te verloor teen 'n ander verlangse opportunistiese nefie te groot. Daarom het ons waarskynlik 'n hele paar Gertruida's, Hendrika's, Willemien's, Jakomiena's en Johanna's op die koop toe.
Groot nasionale gebeurtenisse het ook hulle slagoffers gehad. Dink maar aan die arme Eufesia's wat met die naam blymoedig die nuwe eeu ingeswoeg het. Ek het al gehoor van Ossewania, maar nog nooit die voorreg gehad om een te ontmoet nie...

Vroër jare was dit mos baie gewild om kinders na bekende mense of fiksie-karakters te noem. Daar is hoeveel Conrad Brand Smit's, Marius Hugo de Klerk's, en ek is seker 'n hele paar Mark Condor van der Merwe's wat waarskynlik geen idee het hoekom hy nie doodgewoon Piet, Klaas, Johan of Gert heet nie. Hopelik het dit nie by Ruiter in Swart Poggenpoel gaan draai nie.

Baie pappies en mammies het hulle geroepe gevoel om name uit die Groot Boek te gaan haal. So het ons dan vir Gabriël, Petrus, Johannes, Markus, Daniel, Adam en Mattewis ook by ons. En vir Maria, Magdalena en Eva.

En dan die mooie blommenaampies. Ons het mos vir Jessamine, Myrtle, Rose, Iris, Hyacinth, Lilly, Petunia, Hazel, Angelica, Flower, Daffodil (ek is ernstig !), Holly, en nog soveel meer.

Toe word ons mos 'smart', en die doodgoeie boerename tel nou nie meer nie. Nou ry Cedric van Tonder, Florence du Preez, Winston de Bruin, Ceasar Venter en Millicent de Kock die wêreld vol met hulle 4x4's.

Mens wonder of Betty Joan Perske so beroemd soos Lauren Bacall, John Henry Deutschendorf so beroemd soos John_Denver, Wynette Pugh so beroemd soos Tammy Wynette, Stevland Morris so beroemd soos Stevie Wonder, en Harry Rodger Webb so beroemd soos Cliff Richard sou geword het.

Die meeste mense onthou vir Twiggy, 'n bekende model en filmster. Sy het die wêreld binnegekom as Leslie Hornby.

Dan kan mens praat oor byname, maar dit is dalk 'n storie vir 'n ander keer.

Comments>
Ja, Johann, baie interessante skrywe van jou! Ek sit nou sommer en dink aan daai liedjie: Daar onder in die vlei stap 'n mannetjie... met dan as laaste reël in die laaste vers: Jan Donderdag Van Gorrelberg Van Staden en daarby Kasparis Parkeet - ek het nog altyd gelag oor al die name van die arme kind! Die name vir die arme kind wat hulle oorweeg het, laat my nou sommer weer van vooraf giggel.
So dankbaar is ek dat my ouers vir my vernoem het na my twee wonderlike ouma's: Cornelia (ouma van my moederskant) Magdalena (ouma van my vaderskant) - twee merkwaardige vrouens en hoe trots is ek nie om hierdie twee vrouens se name te mag dra! My kinders het ook almal familie name gekry - die oudste seun dra sy oupa aan Vaderskant se name, my dogter dra my ma se name en my jongste seun dra my pa se name.
 
Post a Comment

<< Home