Google Web Kuiergat

This page is powered by Blogger. Isn't yours?

My status

Enige terugvoer, kommentaar, kritiek, of net 'n boodskap is baie welkom. Skryf gerus vir my ; muisdruk hier Johann van Staden

Online dictionary at www.Answers.com

Tell me about:

Wednesday, April 19, 2006

 

Naweek in Nederland

Ek was bevoorreg om die afgelope Paasnaweek by die Bien-familie in Amersfoort, Nederland, te kon kuier. Sonder om enigsins te oordryf, kan ek sê dat dit een van die grootste hoogtepunte van my verblyf van die laaste twintig-maande tot hede in Europa was. Gedurende hierdie tyd was ek wel bevoorreg om heelwat spesiale oomblikke in onder andere Duitsland, Tsjeg Republiek (Praag), Frankryk, Slovakië (Bratislava), en vele ander lande te ervaar. Veel meer bevoorreg was ek ook wanneer Annatjie die geleenthede gehad het en het om vir my kom kuier. Hierdie was en is alles baie spesiaal, en die Bien-kuier ook so.

Amersfoort is ook bekend as die klipstad, as gevolg van 'n weddenskap in 1661 toe 400 mense 'n groot rots in die dorp in gesleep het. Die storie het die inwoners ontstel, en na oorlewering het hulle toe die klip begrawe. Die klip is egter in 1903 weer gevind, en vandag is dit 'n landmerk en monument in die stad.

John en Corlie, saam met hulle oulike spannetjie Cobus, Marieke en Willem, het die naweek uit hulle pad gegaan om vir hierdie Suid-Afrikaner so ver van huis en geliefdes tuis te laat voel en in te sluit in hulle familielewe. Wat dit nog meer spesiaal maak, is dat Corlie al vir 'n jaar sukkel met 'n rugprobleem en in gedurige pyn is. Ten spyte daarvan het ons Amersfoort en Utrecht saam plat geloop. En liewe pragtige Marieke het haar kamer ontruim en by kleinboet Willem ingetrek in die tyd om vir hierdie oom rusplek vir sy kop te gee.

Nie dat daar van rus baie sprake was nie. Meer gereeld as nie het ons gekuier gesels en geluister tot in die klein ure van elke oggend.

Vrydag verken ons Amersfoort, en met Corlie se baie goeie kennis van die geskiedenis van die dorp en omgewing raak dit 'n besondere ekspedisie. Uiteraard word byna al wat 'n tegnologie-winkel en musiek-DVD-winkel is, besoek. Beide die Bien's en hierdie van Staden spandeer onbepland om hulle digitale biblioteke aan te vul. Dit is nou wel ook so dat DVD's relatief goedkoop hier is, dat mens jouself sal skade aandoen as jy nie koop nie (vertel ek myself mos toe). Deurlopend word ook ge-eet en koffie gedrink.

'n Besoek aan die Suid-Afrikaanse winkel bevestig dat jy nie heeltemal afgesluit is en ontdaan van die vleispotte van die tuisland hoef te wees nie. 'n Verskeidenheid Suid-Afrikaanse produkte, insluitende Aero sjokolade, rye biltong, Milo, atjar, Bisto, en natuurlik Mrs. Ball's is geredelik beskikbaar - teen 'n prys.

Mens is tog wel bewus dat Nederland plat is, en dat fietse 'n gewilde vervoermiddel is. Maar as jy dit nie self sien en ervaar nie, is dit moeilik om die konteks en skaal van hierdie fietsry-dinamiek te verstaan. Oral langs die paaie in die stad is honderde fietse staangemaak, om van die stasie nie eers te praat nie. Daar is fietsrybane, en wee jou as jy as voetganger in die fietspad loop. Fietsryers geniet ook voorrang ten opsigte van motorverkeer, en fietsryveiligheid is baie belangrik.

Volgens een bron is daar meer as 19,000 kilometer se fietsry-paaie en bane in Nederland. Gaan kyk gerus hier en hier oor fietsry in Nederland, en alhoewel hierdie webwerf klaarblyklik redelik lanklaas op datum gebring is, bevat dit wel ook interessante inligting. As jy belang stel, is hier en hier interessante inligting oor Nederland.

Ek het ook opgemerk dat in Nederland oor die algemeen die nasionale motorvloot heelwat ouer is as wat ek dit in Duitsland ervaar. Ek vermoed dat dit dalk as gevolg van die feit dat Nederland relatief klein is en binnelands geen groot afstande het nie, en waarskynlik ook omdat daar nie 'n motorvervaardigingsnywerheid ter plaatse is nie. Ander faktore speel sekerlik ook 'n rol.

