Google Web Kuiergat

This page is powered by Blogger. Isn't yours?

My status

Enige terugvoer, kommentaar, kritiek, of net 'n boodskap is baie welkom. Skryf gerus vir my ; muisdruk hier Johann van Staden

Online dictionary at www.Answers.com

Tell me about:

Friday, March 17, 2006

 

Mansdinge - vir 'n spesiale meisie


Hierdie is sommer 'n Vrydag-storie - 'n waar storie !

Ek het al in die verlede gekla dat ek en die toedraai van geskenke nie lekker saamwerk nie. Nou ja, ek word uitgenooi na 'n baie spesiale meisie se verjaardag, en dit beteken uiteraard weer 'n klomp probleme. Eerstens moet 'n geskenk gekoop word, en dan waarskynlik toegedraai word (ek vergeet altyd om in die winkel te vra dat hulle dit toedraai). Het ek gesê dat ek ook nie goed is met geskenke koop nie ?

So gebeur dit toe dat ek Woensdag-middag na werk winkelsentrum toe is. Ek moet ook noem dat ek probeer uitvind by iemand na aan die meisie watter tipe geskenk waardeer sou word. Gewapen met die inligting voel ek dat hierdie koopskermutseling makliker as voriges behoort te wees. Was ek verkeerd - mense, ek loop vir byna drie ure deur al wat moontlike winkel is om 'n gepaste geskenk te kry - maar geen sukses. Plaas het ek maar liewer nie gevra wat sy graag wil hê nie, dan het ek tog sekerlik makliker iets kon kry !

Gister besef ek dat ek nou vinnig iets sal moet kry - vanaand is die ete-afspraak, en ek kan mos nie met niks by 'n spesiale meisie kom nie ! So teen etenstyd sluip ek uit die kantoor uit - hier is darem 'n klomp winkels naby, en ek weet daar is ook 'n spesialis-winkel in die kompleks. Hopelik sal ek daar regkom. Met my beursie in die hand (kredietkaart en kontantkaart ook, net vir ingeval), mik ek maar vir die spesialis-winkel ; dit is darem etenstyd en ek het verseker nou nie die luuksheid van drie ure om niks te koop nie. In die winkel word ek oorweldig deur rakke en uitstallings van dosyne, honderde, duisende - nee, miljoene goeters wat my intimiderend aangluur uit hulle bokse en stanings en wat nog. My broek bewe letterlik - ek was in jare der jare nie in so winkel nie - ten minste nie alleen nie. En om my behoefte in my Afrikaanse-Engelse-Duits te verduidelik aan iemand wat net Swabiese Duits praat is moeliker as om WvMV in Irak te vind ; en julle almal ken daardie storie ! So ek is dus op myself aangewese. Ek brom nog oor vroumense wat mans se lewe... kom ons los dit maar eerder daar.

Uiteindelik het ek 'n paar goeters op die kortlys - ten minste een wat relatief aan die 'aanbeveling' se voorskrifte voldoen, en 'n paar ander wat nader aan my finansiële vermoëns voldoen. Die keuse was nie maklik nie, maar uiteindelik oorwin die geskenk wat ten minste aan die aanbevole kriteria voldoen. Ek betaal vinnig, voordat my kontantkaart agterkom wat aan die gebeur is, en draf terug kantoor nie.

Hier aangekom, vind ek tot my uiterste skok uit dat ek vergeet het om die ding te laat toedraai. Erger nog, my sekretaresse is met verlof, so weereens is ek op myself aangewese. Gelukkig het ek nog geskenkpapier in my kas - oorblyfsels van verlede jaar se Kersfeespapier wat gelukkig toe nie Kersfeespapier was nie. Toe is dit ek en die geskenk en die geskenkpapier en die skêr en 'n rolletjie kleeflint. Gelukkig is dit 'n vol rol, en daar is baie papier - en die skêr is skerp.

Nou rol ek die papier uit op my vergaderingstafel - my lessenaar is uiteraard te deurmekaar, en meet mooi om die ding netjies (!) toe te draai. Sny die papier 'n ent na die ooste, en toe na die noorde. Toe vind ek uit die papier het gekrimp - of die geskenk het skielik groter geword. Daar is nou te min papier om die hele ding mee toe te draai. Vou die nou maar die papier om die ding, en plak met kleeflint vas. Baie kleeflint. Sny nog 'n stuk papier om die ontblote deel van die geskenk mee toe te maak, en nog kleeflint. Gelukkig was dit 'n vol rol, maar nou is die rol amper halfpad opgebruik. Dit beteken darem seker dat die papier nie sal afval van die geskenk af nie - hopelik ! Verder kan ek ook nie verstaan hoekom hulle nie alles mooi in vierkantige boksies wil verpak nie - dit sal die toedraai darem heelwat makliker maak.

Die ding is toegedraai ! Heeltemal toegedraai. Nie mooi toegedraai nie, maar goed toegedraai.

En ek is betyds klaar ! Sal darem nie laat vir ete en koek wees nie.

Chané se ma Mari het gevra dat ek 'n geskenk koop met liggies, want Chané hou van liggies en goed wat raas. Chané was bly oor die geskenk. Maar die vierjarige ouboet Diwan was blyer - hy hou toe meer van die geskenk. Ongelukkig kom ek toe agter dat op die boks staan groot geskryf : "2 Jahr +". Chané was gister een jaar oud.

Maar ons het lekker ge-eet, en die koek was ook lekker. Nadat Chané die een kers amper doodgeblaas het, en nadat sy haar hande en vingers deur die versiersuiker getrek het. Maar sy mag maar.

Chané het lekker verjaar !

Comments>
Hierdie was die begin van 'n bouproses vir die spesiale meisie. Die bou van herinneringe met elke verjaardag wat verbygaan.

Ek het vroeg reeds besluit dat my kinders hulle verjaarsdagpatytjies lank! nog sal onthou. Die partytjie wat ek die meeste geniet het om te reël was 'n Seerowerpartytjie. Die uitnodiging het gelees dat die kaptein van die skip alle seerowers uitnooi(nee verplig) om sy verlore skatte saam met hom te gaan soek. Die uitnodigings is op 'n A4 uitgedruk, en daarna besprinkel met 'n flou mengsel koffie. Die rante van ele A4 is gebrand sodat die uitnodiging baie oud moes lyk. Vir iemand wat nou nie gereëld 'n aansteker gebruik nie, was die proses nogal 'n gedoente. Die einaardige reuk wat ek geruik het, blyk toe my eie duimnael te wees.'n Kers is toe uit die kas gehaal en die proses het toe glad verloop. Elke uitnodiging is opgerol en in 'n botteltjie met bietjie seesand in geplaas, gereed om by die aspirant seerower afgelewer te word.

Bandannas is gemaak en, oogklappe is gekoop. By die huis het ek ewe die oogklappe, bandannas en 'n klomp goudkleurige sjokolades in 'n skoendoos verpak en met 'n groot gesukkel dit in die tuin gaan begrawe. Lekkergoedjuwele en -ringe met yslike suig-diamante op is in 'n ander skoendoos verpak en begrawe. Nou moes ek nog net 'n kaart teken waar die 'skatte' begrawe is.

Ander aktiwiteite wat ek beplan het was kanongevegte, met koerantballe, swaardgevegte met polistreenswaarde en toutrek.

Die verjaardagkoek was 'n sjokoladekoek in die vorm van 'n houtskip met 'n seerowervlag. Ek het myself oortref daardie dag, maar die belangrikste is dat ek nog 'n steen gemessel het in die muur van 'lekker' kinderherinneringe.
 
Post a Comment

<< Home