Google Web Kuiergat

This page is powered by Blogger. Isn't yours?

My status

Enige terugvoer, kommentaar, kritiek, of net 'n boodskap is baie welkom. Skryf gerus vir my ; muisdruk hier Johann van Staden

Online dictionary at www.Answers.com

Tell me about:

Sunday, October 30, 2005

 

Ons besoek aan Nederland

Ek en Annatjie het verlede week op die ingewing van die oomblik besluit om vinnig 'n draai in Nederland te maak. Vroeg Maandag-oggend (24.10.2005) vat ons die pad, en ons beplan om onder andere by Dehlia Korten in Eibergen (die "Pampoentannie"), 'n draai te maak. Sy en haar man Jan boer in die omgewing, met Dehlia wat 'n boerdery-winkeltjie het wat hoofsaaklik met pampoene te doen het. Dehlia is 'n pragtige gasvrye mens wat, nadat ons lekker koffie by haar gedrink het, ons na die naaste kaasfabriek vir 'n toer geneem het. Die plaas het ongeveer 65 koeie, en die fabriek produseer 'n verskeidenheid van kase. Ons het uiteraard geproe, na 'n interessante video gekyk, en toe die produksie-area besoek. Baie interessant, en sterk aan te bevole vir besoekers.

Daarvandaan het ek en Annatjie in die rigting van Amsterdam gery, en uiteindelik in Hilversum ge-eindig. Ek onthou dat Riaan Cruywagen baie jare terug hier in Hilversum gebaseer was en met Radio Suid-Afrika van hier uitgesaai het. Hy het altyd interessante dinge te vertel gehad oor die Hollandse lewensstyl en feeste, en nooit gedink dat ek ooit self my voete in Hilversum sou sit nie.

Blyplek in Nederland was nogal 'n storie. Alhoewel ek gewoonlik huiswerk doen oor die areas waar ek besoek wil aflê, maak ek selde vaste besprekings vooraf, omdat ek so onafhanklik as moontlik wil wees as ek rondry. Nou ja, as jy wil gebruik maak van bed-en-ontbyt-fasiliteite in Nederland, is so 'n strategie nie 'n goeie opsie nie. Met my lys van moontlike blyplekke en die navigasiestelsel in my motor, klop ek aan by byna elkeen, maar dit is duidelik dat mens by hierdie B-en-B's vooraf moet bespreek. In die meeste gevalle word slaapplek by gewone huisgesinne voorsien, en jy kry 'n kamer, maar deel gewoonlik die badkamerfasiliteite met die familie. Sonder 'n vooraf-bespreking word ons toe weggewys by al die plekke, en moet ons toe uiteindelik slaapplek in hotelle opsoek - uiteraard 'n duurder opsie, maar is darem verseker beter as om agter in die stasiewa te probeer slaap (!).

Interessant ook is dat baie restaurante en eetplekke Maandag as 'n 'rusdag' beskou en glad nie oop is vir besigheid nie. Baie ander plekke wat wel oop is, maak toe tussen middag-ete en laat-middag voor aandete. Ek weet nou wel nie of dit oral so is nie, maar in die plattelandse omgewing waar ons Maandag-middag en Dinsdag-middag was, was dit ons ervaring.

Ons besoek in Amsterdam by 'n vlooimark eindig ook effens duurder as beplan, met komplimente van die verkeersdepartement van die stad. Omdat ek 'onwettig' parkeer, word ek deur middel van 'n blou kennisgewing op my ruit by die terugkomslag ingelig dat die voorreg om daar te staan my 'n pynlike boete van EURO 45,00 op die hals gehaal het.

Alles in ag genome, het ons Nederland geniet. Ek sal graag weer in die toekoms daarheen wil gaan, en bietjie langer kuier, om meer te sien en besoek en te ervaar. Die amper-drie dae was net nie lank genoeg nie.

Op pad terug Duitsland toe stop ons toe in Cologne (Köln) om die beroemde Katedraal te besigtig. Hierdie is een van die mees indrukwekkendste katedrale wat ek nog gesien het. Dit is ook die toeriste-aantreklikheid was dit meeste in Duitsland besoek word. Gaan kyk gerus by die skakels vir meer inligting.

Comments>
Interessant om van al jou wedervarings en al die interessante plekke te lees. Ek geniet al die skakels wat jy insit. Dit maak die lees net daardie ekstra moeite werd. Ek sal graag van die Deense skakels wil insit maar 99% is net in Deens.

Met ons vakansies in Nederland het ons elke keer gekamp. Ons het ook elke keer bespreek. Kamp in Nederland is baie duurder as in Duitsland.

Ek is ook nuuskierig oor al die pampoenkoekie resepte wat jy het. Ons verlang na ordentlike pampoene hier in Denemarke. Al wat ons basies kry is die haloween pampoene en hulle smaak meer na water.

Pampoen is nou nie iets wat die Dene eet nie. Hulle geniet dit wel as ons dit maak.

Groetnis uit 'n nat Denemarke
 
Post a Comment

<< Home