Google Web Kuiergat

This page is powered by Blogger. Isn't yours?

My status

Enige terugvoer, kommentaar, kritiek, of net 'n boodskap is baie welkom. Skryf gerus vir my ; muisdruk hier Johann van Staden

Online dictionary at www.Answers.com

Tell me about:

Friday, September 30, 2005

 

Die Duitsers vier Fees !

Hulle bou goeie karre, brou goeie bier, maar as dit by feesvier kom, dink ek nie enige ander nasie of volk of kultuur kom naby die Duitsers nie. Hier word fees gevier vir enige rede, en as daar nie 'n goeie rede is, word daar fees gevier juis daarom.

Byna elke week, iewers in hierdie land, word feesgevier. Hierdie naweek word in my dorpie (Neuhausen auf den Fildern) hulle FleckenHerbst fees gevier. Volgende week is die die beurt van die Drachenfest. En so aan...

Wie ken nie die beroemde München se Oktoberfest nie - al word dit in September gevier. Die 'Münich Oktoberfest' - plaaslik beter bekend as die 'Wiesn' - is die grootste publieke fees in die wêreld en word in 2005 vir die 172ste keer aangebied. Jaarliks word ongeveer 6,000,000 besoekers vermaak, en hulle drink meer as 5,000,000 liter bier en eet meer as 400,000 varkworsies tydens hierdie geleentheid ('n oomblik van stilte vir die varke, asseblief...) Teen € 6,65 - € 7,10 vir een liter bier is dit seker 'n goeie kopie - maar met my Suid-Afrikaanse kop klink R 50 - R 55 vir een bier bietjie wild !

Baden-Wurttemburg, en die Stuttgart-omgewing, is bekend vir wynproduksie, en hier word sonder ophou wynfeeste vanaf laat-Augustus tot middel-September gehou. Stuttgart se bekende Weindorf is maar net een van die baie gewilde feeste. Wynliefhebbers van reg oor die wêreld besoek Stuttgart om die grootste wynfees in Duitsland by te woon. Meer as 259 verskillende wyne word verkoop in meer as 120 pragtige en tradisionele stalletjies op die bekende 'Marktplatz' en 'Schillerplatz' om die Ou Kasteel. Wyn word geniet saam met tradisionele streeksdisse soos 'Maultaschen', 'Kässpätzle' en 'Schupfnudeln mit Kraut', en vele meer. En daar word groot gekuier !

Plaaslik, hier in Baden-Wurttemberg, word die 'Cannstatter Volksfest', ook bekend as die 'Stuttgart Beer Festival', in hierdie dae gefees. Volgens inligting is dit die tweede-grootste bierfees in Duitsland na die genoemde Oktoberfees.

In die omgewing van die Stuttgart lughawe groei in eiesoortige tipe kool, bekend as die Filderkraut. Hierdie variëteit groei blykbaar net hier, in 'n baie klein area. 'n Paar maande gelede was daar die Filderkraut-fees, vermoedelik ter ere van hierdie spesiale kool.

Kerstyd is natuurlik iets unieks in Duitsland. Die sogenaamde 'Weinachtsmarkte', of Kersfeesmarkte, bring 'n unieke en spesiale atmosfeer in hierdie tyd. Uiteraard is dit in die middel van die winter, en in baie gevalle hier, sneeu - of ten minste, sub-zero temperature. Maar die lekker om Glühwein te drink, allerhande heerlike en seisoen-gebonde lekkernye te koop en te eet, terwyl mens jou verkyk aan al die pragtige stalletjies, opgemaak met die Kerstema met liggies en beelde en geskenke en wat nog alles, die klanke en reuke van Weinacht, is 'n ervaring wat jou vir ewig bybly en mens nie regtig in woorde kan weergee nie.

Mens kan maar net deur Duitsland ry, en oral waar jy gaan, word die een of ander fees met groot baniere aangekondig.

Watter ander land kan spog met so 'n sterk feeskultuur ?

Comments>
Ek moet net met jou saamstem. Ons kyk gereeld Duitse televisie. Ek het so pas 'n musiekprogram op NDR gekyk en dit is net anders. Saterdag aande is gewoonlik my tyd om Duitse musiek programme op tv te kyk.

Ons kamp elke somer in Duitsland en het hierdie somer in Luneburg Heide (die noorde van Duitsland net suid van Hamburg) omgewing gekamp. Elke naweek was daar 'n fees in een van die dorpe in die omgewing wat ons bygewoon het. Amper almal in die huis verstaan Duits goed en geniet dus die feeste baie.

Ons het heerlike bakoond brood geeet op die een fees wat 'n bakoond fees was. Ja ek het fotos van die hele gedoente en dit word net soos in Suid Afika gemaak in 'n opregte bakoond. Ek het verlang na Willem Prinsloo landbou museum. Die Duitse musiek is ook altyd teenwoordig.

Twee jaar gelede het ons in Rottenbuch gekamp en met die een fees, het die kinders met 'n groot perdewa deur die dorp gery. Die tradisies is nog baie vas in Duitsland.
 
Post a Comment

<< Home