Saterdag besoek ons Utrecht, en nadat ons weereens eers verskeie winkels besoek het en ete genuttig het in 'n Marokkaanse restaurant (met interessante smake in die kos), en ek geleer het dat sekere algemene Afrikaanse woorde en terme nie in goeie Nederlandse geselskap tuishoort nie, besluit ons om 'n toer per boot deur Utrecht se gragte te doen. Deur die loop van die toer gaan ons onderdeur ongeveer twee-en-twintig brue, en by ten minste een sogenaamde 'boat coffee shop' verby. Wees egter verseker dat daar nie noodwendig of uitsluitlik koffie gedrink word op daardie boot nie. Die gedagte word wel bevestig deur dat ons 'n entjie verder aan verby 'n voormalige tronk vaar, wat nou 'n rehabilitasie-sentrum vir dwelmverslaafdes huisves. Maar dit lyk nog steeds soos 'n tronk . . .

Alhoewel dit vroeg in April ietwat te vroeg vir die beroemde Hollandse blommeseisoen is, is die omgewing wel plek-plek 'n visuele ontploffing van geel blomme. Verskeie blommeverkopers bied palette van blommeprag te koop aan, wat so vroeg in die seisoen waarskynlik van kweekhuise afkomstig is.

Die besoek aan Utrecht word afgesluit deur 'n verposing by die Ostrich African Restaurant op die walle van die Oude Gracht. 'n Verskeidenheid van geregte en drank van Afrika is beskikbaar - welliswaar teen 'n prys. Maar of 'n Hunter's Gold ver in die Noordelike Halfrond 'n winskoop teen byna R 36 per botteltjie is, is waarskynlik debatteerbaar. Wat nie debatteerbaar is nie, is dat dit ongetwyfeld die lekkerste Hunter's Gold was wat ek in my lewe gedrink het. Wat 'n skrikwekkende gedagte om te dink dat 'n kas (24 bottels) meer as R 850 kan kos. Dieselfde geld vir twee dosyn Castle biere.

Twee hoogtepunte Sondag sluit 'n Afrikaanse kerkdiens saam 'n groepie Afrikaanssprekendes in 'n jeugsentrum-gebou in, en later die middag 'n besoek van gemeenskaplike vriende van München, Chris en Jossie Klopper en die seuns, in. Die besoek word gevier deur middag-ete by 'n beroemde pannekoek-restaurant in die omgewing. Ek sal nooit weet 'n pannekoek sien in die lig van 'n kerkbasaar plaatgrote koppie gebakte deeg met suiker en kaneel nie. Die Hollandse weergawe laat ons Suid-Afrikaanse haai-foeitog-pannekoekie ondervoed en mishandel lyk. Die Meksikaanse poging met boontjies wat ek saam met 'n goeie skeut chillipasta verorber het sou 'n rasegte Cowboy met trots in die skemer laat verdwyn het. Afgesluit met 'n goeie Espresso koffie, dink ek nogal dat ek sal kan gewoond raak aan so 'n dieet.

Terug by die huis word verder gekuier, stories vertel, en biltong ge-eet. Ongelukkig moet die Kloppers ons verlaat - hulle het nog 'n klomp kilometers om te ry. Ons kuier egter verder en saam met 'n ietwat rooiwyn van die Suide raak die aand lekker gesellig, en weereens maak die koekkoek in die horlosie net 'n paar kort snorkgeluide toe ons almal kamerwaarts keer.

Maandag-oggend kuier ons rustig, ek met die wete dat 'n goeie seshonderd-plus kilometers nog voorlê voordat ek by die huis sal wees. Vroegmiddag is dit tyd om te groet, en skielik is dit verby. Maar met wonderlike herinneringe van 'n kuier van 'n leeftyd by 'n besondere en baie spesiale familie, pak ek die terugreis na Neuhausen aan. Daar is darem nog 'n stukkie soet in die mond, toe ek vinnig by Jan en Dehlia Korten in Eibergen kan aanry vir 'n koffie. Dehlia bederf my weereens met verskeie produkte van haar winkeltjie en waar sy 'n stalletjie vandag by die boeremark het, en saam met 'n pragtige potplant vir my woonstel, pak ek die 500-kilometer terugtog aan.

Oor die terugtog wil ek nie praat nie, om die goeie herinnering van die naweek nie te bederf nie. Genoeg om te sê dat ek darem met genade en gebede ter ondersteuning so teen 21:30 veilig die woonstel se deur kon oopsluit.

Verdere inligting oor wandelinge, fietsry en bootvaarte deur Utrecht is hier te sien. Spesifieke inligting oor bootvaarte in en om Utrecht is ook hier te vinde.

Comments>
Baie bly dat jy die naweek by ons in Amersfoort geniet het! Ons het dit net soveel geniet om jou hier te kon ontvang! Ons het heerlik gekuier en wat 'n voorreg is dit om sulke spesiale mense te ontmoet deur die internet!
 
Ons was slegs 'n kort rukkie in Amersfoort - maar lank genoeg om vreeslik deur Corlie en Kie bederf te word!

En nou is ek weer lus vir so 'n pannekoek met appel en boerejongens op......
 
Post a Comment

<< Home