Google Web Kuiergat

This page is powered by Blogger. Isn't yours?

My status

Enige terugvoer, kommentaar, kritiek, of net 'n boodskap is baie welkom. Skryf gerus vir my ; muisdruk hier Johann van Staden

Online dictionary at www.Answers.com

Tell me about:

Tuesday, August 22, 2006

 

Weißwurst, Brezen en Bier - ontbyt in Bavaria

Ek was bevoorreg om Vrydag-middag en Saterdag (18-19 Augustus 2006) by baie goeie vriende naby Münich te kon kuier. Een van die baie hoogtepunte gedurende die kuier was die tipiese Bavariese ontbyt wat my gasvrou Saterdagoggend voorgesit het. Dit bestaan basies uit sogenaamde Weißwurst, wat saam met soet mosterd, Brezen ('n tradisionele soort broodpoging), en bier ge-eet word. Daar is heelwat tradisies en gebruike wat saamgaan met hierdie ontbyt. Hierdie is een worsie wat jy asseblief nie moet braai nie.

Die Münchense Weißwurst (wit wors) is 'n tipiese tradisionele Bavariese lekkerny. Die wors is heel per ongeluk uitgevind deur 'n jong slagter genaamd Sepp Moser in 1857.

Hy het op "Fasching" Sondag, die 22ste Februarie 1857, in die kombuis van die restaurant "Zum ewigen Licht" langs sy slaghuis gewerk. Ongelukkig het hy die laaste van die dikker derms wat hy gebruik om die gewone wors te maak, opgebruik, en die gaste in die restaurant het gewag vir hulle ete en luidkeels en beswaard hulle ongelukkigheid te kenne gegee.

Om die probleem toe op te los het hy die enigste ander derms wat hy byderhand gehad het, gebruik om die wors mee te stop. Hierdie derms was egter baie dun, en hy was bekommerd dat dit sou bars as hy die wors sou braai. Hy het toe die wors vir tien minute lank in kokende water geplaas om dit gaar te kry.

Toe hy die "Weißwurst" aan die gaste opdis, was daar wel kommentaar, maar nadat hulle die nuwe wit wors geproe het, het die gaste, in plaas van kritiek en ongelukkigheid, hom oorlaai met lofprysinge en gelukwense. Die Münchense beroemde "Weißwurst" is toe gebore.

Die oorspronklike resep en bestanddele, wat tot vandag toe nog gevolg word, bestaan uit maer kalfsvleis, spek, kruie en speserye, die varsheid van 'n suurlemoen, en vars pietersielie.
"Weißwurst" word vars bedien in baie warm water, en behoort volgens tradisie reg ge-eet te word. Die beste manier om die vel te verwyder is om die die worsie in die lengte ligweg te sny - net deur die velletjie, dan die vleis met die vurk binne vas te hou, en dan die vel met die mes af te trek. Die vel word weggegooi en nie ge-eet nie. Die wors word dan met "Brezen" of broodrolletjies en soet tuisgemaakte mosterd saam met bier ge-eet.

'n Brezel is algemeen in Duitsland, veral in die Suidelike streke. Die deeg word in 'n knoopvorm gebak en besprinkel met soutkristalle. Daar is wel verskeie soorte en groottes Brezel beskikbaar.

'n Ander interessante tradisie is dat "Weißwurst" slegs in die oggend (voor middag-ete) ge-eet word. Die gebruik dateer klaarblyklik uit die dae toe daar nog nie yskaste geredelik beskikbaar was nie, en hierdie wors vinnig sleg sou word. Selfs vandag nog is dit ongehoord dat "Weißwurst" later in die dag voorgesit word.

Comments> Post a Comment

<< Home