Google Web Kuiergat

This page is powered by Blogger. Isn't yours?

My status

Enige terugvoer, kommentaar, kritiek, of net 'n boodskap is baie welkom. Skryf gerus vir my ; muisdruk hier Johann van Staden

Online dictionary at www.Answers.com

Tell me about:

Thursday, March 23, 2006

 

'n Dag op die Autobahn

Die Autobahn. Lank, lank gelede toe ek nog 'n seuntjie was en begin belangstel het in karre en spoed en kraglewering en perde onder die enjinkap, het ek ook gehoor van die magiese Duitse "Autobahns", en grootogig geluister na stories van hoe daar geen spoedbeperkings bestaan nie, en allerhande fantastiese versinsels geglo oor hierdie hemel op aarde. Ek het myself die Autobahn in my geestesoog gesien as hierdie publieke resiesbaan, met 'n perfekte teer-oppervlak, reguit soos die N1 deur die Karoo Kaap se kant toe.

Die werklikheid van die Autobahn moes ek tot my teleurstelling agterkom, realiseer egter nie die jeugdige droombeeld nie. Spoedbeperkings geld op baie meer plekke as wat daar nie beperkings is nie, daar hopeloos te veel verkeer op die pad, ongelukke gebeur, en duisende (letterlik) swaar voertuie wat die gerief van die Autobahns sentraal in Europa misbruik om 'n transport-kosmos lewendig te maak tussen Oos en Wes, Noord en Suid. En die vloek van die Autobahn - die nimmereindige "Stau" en "Stop" situasies. 'n Twee-uur rit kan maklik vier ure en langer word as daar 'n ongeluk iewers op die Autobahn is, of padwerke die bane vertregter.

Ek ry gisteroggend by die huis weg op pad Eschborn, Frankfurt toe om 'n werksessie by te woon. Dit reën - liggies hier in Neuhausen, maar verander vinnig in 'n ysreën nog voordat ek anderkant Leinfelden is. Voor die Leonberg Kreuz begin dit liggies sneeu, wat spoedig verander in 'n sneeuval wat sigbaarheid verminder na minder as 30 meter. Die regterbaan is verstop met dosyne gelaaide swaarvoertuie, almal waarskynlik op pad na die Noorde of Oosblok lande. Passasiersmotors en ligte afleweringsvoertuie smeer die ander bane soos maaskaas op bruinbrood. Ek besef dat ek al byna een uur op pad is, en skaars dertig kilometer van die huis af is. Gelukkig is daar nog net 190 kilometer oor voordat ek in Eschborn kom.

Skielik vloei die verkeer, maar op die stuk pad is die spoedbeperking slegs 120. Nie te vêr gevorder nie, voordat 'n see van flikkerende oranje ligte voor aandui dat daar 'n probleem is. Weer terug na die maaskaas-model, en tien minute later sien ek die oorsaak van die probleem. 'n Silwer Porsche 911 wat met die padrelings aan die linkerkant (vinnige baan) in 'n argument betrokke was, en duidelik die argument verloor het. Erg verloor het. En dit op 'n lynreguit pad ! Almal het nou mooi klaar gekyk, en vier bane se verkeer wat voor die ongeluk in drie bane ingetregter is, kan nou weer asem haal in die vier bane. Uiteindelik kan ons die Autobahn gebruik waarvoor dit gebou is. Daar is wel 'n voorgestelde maksimum spoed van 250 km/u, maar die meeste voertuie kan gelukkig nie daarby kom nie. Ek druk die BMW na my gemakspoed van net oor die 180 km/u, en begin dink dat ek dalk met 'n bietjie Autobahngeluk betyds vir my vergadering sal wees. Karring rustig voort totdat ek weer flikkerende ligte sien. Hierdie keer is die flikkerende ligte in my truspieel, en ek dog dat ek per ongeluk huisspoed ry. Nie so nie, my vinnige loer bevestig ek is nog op 180. Trek toe maar oor na die stadiger regter-middelbaan en maak plek vir die omie in sy Audi A6 om teen nekbreekspoed by my verby te vlieg. Net weer begin dink dat die probleme op 'n einde is, toe die oranje ligsee weer voor my branderbreek. Volgens die SWR-4 radioberig is hierdie "Stau" so 16 kilometer lank. Hierdie keer is daar padwerke, en die vier bane vertregter weer tot twee smal bane, elk twee meter breed, en die wit padlyne tydelik ge-ignoreer met helder geel plakstrepe op die pad. Nou daar is vir jou 'n uitdaging om in die "vinnige" baan links te ry, en 'n trein van trokke en treilers en toerbusse sardientjie-pak die regterbaan toe. En daar is 'n tydelike konstruksie van een meter hoe sementblokke sentimeters van jou kar se linkerdeur af om te wys waar jy nie mag ry nie !

