Google Web Kuiergat

This page is powered by Blogger. Isn't yours?

My status

Enige terugvoer, kommentaar, kritiek, of net 'n boodskap is baie welkom. Skryf gerus vir my ; muisdruk hier Johann van Staden

Online dictionary at www.Answers.com

Tell me about:

Sunday, August 26, 2007

 

Die Otter : 7 - Die Einde

Dis met ’n bietjie weemoed en hartseer dat almal besef die einde is in sig. Ontbyt word in relatiewe stilte berei, en gedagtes word gewissel, maar daar heers ’n byna somberheid ; of dalk eerder ’n atmosfeer van eerbied en respek.

Die laaste 6,8 kilometer word aangepak, met Nature’s Valley in gedagte. Soos elke dag is daar uitdagings in die begin, maar selfs ek begin agterkom dat my rugsak heelwat ligter is as ’n paar dae vantevore.





Plek-plek loop die span een-een ; plek-plek loop groepies van twee. Elkeen met sy of haar eie gedagtes. My knie gun my egter geen rus nie, maar selfs dit maak geen indruk op emosies van die oomblik nie.





Uiteindelik lê die lang en wit strand van Nature’s Valley voor ons, maar om daar te kom moet ons nog berg-af. En dis nie sommer net vir afdraf nie ; dis ’n afklim van formaat.

Toe die span almal onder is, word handdrukke en gelukwense uitgedeel, en die groep neem hande en gee lof en eer aan die Vader vir ’n ongelooflike ervaring.

’n Paar honderd meter se stap op die strandsand neem ons na die klein restaurant en kroeg, waar almal na keuse ’n vars koelerigheid en iets wat in ’n kombuis gemaak is geniet. Daarna waardeer almal Wynn en Tacey se gasvryheid by hulle vakansiehuis met die luukse van ’n warm stort.

Dit was die Otter. Wat ’n voorreg ! Wat ’n ondervinding. Wat ’n span !


Comments>
Ek verlang erg terug, ek het met moeite my rugsak (darem nadat hy gewas is) mooi terug gebere in die kas - ek moes 2 glasies OBS drink om die oomblik beter te maak!

Maar, ek het mos n nuwe slaapsak, en die nuwe slaapsak steek lelik af teen al die ander apparaat! Ons sal iets met die ou slaapsakkie moet doen!!
 
Dit verstom my…. Dit verstom my dat die liewe Heer so lank moes sukkel om die Israeliete uit Egipte uit te kry (met Moses en al sy “issues” rondom sy vermoeens) en vandag stroom die mense in hulle duisende weer terug na die land van slawerny.

Dit verstom my…Dit verstom my dat die liewe Heer mense die breinkapasiteit gegee het om ‘n vierwielaangerewewatsegoete uit te dink, aanmekaar te timmer en te verkoop vir meer as my salaris oor ‘n periode van 10 jaar, en dan gaan staan en hardloop/loop/kruip hulle amper 100 km tussen twee dorpe en hulle noem dit “sport”.

So kyk ek na die blog en die ongelooflike foto’s en stories van die Otter en die manne en manninne wat die lang “pad” (klink en lyk vir my eerder na ‘n avontuur-kyk-wie-kan-eerste-sy-enkel-breek-op-die-vyfde-bergtop pad)aangedurf het en ek dank my liewe Heer dat ek ‘n Chalet mens is.

Ek is nie ‘n kamp mens nie. Ek doen nie die stof-en-sweet-slaap-in-‘n-rugsak-bad-nie-vir-10-dae ding nie. Ek is ‘n Chalet mens. Ek is ‘n “high maintenance” girl. Ek verkies ‘n “rock massage” bo ‘n rotsklim. Ek trakteer myself eerder met ‘n Indian Head Massage om my innerself te vind as ‘n voetslaanpad oor die Indiese gebergtes ter wille van vrede, liefde en harmoooooooonie.Ek is ‘n Chalet mens.

Moet my asseblief nie verkeerd verstaan nie. Ek het niks teen kamp-/voetslaan-/woonwa-/natuur- mense nie. Glad nie. Inteendeel! Ek bewonder hulle vermoeens om hulleself buite hulle gemaksone te plaas, muskiete en ander enkelvreetgediertjies te trotseer, koud te slaap en met niks ‘n feesmaal op te tower. Ek het nog meer respek vir mense met kinders (veral klein kindertjies) wat dit doen. Ek dink aan ‘n vriendin op Hoedspruit wat vir my met ‘n groot glimlag op haar gesig vertel het van hoe haar kinders se doeke (NIE die weggooi tipe nie!!!) met vakansies langs hulle woonwa gehang het om droog te maak….!!!! Gelukkig het my man nog altyd ‘n baie eenvoudige filosofie gehad oor die kamp ding. Hy sal eenvoudig net terugverwys na een vraag: “Kan my vrou haar haardroeer saamvat”. Gewoonlik is die antwoord nee, en dan gaan bly ons heel gelukkig in ‘n Chalet.

Ek wil afsluit: Ek het baie respek vir julle ouens en girls wat die Otter gedoen het! Dit toets mens se “limits” (ek dink psigies meer as liggaamlik). Bokkie (Dewald!!), jy is die beste en die oulikste en ek dink jy het wonderlik gedoen en ek is so bly jy het dit geniet (lief jou sommer baie!!). Ek ‘n hoor paar stemme in die verte wat my vra of ek dit nie dalk moet probeer nie? My antwoord is eenvoudig: My naam is Hannelie van Staden en ek is Chalet mens!!

Groete en Jesus seen!

Hannelie
 
Aan my drie liewe broers en die res van die stapgeselska wil ek se: WEL GEDAAN!!!
Ek is erg trots op julle en wens ek kon dit meedoen, maar ongelukkig het plig geroep.
As julle weer so gier in die (sensor) kry, wat van 'n safari hier in die ongerepte woestynland van Arabie? Baie kamele en viertrek voertuie sou julle vasval!
Groetnis en liefde, Anton
 
Post a Comment

<< Home