Google Web Kuiergat

This page is powered by Blogger. Isn't yours?

My status

Enige terugvoer, kommentaar, kritiek, of net 'n boodskap is baie welkom. Skryf gerus vir my ; muisdruk hier Johann van Staden

Online dictionary at www.Answers.com

Tell me about:

Wednesday, March 15, 2006

 

Ek is trots op my Pa en my Ma

Klein waardering vir Hendrik en Marah van Staden.

My Pa word 76 hierdie jaar, maar hy het verlede Sondag (12 Maart 2006) alleen, tussen en saam met ongeveer 38,000 fietsryers, sy vyfde ARGUS klaargery. Dit was ook sy beste tyd hierdie jaar. Ek gee nie om dat een of ander Duitser dit gewen het in onder drie ure nie. My Pa se onder die sewe ure is 'n persoonlike sege ; 'n spesiale oorwinning.

My Pa ly aan kanker. Dit is nou wel nie een van die groot K, gevaarlikes nie, maar dit bly kanker. Dit bly tog in mens se kop. Ten spyte van hierdie dinge, oefen my Pa aanmekaar in die Warmbad (Bela Bela) omgewing, met baie opofferings. Vroeg-oggend deur die stowwerige plaaspaaie met die kar, fiets agterop gelaai, om op die teerpad te kom om sy oefening in te kry. So warm soos wat dit daar word, is hy gedissiplineerd om fiks te bly. In die koue, dwarsdeur die jaar ry hy, want hy wil die Argus (weer) doen.

En my Ma, sy ondersteun hom in stilte, gaan sit baie langs die pad as hy 'n wedren iewers doen. Sy bekommer haar oor hom - veral wanneer hy so gereeld die laaste fietsryer is wat inkom. Maar trap sal hy - sal nie op 'n bakkie klim om maar teruggeneem te word nie. Baie keer kry hy nie eers 'n medalje nie, want daar was te min medaljes. Maar die medalje is nie belangrik nie.

Dit het my nou bietjie laat dink . . .

My Ouers - hulle het sewe seuns grootgemaak. Hulle het sewe seuns goed grootgemaak. Onder moeilike omstandighede, met Pa wat 'n staatsdiens-salaris verdien, en Ma wat kinders grootmaak. Ouers wat bitter baie opgeoffer het - dinge en selfs basiese noodsaaklikhede hulle-self ontsĂȘ om die seuns spesiale dinge te laat doen. Ons is nooit die voorreg weerhou om 'n skoolkamp by te woon nie, of betrokke te wees met sport-aktiwiteite, of watter belangstellings ons gehad het nie. Hulle het ons met vakansie geneem - en daar was altyd die spesiale ekstras. 'n Roomys hier, 'n lekker daar. Luukses het ons wel nie geken nie - maar dit wat ons nodig gehad het, en nog meer - dit het Hendrik en Marah van Staden vir hulle seuns gegee.

Ons sal nooit regtig weet wat se opofferings hulle gemaak het nie. Ons sal nooit weet waarsonder hulle moes bly en klaarkom nie, om ons op daardie kerkkamp, of Landsdienskamp, of dalk selfs met vakansie te neem nie. Ons kan maar net dankbaar wees daarvoor.


Ek is trots op my Pa en my Ma.

Ek salueer julle ! Met trots !

Comments> Post a Comment

<< Home