Uiteindelik is hierdie deel van die nagmerrie vir die oomblik verby. Daar is wel nog so twee of drie van dieselfde episodes vorentoe, maar dit is netnou se probleem. Eers wil mens nou by 'n rusplek aftrek om bietjie te ontspan, die bene te rek en 'n koppie koffie drink. Ja, mens kan hier in Duitsland enige tyd met veiligheid aftrek en uitklim. Party drink ook kofiie of tee of iets uit 'n fles uit, maar baie Duitse omies trek af om af te slaan. Water af te slaan, sommer daar langs die kar, waar alles en almal hulle kan sien. Hulle het nie eers die beskeidenheid om so tien-vyftien tree in die bosse agter die bome in te loop om bietjie meer diskreet te wees nie. En, hierdie gedrag is nie die uitsondering nie. Vandag het ek drie gesien by die een plek waar ek gestop het. 'n Man, duidelik 'n besigheidsman, geklee in 'n pak klere, 'n ander persoon uit 'n swaar voertuig, en nog een van 'n kar af. Die snaakste is dat daar oral langs die pad mooi en skoon toiletgeriewe is vir gebruik. En, ek het dieselfde gedrag al by 'n paar vrouens ook waargeneem, al hurkende langs hulle kar.

Die terugreis van Frankfurt af huis toe het maar basies dieselfde patroon gevolg, behalwe dat ek nie weer gestop het vir 'n koppie koffie nie. Ek moes by die huis kom, want ek het vergeet om 'n draai te loop by die kantoor voordat ek weg is. Om 'n koppie koffie langs die pad te drink sou nie 'n goeie idee wees nie . . .

Comments>
Ja ek moet absoluut saamstem met jou waarnemings van die autobahn. Ons ry gereeld deur Duitsland en die ervarings is elke keer soortgelyk.

As ons van Hamburg af terugry Denemarke toe is die pad geweldig besig tot by die Deense grens. Daarna is daar amper geen verkeer tot bo in die noorde van Jutland.(die Deense vasteland word Jutland genoem)Die enigste pad wat redelik verkeer dra is die pad na Kopenhagen toe. Kopenhagen le op 'n eiland.

Die groot verskil is dat die spoedbeperking 110 km per uur vir die grootste deel van die snelweg is met 'n maksimum spoed beperking van 130 km per uur op party plekke. Oor die algemeen (99%) eerbiedig die mense die wette. Vir 'n oorskryding van 30% van die spoed kry mens 'n merk teen jou lisensie en 'n groot boete. Drie merke in twee jaar en jou lisensie is daarmee heen. Dit wil se dat 'n spoed van 65 km per uur in 'n beboude gebied met 'n spoedbeperking van 50 km per uur jou 'n merk en R2000 boete sal kos.

Die Deense bestuurders is van die mees geduldigste wat ek nog teegekom het. Die wildste verkeer en bestuurders het ek in Iran ervaar. Die eerste paar dae daar is mens parmanent in skok en daarna slaan dit oor in 'n soort van bewustelose aanvaarding. Die Suid Afrikaanse minibus taxi bedryf is soos 'n kleuterskool met driewielfiese in vergelyking. Ek sal nooit weer so hulle kla nie.

Ek sal eendag meer oor my wedervaringe in Iran skryf. Dit is 'n wonderlike land met wonderlike mense wat ek enige tyd weer sal besoek.
 
Post a Comment

<< Home