Google Web Kuiergat

This page is powered by Blogger. Isn't yours?

My status

Enige terugvoer, kommentaar, kritiek, of net 'n boodskap is baie welkom. Skryf gerus vir my ; muisdruk hier Johann van Staden

Online dictionary at www.Answers.com

Tell me about:

Friday, May 19, 2006

 

Texas Chilli Boontjies

Een aand vroeër in die week toe ek by die huis kom, en dit raak etenstyd, val ek die yskas aan om te sien watter geleenthede daar is. Ek ontdek toe die oorskiet van 'n vorige Texas pfanne maaltyd van 'n paar dae gelede. Dit was toe amper genoeg vir 'n ete, maar moet darem 'n broodjie of iets bysit.

Net ter verduideliking - die Texas pfanne is 'n mengsel van verskillende soorte boontjies in 'n matigwarme chilli sous. Stereotipe Amerikaanse cowboy-kos. Beskikbaar in Duitsland (ek het nog nooit 'n cowboy in Duitsland gesien nie).

Ek vat toe die Amerikaanse om-te-rooster brood en begin om 'n paar stukkies te rooster. Uiteindelik klaar, soek ek die margarien, met die wete dat daar nog baie is, want ek het mos gesien daar is heelwat houers in die yskas.

Groot fout om sulke onverantwoordelike aannames te maak!

Die eerste bakkie wat ek toe oopmaak, bied aan my gekookte rys. Wel, om dit 'gekookte' te noem, beteken ek gaan effe wydsbeen met die waarheid om. Een of ander tyd was dit wel gekook, en dit is nog steeds pragtig wit, maar so hard en droog soos woestynklippies. Dit lyk toe na die regte ding om dit sommer saam met die Texas chilli-boontjie-poging in die bak te gooi en met mikrogolf-krag aan te val. Dit maak toe die boontjie-ding warmer (wel, as gevolg van 'n swaar hand met Nando's se Extra Hot Chilli Sauce van die vorige ete was dit al klaar kriewelwarm toe dit uit die yskas gekom het). Die rys bied egter ernstige weerstand om sagkens met my om te gaan, en na 'n paar minute se strale-bombardering in die mikrogolf gooi ek tou op.

Nou reik ek weer na die yskas vir margarien vir die roosterbrood. Die volgende margarien-houer wat te voorskyn kom, het wel margarien in. Net genoeg om net-net nie een roosterbrood te smeer nie. Nou vir die volgende bakkie - ek het mos altyd margarien in die yskas.

Teleurgesteld besef ek weereens, na 'n vinnige loer, dat hierdie bakkie slegs koel gehou is in die yskas - want daar is genoeg margarien in om die mes vuil te maak, en niks meer nie.

En toe ek verder soek, moet ek met weemoed aan myself erken dat daar wel geen meer margarien in die yskas is nie. Ek smeer toe een stukkie roosterbrood met grondboontjiebotter - wel, dit is mos botter, soort van. Ek kan egter met vertroue rapporteer dat grondboontjiebotter nie heeltemal suksesvol saam met bousand-rys en Nando's Texas chilli-boontjies gebruik behoort te word nie, en die kombinasie is dus nie aan te bevole nie.

Skielik lyk die yskas besonder leeg. Dit is nogal indrukwekkend hoeveel plek drie margarien-bakkies in die yskas opneem, maar effe neerdrukkend om geen margarien-bakkies in die yskas te hê nie.

Nou wonder ek net hoekom daar twee leë margarienhouers in die yskas was. Daar was ook 'n bottel olywe in die yskas, maar sonder enige olywe in - net een of ander suur asynpoging. Ek wonder daaroor ook...

Comments> Post a Comment

<< Home