Google Web Kuiergat

This page is powered by Blogger. Isn't yours?

My status

Enige terugvoer, kommentaar, kritiek, of net 'n boodskap is baie welkom. Skryf gerus vir my ; muisdruk hier Johann van Staden

Online dictionary at www.Answers.com

Tell me about:

Monday, October 10, 2005

 

Verkopersvertroue in Duitsland

Chris het onlangs melding gemaak van sy ervaring in Denemarke ten opsigte van vertroue in die medemens. Ek deel graag my ervarings van gister in die verband.

Op pad na 'n middag-ete afspraak in Weinstadt besluit ek, die gawe seun wat ek is, om vir my gasvrou blomme te koop (Ek het darem vir die gasheer ook 'n goeie bottel Suid-Afrikaanse Pinotage saamgevat). Op pad tussen die plase deur kom ek af op 'n padstalletjie met verskeie bosse blomme te koop - 'n keur van verskillende soorte teen billike pryse word aangebied. Daar is 'n geldboks in die stalletjie, met 'n aanduiding van 'hoe maak mens'. Geen probleem, kies die blomme wat jy graag wil hê, en gooi die nodige geld in die geldboks. Jy word selfs uitgenooi om as jy te min geld het vir wat jy wil hê, jy maar die tekort by 'n volgende aankoop kan aanvul.

Neem kennis dat daar nie 'n siel naby is om te sien of jy hulle nie verneuk nie. Daar word absoluut en uiteraard op jou integriteit en eerlikheid staatgemaak.

Later die middag, na ete, gaan loop ons deur die wingerde en vrugteboorde. Weereens kom ons op 'n klein stalletjie af, waar vars-gebottelde appelsap te koop aangebied word. Alhoewel dit duidelik is dat baie bottels al verkoop is, is daar nog steeds 'n paar te koop. Weereens nie 'n siel naby nie, maar as jy 'n bottel wil koop, word van jou verwag om een Euro per bottel in die geldkissie te gooi en te vat wat jy gekoop het. Vir enige toekomstige besoekers aan hierdie area, maak seker dat jy so bottel of twee in die hande kry. Dit proe heeltemal anders as die gewone winkel-appelsap.

Gedurende ons wandeling het ons op 'n paar soortgelyke stalletjies afgekom, onder andere ook waar verskeie groentes per bondel lê en wag om gekoop te word.

Die ander interessantheid is dat daar baie wandel-paadjies deur die wingerde is. Jy loop letterlik deur die wingerd waar trosse en trosse ryp druiwe hang, nou net reg om ge-oes te word. Letterlik dosyne wandelgangers loop, maar niemand maak misbruik deur van die druiwe te pluk nie. Dit word net nie gedoen nie ! As jy wil druiwe hê, gaan koop jy dit in die winkel of miskien by 'n vars vrugte stalletjie.

Daar is ook geen heinings of hekke tussen die wingerde, en tussen die plaas-grense van verskillende boere nie se wingerde nie. Hier en daar dui 'n doelgemaakte verfmerk op 'n wingerdpaal die begin van 'n ander boer se wingerd aan.

Vriende, dit is heeltemal 'n ander 'vryheid' en respek vir ander se goed as waaraan ons gewoond is.

Gaan kyk ook gerus in my foto album onder gister se datum vir 'n paar besondere fotos van die wingerde, herfsprag en omgewing.

Comments>
Ja, ek moet beslis met jou saamstem oor die vertroue. In Denemarke koop ons basies al ons groente op die plase in soortgelyke plaas stalletjies en al wat jy moet doen is om jou geld in 'n geldtromeeltjie te gooi.

Ons koop melk by die melkplaas. Jy stap by die melkery in, tap jou melk en betaal vier rand per liter vir heerlike vars melk. Jy sit jou geld oop op 'n tafel neer sonder om 'n enkele mens te sien. Dit is heel goedkoop.

Ek sluit byvoorbeeld selde my voertuig en al my gereedskap is in my buitekamer wat ook nooit gesluit word nie.

My seun het een winter sy beursie verloor in die hoofstraat van die dorp waar ons bly. Na 'n halfuur het ons dit gaan soek en iemand het toe die beusie opgetel en op 'n hoop sneeu neergesit waar ons dit maklik kon sien. Al die geld was nog steeds in die beursie.

Almal vertrou almal hierso en dit bring sommer net 'n lekker gevoel in jou hart om nie altyd gewantrou te word nie en om te weet jy kan jou medemens vertrou.

Ons beleef op die oomblik die mees wonderlikste weer vir Oktober. Elke dag is ongeveer 18 grade maksimum met hope sonskyn. Dit is gelyk aan somersweer vir ons. Sodra dit oor 25 grade gaan hier in die noorde van Denemarke is dit 'n hittegolf.
 
Post a Comment

<< Home