Tuesday, March 28, 2006
Onverwagse hael-heimwee

Laat gistermiddag, net nadat ek by die woonstel gekom het, raak ek bewus van "iets anders" ; iets buite die normale toedrag van sake. 'n Bekende klank, maar wat tog misplaas is. Vir oomblikke dink ek dat iets elektries dalk die gees gegee het ; maar nee, weliswaar tog nie.
Toe sien ek dit ; hael wat val. Groot korrels soos duif-eiers. Maar dit kan tog nie wees nie ; hael dit in Duitsland. Sneeu ja, reën tog wel, ysreën van tyd tot tyd, mistigheid in die berge, maar hael ? Tog is dit so.
En net toe, soos 'n dief in die nag, neem 'n groot heimwee van my besit. Verlang ek terug na 'n lekker Noord-Transvaalse donderstorm, met al die geraas, die visuele skouspel, en die byklanke wat daarmee saamgaan. Verlang ek selfs na 'n haelstorm - omdat dit heeltemal anders is by die huis as hier in Duitsland.
'n Paar minute later, en die natuur herstel homself tot sy gewone status. Spierwit lê die hael op die gras, en dit het opgehou met reën. Asof dit nooit gebeur het nie. Maar dit het ; en dit het ook aan my hart gevat.