Google Web Kuiergat

This page is powered by Blogger. Isn't yours?

My status

Enige terugvoer, kommentaar, kritiek, of net 'n boodskap is baie welkom. Skryf gerus vir my ; muisdruk hier Johann van Staden

Online dictionary at www.Answers.com

Tell me about:

Thursday, April 27, 2006

 

'n Hollandse Fiets met 'n Storie

Die dag toe ek en Corlie Utrecht in Nederland besoek het, loop ek 'n interessante fiets raak. 'n Ketting sterk genoeg vir 'n skip se anker maak seker dat hierdie fiets nie dalk per ongeluk deur 'n geinteresseerde verbyganger onteien sal word nie. Die ketting, tesame met 'n slot goed genoeg vir 'n bankkluis, smee die voorwiel, fietsraam en handreling van die brug oor die grag as 'n intieme eenheid saam.

Ooglopend is dit 'n damesfiets, bevestig deur die raam van die vervoermiddel, maar hier in Nederland behoort mens nie sulke gevolgtrekkings ligtelik te maak nie. Ek sou egter met redelike sekerheid kon aanneem dat die eienaar 'n besondere belangstelling in musiek van een of ander aard sal hê, waarskynlik in 'n betrekking staan in die musiek-industrie. Na verdere oorsigtelike ondersoek van die vervoermiddel sou ek kon aflei dat die eienaar waarskynlik nie te jonk is nie, wat die aanname van 'n betrekking in die musiekwêreld dalk kan ondersteun. Die eienaar van die fiets is waarskynlik middeljarig - dalk 'n baba uit die jare sestig, of selfs vroeër as dit. Dit is egter ook duidelik dat die eienaar die fiets hoofsaaklik as 'n middel tot 'n doel gebruik, en nie 'n geswore fietsry-fanatikus is nie. Hierdie afleiding, my liewe vriend, maak ek uit die algemene toestand van die fiets. Vele roesplekke op die raam en toebehore, en veral op die wielnaafvellings, verklap dalk 'n aversie vir goeie onderhoud en gereelde olie.

Nou weet ek, wonder julle teen die tyd, waar kom die musiek-afleidings vandaan.

Mense wat in die 70's of later gebore is, weet waarskynlik nie wat 'n "LP" of 'n "seven single" is nie. Die eienaar van hierdie fiets weet duidelik, en het dalk 'n verlore passie oor vergange se dae. Dalk sluit haar (of sy) musieksmaak "The Midnight Special", of "Rock around the Clock", of "Heartbreak Hotel" in. Elvis, die Beatles, Bill Haley, en Marilyn Monroe was ikone. Woorde soos "ducktails", "bell bottoms", "Brylcream", "La Pebras", hippies, "peace", "make love not war", en Woodstock, bring dalk nostalgie en werklike heimwee. Met haar of sy fiets word vasgeklou aan herinneringe van gister en eergister.

Of dalk behoort die fiets aan 'n dronk student wat die plate by die vlooimark gekoop het, nie weet wat dit is nie, en dit op die wiele vasgesit het om die fiets uit die ander miljoen in Utrecht op die bruggie uit te ken as hy blink gekuier uit die watergat strompel om huis toe ry. Juis 'n damesfiets, omdat dit moeilik is om op 'n mansfiets te klim so laat in die nag, veral as mens dalk besonder moeg is.



Comments>
Kyk Johann, ek het darem ook lekker lag gekry vir die fiets! Jy moet egter sien om te waardeer wat die Nederlanders alles op hierdie einste fietse van hulle karwei! Ek het al gesien hoe 'n persoon 'n tuimeldroër op die agterkant van sy fiets balanseer; ook het ek al gesien hoe 'n mens met 'n strykplank onder jou arm huistoe fiets! Dis ongelooflik! Mamma's wat kinders by die skool gaan haal met hond, baba, inkopies en stootkarre, op en aan die fiets! Ek moet tog 'n bietjie foto's neem en vir jou aanstuur!
Hierdie fiets in die foto, word 'n Ouma fiets genoem - relatief goedkoop - sowat onder twee honderd Euro. Die ander soort fietse kan oploop tot duisende Euro's.
Fietsry is 'n baie algemene verskynsel hier in Nederland. Elke Jan Rap en sy maat het tenminste een fiets!
 
Post a Comment

<< Home