Google Web Kuiergat

This page is powered by Blogger. Isn't yours?

My status

Enige terugvoer, kommentaar, kritiek, of net 'n boodskap is baie welkom. Skryf gerus vir my ; muisdruk hier Johann van Staden

Online dictionary at www.Answers.com

Tell me about:

Tuesday, June 06, 2006

 

Uiesop - met 'n verskil !

Gereelde besoekers aan Die Kuiergat weet ek doen soms snaakse dinge in die kombuis. Daar is mos op die stadium niemand behalwe ek wat kan sê dis reg of verkeerd nie, en enige uiters onsuksesvolle pogings naby die stoof, oond of mikrogolfoond kan baie maklik stilletjies en sonder ophef verdwyn.

’n Resep in my boeke is in elk geval net ’n breë riglyn, op die beste van tye. Die waarheid is egter dat ek resepte nie vertrou nie, en ek altyd meer bygooi.

Dit bring my by verlede Sondag-aand se ete, waar ek heel per ongeluk nog 'n johann-poging uitge-innoveer het. Die proses begin met 'n pakkie uiesop (die egte Duitse produk met regte gedroogde uie daarin). Die mengsel saam met die nodige hoeveelheid water lyk toe maar erg miserabel en eensaam in die pot, en ek gooi die beste gedeelte van ’n pak penne rigate pasta by om dit meer blymoedig te laat lyk. Nou begin ek spoed vang, en ondersoek die kruideniersware-kaste vir verdere bykomstighede tot die eetskepping. Uiteraard is kerrie-poeier ’n ou staatmaker en altyd ’n wenner by my, en genoeg van die bekende Suid-Afrikaanse Rajah-poeier word bygevoeg. My oog vang die ander houertjies in die kas, en in my opinie kort daar knoffel-poeier. Nou vir ’n vinnige loer in die yskas, en ’n goeie skeut mosterd, saam met bietjie tamatie-pasta bring bietjie kleur aan die dis-in-wording. Die einde is in sig, maar mens behoort nooit sku te wees vir gemaalde rissies nie, en daarby word sommer 'n goeie gooi onbekende gemengde speserye bygewerk. Die hele gedoente is teen die stadium al lekker prut-pruttend rustend-gemaklik in die pot, en op sig af lyk dit en ruik dit toe al heel lekker.

Omdat mens nooit kos mag maak sonder 'n vleiserige ietsie nie, sny ek nou 'n goeie stuk gerookte varkvleis (amper iets soos spek, maar heelwat dikker) in blokkies, en werk dit toe in. Die finale deelnemer aan die pot word toe ’n paar eetlepels regte-egte PakCo atjar wat ek onlangs by die Suid-Afrikaanse winkel in Nederland gekoop het. Toe los ek die pot om verder pruttend geleerd te raak, en varsbak toe 'n paar broodrolletjies.

Die uiteindelike resultaat was nie ’n sop nie. Wat dit was, sal geen mens weet nie, maar ek kan alle belangstellendes en twyfelaars met absolute oortuiging verseker dat hierdie ge-inspireerde speserye-prutpot saam met varsgebakte broodrolletjies heel lekker en vullend was. Om die waarheid te sê, ek het besonder lekker ge-eet.

En gelukkig was daar genoeg oor vir gister-middag se ete ook.

Nou wonder ek wat gaan vanaand gebeur...

Comments> Post a Comment

<< Home